Maak jy jou kinders alleen groot?

2025-03-30
Psalm 30:6 NLV

Een huwelikskenner sê dat ‘n enkelma hom ‘n verhaal gestuur het wat die eensaamheid en stres wat enkelouers ervaar, help verduidelik het. Sy het gesê sy het een dag by haar venster uitgekyk hoe die reën val en ‘n voëltjie met haar kroos kuikens in ‘n nes gesien sit het. Terwyl die reën uitgesak het, het die moedervoël haar tjirpende kuikentjies met haar uitgestrekte vlerke bedek. Toe begin die hael val. In plaas daarvan om haar kop veilig in die nes te steek, het die voëltjie haar kop opwaarts gelig en die houe geneem om haar kleintjies te beskerm. Al die kuikens het dit veilig deur die storm gemaak. Dis ‘n grafiese illustrasie van die gevare van enkelouerskap!

Die verantwoordelikheid om kinders alleen groot te maak is onverbiddelik en vereis dat ‘n ma of pa ‘n bestaan maak, kook, skoonmaak, toesig hou oor huiswerk, vir siek kinders sorg, ensovoorts. Buiten hierdie daaglikse pligte moet hulle ook uitvind hoe om in hul eie persoonlike en geestelike behoeftes te voorsien. In konteks gesien is dit dalk een van die moeilikste opdragte op aarde. Enkelouers, hetsy ma’s of pa’s, het ons volgehoue ondersteuning en gebede nodig.

Aan diegene wat die houe namens hul kinders vat, wees verseker dat beter dae op pad is. Die storm waarin jy jou bevind sal nie vir ewig duur nie. ‘n Pragtige reënboog sal binnekort verskyn. Wanneer die werk afgehandel is en ‘n kroos gesonde voëltjies groot is, sal daar lieflike voordele vir die ouers wat nie wegvlieg nie, wees. God se Woord beloof: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’

Sielskos: 1 Kor 9:24-27; Num 6:1-8; Spr 25:28

Soek God

2025-03-29
Jeremia 29:13 NLV

God gee ons opdrag om Hom te soek, maar dis nie asof Hy vir ons wegkruip nie. Wanneer ons God soek, maak ons ‘n besluit wat nodig is om ons in die geestelike ryk te bring. Sommige vlakke van seën word nooit ontvang tensy daar ywerig na hulle gesoek word nie. Dis jou soeke na God wat Hom beweeg om te reageer. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV).

Daar is geen handleiding wat ons stap vir stap vertel wat die regte manier is om die Here te soek nie. Sommige mense soek Hom stilweg, met trane wat oor ‘n moeë gesig loop. Ander soek Hom terwyl hulle op die strand stap en na die golwende gety staar. Sommige mense hef hulle hande op en loof Hom met liefdevolle uitdrukkings van aanbidding. Daar is nie reëls nie, jy moet Hom net met jou hele hart soek.

Wat beteken dit om God heelhartig te soek? Dit beteken dat jy Hom jou volle aandag gee deur afleidings uit die weg te ruim, sodat jy op Hom kan fokus. Verbeel jouself jy laat val ‘n kontaklens of ‘n kosbare steen uit ‘n ring en sê: ‘Ag, ek sal dit later soek.’ Nee, die waarde wat jy op iets plaas bepaal die intensiteit waarmee jy daarna soek. Wanneer jy bid: ‘Here, ek het U nodig; ek gaan dit nie sonder U maak nie,’ bid jy heelhartig. God beantwoord sulke gebede: ‘As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom…’ (Jeremia 29:13 DB).

Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

Stop en reflekteer

2025-03-28
Psalm 44:9 NLV

Wanneer hy groot waarhede en insigte met ons deel, gebruik die psalmdigter dikwels die woord ‘Sela.’ Dit beteken ‘stop en reflekteer.’ Vir baie jare het mense gesê dat ondervinding die beste leermeester is. Die waarheid is egter dat geëvalueerde ondervinding die beste leermeester is! Om te stop en te reflekteer is een van die belangrikste aktiwiteite wat jy kan doen om te groei. Dit verskaf meer waarde as motivering of aanmoediging, omdat dit jou laat seker maak dat jy op die regte pad is. As jy immers op die verkeerde pad is, het jy nie aanmoediging nodig om vinniger te beweeg nie. Jy moet stop, reflekteer en jou koers verander.

In ‘n beskrywing van die eindtye, sê die Bybel: ‘…Baie sal hiernatoe en daarnatoe gaan om meer te wete te kom’ (Daniël 12:4 NLV). Kennis, wat informasie, feite en data is sal toeneem, maar dit beteken nie noodwendig dat begrip sal toeneem nie. Jy kan baie kennis deur ‘n skerp intellek en ‘n goeie geheue verkry. Om egter begrip daarvan te hê, moet jy die tyd neem om dit wat jy sien en hoor te verstaan. Galileo het gesê: ‘Alle waarhede is maklik om te verstaan sodra hulle ontdek is. Die punt is om hulle te ontdek. Dit verg ondersoek.’

Deur te stop en te reflekteer, kan jy deur jou ervarings werk, hulle in perspektief plaas en wysheid daaruit verkry, sodat jy ‘n beter toekoms kan hê. Dit word dikwels ‘aha’ oomblikke genoem, wanneer jy skielik begrip of insig kry. Dis dan wanneer die spreekwoordelike gloeilamp aangeskakel word. Min dinge is beter as sulke oomblikke. Sulke oomblikke is egter net vir diegene wat die tyd en inspanning neem om te stop en te reflekteer, beskore.

