2025-03-24
Jesaja 26:3 NLV
Jou gedagtes bepaal jou gevoelens en jou gevoelens bepaal jou benadering tot die lewe. Deur dus die manier wat jy dink te verander, kan jy verander hoe jy voel en hoe jy die lewe benader. Anders as die wêreld, wat jou leer dat jy jou gedagtes leeg moet maak om vrede te ervaar, vul God jou gedagtes met vars, kragtige, verlossende gedagtes. ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’
Dit gaan nie net daaroor om jou wilskrag te gebruik om slegte gedagtes te probeer uitwis nie. As ‘n verkeerde, slegte of negatiewe gedagte in jou kop vassit en jy dit nie kan laat gaan nie, hou op probeer! Jy sal dit nie uit jou gedagtes uitwis nie. Dis soos om ‘n onkruid teen die grond af te sny in plaas daarvan om die wortels uit te trek; dit sal net weer begin groei. Wat jy moet doen is om die vernietigende gedagte met ‘n gedagte wat van God af kom, te vervang. Dis die enigste manier om verkeerde gedagtes te hanteer en die genesingsproses te begin. Die apostel Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Is jy oor jou gesondheid bekommerd? Vul jou gedagtes dan met die volgende Skrifgedeelte: ‘…Hy het ons kwale sy eie gemaak, en ons siektes het Hy op Homself geneem’ (Matteus 8:17 NLV). Is jy oor die toekoms bekommerd? Vul jou gedagtes met hierdie belofte: ‘Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:8 NLV).
Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2025-03-23
Hebreërs 10:2 AFR20
Om ‘n aanbidder in die volste sin van die woord te word, verg twee dinge. Eerstens, die begrip dat God se liefde vir jou nie van jou liefde vir Hom afhang nie. Die oomblik wanneer jy Christus as jou Verlosser aanneem, aanvaar God jou en klee Hy jou in die geregtigheid van Christus; daarom is jy altyd waardig om tot Hom te nader.
Tweedens, om te verstaan dat God se liefde vir jou nie bloot ‘n teologiese konsep is nie, maar iets wat met jou hart omhels word en waarop jou emosies reageer. Wanneer jy aanbid, laat jy jouself gaan en gee jy jouself sonder voorbehoud aan Hom oor. ‘…omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie…’
Wanneer jy glo dat die bloed van Jesus jou van alle sonde – verlede, hede en toekoms – gereinig het, word jy ‘n aanbidder wat in vervoering oor sy liefde is. Sondige patrone word verander en hardnekkige gewoontes word verbreek, wanneer jy jou oë van jouself afhaal en op Christus fokus. Paulus skryf: ‘…Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (Efesiërs 5:18-19 NLV).
Die psalmdigter Dawid skryf: ‘Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!’ (Psalm 34:9 AFR53). Verbeel jouself dat jy by jou gunsteling maaltyd aansit, dat jy elke happie proe en daaraan smul. So moet jy die liefde van God benader. Die waarheid van God se liefde vir jou moet nie net in jou gedagtes bly nie; dit moet deur jou hart ervaar word. Wanneer dit gebeur, aanbid jy God werklik.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15
2025-03-22
Markus 16:20 NLV
Die boek Markus word op die volgende manier afgesluit: ‘Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.’ Om die wil van God te verstaan is nie ‘n presiese wetenskap nie, selfs diegene wat geestelik volwasse is kan dit verkeerd verstaan. Jy kan egter op die volgende staatmaak: God sal ‘n kombinasie van die Gees en die Skrif gebruik om jou te lei. Soos jy sy Woord en jou hart oopmaak, sal God met jou praat. Dan moet jy daarop reageer.
Die manier om geestelik momentum te kry is deur te bid en dan ‘n besluit te maak. Hoe moeiliker die besluit is, hoe meer momentum kan dit produseer. Die hoofrede hoekom die meeste van ons nie agterkom dat God beweeg nie, is omdat ons nie beweeg nie. Aan die einde van haar bediening is Moeder Teresa dikwels deur haar bewonderaars gevra hoe hulle ‘n verskil met hulle lewens, soos sy met hare gemaak het, kan maak. Sy het dikwels met slegs vier woorde gereageer: ‘Vind jou eie Kalkutta.’
Dit beteken nie dat God se wil vir jou is om ‘n sendeling in ‘n ander land te wees nie. Dit kan dit wees; maar die groter waarskynlikheid is dat God jou roep om waar jy leef en werk aksie te neem. Voor God jou vra om groter dinge te doen, sal Hy jou vra om dit wat jy reeds het te gebruik, te doen wat jy kan en te dien waar jy is. Watter klein dinge kan jy dus nou doen wat jou gereed gaan maak vir die groot dinge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het?
Sielskos: Job 38-39; Luk 19:28-36; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2025-03-21
Jeremia 31:3 NLV
Nadat hulle vierhonderd jaar as slawe in Egipte deurgebring het, het die Israeliete met lae selfbeeld gesukkel. Dus het God vir hulle gesê: ‘Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (verse 3-4 NLV). Hoe kan jy jou selfbeeld bou, of weer herbou? Op drie maniere:
Eerstens, deur in God se onverdiende, onveranderlike, onfeilbare liefde vir jou te alle tye te glo.
