Sien jouself as waardevol (1)

2025-03-12
Filippense 4:13 NLV

Toe God die eerste mens gemaak het, het Hy gesien dat sy skepping ‘goed’ was. Dit beteken dat elke persoon wat al ooit gebore is, insluitend jy, sade van sukses binne hom het. Al wat jy moet doen is om hulle water te gee en te voed; en hulle sal groei. Hoekom versuim so baie mense dan om hulle Godgegewe potensiaal in die lewe te bereik? Een van die sleutelredes is ‘n lae selfbeeld; hulle glo nie in hulself nie. Hulle beskik oor honderde moontlikhede, maar hulle oortuig hulself dat hulle nie in staat is om te leer en te groei tot iets wonderliks nie. As jy nie glo dat jy waardevol en die moeite werd is om in te belê nie, sal jy nooit die tyd en moeite wat nodig is om te ontwikkel tot wat God jou gemaak het om te wees, bestee nie.

Zig Ziglar het gesê: ‘Dit is onmoontlik om konsekwent op ‘n manier wat nie ooreenstem met hoe ons onsself sien nie, op te tree. Ons kan baie min dinge op ‘n positiewe manier doen as ons negatief oor onsself voel.’ Paulus was nederig. Hy was bewus van sy totale afhanklikheid van God. Hy het egter ook ‘n gesonde sin van sy selfwaarde gehad. Hier is wat hy aan die mense wat in hom geglo het en sy bediening ondersteun het, geskryf het: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee. Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan’ (verse 13-14 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Sien jouself as waardevol, want God doen.

Sielskos: Job 8-10; Luk 17:1-10; Ps 115; Spr 8:1-3

Saai net die saad

2025-03-11
1 Korintiërs 3:5 NLV

Een dag toe Charles Colson geskeduleer was om vir driehonderd gevangenes by die San Quentin tronk te preek, is daar ‘n inspeksie uitgeroep en die meeste van die gevangenes is tot hulle tronkselle beperk. Colson het besluit om voort te gaan en vir die paar gevangenes wat toegelaat was om sy preek by te woon, die boodskap wat hy voorberei het te gee. Later, toe hy sy teleurstelling uitspreek dat die driehonderd gevangenes nie sy preek kon bywoon nie, is daar vir hom gesê: ‘Ons het jou boodskap opgeneem en gaan dit verskeie kere vir die meer as tweeduisend gevangenes in die tronk wys.’ Wat as Colson tot sy teleurstelling ingegee het en net ‘n kort toespraak, in plaas van die volle evangelistiese boodskap wat hy voorberei het, gegee het? Meer as tweeduisend gevangenes sou dan nie die evangelie gehoor het nie.

‘n Geleentheid mag dalk opduik waar jy die enigste persoon beskikbaar is om namens God te praat. Sal jy betroubaar in so ‘n oomblik wees? Jy is die belangrikste persoon in die wêreld vir God wanneer jy die een is wat Hy geroep het om iets vir Hom te doen. Die boodskap is egter belangriker as die boodskapper.

Paulus skryf: ‘…Ons is tog net diensknegte deur wie julle tot die geloof gekom het. Elkeen van ons het maar net die werk gedoen wat die Here aan ons toevertrou het. My werk was om die saad te plant. Apollos moes dit natgooi. Maar God het laat groei. Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk’ (verse 5-8 NLV).

Sielskos: Job 5-7; Luk 16:19-31; Ps 26; Spr 7:26-27

Jy word beveel om lief te hê

2025-03-10
Johannes 13:34 NLV

Liefde is nie ‘n emosie nie, omdat jy nie iemand kan beveel om ‘n sekere manier te voel nie. Om iemand lief te hê is ‘n keuse wat in jou houding en aksies teenoor daardie persoon, gemanifesteer word. Jesus het gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (verse 34-35 NLV).

Jesus het hierdie “‘n nuwe opdrag,” genoem. Wat is nuut daaraan? Hierdie woorde: ‘soos Ek julle liefhet.’ Omdat Christus in jou leef, kan jy ander mense met sy liefde liefhê. Jesus het altyd sy dissipels eerste gestel – Hy het hulle voete gewas, hulle uit storms gered en hulle geduldig geleer. Jy sê: ‘Maar hoe kan ek iemand liefhê waarvan ek nie eers hou nie?’ Jesus antwoord: ‘Soos Ek julle liefhet.’

C.S. Lewis vertel hoe hy ander mense se foute op ‘n ander wyse begin sien het: ‘Daar is iemand vir wie ek lief is, al keur ek nie goed wat hy doen nie. Daar is iemand wat ek aanvaar, hoewel sommige van sy gedagtes en optrede my in opstand laat kom. Daar is iemand wat ek vergewe, al maak hy die mense vir wie ek die liefste is, seer. Daardie persoon is ek… As ek myself kan liefhê sonder om alles wat ek doen goed te keur, kan ek ander ook liefhê sonder om alles wat hulle doen goed te keur.’ Dit wat Jesus jou beveel om te doen, bemagtig Hy jou ook om te doen: ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV).

