Dit wat slegs God sien

2022-04-21
Matteus 6:18 NLV

Het jy al ooit ‘n konsert bygewoon waar hulle die nuutste oudiovisuele toerusting gebruik het? Die kans is goed dat jy jou aan die multidimensionele beelde en klanke vergaap het en na die tyd van die wonderlike vaardighede van die kunstenaars gepraat het. As die vertoning sonder enige foute afgeloop het, het jy heel waarskynlik nie aan die klank- en beligting tegnici gedink nie. Ons merk hulle gewoonlik slegs op wanneer die toerusting foutief is. Hulle is die onsigbare element; die mense wat hulle werk doen om die kunstenaar goed te laat lyk en klink. Die kunstenaars in die kollig ontvang die lof daarvoor. Dis hoe dit in die aardse koninkryk werk.

Die koninkryk van God werk egter op die beginsel dat ‘…baie wat nou so vernaam lyk, heeltemaal onbelangrik [sal] wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees’ (Matteus 20:16 NLV). Jesus het gesê dat wanneer jy vas, bid en gee sonder om iets daarvoor te verwag, sal ‘…jou Vader wat alle geheime ken… jou beloon.’

Op ‘n groot skip is slegs die kaptein en ‘n handjievol offisiere op die brug sigbaar. Dis egter die bemanning onder die dek wat die skip se vordering oor die grootste deel van die skeepsreis, bepaal. In God se kerk, is dit die ‘bemanning in die enjinkamer’ wat getrou baie van die werk doen: die skoonmaakspan, kleuterskoolonderwysers, busbestuurders, karwagte, mense wat bejaardes in die ouetehuis besoek, mense wat na gevangenes uitreik en gebedsvegters.

Terwyl hoëprofiel mense gewoonlik die meeste lof kry, gee God spesiale erkenning en belonings aan die bemanning wat ongesiens hul werk doen! As jy een van hulle is, sal jy gou sy publieke aankondiging hoor: ‘…Goed gedoen, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was…’ (Lukas 19:17 NLV). Wanneer dit gebeur, sal niks anders meer saak maak nie!

Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:45-49; Ps 130; Spr 10:12

Hou by God se plan (2)

2022-03-23
Filippense 1:6 NLV

Paulus skryf: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (vers 6 NLV). Jy sal opmerk dat Jesus gereeld tyd uit sy besige skedule geneem het om te bid. Hy sê ook vir ons hoekom Hy dit gedoen het: ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen…’ (Johannes 5:19-20 NLV).

Onder die gewig van ons sonde, het Hy aan die kruis uitgeroep: ‘…My God, my God, waarom het U my verlaat?’ (Matteus 27:46 NLV). Sy woorde leer ons drie belangrike dinge: 1) Ons kan God se plan volg en steeds by tye oorweldig en alleen voel. 2) Wanneer God nie antwoord nie, moet ons oefen om op die beloftes wat Hy in sy Woord vir ons gee, te staan. 3) Die pyn wat ons voel, sal uiteindelik in die vreugde wat aan die ander kant daarvan wag, verander.

Hou dus by God se plan; solank as wat jy dit doen, is daar niks wat die Vyand kan doen om jou te vernietig nie. Die Bybel sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie… Dit is die erflating van die dienaars van die Here…’ (Jesaja 54:17 NLV). Wanneer jy voel of jy nie verder kan gaan nie, doen wat Jesus gedoen het en bid: ‘…Vader, in u hande gee Ek my gees oor!..’ (Lukas 23:46 NLV). Met ander woorde, gee dit alles aan God oor. Vertrou Hom om te doen wat jy nie kan nie en jou deur dit alles tot oorwinning te bring.

Sielskos: Job 18-20; Luk 19:11-27; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Erken God se soewereiniteit

2022-03-17
Romeine 12:1 ABA

Paulus skryf: ‘Vriende, God is baie goed vir julle… Julle moet self offers wees vir Hom… Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is’ (verse 1-2 ABA). Daar is twee maniere om God se soewereiniteit te verstaan: a) deur sy inisiatief, en b) deur ons reaksie.

In wese sê Paulus die volgende: 1) Weerstaan die druk van ‘n wêreldsisteem wat jou in die verkeerde rigting trek. 2) Vernuwe jou gedagtes elke dag deur gebed en deur God se Woord te lees. 3) Herken sy wil vir jou lewe en lewe daarvolgens. Paulus hou egter nie daar op nie. Hy skryf: ‘Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer… Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle … Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen… Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense’ (verse 9-18 ABA).

