2025-03-01
Matteus 9:36 NLV
Wanneer jy selfbehep en net op jou eie belange gefokus is, is dit maklik om mense in nood mis te kyk en geen besorgdheid te toon nie. Wanneer jy egter jou lewe aan Christus toevertrou en in sy voetspore volg, verander jou gesindheid.
“Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ‘n wagter wat na hulle omsien. Daarop sê Hy vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die werkers wat dit moet insamel, is so bitter min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien'” (verse 36-38 NLV). Jesus was ontroerd deur mense wat weerloos was. Die stres van die lewe het hulle afgemat en die laste wat hulle gedra het was swaar. Hulle was mense met geen rigting, geen fokus, geen doelwitte in die lewe nie. Wat was Christus se reaksie? Omdat die behoefte so groot was, het Hy vir sy dissipels gesê om te bid dat God ‘werkers vir sy oesland voorsien.’
‘n Mens kry net soveel tyd om ‘n oes in te samel, anders verloor jy dit. Moenie die punt wat Jesus maak, of die dringendheid daarvan, misloop nie. Jy is geroep om medelye teenoor die mense rondom jou wat moeg en weerloos is te bewys en elke geleentheid om hulle na Jesus toe te bring, aan te gryp.
‘n Man wat nie kon loop nie het by die tempelhekke gesit en bedel. Dag na dag het die skare verby hom geloop, maar nie Petrus en Johannes nie (sien Handelinge 3:1-11). Wanneer jy skielik deur ‘n behoefte waar jy telkemale al verbygeloop het, ontroer word, is God besig om vir jou te sê om betrokke te raak en iets daaraan te doen.
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29
2025-02-28
Romeine 1:17 AFR53
Daar is ‘n verhaal van ‘n ma wat vir haar seun gesê het: ‘Dis tyd om op te staan en skool toe te gaan.’ Hy het geantwoord: ‘Ek gaan nie vandag skool toe nie!’ Sy ma het gevra: ‘Hoekom nie?’ Hy het geantwoord: ‘Want die kinders haat my en die onderwysers kritiseer my. Hoekom moet ek skool toe gaan en dit alles deurmaak?’ Sy ma het geantwoord: ‘Want jy is die skoolhoof!’
Die Christelike lewe is ‘n skool. Paulus beskryf elke graad om van ‘geloof tot geloof’ te gaan. In die skool van geloof is die Heilige Gees die onderwyser en die Bybel is die handboek. As jy goed studeer en op jouself toepas, kan jy deur die grade op beweeg. Indien jy dit nie doen nie, sal jy in dieselfde graad bly totdat jy die lesse geleer het en die toetse kan slaag. Jy is soos die dame wat geskerts het: ‘My gunsteling graad was graad vyf. Drie van my gelukkigste jare het ek in daardie graad deurgebring!’
Tensy jy wil hê dat dit jou lot moet wees, lees hierdie woorde en neem dit ter harte: ‘Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik’ (2 Timoteus 2:15 NLV).
As jy God wil ken, moet jy Hom in die bladsye van sy Woord ontmoet. Jy sal ook met die Heilige Gees gevul moet bly: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Sielskos: Eks 19-21; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28
2025-02-27
Daniël 11:32 NLV
Die Bybel sê: ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is.’ Hierdie Skrifgedeelte is nie ‘n lisensie om arrogant of onsensitief teenoor ander mense se gevoelens te wees, of ‘n oordrewe opinie van jouself te hê nie. Dit beteken dat wanneer jy God se Woord, God se maniere en God se wil verstaan, sal jy vertroue hê in wie jy is en in dit wat God jou geroep het om te doen.
Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer probeer doen? Jy sê: ‘Ek is bang ek misluk.’ Almal misluk; die wenners is diegene wat aanhou om weer op te staan. Blykbaar het sommige mense in die Nuwe Testamentiese kerk gedink dat Timoteus te jonk was om in die leierskap te dien, dus het Paulus hom aangemoedig om vrymoedig in sy roeping te wees: ‘Timoteus, ek dank God vir jou… Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma Loïs. Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas. Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. Jy moet dus nooit skaam wees om ander van ons Here te vertel nie… Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly’ (2 Timoteus 1:3, 5-8 NLV).
God het nie belowe dat jy nie swaarkry sal ervaar wanneer jy dit doen waarvoor Hy jou geroep het nie, maar Hy het belowe dat jy sal slaag. Die woord vir jou vandag is dus – wees Bybels; wees vrymoedig!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25
2025-02-26
Romeine 12:6 NLV
‘n Fassinerende studie is oor uiteenlopende denke – mense wat buite die boks dink – gedoen. Die resultate? Agt-en-negentig persent van kinders tussen die ouderdom van drie en vyf jaar oud het in die genie kategorie van uiteenlopende denke geval. Tussen agt en tien het daardie getal tot 32 persent geval. Teen die tyd wat hulle tieners word, val daardie getal tot 10 persent. Net twee persent van diegene oor die ouderdom van 25 jaar het in die genie kategorie vir uiteenlopende denke geval. Dit beteken hoe ouer mens word, hoe groter word jou geneigdheid om verandering teen te staan. Dit beteken ook dat jy dalk nie jou Godgegewe opdrag mag ontdek of die vaardighede ontwikkel om dit te vervul nie.
