Volhard en jy sal sukses behaal

2025-02-23
Galasiërs 6:9 NLV

Jy sal allerhande soorte probleme in die lewe hê. Wat moet jy dus doen? Volhard! Maak nie saak wat in jou lewe aangaan nie, die oorwinning lê daarin om te weier om tou op te gooi. Hou in gedagte dat tydens die hitte van jou stryd die Heilige Gees dikwels sy grootste werk in jou doen. Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter…’ (Romeine 5:3-4 NLV).

God sal jou deur enigiets lei as jy net sal vasbyt en Hom volg. Dit beteken om ywerig in gebed, meedoënloos in jou vasberadenheid, onwrikbaar in geloof en vasbeslote om op God se Woord en sy beloftes aan jou vas te staan, te wees. Moenie dat jou aandag deur hoe stadig dinge op die oomblik lyk asof dit gebeur, afgetrek word nie. Wanneer jy in die ‘daar gaan nie veel aan nie’ fase is, is dit dikwels wanneer God ‘n sterk fondasie lê om iets betekenisvol in jou en deur jou te doen. Die Here se werk in jou is voorbereiding vir die werk wat Hy deur jou wil doen.

Wanneer die lewe moeilik en vordering te stadig lyk, moet jy God vra om jou te help om standvastig te wees. Hy sal dit doen. Hier is twee Skrifgedeeltes waarop jy vandag kan staan: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV).

Sielskos: Eks 20:4; Jes 44:6-20; Rom 1:21-25

Jy moet dit wil hê wat God wil hê

2025-02-22
Nehemia 2:4 NLV

Die herbouing van Jerusalem se mure het met twee vrae van die koning aan Nehemia begin. Die eerste vraag was: ‘…Hoekom lyk jy so hartseer?..’ (vers 2 NLV). Die tweede vraag was: ‘…Hoe kan ek jou help?..’ (vers 4 NLV). Nehemia het geantwoord: ‘…stuur my dan na Juda toe. Ek sal dan gaan na die stad waar my voorouers begrawe lê, en dit herbou’ (vers 5 NLV). Nehemia het presies geweet wat hy wou hê, omdat ‘n passie daarvoor in sy gees verwek is. Hy het reeds vir ‘n paar maande daaraan gedink en daaroor gebid voor die koning vir hom gevra het hoe hy hom kon help.

‘n Pastoor skryf: ‘Min dinge is so wonderbaarlik soos die oomblik van menslike bevrugting. ‘n Spermsel dring ‘n eiersel binne en al die genetiese data wat bepaal wie jy sal word – alles van gesigseienskappe tot persoonlikheidseienskappe – is in daardie enkele sel gekodeer. Die moeder se liggaam begin hormone nog voordat sy weet sy is swanger, produseer. Die baba se hart begin op dag twee-en-twintig klop. Na vier weke het daardie enkele sel tienduisend keer groter geword. Op ongeveer dag twee-en-veertig begin neurone teen die verbysterende tempo van ongeveer tienduisend per sekonde, vermenigvuldig. Alles van die optiese senuwee tot die ouditiewe korteks tot die respiratoriese stelsel word in die baarmoeder gevorm.’

‘n Godgegewe visie word op dieselfde manier verwek. Dit begin klein en hou aan groei tot die tyd wat dit waar word. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word… Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie’ (Habakuk 2:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – jy moet wil hê wat God wil hê.

Sielskos: Eks 4-6; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Wat weerhou jou daarvan om te wen?

2025-02-21
Hebreërs 12:1 NLV

In antieke Griekeland het atlete met gewigte wat aan hulle liggame vasgemaak was, geoefen. Op die dag van die wedloop, het hulle dit egter afgehaal om te wen. Wat weerhou jou daarvan om te hardloop en te wen?

1) Vergelyk jy jouself met ander? Die enigste persoon met wie jy jou moet vergelyk, is met jouself. Jou doelwit is om vandag beter te word as wat jy gister was. Jy doen dit deur op dit wat jy vandag kan doen om te verbeter en te ontwikkel, te konsentreer. As jy dit gereeld doen en as jy die manier waarop jy weke, maande of jare gelede was met hoe jy vandag is vergelyk, behoort jy aansienlik deur jou vordering bemoedig te word.

2) Beperkte visie? As gevolg van die manier waarop hulle grootgemaak is, of sekere foute wat hulle dalk in die lewe gemaak het, glo baie mense dat hulle nie groot dinge kan bereik nie. Die grootste beperking wat mense egter ervaar, is tipies dié wat hulle op hulself plaas. Wat as jy byvoorbeeld ‘n vreemde taal wil leer, maar jy dink dat jy dit nie kan doen nie? Sodra jy daardie foutiewe geloofstelsel ontbloot het, sal jy verstaan hoe beperk jy sal wees indien jy nie die taal aanleer nie. Stel jou dan voor hoe dit sal wees wanneer jy daardie taal aanleer. Hoe sal dit jou laat voel? Wat sal dit jou in staat stel om te doen? Skryf dan ‘n inspirerende stelling wat jou vermoë om die taal aan te leer, ondersteun! Eis die volgende belofte op: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Dit beteken dat jy met God se hulp kan wen.