Tweedens, deur te dien en aan ander te gee. Wanneer jy in die verlede geviktimiseer is, is jy geneig om op jouself te fokus. Dis nie dat jy selfsugtig wil wees nie, dis wat jy voel jy moet doen sodat jy kan oorleef. Tog is die teenoorgestelde waar. Wanneer jy iemand anders help – selfs deur net ‘n klein verskil te maak – verbeter dit jou selfbeeld. Dis moeilik om slegte gevoelens oor jouself te hê wanneer jy besig is om iets goeds vir iemand anders te doen. Boonop veroorsaak waardetoevoeging tot ‘n ander se lewe dat daardie persoon jou meer waardeer. Dit skep ‘n siklus van positiewe gevoelens van een persoon na ‘n ander.
Derdens, om die regte ding te doen, selfs wanneer dit die moeilike ding is om te doen. Om getrou aan jouself en jou waardes te wees is ‘n merkwaardige selfbeeldbouer. Elke keer as jy iets doen wat jou karakter bou, word jy ‘n sterker mens – hoe moeiliker die taak is, hoe meer word jou karakter gebou. ‘n Positiewe karakter beïnvloed elke area van jou lewe, wat jou selfvertroue en positiewe gevoelens in alles wat jy doen, gee.
Sielskos: Job 35-37; Luk 19:20-27; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2025-03-20
Efesiërs 6:4 NLV
Om ‘n saad te plant is net die eerste stap in ‘n seisoen. Dan is daar water, bemesting, onkruid en die beskerming van die sukkelende plant teen plae, siektes, storms en ongunstige weer. Baie blomme en groente benodig stokke, hokke en ander ondersteunings om hulle te help om hoog te staan en hul vrugte te dra. Die tuinier wat niks anders doen as om ‘n saad te saai nie, moet nie verbaas wees as sy of haar plante nooit volwassenheid bereik nie. Byna alle lewende dinge in God se skepping plant voort deur ‘n saad te saai: mense, plante, voëls, visse en diere. Wanneer ‘n saad buite sig in die grond begrawe word, is daar min wat ons kan doen om sy groei te beïnvloed.
Wanneer ‘n nuwe plant – en veral ‘n nuwe baba – egter die wêreld binnekom, is dit waar die resultate van ware boerdery – en ouerskap – gesien kan word. Passiewe ouerskap is om ‘n kind op sy of haar eie manier te laat grootword. Bybelse ouerskap is egter ‘n ander saak. As jy ‘n ouer is, lees die volgende Skrifgedeeltes: ‘Iemand wat nederig is en respek het vir die Here, kry rykdom, eer en lewe. Op ‘n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle. Iemand wat omgee vir homself, bly ver daarvan weg. Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie’ (Spreuke 22:4-6 NLV). ‘Maar regverdiges sal blom soos ‘n palmboom en welig groei soos ‘n seder van die Libanon. Geplant in die Here se woning, groei hulle weelderig, daar in die tempel van ons God. Al is hulle oud, is hulle ‘n aanwins; hulle is vars en lewenskragtig’ (Psalm 92:13-15 NLV). Dit word ‘ouerskap op die Bybelse manier,’ genoem.
Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2025-03-19
Matteus 6:33 AFR53
Die eerste stap om dit wat jy in die lewe wil hê te kry, is om te weet wat jy wil hê. Jesus het in wese gesê: ‘Die sleutel om uit die lewe te kry wat jy wil hê, is om te fokus op wat Ek vir jou lewe wil hê.’ Let op die woorde ‘soek eers.’ Hierdie woord ‘soek’ beteken ‘om ywerig daarna te streef,’ of ‘om sterk te begeer.’ Die aksie is deurlopend. Dit sê: ‘Hou aan streef, hou aan soek, hou aan om daagliks te begeer.’
Wanneer Jesus sê: ‘Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid…’ beteken dit dat jy nie hoef te bid oor wat jou top prioriteit in die lewe behoort te wees nie; alles wat jy doen, sal deur hierdie twee dinge gerig word. Waar jy werk, hoe jy jou tyd bestee, die persoon met wie jy trou, hoe jy jou geld bestuur, die verhoudings wat jy aanknoop, die tydverdrywe wat jy geniet, die aankope wat jy maak – dit alles sal deur een filter gesif en gesorteer word: ‘Is dit vir sy koninkryk? Hou dit met sy geregtigheid verband?’
Kan jy dink hoe hierdie lewenswyse jou huwelik, jou werk, jou familie, jou finansies en elke ander area van jou lewe sal transformeer? Om egter die prioriteite van die koninkryk na te streef, moet jy eerstens ‘n verhouding met die Koning hê. Jy sal nie eers weet waar die koninkryk is of hoe dit lyk, totdat jy die Koning ken nie. Jy kan Hom ken. Hoe? Soos jy die bladsye van sy Woord oopslaan en jou hart oopmaak, sal Hy Homself aan jou openbaar. Soos jy tyd met Hom in gebed bestee, sal Hy op jou reageer.
Sielskos: Job 29-31; Luk 19:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18