2025-01-19
1 Timoteus 4:15 NLV
Paulus het ‘n opvolgplan vir sy bediening gehad. Dis hoekom hy Timoteus gementor het en hom die volgende opdrag gegee het: ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien.’ Die woorde: ‘sodat almal jou vordering kan sien,’ beteken dat groei meetbaar is. As jy na die laaste paar jaar van jou lewe kyk, in watter areas het jy gegroei? Voordat jy verder lees, neem ‘n oomblik en dink versigtig hoe jy hierdie vraag sal antwoord.
Tydens ons kinderjare groei ons liggame outomaties. Sommige van ons het egter ook in volwassenheid ‘n onbewuste vertroue dat geestelike en emosionele groei ‘n vergelykbare patroon sal volg. Ons dink dat ons onvermydelik verbeter namate die tyd verbygaan. Ons is soos die karakter Charlie Brown in die strokiesprent Peanuts wat sê: ‘Ek dink ek het die geheim van die lewe ontdek – mens hang net rond totdat jy daaraan gewoond raak.’ Die probleem is dat jy nie verbeter deur net te lewe nie; jy moet doelbewus daaromtrent wees. Niemand verbeter per ongeluk nie.
Persoonlike groei vind nie vanself plaas nie. Wanneer jy jou formele opvoeding klaarmaak, moet jy volle eienaarskap van die groeiproses neem. Niemand gaan dit namens jou doen nie. Die beste handleiding vir groei is die Bybel. Dit is ‘vol lewenskrag en energie’ (Hebreërs 4:12 NLV). Alles wat jy moet weet en alles wat van jou verwag word om te groei, kan in sy bladsye gevind word. Maak dus jou Bybel oop. Delf daarin. Lees dit. Mediteer daaroor. Pas die beginsels op jou lewe toe en jy sal verbaas wees om te sien hoeveel jy groei.
Sielskos: Rig 16:23-31; 2 Kor 12:3-10
2025-01-18
Lukas 15:28 NLV
Die gelykenis van die verlore seun gaan oor twee seuns en hul vader se liefde vir hul elkeen. Die jonger seun het sy vader oneer aangedoen en in ‘n varkhok beland. Toe hy terugkeer huis toe, het hy alles verloor – behalwe sy vader se liefde. Maak nie saak wie jy dus is of wat jy gedoen het nie – God is lief vir jou en wil jou deel van sy familie maak.
Jesus het ‘n wonderlike stelling gemaak: ‘…En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom sien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen’ (vers 20 NLV). Die antieke Hebreeuse kultuur het ouer mans wat hardloop as onwaardig beskou. Mans het lang, vloeiende klere gedra wat hulle tot by hulle middel moes optel om te hardloop, wat sodoende hulle onderklere ten toon gestel het. Die pa het egter nie omgegee wat ander mense gedink het nie; hy het net oor sy eiesinnige seun omgegee. Ongelukkig het sy ouer broer nie dieselfde gevoel nie.
Verstaan jy hoekom baie jonger broers nog steeds in die varkhok is en nie die kerk wil binnegaan nie? Omdat hulle bang is dat ouer broers hulle sal veroordeel eerder as om hulle in liefde te verwelkom. Die ouer broer het straf begeer, maar die vader het vergifnis gegee. Die ouer broer het skuld vereis, maar die vader het genade gegee. Die ouer broer wou weerwraak hê, maar die vader wou versoening hê.
Hier is die goeie nuus: Maak nie saak hoe laag jy geval het nie, weet dat wanneer jy terugkom, jou hemelse Vader met ope arms en ‘n liefdevolle hart vir jou sal wag.
Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22
2025-01-17
Lukas 18:13 NLV
Jesus het gesê: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as ‘n sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is…’ (verse 10-14 NLV).
Die verskil tussen hierdie twee mans was dat die Fariseër skuldig aan sondes van die gees was, terwyl die tollenaar skuldig aan sondes van die vlees was. Trots het die deur na die hemel vir die Fariseër toegemaak, maar nederigheid het die deur van die hemel vir die tollenaar oopgemaak. Die Fariseër het gesê dat hy onskuldig is, maar het skuldig huis toe gegaan. Die tollenaar het erken dat hy skuldig was en het onskuldig huis toe gegaan.
Let op dat die tollenaar nie die gewone woord vir genade gebruik het nie. Die woord wat hier gebruik word, dateer terug na die Hebreeuse woord kippur toe, wat ‘versoening’ beteken. Die woord versoening beteken ‘om te bedek.’ Wat die tollenaar gesê het was: ‘God, ek erken ek is ‘n sondige man met ‘n sondige hart. God, sal U my bedek?’ Dit is al wat God van hom moes hoor om hom te red – en dit is al wat God van jou ook moet hoor.