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Oefen om goedgesind te wees

2025-02-20
Efesiërs 4:32 NLV

In sy topverkoper boek, 7 Habits of Highly Effective People, beskryf Steven Covey ‘n ervaring wat hy op ‘n moltrein in New York gehad het. ‘n Man en sy kinders het op die trein geklim en die kinders was so luidrugtig en rumoerig dat hulle die hele wa ontwrig het. Die man het langs Covey gaan sit, oënskynlik onbewus van die situasie. Covey het uiteindelik vir hom gesê: ‘Meneer, jou kinders pla regtig ‘n hele klomp mense. Kan jy hulle asseblief nie bietjie tot bedaring bring nie?’ Die man het verbaas gelyk. Toe het hy gesê: ‘O, jy is reg. Ek moet seker iets daaraan doen. Ons kom nou net van die hospitaal af waar hulle ma omtrent ‘n uur gelede gesterf het. Ek weet nie wat om te dink nie en ek dink hulle weet ook nie hoe om dit te hanteer nie.’

Covey se houding het onmiddellik verander. Toe hy later daarop terugkyk, het hy erken dat hy ‘n waardevolle les daaruit geleer het: Probeer om te verstaan voordat… jy vereis om verstaan te word. Soms doen die mense wat ons irriteer en seermaak dit omdat hulle self in pyn is. Hulle het kwessies waarvan ons nie weet nie. Dit verg dat jy verder as hulle woorde en aksies moet kyk en hulle harte moet probeer raaksien.

Die Bybel spreek dit aan: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 31-32 NLV). As jy al ooit iesegrimmig teenoor diegene saam met wie jy woon en werk was, is die woord vir jou vandag – oefen om goedgesind te wees.

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8

Almal het ‘n doring (2)

2025-02-19
Efesiërs 6:10 NLV

Paulus sê vir ons twee dinge van sy doring: Eerstens, dat dit ‘n boodskapper van Satan was om hom te kasty. Die woord ‘kasty’ beteken om ‘hou na hou te gee.’ Dit was nie een geveg nie, maar ‘n reeks aanvalle wat nie opgehou het nie. Satan weet wat jou swakste areas is en sal jou herhaaldelik in daardie areas aanval. Hoe kan jy hom oorwin? Die Bybel sê vir ons: ‘…Vind julle krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (verse 10-12 NLV).

Tweedens, die doring was in sy ‘vlees.’ Jy is ‘n wedergebore gees, wat in ‘n onwedergebore liggaam leef. Dis hoekom die Bybel ons beveel om die vlees te kruisig, die vlees uit te honger en te weier om aan die begeertes van die vlees toe te gee. Met God se krag kan jy dit doen: ‘Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die geneigdheid van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word’ (2 Petrus 1:3-4 NLV).

Sielskos: Gen 47-49; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Almal het ‘n doring (1)

2025-02-18
2 Korintiërs 12:7 NLV

Paulus skryf: ‘…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty. Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk… want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (verse 7-10 NLV).

Paulus se geloof was so sterk dat wanneer hy gebid het, is die siekes genees en die dooies het opgestaan. Tog het hy herhaaldelik tot God gebid om die doring in sy vlees te verwyder, maar God het nee gesê. Hoekom? Om hom nederig en heeltemal afhanklik van God te hou. Ons weet nie wat die doring in Paulus se vlees was nie, maar ons weet hoekom hy dit gehad het: ‘…sodat ek nie hoogmoedig moet word nie…’ (vers 7 NLV).

Wanneer God jou ryklik seën, kom die risiko van trots daarmee saam, wat vir God ‘n diskwalifikasie is. As jy al ooit ‘n splinter in jou vinger gehad het, weet jy dat dit met pyn pols en jou konstant irriteer. Kan jy daarmee lewe? Ja. Sal jy eerder nie wil nie? Ja. Let op wat Paulus sê: “‘n doring in die vlees [is aan my] gegee.” Nie net sien hy sy doring as iets wat sy genade ontwikkel nie, maar as ‘n gawe wat twee dinge doen: 1) Ons keer om hoogmoedig te word en ons meer afhanklik van God maak. 2) Ons meer verdraagsaam en genadig maak, omdat almal ‘n doring het.

Sielskos: Gen 44-46; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20