Ken jou doel, ken jou medewerkers

2025-03-18
Johannes 20:21 NLV

Om God se wil in jou lewe te identifiseer, moet jy oor twee dinge duidelikheid hê:

1) Jou doel. In die aanloop na sy kruisiging het Jesus gesê: ‘…Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom…’ (Johannes 18:37 NLV). Jou passie is die area in jou lewe wat die vuur in jou aansteek. Dit kan wêreldhonger, of verwaarloosde bejaardes, of onderwys wees. Jy sien dalk hoe klein kindertjies in skooldistrikte wat nie genoeg hulpbronne het nie grootword en dit breek jou hart. Of dalk raak ongehude moeders jou hart aan. In plaas daarvan om jou passie in jou geleenthede en jou vaardighede te vind, sal jy dit soms in die area van jou seerkry en letsels vind. Van mense wat met verslawings sukkel, tot diegene wat tyd in die tronk deurgebring het, tot diegene wat met emosionele versteurings worstel – daar is soveel areas. God sal nie ‘n seer mors nie.

2) Jou medewerkers. Jesus het die twaalf dissipels geroep en hulle toe twee-twee uitgestuur om die evangelie te gaan verkondig. Tesame met jou passie, jou sterkpunte en jou letsels, het jy mense in jou lewe nodig wat jou sal aanmoedig, jou sal vier en by dit wat jy besig is om te doen, betrokke sal raak. Paulus spel sy passie uit: ‘…die intense verlange van my hart… is dat my volk gered sal word’ (Romeine 10:1 NLV). Paulus het ook sy medewerkers geken: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (Filippense 1:3, 5 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – ken jou doel, ken jou medewerkers.

Sielskos: Job 24-28; Luk 18:31-43; Ps 13; Spr 8:14-16

Het jy al met God daaroor gepraat?

2025-03-17
Eksodus 33:11 NLV

Moses het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Dit is die ‘ontmoetingstent’ genoem (vers 7 NLV). Waaroor het hulle gepraat? “Op ‘n keer het Moses vir die Here gesê: ‘U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie… sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag…’ Hy vra toe vir Moses: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (verse 12-14 NLV). Let die drie dinge op waaroor Moses vir God uitgevra het:

1) ‘U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie.’ Dit was wys, want mense kan jou opbou of afbreek. Jy moet weet wie in jou lewe hoort en wie nie en God is die enigste een wat dit vir jou kan sê.

2) ‘Sê asseblief wat u planne is.’ God se wil, wat op God se manier, volgens God se tydsberekening gedoen word, bring altyd sukses mee. As jy egter jou eie wil, op jou manier, volgens jou eie tydsberekening doen, bring dit net moeilikheid en hartseer mee.

3) ‘Sodat ek kan weet wat U van my verwag.’ Op jou eie kan jy nie die uitdaging baasraak nie, maar deur die krag van God se inwonende Gees kan jy groot dinge vermag, Wat God vir Moses belowe het, beloof Hy ook vir jou: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?’

Sielskos: Job 21-23; Luk 18:18-30; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Die skakel tussen ongehoorsaamheid en stres

2025-03-16
Jeremia 7:23 NLV

‘n Vooraanstaande Christelike sielkundige sê dat daar ‘n direkte korrelasie tussen die stres wat ons ervaar en ongehoorsaamheid aan God se Woord is. Kan dit waar wees? Kan daar ‘n skakel tussen die stres wat jy ervaar en jou vlak van gehoorsaamheid aan God wees? Ja. Dink daaroor. Wanneer jy as verloste kind van God Hom wetend ongehoorsaam is, pla jou gewete jou en voel jy konflik en vooroordeel in jou binneste.

Wanneer jy bewustelik sy Woord skend, voel jy ongemaklik in jou eie vel. Wanneer jy dan tot God bid en Hom iets vra, voel dit asof jy met ‘n skuldeiser oor jou onbetaalde rekeninge praat. ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).

Soms kan ons nie die presiese oorsprong van die stres wat ons ervaar vasstel nie; dit voel net asof iets nie reg is nie. Wat moet jy doen? Stop en neem voorraad! Die twaalfstap-program verwys hierna as “‘n deursoekende en vreeslose morele inventaris”. Dit moet gedoen word sodat ‘n alkoholis of verslaafde van dit wat hulle bly terugdryf na hul verslawing, kan loskom.

Lees die volgende Skrifgedeelte versigtig en met gebed: ‘Wat Ek beveel het was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan’ (Jeremia 7:23 NLV).

Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-18; Mark 2:18-22

Die belangrikheid van God se Woord

2025-03-15
2 Kronieke 34:30 NLV

Toe Josia koning in Jerusalem geword het, het hy werkers aangestel om die tempel reg te maak. Daar het hulle ‘n kopie van die boek van gebooie van die Here, in die puin ontdek. Niemand het dit in jare gesien nie! Josia het geredeneer dat Juda se afgodsdiens direk verband daarmee hou dat hulle nie meer God se Woord lees nie. Dus het hy al die mense van Juda bymekaar laat kom, persoonlik vir hulle God se wet voorgelees en hulle gelei om hulle weer daaraan toe te wy om volgens die beginsels van God se Woord te leef.

