2025-01-25
Genesis 41:35 NLV
Let op wat Josef vir farao gesê het: ‘Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder. Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor… Op hierdie manier sal daar genoeg kos wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek…’ (verse 34-36 NLV). Daar is twee belangrike lesse vir ons in hierdie verhaal.
1) Moenie toelaat dat die slegte tye jou goeie tye opeet nie. Wat is die beste manier om dit te doen? Deur op die Woord van God tydens tye van moedeloosheid en moeilikheid te staan. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
2) Moenie net die goeie tye geniet nie; versamel wysheid, krag, strategieë, verhoudings en hulpbronne wat jou in die slegte tye sal handhaaf, daaruit. Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter…’ (Romeine 5:3-4 NLV).
Wanneer God jou egter seën, moet dit nie net stoor nie – deel dit met ander mense. Oefen die wet van wederkerigheid wat Jesus ons geleer het uit: ‘As julle gee, sal julle ontvang… Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV). Waaraan jy deur selfsugtige doelwitte vasklou, sal jy uiteindelik verloor. Wat jy egter gee om ander mense te seën, het God beloof dat jy nou en in die ewigheid daarvoor beloon sal word.
Sielskos: Rom 15-16; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2025-01-24
Prediker 3:1 NLV
Salomo sê: ‘Daar is… ‘n Tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterf. ‘n Tyd om te plant en ‘n tyd om uit te ruk wat geplant is. ‘n Tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak. ‘n Tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou. ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag. ‘n Tyd om hartseer te wees en ‘n tyd om van vreugde te dans. ‘n Tyd om jou saad te saai en ‘n tyd om jou saad terug te hou. ‘n Tyd om te omhels en ‘n tyd om weg te bly. ‘n Tyd om te soek en ‘n tyd om te verloor. ‘n Tyd om op te pas en ‘n tyd om weg te gooi. ‘n Tyd om te skeur en ‘n tyd om vas te werk. ‘n Tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat. ‘n Tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat. ‘n Tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede’ (verse 2-8 NLV).
Dis ‘n totaal van agt-en-twintig verskillende ‘tye.’ Let egter op wat Salomo nie vir ons gee nie – ‘n tyd om tou op te gooi! Solank as wat jy op die slagveld bly, kan God jou situasie verander en jou die oorwinning gee. Indien jy vandag oor jou huwelik, jou kinders, jou gesondheid, jou finansies, jou werk en jou toekoms bekommerd is, is hier ‘n belofte waarop jy kan staan: “‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here. Aan hulle laat Ek reg geskied,’ verklaar die Here” (Jesaja 54:17 NLV). Moet dus nie tou opgooi nie!
Sielskos: Rom 12-14; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2025-01-23
Psalm 105:19 NLV
Toe Josef se broers hom van sy kleurvolle jas, wat sy vader se guns verteenwoordig het, gestroop het, wat het hom standvastig gehou? Die belofte wat God aan hom gegee het. Toe hy in ‘n put gegooi is en in slawerny verkoop is, wat het hom standvastig gehou? Die belofte wat God aan hom gegee het. Toe die skinker met wie hy in die tronk bevriend geraak het, vergeet het om sy saak voor farao te bepleit, wat het hom standvastig gehou? Die belofte wat God aan hom gegee het.
‘Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ‘n ysterhalsband gesit tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme’ (verse 17-21 NLV).
God se Woord sal die toets van tyd deurstaan, maar vir dit om te gebeur, moet jy gedurende jou tye van beproewing sterk in geloof staan. Jy sal deur die houding en aksies van jou familie getoets word. Jy sal deur die ontrouheid en verraad van vriende wat jy vertrou het, getoets word. Jy sal deur omstandighede van teëspoed en swaarkry wat die teenoorgestelde is van wat God aan jou belowe het, getoets word.
Jy sien, God is meer in jou karakter as in jou gemak geïnteresseerd. Hoekom toets mens iets? Om uit te vind of dit betroubaar is. Wanneer jy jouself betroubaar bewys, kan jy op die volgende belofte staan: ‘…Wees seker dit gaan gebeur…’ (Habakuk 2:3 NLV). Staan dus vandag op die belofte wat God vir jou gegee het.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8
2025-01-22
Handelinge 9:6 AFR53
Paulus se lewe is vir ewig verander toe hy die volgende vraag gevra het: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ Let op wat God hom geantwoord het: ‘Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan’ (vers 6 NLV). God se wil word in stappe ontdek.