Die Bybel sê: ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het… Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:4, 6 NLV). God se plan vir jou lewe sluit in dat jy uitvind wat jou anders maak en dat jy die dinge wat jy goed doen, moet ontdek.
Te veel individue in te veel kerke lyk en tree dieselfde op. As daar egter een plek is wat diversiteit moet vier, is dit die kerk. Daar was nog nooit en daar sal ook nooit weer ‘n persoon soos jy wees nie. Dit beteken dat jy moet uitvind wie jy is, en wie jy nie is nie. Dink daaroor: Sal jy nie eerder geminag word vir wie jy is as wat mense van jou hou vir wie jy nie is nie? Indien dit die geval is, moet jy ontdek wat jou spesiaal maak.
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22
2025-02-25
Handelinge 10:4 AFR20
God het vir Kornelius gesê: ‘…Jou gebede en jou liefdadigheid het tot ‘n gedenkoffer voor [My] opgestyg.’ Gedenkoffers word gewoonlik deur mense wat gesterf en weg is, gegee. Wat ‘n wonderlike belofte is dit nie. Selfs nadat jy hemel toe gegaan het, word die gebede wat jy vir jou geliefdes gebid het ‘n gedenkoffer voor God, wat sy aandag trek en Hom tot aksie laat oorgaan. Moet dus nie ophou bid nie.
Sint Augustine word as een van die invloedrykste figure in die geskiedenis van die Christendom beskou, maar sy lewe het nie goed begin nie. Die jong Aurelius Augustinus het vir drie dekades in totale onsedelikheid geleef. Vir elk van daardie dekades het sy moeder, Monica, vir hom gebid. Sy het die hemel met gebede oor hom gebombardeer. Monica het lank genoeg gelewe om te sien hoe haar seun ‘n kragtige man van God word. Jy mag dalk nie lank genoeg lewe om te sien hoe jou geliefde na Christus draai nie, maar weet dat God sê: ‘Jou gebede en jou liefdadigheid het tot ‘n gedenkoffer voor [My] opgestyg.’
Ons praat hier van die nadoodse krag van gebed. Johannes het ‘n blik daarvan gekry toe hy die hemel besoek het: “‘n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ‘n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is, en om dit op die goue altaar wat voor die troon staan, te offer. Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, het gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is, en het opgestyg voor God” (Openbaring 8:3-4 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – hou aan bid en God sal jou gebede beantwoord.
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19
2025-02-24
Genesis 3:6 AFR83
Emosies word ook gevoelens genoem. Gevoelens kan baie sterk wees. Die meeste van ons besef hoe ons voel. Ons maak besluite wat deur ons gevoelens aangespoor word. Verhoudings word deur gevoelens gevestig en vernietig. Deur te sien wat goed, mooi en begeerlik voel, is wat Eva tot ongehoorsaamheid gelei het. Die Bybel sê nie dat sy honger was nie; anders sou sy van enige van die ander bome in die tuin van Eden geëet het. Emosionele drama in die eerste vrou het die deur vir emosionele drama in ons almal oopgemaak. Dis dus geneties.
Emosies verg ook bevrediging: woede, seer en liefde wil bevredig word. As ons nie onsself beheer nie, lewe ons in die drama van slegte emosies. Om ‘n wedergebore Christen te wees wie se emosies nie deur God aangeraak is nie, is ‘n onvoldoende lewe. God werk in ons om ons te transformeer (sien Romeine 12:1-2). Emosies moet vernuwe word, sodat haat in liefde, vloek in seën, wrokke in vergifnis, woede in vrede en swaarmoedigheid in lof verander.
Wanneer ons deur God se Woord en sy Gees getransformeer word, word ons van die drama en chaos wat ons emosies kan veroorsaak, vrygemaak. Wanneer ons deur ons emosies aangedryf word, wil ons ‘n ‘voel-goed’ mentaliteit hê. Eva leer ons egter dat ‘n voel-goed mentaliteit ‘n baie slegte motivering is wat ons in die moeilikheid bring. Ons lewe moet deur die Heilige Gees aangespoor word en sy motivering is nie net om goeie gevoelens te skep nie; sy doel is om gehoorsaamheid te produseer. Gehoorsaamheid sal altyd emosies oortref en sal jou altyd op ‘n manier wat emosies nie kan nie, bevredig.
Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15