2022-09-25
Psalm 119:164 NLV
‘n Slegte gesindheid is soos ‘n pap wiel; jy sal nêrens kom as jy dit nie vir ‘n ander een verruil nie. Min dinge in die lewe is so belangrik soos jou gesindheid en hier is vier maniere hoe jy ‘n goeie gesindheid kan behou:
1) Besef dat jou gesindheid aanhoudend aangepas moet word. Enigiets wat jy nie in stand hou nie, versleg uiteindelik. Hoe sterker jou natuurlike neiging tot twyfel en negatiwiteit is, hoe harder sal jy daaraan moet werk. Begin dus elke dag deur jou gesindheid te ondersoek en kyk deurlopend deur die dag vir rooi vlae uit dat jy nie so goed vaar nie.
2) Bid, omdat jy God se hulp nodig sal hê om ‘n goeie gesindheid te handhaaf. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here… Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:3-5 NLV).
3) Kyk uit vir dit wat goed is en jy sal dit vind. Moeder Teresa het twee dinge van diegene wat saam met haar in die Kalkutta-krotbuurte gewerk het, vereis: ‘n begeerte om te werk en ‘n vreugdevolle gesindheid. As sy vrolik onder die sterwendes en behoeftiges kon wees, kan jy sekerlik ook!
4) Kyk uit vir mense met geloof en bestee tyd saam met hulle. Waar is hulle? Jy sal hulle vind waar hulle bo die twyfelaars soos arende sweef. As jy ‘n slegte dag het, beweeg agter hulle in en sweef saam in hulle lugstrome. As hulle sukkel, moet jy die een wees wat voor vlieg en dinge makliker maak. Dawid het sewe keer per dag vir God geloof. Kan jy dink wat dit vir jou gesindheid kan doen?
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
2022-09-14
Psalm 42:7 DB
Max Lucado sê: ‘Wanneer God nie doen wat ons wil hê Hy moet doen nie, is dit nie maklik nie. Geloof is die oortuiging dat God meer as ons weet en dat Hy ons deur die moeilike situasie sal bring. Moenie paniekerig raak nie, moenie tou opgooi nie, wees geduldig – God is in beheer.’
Wanneer jy dus teleurgesteld is: 1) Kyk binnetoe. Dawid het gevra: ‘Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld?..’ (vers 6 NLV). Erken hoe jy voel. Vra God om vir jou die wortel van die probleem te wys. Is dit opgekropte woede? Jaloesie? Onvergifnis? Trots? Fisiese en geestelike moegheid? Wees ontvanklik vir dit wat Hy aan jou openbaar.
2) Kyk boontoe. Dawid het gesê: ‘…Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys…’ (vers 6 NLV). In plaas daarvan om op jou teleurstelling te fokus, fokus op die Een wat die uitweg ken.
3) Onthou God se getrouheid in die verlede. Dawid het gesê: ‘My God, ek is heeltemal moedeloos… Hier ver weg van almal dink ek aan U…’ Deur elke toets het Josef aan die versekering dat God steeds in beheer van sy lot was, vasgeklou. Deur God se getrouheid weer op te roep, verhoog jou vertroue dat Hy sal aanhou om te voorsien.
4) Onthou, jy hoef nie te verstaan nie. Net omdat jy nie kan uitpluis wat God tans doen nie, beteken nie dat dit nie later sal sin maak nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV).
5) Moenie aan bitterheid toegee nie. Wanneer jou hoop beskaam word, kan wrokkigheid intree. ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). Maak nie saak hoe diep die put dalk mag lyk nie – God is aan jou kant!
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2022-06-06
1 Johannes 5:14 NLV
Ken God se wil. Johannes skryf: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (verse 14-15 NLV). Een van die sekerste maniere om te weet dat jy volgens God se wil bid, is om volgens sy Woord te bid. Gebruik die Skrif om dit waarvoor jy bid, te rugsteun. Sê: ‘Here, U het dit in u Woord beloof en ek glo U daarvoor.’