Sielskos: Lev 1-4; Luk 20:20-26; Ps 31; Spr 8:34-36

Hoe om te vergewe

2025-03-27
Efesiërs 4:32 NLV

In 1982 het John Hinckley Jnr die lewe van president Ronald Reagan probeer neem deur hom met ‘n geweer te skiet. Reagan se dogter, Patti, het later vertel wat sy by haar pa geleer het terwyl hy in die hospitaal was: ‘My pa het gesê hy weet dat sy fisiese genesing direk afhanklik is van sy vermoë om John Hinckley te vergewe. Dit het my gewys dat vergifnis die sleutel tot alles is. Hy het my ‘n voorbeeld van hoe om soos Christus te dink, gegee.’

Soms is die wonde wat ander ons toedien onbedoeld en ander kere is dit doelbewus. In beide gevalle gee die Skrif ons egter ‘n duidelike standaard oor hoe ons moet reageer. Jy moet diegene wat jou seermaak vergewe, ‘soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ Dis ‘n hoë standaard, maar dis een wat genesing vir ons diepste wonde bring.

Soms deel ons vergifnis soos ‘n outomaat uit – meganies en sonder enige gevoelens. Die Bybel sê egter dat twee dinge met ons vergifnis moet gepaardgaan: vriendelikheid, wat deur ons aksies uitgedruk word en omgee, wat deur ons houding uitgedruk word. Hoekom? Omdat dit die manier is hoe God ons vergewe. Deur die Skrif vind ons dat emosies soos vriendelikheid, sagmoedigheid, medelye en deernis – in woorde of deur aksie – aan God toegeskryf word. Ons vind ook voorbeelde daarvan in die lewe van die mense wat God gebruik om sy planne en doelwitte te vervul. Josef was een van hulle, toe hy sy broers wat hom verraai het vergewe het. God roep ons om dieselfde te doen. Hierdie tipe vergifnis is net soveel ‘n daad van die hart as wat dit ‘n daad van die wil is.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 20:9-19; Ps 18:30-50; Spr 8:32-33

Word deur wysheid gelei

2025-03-26
Spreuke 19:2 NLV

As jy impulsief is, neig jy om ‘n tekort aan dissipline te hê. Jy kan onnadenkend of onsensitief teenoor ander wees. Jy mag dit dalk moeilik vind wanneer jy nie onmiddellike bevrediging kry nie. Jy het ‘n lae verdraagsaamheid teenoor frustrasie. Jy raak maklik verveeld. Jy kan vinnig op jou perdjie spring. Indien dit jou beskryf, is hier ses beginsels wat jy in jou lewe moet probeer inkorporeer:

1) Vra raad by wyse vriende voor jy met ‘n idee voortgaan. “‘n Mens met insig kry steeds meer kennis. Wyse mense hou altyd hulle ore oop vir nog meer kennis” (Spreuke 18:15 NLV).

2) Bou vriendskappe met mense wat nie net wys is nie, maar ook sterk genoeg is om jou verantwoordbaar te hou. ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).

3) Neem tyd om oor ‘n potensiële oop deur te bid, moenie aanneem dat jou intuïsie ‘n goddelike opdrag is nie. ‘…Hy wys vir sondaars die regte pad. Hy lei die nederiges op die regte weg, en vir dié wat beskeie is, leer Hy sy pad’ (Psalm 25:8-9 NLV).

4) Bestudeer en lees op oor ‘n area voordat jy tot aksie oorgaan. “‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee” (Spreuke 14:15 NLV).

5) Wanneer jy aan die einde van ‘n seisoen van aktiwiteit kom, neem tyd om daaroor te reflekteer, sodat jy ‘n wyser persoon kan word voor jy na die volgende ding aanbeweeg. ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek’ (Spreuke 21:5 NLV).

6) Wy jouself aan iets toe en hou daarby, selfs wanneer die volgende impuls, wat soveel lekkerder lyk, verbykom.

Sielskos: Est 5-10; Luk 20:1-8; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

Hoe God jou sien

2025-03-25
1 Johannes 4:17 NLV

Wanneer jy jou vertroue in Christus as jou Redder plaas, sien God jou as ‘in Christus.’ Die woorde ‘in Christus’ word ongeveer agt-en-sewentig keer in die Nuwe Testament gebruik. Wanneer God na jou kyk, sien Hy jou nie met al jou foute en gebreke nie; Hy sien jou in Christus. Aangesien Christus vir al jou sonde versoening gedoen het, is jy aanvaarbaar deur Hom (sien Efesiërs 1:6 NLV).

‘n Geseënde toekoms hang nie af van hoeveel jy daarna streef om perfek te wees of hoe hard jy werk om jouself te verander nie. Dit hang van die persoon van Jesus Christus en die feit dat jy in Christus is, af. Die Bybel verkondig: ‘…Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is.’ Jy sê: ‘Maar sekerlik kry jy net wat jy verdien?’ Dis waar, tensy jy in Christus is. Dan kry jy wat Hy verdien! ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV).

Die woord ‘geregtigheid’ is ‘n wetlike term. Dit beteken ‘om reg voor God te hê.’ Vine se An Expository Dictionary of Biblical Words definieer geregtigheid as ‘daardie genadige gawe van God aan mense waardeur almal wat in die Here Jesus Christus glo, in ‘n regte verhouding met God gebring word.’ Met ander woorde, jou regte posisie voor God is op Jesus se regte posisie voor God gebaseer. Jy moet bly wees daaroor. Hoekom? Omdat die enigste geregtigheid wat aan God se veeleisende standaard van volmaaktheid voldoen, die geregtigheid van Christus is. Aangesien jy in sy geregtigheid geklee is, kan jy seker wees van God se aanvaarding en elke dag in sy seën wandel.

Sielskos: Est 1-4; Luk 19:45-48; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31