Stap een is bewustheid. Jy kan nie van rigting verander as jy onbewus is dat jy in die verkeerde rigting op pad is nie, neem dus tyd om te dink waarheen jy tans op pad is. As dit nie is waarheen jy moet gaan nie, skryf dan die stappe neer wat jy moet neem om te gaan waarheen jy wil gaan, om te bereik wat jy wil bereik. Maak hierdie stappe so konkreet as moontlik. Sal dit heeltemal die regte stappe wees? Miskien, miskien nie. Jy sal egter nie vir seker weet voordat jy vorentoe begin beweeg nie.
Stap twee is aksie. Jy kan nie wen as jy nie begin nie! Neem die inisiatief. Doen elke dag iets spesifieks wat jou een stap nader aan jou doelwit sal bring. Hou dan aan om dit elke dag te doen.
Stap drie is verantwoordbaarheid. Min dinge sal jou so inspireer om jou doelwitte deur te sien as verantwoordbaarheid. Een manier waarop jy dit kan bereik is om jou doelwitte te deel. Wanneer jy vir mense vertel wat jy beoog om te doen, sal jy gedruk voel om aan te hou werk daaraan. Gee daardie mense toestemming om jou oor jou vordering uit te vra. Dis soos om jouself ‘n sperdatum te gee sodat jy aanhou daaraan werk. Nog ‘n vorm van verantwoordbaarheid is om dinge neer te skryf.
Wil jy God se wil doen? Begin dit deur hierdie stappe te doen.
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6
2025-01-21
2 Korintiërs 3:5 NLV
Gideon se leërmag van twee-en-dertig duisend man was heeltemal deur die magdom Midianiete in getalle oortref toe God vir hom sê: ‘Jy het te veel soldate.’ Hy het Gideon beveel om enigiemand wat bang was te laat gaan en Gideon het twee-derdes van sy manskappe verloor. Hy het net tienduisend man oorgehad. Weer het die Here gesê: ‘Daar is steeds te veel manne,’ en Gideon se leërmag tot driehonderd mans verminder. Op daardie stadium was die kanse vir oorwinning seker omtrent ‘n miljoen tot een. Dit raak egter nog beter! God het Gideon beveel om die Midianiete met ramshorings en erdepotte aan te val. Kan jy glo – Israel wen die geveg!
Hoekom het God dit op hierdie manier gedoen? Want as Gideon met twee-en-dertig duisend mans aangeval en die geveg gewen het, sou die Israeliete slegs beperkte erkenning aan God gegee het. God is egter waardig vir meer. God verlang en verdien volle erkenning. Wanneer driehonderd mans ‘n massiewe leërmag met ramshorings en erdepotte verslaan, kry God al die heerlikheid (sien Rigters 7).
Te dikwels draai ons gebede om die versoek dat God ons kanse om te wen, moet vergroot. Ons wil hê dat alles in ons guns moet wees. Miskien wil God egter hê dat die kanse teen ons moet wees, sodat ons ‘n wonderwerk van goddelike omvang kan ervaar. Geloof is om God te vertrou, maak nie saak hoe hopeloos die kanse is nie. Ons onmoontlike omstandighede is geleenthede om ‘n nuwe hoogte van God se heerlikheid te ervaar.
Staar jy ‘n situasie in die gesig wat, menslik gesproke, buite jou vermoë is om te hanteer? Lees dan die volgende: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God’ (2 Korintiërs 3:5 NLV).
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4
2025-01-20
Romeine 8:18 NLV
In 1857 het David Livingstone die volgende toespraak by Cambridge Universiteit gelewer: ‘Mense praat van die opoffering wat ek gemaak het deur soveel van my lewe in Afrika deur te bring. Weg met so ‘n siening en met so ‘n gedagte! Dit was geen opoffering nie. Dit was eerder ‘n voorreg. Angs, siekte, lyding, of gevaar nou en dan, tesame met die afsien van die gewone geriewe van hierdie lewe, mag ons laat huiwer, die gees laat wankel en die siel laat sink; maar laat dit net vir ‘n oomblik wees. Al hierdie is niks in vergelyking met die heerlikheid wat in en vir ons geopenbaar sal word nie. Ek het nooit ‘n opoffering gemaak nie.’
Wanneer jy die Here dien, kry jy altyd meer terug as wat jy opoffer. As jy meer terugkry as wat jy opoffer, het jy dan werklik enigiets opgeoffer? ‘Petrus begin toe opnoem wat hulle alles opgeoffer het: ‘U moet darem besef ons het alles agtergelaat om U te volg.’ Daarop het Jesus geantwoord: ‘Ek verseker julle, elkeen wat ‘n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe!’ (Markus 10:28-30 NLV).
Die enigste spyt wat jy aan die einde van jou lewe gaan hê, is dat jy God nie meer en vroeër gesoek en gedien het nie.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Luk 4:31-44; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2