Soms is daar dinge waarvoor ons wil bid, maar ons is nie seker of daardie dinge volgens die Skrif God se wil vir ons is nie. In daardie geval moet jy God vra om dit vir jou te gee as dit in sy wil is – en om jou te help om tevrede te wees met sy besluit. Sint Augustinus het gebid: ‘Gee dat ek u wil kan doen asof dit my wil is, sodat U my wil kan doen asof dit u wil is.’ D.L. Moody stel dit so: ‘Vra vir God wat jy wil hê en sê dan: ‘Laat egter nie my wil geskied nie, maar u wil.’ Die lekkerste ding wat ek in God se skool geleer het, is om die Here vir my te laat kies.’
Jy mag dalk moet wag, want God se tydsberekening is deel van sy wil. Wees geduldig; dit sal gebeur. Jy mag dit dalk nog nie sien nie, maar as God dit beloof het, is dit op pad. Onthou egter ook: As Hy nie dit vir jou gee waarvoor jy gevra het nie, sal Hy vir jou iets beters gee wanneer jy in geloof wandel en ‘n goeie houding behou.
Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25
2022-06-05
Hebreërs 11:6 NLV
Net soos die regte sleutel die deur oopsluit, is daar Skriftuurlike beginsels wat waarborg dat jou gebede beantwoord sal word. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna.
Geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). God reageer nie noodwendig op jou behoefte nie. Waarop reageer God dus? Jou geloof! Satan sal egter jou gedagtes met vertwyfeling probeer vul. Wanneer hy dit doen, moet jy jou hart ondersoek en kyk wat dit sê.
Jy kan God se Woord in jou hart glo, selfs wanneer jou gedagtes dit bevraagteken. Staan dus op dit wat in jou hart is en nie op dit wat in jou gedagtes is nie. Soms begin twyfel met afleiding. Wanneer jou aandag van God se beloftes afgelei word, begin jy twyfel. Soos jy meer en meer op jou probleme fokus, begin jou geloof wankel. Wanneer dit gebeur, moet jy soos ‘n laser op God se beloftes herfokus – en slegs skrams na jou probleme kyk. Moet hulle nie probeer ontken nie, maar moenie hulle onnodige aandag gee nie.
Die Bybel sê: ‘Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:6-8 NLV). Bly aan God se Woord geanker en moenie begin ronddryf wanneer jou omstandighede begin verander nie.
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2022-04-30
Deuteronomium 4:40 NLV
As ouer dra jy konstant jou waardes aan jou kinders oor, doen dus die volgende: 1) Laat hulle jou sien bid. Help hulle om te verstaan dat gebed die manier is waarmee ons ‘n lewenslange vriendskap met God bou. God het gesê: ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).
2) Wys hulle hoe God is. Jou kind se konsep van God word deur jou gevorm. Of jy nou liefdevol en beskermend of afwesig en koud is, hulle sal God begin verstaan deur die interaksies wat hulle met jou het. ‘n Paar voorbeelde is dat God nooit te besig is om te luister nie, dat Hy konstant vir ons sê dat Hy lief is vir ons en dat Hy ons nooit mishandel nie.
3) Help hulle om God in ander te sien. Wanneer kinders aangemoedig word om God se werk in hulle eie lewens te sien, sal hulle begin om sy werk ook in ander mense se lewens raak te sien. Wanneer dit gebeur, sal hulle ander mense waardeer en respekteer en deur ander mense gewaardeer en gerespekteer word.
4) Moenie hulle kerk toe stuur nie, neem hulle saam. Kinders het die behoefte om te glo – en te behoort. Leer hulle dat net soos ‘n ledemaat wat nie aan die liggaam gekonnekteer is nie sterf, ons geestelik sterf tensy ons aan ‘n plaaslike kerk gekonnekteer is. Hulle sal dan altyd ‘n plek hê om heen te gaan.
Die Bybel sê: ‘As julle al die gebooie en voorskrifte gehoorsaam… sal dit goed gaan met julle en met julle kinders…’ (Deuteronomium 4:40 NLV). Die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee, is om hulle te help om die regte pad te vind.
Sielskos: Jak 1-2; Matt 4:12-25; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26