2023-07-02
1 Johannes 5:4 NLV
Teëspoed is dikwels die Vyand se poging om die volgende seisoen van God se seën in jou lewe te steel. As jy vandag aangeval word, moet jy die volgende drie dinge doen:
1) Staan op en veg terug. Jy sal in die versoeking kom om jouself te onttrek en bedees en passief te word, veral as jy seergekry het. Moet dit egter nie doen nie. Satan is mal oor skaam, vreesbevange tipes, maar regte vegters intimideer hom. Wees dus dapper en eis die volgende belofte op: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV).
2) Gebruik al jou wapens. Die Bybel sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Gebed is ‘n wapen – gebruik dit daagliks. Bid saam met ander mense. Maak seker jy ken die voorbidders in jou lewe, want hulle het invloed by God. Die Skrif is ook ‘n wapen, gebruik dit dus. ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Vind uit wat God se Woord oor jou situasie sê en gebruik dit dan as swaard om die Vyand se kop af te kap.
3) Probeer om die groter prentjie te sien. Min dinge is ooit soos dit aanvanklik lyk, kyk dus verby die oomblik en kyk of iets goeds in jou gebore word. Na teëspoed kom seën en guns, vestig dus jou oë dus op die groter prentjie. Paulus, wat onder meedoënlose aanvalle gely het, het gesê: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Jy kan vandag wen.
Sielskos: Jos 6:1-25; Luke 7:36-50
2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB
Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!
Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.
As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).
Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2
2023-02-01
1 Tessalonisense 5:16-18 NLV
Jy het goeie vaardighede nodig om sukses in die lewe te behaal. Die verkoopsman het ‘n kwota. Die akteur het repetisies. Die berader gesels met een depressiewe siel na die ander. Die vlieënier moet vir ure in die kajuit sit. Die pastoor is nooit gevrywaar van voorbereidng vir sy preke nie. Dan is daar die ma met klein kindertjies wat veertien uur per dag moet besluite neem, met sterk willetjies meeding en probeer om alles vir almal te wees. Hoe ontwikkel jy die vaardighede wat nodig is om die oorvloedige lewe wat Jesus belowe het, uit te leef? (sien Johannes 10:10).
Paulus sê vir ons: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar…’ Verbly jouself in die dinge wat nooit kan verander nie, wat nie kan misluk nie en wat jou nie in die steek sal laat nie (soos God se beloftes!). Wanneer jy voel dat alles te veel word, bid. Sê met elke asemteug: ‘Ek vertrou U, Here; Ek gee dit aan U oor, want ek weet U het alles onder beheer.’
Moenie vergeet om dankie te sê nie. Onthou die ou gesegde: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In plaas daarvan om te kla, begin jou seëninge tel. Kan jy onthou hoe die lewe was voor jy Jesus ontmoet het? Was daar nie dae gewees wat jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk waar is jy nou! Toe die Israeliete aan die anderkant van die Rooi See gestaan en teruggekyk het, het hulle verklaar dat die Here hulle krag, hulle lied en hulle redding is (sien Eksodus 15:2). Is dit nie ook wat Hy vir jou is nie? Loof God!
Sielskos: Gen 20-23; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2023-01-02
Johannes 15:11 NLV
Jy moet ter wille van Christus elke dag van jou lewe geniet, want Hy het ‘n baie hoë prys betaal sodat jy dit kan doen. Hy het gesê: ‘…Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV). Hy het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Hy het gesê: ‘Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).
Jesus het gebid dat jy blydskap moet ervaar: ‘Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind’ (Johannes 17:13 NLV). Met Jesus self wat sulke kragtige woorde bid oor sy begeerte dat jy vreugde moet hê, hoe kan jy ooit twyfel dat God wil hê dat jy gelukkig moet wees en jou lewe geniet?
As verloste kind van God, is jy ‘n lopende advertensiebord vir Christenskap! Moenie rondgaan en ernstig, streng of suur lyk in ‘n poging om ‘geestelik’ voor te kom nie. Nee, dit sit nie-Christene af! Jy het ‘n nuwe ingesteldheid nodig; ‘n Skriftuurlike een wat jou in staat sal stel om die lewe te geniet en jou ‘n lekkerder mens te maak om by te wees.
Sielskos: Jes 1; Luk 1:1-4; Ps 1; Spr 1:1-2
2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV
Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.
Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).
Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’
Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5