Sielskos: Job 1-4; Luk 16:1-18; Ps 24; Spr 7:24-25

Moenie vermy nie – raak betrokke

2025-03-09
Johannes 17:18 NLV

Jesus het in Johannes 17:15-18 gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (NLV).

Waarheen het Jesus sy dissipels gestuur? Na die wêreld toe. Hy het nie gesê: ‘Probeer die wêreld vermy. Gaan net met die Christene in die kerk om en hou julle afstand van mense wat slegte taal gebruik en slegte mense is,’ nie. Hy sê dat jy in hierdie wêreld is om as verteenwoordiger van God na jou werk, jou buurt, jou omstandighede en jou situasies gestuur te word. Hy sê: ‘…Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook’ (Johannes 20:21 NLV). Ons word nie geroep om die wêreld te vermy nie, maar om daarby betrokke te raak.

Jy sê: ‘Maar ek voel nie gemaklik tussen sulke mense nie.’ Vra God dan om jou meer soos Jesus te maak, wat as ‘n vriend van sondaars bekend gestaan het (sien Lukas 7:34). Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in…’ (Matteus 10:16 NLV). Dit verg twee dinge vir skape om tussen wolwe te oorleef: dapperheid en wysheid. Dit verg ook totale toewyding.

Albert Schweitzer het sy aansien as ‘n voortreflike teoloog en wêreldklas musikant prysgegee om die armste mense op ‘n ander kontinent te dien. Waartoe God jou ook al geroep het, dit sal behels om mense lief te hê en jouself aan hulle te gee.

Sielskos: Ps 51; Mark 8:34-38

Probleme? Kom nader aan God

2025-03-08
Jakobus 4:8 NLV

Ons sê dat ons God vertrou, maar ons vrees dikwels dat Hy nie daar vir ons gaan wees wanneer ons Hom die nodigste het nie. Dus neem ons verkeerdelik aan dat as ons aanhou om aan die probleem te dink en ons genoeg daaroor bekommer, sal ons op ‘n manier dit self kan oplos, net vir ingeval God nie opdaag en iets volgens ons tydrooster doen nie. Dit bring ons nader aan ons probleme, maar nie aan die Een wat dit kan oplos nie. Wanneer ons egter kies om te glo dat God in beheer van ons lewens is en enige situasie waarin ons onsself bevind kan hanteer, beweeg ons nader aan God en lyk ons probleme nie meer so kommerwekkend nie.

Dit werk as volg: Hoe nader jy aan die probleem beweeg, hoe kleiner lyk God en hoe nader jy aan God beweeg, hoe kleiner lyk die probleem. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Deur op God te vertrou, sal jou daarvan weerhou om dinge te probeer uitpluis waarvoor jy nog nie antwoorde het nie. In plaas daarvan om na die neulende stem te luister wat sê: ‘Wat gaan jy doen?’ beweeg eerder nader aan God en sê: ‘Ek gaan op God vertrou om my te wys wat ek moet doen.’

Dawid het verklaar: ‘My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd… dit is goed om naby God te wees!..’ (Psalm 73:26, 28 NLV). Waar is God wanneer jy Hom die nodigste het? Reg langs jou!

Sielskos: Eks 39-40; Luk 15:11-32; Ps 135; Spr 7:21-23

Is God besig om jou te skud?

2025-03-07
Esegiël 37:1-2 NLV

God het vir Esegiël gesê om sy Woord aan ‘n vallei vol bene te profeteer, wat toe ‘n magtige leër geword het. Hierdie bene was oud, droog en het die hele valleivloer vol gelê. Dit mag dalk beskryf waar jy vandag is. Jou hoop is dood, jou siel is droog, jou lewe is in wanorde. Wat is die antwoord?

1) Jy het nodig dat God dinge in jou lewe skud. ‘…Skielik was daar ‘n gedreun… Die bene van elke liggaam het bymekaargekom’ (vers 7 NLV). Wanneer dit voel of dinge in jou persoonlike lewe, jou huislewe en jou werkslewe geskud word, moet jy bly wees; dit beteken dat God groot planne vir jou het.

2) Jy het nodig dat God deur sy Woord met jou praat. ‘…Droë bene, luister na die woord van die Here!’ (vers 4 NLV). God se Woord het ‘n klomp bene in ‘n leërmag wat kon verower, oorwin en sy doelwitte vervul, verander. God se Woord kan dieselfde vir jou doen.

3) Jy het nodig dat God sy Heilige Gees in jou blaas. ‘…Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewend kan word!’… Hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan, ‘n groot klomp mense’ (Esegiël 37:9-10 NLV). Wanneer jy deur sy Gees bemagtig word, sal jy jou eie verwagtinge oorskry en groot dinge vir God doen.

Esegiël kon nie die potensiaal in daardie bene sien nie, totdat God dit vir hom gewys het. Maak dus nie saak wat ander mense sê nie, God sien potensiaal in jou en dis hoekom Hy besig is om jou te skud.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:1-10; Ps 27; Spr 7:10-20