Moenie die skakel misloop nie! Omdat hulle nie God se Woord gelees en daarvolgens geleef het nie, het God se mense in afgodsdiens verval. Jy ontdek God se prioriteite vir jou lewe in die Bybel. Wanneer jy nie God se Woord lees, dit bestudeer en oor die voorskrifte daarin mediteer nie, fokus jy uiteindelik op jou eie belange en skeep God se prioriteite af.

Enigiets wat jy bo God plaas, is ‘n ‘afgod.’ Soms is ‘n afgod ‘n sondige praktyk wat jy weet verkeerd is. ‘n Afgod kan egter ook ‘n wettige iets soos ‘n werk, of ‘n verhouding, of ‘n besondere belangstelling wees wat soveel van jou tyd en energie in beslag neem dat dit jou verhouding met God kortwiek of totaal verwaarloos. Die gesangeskrywer William Cowper het geskryf: ‘The dearest idol I have known, whate’er that idol be, help me to tear it from thy throne, and worship only thee.’

As jy ernstig daaroor is om God beter te leer ken, nader aan Hom te beweeg en Hom eerste in jou lewe te stel, moet jy die besluit neem om elke dag tyd met sy Woord deur te bring.

Sielskos: Job 18-20; Luk 18:1-17; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9

Bid daaroor en neem dan aksie

2025-03-14
Nehemia 2:18 NLV

Daar is ‘n tyd om te bid en ‘n tyd om aksie te neem. Soms beteken dit om die werksaansoek in te vul, of die tjek te skryf, of die afspraak te maak, of die gesprek te hê, of die skuif te maak.

Peter Marshall het gesê: ‘Ek wonder wat sou gebeur as ons almal sou instem om een van die Evangelies te lees totdat ons by ‘n plek kom wat vir ons sê om iets te doen, dan uitgaan om dit te doen en eers nadat ons dit gedoen het, weer begin lees? Daar is aspekte van die Evangelie wat verwarrend en moeilik is om te verstaan. Ons probleme lê egter nie in die dinge wat ons nie verstaan nie, maar eerder die dinge wat ons wel verstaan. Ons probleem is nie soseer dat ons nie weet wat ons moet doen nie. Ons weet baie goed, maar ons wil dit nie doen nie.’

Een van die groot foute wat ons maak is dat ons vir God vra om dit vir ons te doen wat Hy wil hê ons vir Hom moet doen. Voor God die waters van die Jordaanrivier geskei het sodat die Israeliete Kanaän kon binnegaan, het Hy eers vir die priesters opdrag gegee om ‘n paar treë in die rivier te gee. Hoekom het God dit so gedoen? Miskien wou Hy weet dat hulle genoeg geloof gehad het om hulle voete nat te maak. Solank as wat jou voete op droë grond geplant is, sal God nie die rivier vir jou skei nie. Jy sê: ‘Ek wag vir God om die eerste skuif te maak.’ Miskien wag God vir jou om in geloof uit te tree en die eerste stap te neem. Indien dit die geval is, is die woord vir jou vandag – neem aksie.

Sielskos: Job 15-17; Luk 17:20-37; Ps 19; Spr 8:6-7

Sien jouself as waardevol (2)

2025-03-13
Jesaja 43:4 NLV

As jy ‘n 10 wil wees, maar jou selfbeeld is ‘n 5, sal jou nooit die vlak van ‘n 10 bereik nie. Jy sal ‘n 5 of laer bereik. Jy kan nie die beeld wat jy van jouself het oortref nie. ‘n Lae selfbeeld plaas ‘n beperking op jou potensiaal. Waar kom ons lae selfbeeld vandaan? Van ander mense. Wanneer die belangrikste mense in jou lewe herhaaldelik vir jou sê dat hulle verwag dat jy nêrens gaan kom of niks waardevols gaan bereik nie, is dit wat jy uiteindelik van jouself begin glo. Dis soos om ‘n virus op jou rekenaar af te laai; dit vernietig jou Godgegewe potensiaal.

Wat is dan die antwoord? In plaas daarvan om dit wat ander mense van jou sê te glo, vind uit wat God van jou sê. Wie ken immers die waarde en potensiaal van ‘n produk beter as die vervaardiger wat dit gemaak het? Toe God vir Jeremia geroep het om ‘n profeet vir die volk Israel te wees, het Jeremia gesê: ‘…ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk!’ (Jeremia 1:6 NLV). Miskien kan jy met Jeremia identifiseer: ‘Ek is te jonk, of te oud, of nie die regte nasionaliteit nie, of nie opgevoed genoeg nie, of nie ryk genoeg nie.’ Let op wat God vir Jeremia geantwoord het: ‘Moenie sê jy is te jonk nie. Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm!’ (verse 7-8 NLV).

Om jou selfbeeld te verander, beteken dat jy die manier wat jy met jouself praat moet verander. Om jouself as waardevol te sien, moet jy jouself begin sien soos God jou sien.

Sielskos: Job 11-14; Luk 17:11-19; Ps 11; Spr 8:4-5