Sielskos: Jes 58-62; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20
2025-01-16
Filippense 3:8 NLV
Die ervarings wat jy gehad het voor jy jou lewe aan Christus toevertrou het, insluitend dinge waaroor jy spyt is, kan as verlossing dien en ten goede gebruik word. Voor Paulus vir Christus op die pad na Damaskus ontmoet het, het hy sy lewe daaraan gewy om die Ou Testamentiese wet te bestudeer. ‘…As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat die gehoorsaamheid aan wette betref om my saak met God reg te maak, kon niemand ‘n vinger op my lê nie’ (verse 5-6 NLV).
Paulus kon in oënskou sy jare van studie as ‘n Fariseër as ‘n mors van tyd gesien het. God het hom egter daardeur voorberei om die Jode te wys dat Christus die vervulling van die geskrifte in die Ou Testament, wat hy so goed geken het, was. Dis maklik om in die strik te trap om te dink dat God eers op die dag toe ons Christus as ons Redder leer ken, in ons lewens begin werk het. Die Skrif sê egter dat Hy ons ‘vooruit’ ken, wat beteken dat Hy ons gekies en ons voorberei het lank voor ons Hom ooit ontmoet het (sien Romeine 8:29-30).
Dawid het gesê dat God al die dae van sy lewe nog voor hulle plaasgevind het, neergeskryf het (sien Psalm 139:16). Dieselfde is van jou waar. God is in jou lewe aan die werk op maniere waarvan jy onbewus is. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Geloof verander die vraag: ‘Is God aan die werk?’ na ‘n verklarende uitdrukking van geloof: ‘God is aan die werk!’
Sielskos: Jes 53-57; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19
2025-01-15
2 Korintiërs 11:14 NLV
In 2 Korintiërs 11, beskryf Paulus vier maniere waarop Satan soos ‘n meester vervalser te werk gaan.
Eerstens verskaf hy ‘n vals Redder: ‘…Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is.’ Alhoewel daar kultusse is wat van Jesus preek, preek hulle nie oor die Christus van die Christendom nie.
Tweedens stel hy vals dienaars voor: ‘Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is… Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien’ (verse 13, 15 NLV).
Derdens bring Satan valse heiliges: Paulus identifiseer hierdie valse broeders as diegene wat soos jou broer of suster aan die buitekant lyk, maar in die geheim jou vyand aan die binnekant is (sien Galasiërs 2:4).
Satan bied ook vals redding vir ons aan: ‘Vervloek is elkeen wat ‘n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ‘n boodskapper uit die hemel wees’ (Galasiërs 1:8 NLV).
Dit is nie noodwendig dat Christene voorgee om kinders van die duiwel te wees nie, maar eerder dat die goddelose dikwels regverdig voorkom. God kan ‘n sondaar van ‘n heilige onderskei en jy gaan beide van hulle binne die kerk sowel as buite die kerk vind. Dis ‘n goeie ding, omdat aanhoudende blootstelling aan die Bybel mense verander. Jesus het nooit gesê dat die kerk perfek is nie en ons moet ook nie.
Ons bewustheid van hierdie waarhede moet ons nie selfregverdigend en veroordelend maak nie. Inteendeel, dit moet ons geleiers van God se genade en barmhartigheid maak en ons lei om vollediger aan Christus toegewy te wees.
Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
2025-01-14
1 Johannes 4:18 NLV
Toe jy klein was en ‘n lelike woord gesê het, mag jou ouers dalk gedreig het om jou mond met seep uit te was. Wel, as vrees ‘n lelike woord is, dan is geloof in God se onvoorwaardelike liefde vir jou soos seep! Te veel mense span die wa voor die perde in. Ons glo dat God ons volgens die graad van ons liefde vir Hom, eerder as die graad van sy liefde vir ons, aanvaar. Die Bybel sê: ‘Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het’ (vers 19 NLV). God se liefde vir jou word nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus se optrede namens jou. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, sien God jou van daardie oomblik af as een met Christus (sien 2 Korintiërs 5:17).
Wil jy weet hoe God jou op hierdie oomblik en elke ander oomblik sien? ‘…soos [Jesus] is, is ons ook in hierdie wêreld’ (1 Johannes 4:17 AFR53). Beteken dit ons kan aan God ongehoorsaam wees en daarmee wegkom? Nee! ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is… Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:6, 11 NLV).
God se tugtiging is nie verwerping nie! Dis ‘n bewys van sy onvoorwaardelike, onbeperkte, onwankelbare en onverdiende liefde vir jou. God het jou nie meer lief op die dae wat jy oorwinning behaal en minder lief op die dae wat jy oorwonne is nie. Sy liefde vir jou wissel of weifel nie. Die wete van hierdie waarheid sal jou geloof versterk en jou vrese laat afneem!
Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10