God se soewereiniteit stel ons nie van persoonlike verantwoordelikheid vry nie. Dit beteken nie dat ons belangstelling in aktuele sake of ingeligte besluite moet verloor nie. God verwag steeds van ons om na uitnemendheid te strewe en besorg te wees oor ‘n verlore wêreld.

Sielskos: Job 1-4; Luk 17:20-37; Ps 11; Spr 8:4-5

Respekteer en onderwerp jou aan gesag (2)

2022-03-08
Jeremia 44:16 NLV

Misbruik die gesaghebbendes soms hulle posisie en bewys dat hulle onwaardig daarvoor is? Ja, maar dit beteken nie dat jy kan rebelleer nie. Die Bybel sê dat Jesus Hom in sy jeug aan die gesag van sy ouers onderwerp het (sien Lukas 2:51). Selfs toe sy bediening deur demonstrasies van bonatuurlike krag gekenmerk is, het Hy steeds die mense geleer om aan die Romeinse regering onderdanig te wees. ‘…Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is’ (Lukas 20:25 NLV).

Onderwerping aan gesag is nie opsioneel vir ‘n volgeling van Jesus nie. Of jy nou vir ‘n bevordering oorgesien is, ‘n onbekwame baas het, of voel dat jy onregverdig behandel is, dis nog steeds God se wil dat jy gesag sal respekteer en jouself daaraan sal onderwerp. Wanneer jy sy wil gehoorsaam, werk Hy namens jou.

Soos jy jou neiging om uitdagend te wees oorweeg, moet jy probeer om die oorsaak daarvan te bepaal, wat die volgende mag insluit: 1) ‘n Angswekkende geskiedenis van lyding of mishandeling. 2) Disrespek vir ‘n onbekwame meerdere. 3) Trots omdat jou vaardighede nie erken of beloon word nie. 4) Onregverdige gedrag van diegene in outoriteit. 5) ‘n Taktiek van jou kant af om die eerlikheid, sorg of besorgdheid van gesagsfigure in jou lewe te toets.

Die Bybel sê egter: ‘Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ‘n oordeel oor hulleself’ (Romeine 13:2 NLV). Bid dus: Here, ek bely dat ek ‘n rebelse houding het. Herinner my asseblief dat alle gesag van U af kom en dat wanneer ek dit teenstaan, ek U teenstaan. Bemagtig my om myself te onderwerp. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Respekteer en onderwerp jou aan gesag (1)

2022-03-07
Hebreërs 13:17 ABA

Totdat jy leer om jouself aan gesag te onderwerp, sal jy nooit gekwalifiseer wees om dit uit te oefen nie. Hoekom? 1) Omdat jy geen geloofwaardigheid sal hê nie. 2) Omdat jy nie regtig sal verstaan wat dit beteken om ‘n volgeling te wees nie. ‘n Opstandige houding sal jou ‘n eenrigting kaartjie na ‘n lewe van moeilikheid en mislukking koop.

Die Bybel sê die volgende: 1) Kinders moet geleer word om hulle aan die gesag van hulle ouers te onderwerp. “Kinders, omdat julle in die Here glo, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees… ‘Eer jou vader en jou moeder’ is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ‘n belofte verbind is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe'” (Efesiërs 6:1-3 NLV).

2) Vrouens moet hulself aan die leierskap van hulle mans onderwerp. (En mans moet bewys dat hulle waardig is vir daardie rol en verantwoordelikheid daarvoor neem). ‘Getroude vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees. Doen dit soos vir die Here’ (Efesiërs 5:22 NLV).

3) Lidmate van die kerk moet hulle aan die leierskap van hulle pastoor onderwerp. ‘Julle moet luister na julle leiers en julle moet doen wat hulle vir julle sê, want hulle hou aan om julle op te pas, hulle sal eendag vir God moet sê hoe dit met julle gaan…’

4) Landsburgers moet hulle aan die gesag van hulle regering onderwerp. ‘Julle moet die regering gehoorsaam, want God het dit daar geplaas… Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset…’ (Romeine 13:1-2 NLV). ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid… Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies… So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser’ (1 Timoteus 2:1-3 NLV).

Sielskos: Eks 25-27; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35