2025-04-10
Eksodus 4:2 NLV
Die Bybel sê: ‘Toe vra die Here vir hom: ‘Wat het jy daar in jou hand?’ “‘n Herderstok,” antwoord Moses. ‘Gooi dit op die grond neer,’ het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ‘n slang geword. Moses het geskrik en hy wou weghardloop. Maar die Here sê vir hom: ‘Gryp dit aan sy stert!’ Toe Moses dit gryp, het dit weer ‘n herderstok geword’ (verse 2-4 NLV). Toe het God vir Moses die opdrag gegee dat hy na Egipte moes terugkeer en vir die farao sê om die kinders van Israel vry te laat. ‘Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het’ (vers 17 NLV).
Die herderstok het Moses se sekuriteit verteenwoordig. Dit het hom fisiese sekuriteit teen wilde diere gegee. Dit het hom finansiële sekuriteit gegee – sy skape was sy finansiële bate. Moses se stok het hom ook as ‘n herder geïdentifiseer. Hierdie ervaring het die einde van een seisoen en die begin van ‘n nuwe seisoen in sy lewe gekenmerk. Die herderstok wat Moses op die grond gegooi het is gebruik om na skape om te sien, maar die een wat hy opgetel het sou gebruik word om die waters van die Rietsee te skei en God se mense na die Beloofde Land te lei.
Vra God jou om dit wat jou sekuriteit en identiteit verteenwoordig op die grond neer te gooi? Moenie bang wees nie, doen dit! Wat jy terugkry sal baie groter wees as enigiets wat jy gevra word om prys te gee. Die enigste manier om jou nuwe identiteit te vind, is om jou ou een te laat gaan. Die enigste manier wat jy jou sekuriteit in Christus sal vind, is om die menslike sekuriteit waaraan jy vasklou, neer te gooi.
Sielskos: Dan 1-2; Luk 22:24-38; Ps 127; Spr 10:11
2025-04-09
2 Timoteus 2:2 NLV
Wat is jou lewensdoel? Oorlewing of sukses? Sommige van ons ly aan die ‘eendsindroom.’ Ons kom kalm op die oppervlak voor, maar onder die oppervlak skop en roei ons verwoed. Ons dink: ‘Ek is bly die mense rondom my weet nie hoe min ek weet nie,’ en ons hou hulle op ‘n afstand in die hoop dat hulle nooit sal uitvind nie. God wil nie hê dat jy as die bron van jou eie krag en wysheid moet lewe nie. Dawid het geskryf: ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’ (Psalm 27:1 NLV).
Aan die ander kant streef sommige van ons na ‘n selfgesentreerde vorm van sukses wat by ons begin en eindig. Ons bekommer ons net oor onsself. Wanneer dit jou doelwit is, kan God jou nie met sukses vertrou nie, omdat jou motiewe elke beginsel in sy Woord oortree. God het vir Abraham gesê: ‘…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees’ (Genesis 12:2 NLV). Wanneer jou hart se bedoeling is om ander mense te seën, sal God dit wat jy aanpak, seën. Jesus het gesê: ‘…Ek [het] julle uitgekies… om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou…’ (Johannes 15:16 NLV).
‘n Deel van God se plan vir jou lewe is om dit wat Hy aan jou toevertrou het, aan ander oor te dra. Daar is geen blywende sukses as daar nie iemand is om dit op te volg nie. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Jy het my baie dinge hoor leer… Leer hierdie groot waarhede aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee.’ Die woord vir jou vandag is dus – dra dit aan ander oor.
Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:14-23; Ps 43; Spr 10:10
2025-04-08
Romeine 14:19 NLV
Paulus sou nie ‘n duim toegee as dit by die sentrale waarhede van die Skrif gekom het nie. Wanneer dit egter by tradisies, persoonlike opinies en persoonlike voorkeure gekom het, het hy gesê: ‘…Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in die verband’ (vers 5 NLV). Onder die wet van Moses was die besnydenis gelykstaande aan ‘n verbond tussen jou en God. Toe nie-Joodse gelowiges dus by die Nuwe Testamentiese kerk aangesluit het, het Joodse gelowiges daarop aangedring dat hulle ook besny moet word. Nie as babas nie, maar as volwassenes! Was hierdie Joodse gelowiges opreg? Absoluut. Hulle was egter opreg mislei. Toe die kwessie gedreig het om die kerk in twee te skeur, het die apostels in Jerusalem bymekaar gekom, oor die saak gebid en die volgende opinie uitgereik: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verder las op julle te lê nie, behalwe die volgende voorskrifte’ (Handelinge 15:28 NLV).
Wanneer ‘n tradisie of persoonlike voorkeur gelyk in gesag aan God se Woord word, het ons te ver gegaan. Was jy ontsteld oor iemand wat nie met jou oor een of ander onbelangrike punt van leerstelling saamgestem het nie? Was jy krities oor iemand wie se opinie van joune verskil het? Miskien het jy, deur op jou lys van moets en moenies aan te dring, die belangrikste item op God se lys vergeet: dat ons liefde teenoor mekaar moet betoon.
Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Ons harte kan een wees, selfs wanneer ons gedagtes nie saamstem nie. Ons kan hand aan hand loop, sonder dat ons dieselfde dink. Soos teoloë dikwels sê: ‘In noodsaaklike dinge, eenheid. In alles anders, liefdadigheid!’
Sielskos: Lev 26-27; Luk 22:1-13; Ps 56; Spr 10:8-9
2025-04-07
Psalm 37:24 NLV
Every opportunity in life comes with two things: the possibility of succeeding, and the possibility of failing. When you reach the end of your life, your greatest regrets won’t be over your failures, but the opportunities you failed to seize because you were afraid of failing. So here are some principles to help you conquer the fear of failing:
(1) Be willing to try and fail at something. And when it happens, tell people. Why? Because that’s how you discover failure isn’t fatal.
(2) Find a project so big that you cannot do it without God’s help, then commit to it.
(3) Socialize with some impulsive types. Observe how they take risks without dying. Seeing and imitating is a great way to learn.
(4) The way we learn to take big steps of faith is by taking small steps of faith. Compliment someone you don’t know. Volunteer for an additional task at work. Go out of your way to help someone in need.
(5) Declare war on perfectionism. Instead of waiting until you can do it perfectly, do your best and tell yourself, “That’s good enough for now.”
(6) Be afraid, and obey God anyway. You will never totally defeat your fears, but you can diminish them to where they have less control of your life.
Here is a promise for you to stand on: “The Lord directs the steps of the godly. He delights in every detail of their lives. Though they stumble, they will never fall, for the Lord holds them by the hand” (vv. 23-24 NLT).
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 21:29-38; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7
2025-04-06
Genesis 37:25 NLV
As Abraham en Sara bereid was om net ‘n bietjie langer te wag, sou Isak gebore word en God se belofte vervul gewees het. Hulle het egter ongeduldig geword en gevolglik is Ismael gebore. Een van die name wat aan God in die Skrif gegee word, is ‘Verlosser,’ omdat Hy jou van jou foute kan verlos en dit in ‘n leerervaring kan verander; Hy kan die gemors wat jy maak in die wonderwerk wat jy nodig het, verander.
Dit het drie generasies geneem, maar God het die gemors wat Abraham gemaak het in die wonderwerk van bevryding wat Josef nodig gehad het, verander. Josef se lotsbestemming was om oor Egipte te heers en sy familie en die wêreld in ‘n tyd van hongersnood te red. Omdat sy broers egter wrokkig oor hom gevoel het, het hulle hom as slaaf aan ‘n groep Ismaelitiese handelaars verkoop. Hulle was die nageslag van Ismael, wat vir Abraham en Hagar, Sara se slavin, gebore is. Waarheen was hierdie Ismaeliete op pad? Egipte toe! ‘Net toe hulle gaan sit… sien hulle… ‘n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem… Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe’ (verse 25, 28 NLV).
Dis nie verby nie totdat God sê dis verby. Hy kan die gemors wat jy in die verlede gemaak het in ‘n wonderwerk wat jy in die toekoms gaan benodig, omskep. Hierdie wonderwerk sal nie net jou nie, maar ook ander mense seën. Miskien sal daardie ander mense jou eie familie wees, net soos in Josef se geval.
Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11
2025-04-05
Matteus 1:5 NLV
Menslik gesproke was die kans dat ‘n nie-Joodse meisie soos Rut, met ‘n ryk Jood soos Boas sou trou minder as nul, omdat die wet van Moses dit verbied het: ‘Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie’ (Deuteronomium 23:3 NLV). As daar nou ooit ‘n deur was wat toegemaak en gesluit was, was dit hierdie een. God heers egter oor mense en omstandighede. ‘…Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie’ (Openbaring 3:7 NLV).
God, nie mense nie, hou die sleutel van jou toekoms vas. Jesus het gesê: ‘…Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik’ (Lukas 18:27 NLV). Uit hierdie ongewone kombinasie van Jood en nie-Jood, ryk en arm, aanvaar en verwerp, sou Jesus, die Verlosser van die wêreld, voortgebring word. Die rekord lees dus: ‘…Boas die pa van Obed by Rut…’
Die woord vir jou vandag is – die beste kom nog. Jou pad met Christus kan vrugte voortbring, wat jou kinders en kleinkinders vir generasies wat nog kom sal, seën. Lewe in die hede en geniet elke dag wat God vir jou gee, maar hou altyd die toekoms in gedagte. Dit gaan nie net daaroor wat God vir jou wil doen nie, maar wat Hy deur jou, wat ander mense sal seën, wil doen. God het vir Abraham gesê: ‘Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees… Deur jou sal al die nasies op die aarde geseën word’ (Genesis 12:2-3 NLV). Eis hierdie belofte op!
Sielskos: Lev 21:1-23:25; Luk 21-25-28; Ps 50:1-15; Spr 10:3