Verander jou roetine

2025-04-16
Jesaja 42:16 NLV

Soos die wet van vereiste verskeidenheid getuig, vereis die voortbestaan van enige sisteem die vermoë om verskeidenheid in sy interne strukture te kweek. In fisiese oefening, byvoorbeeld, word roetines uiteindelik nutteloos. As jy elke keer op dieselfde manier oefen, begin jou spiere aanpas en ophou ontwikkel. Jy moet jou roetine verander.

Dit is ook geestelik waar. Een skrywer merk op: ‘Nege uit die tien keer wanneer ek ‘n geestelike insinking beleef, het iets heiligs roetine geword. Ek is seker dit verskil volgens persoonlikheid, maar een van die maniere waarop ek uit ‘n geestelike insinking ontsnap, is deur my roetine te verander en met geestelike dissiplines te begin eksperimenteer. Soms is al wat nodig is ‘n klein verandering in roetine. Gaan wees ‘n vrywilliger by ‘n plaaslike hawelose skuiling. Begin om ‘n dankbaarheidsjoernaal te hou. Raak by ‘n selgroep of Bybelstudiegroep betrokke. Neem ‘n dag af en neem introspeksie. Of staan net ‘n bietjie vroeër in die oggend op en bestee ‘n bietjie ekstra tyd saam met God. Een van die klein veranderinge in roetine wat my gehelp het om my geestelike lewe te verryk, is om ‘n nuwe vertaling van die Skrif te begin lees. Nuwe woorde help my om nuwe gedagtes te dink.’

Om geestelik te groei, het jy konsekwentheid, struktuur en dissipline nodig. Wanneer jy egter deur ‘n geestelike droogte gaan, probeer om jou geestelike roetine te verander. In plaas daarvan om dinge te doen soos jy dit nog altyd gedoen het, probeer dinge anders doen. ‘…Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is…’ God verander nie, maar Hy beweeg! Om te kom waarheen God jou wil neem, moet jy bereid wees om saam met Hom te beweeg.

Sielskos: Jak 1-2; Luk 23:1-12; Ps 7:1-9; Spr 10:16

Vrees is die vyand van groei

2025-04-15
Eksodus 14:15 AFR83

As jy wil groei, moet jy die vrees om foute te maak, oorkom. Soos die skrywer en professor Warren Bennis dit stel: “‘n Fout is eenvoudig ‘n ander manier om iets te doen.” Verwag dus om foute te maak en aanvaar dit as ‘n teken dat jy in die regte rigting beweeg. Met die Rietsee voor hulle en farao se oorlogswaens agter hulle, het die kinders van Israel begin paniekerig raak. “Toe het die Here vir Moses gesê: ‘Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek'” (vers 15 AFR83). Toe hulle dit doen, het die Rietsee ‘n pad na oorwinning en ‘n begraafplaas vir die vyand wat hulle gevrees het, geword.

As jy eers die ‘beste pad’ of die ‘perfekte pad’ wil vind, sal jy nooit êrens kom nie. Dis soos om op ‘n onbekende pad in die nag te bestuur. Die ideaal is dat jy jou hele roete sal wil sien voordat jy wegtrek. Jy sien dit egter net bietjie vir bietjie. Soos jy vorentoe beweeg, word meer van die pad aan jou geopenbaar. As jy dus meer van die pad wil sien, moet jy begin beweeg.

Maak ‘n verbintenis met jouself om met jou groeiplan te begin en vir ten minste twaalf maande daarby te hou. As jy dit doen, sal jy ‘n liefde vir die proses ontwikkel en aan die einde van die jaar sal jy kan sien hoe ver jy gevorder het. ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…’ (Jesaja 54:2-3 NLV).

Sielskos: Dan 11-12; Luk 22:63-71; Ps 16; Spr 10:15

Hou aan om God te vertrou

2025-04-14
Job 13:15 Kontemporêre Afrikaanse Bybel (KAB)

Die verhaal van Job lees as volg: In die eerste hoofstuk is hy een van die rykste mans van sy generasie. In die tweede hoofstuk verloor hy alles, insluitend sy rykdom, sy gesondheid en sy kinders. Teen hoofstuk 42 is hy weer op die boonste sport van die leer. Sal jy nie graag wil weet wat van die derde hoofstuk tot die 41ste hoofstuk plaasgevind het nie? Indien wel, moet jy die boek van Job lees en uitvind hoe hy alles gehad het, dit alles verloor het, alles teruggekry het en met twee keer meer as wat hy gehad het, opgeëindig het.

Het Job onbeantwoorde vrae gehad? Baie daarvan. Het hy smart beleef? Ja, op ‘n skaal wat moeilik is om jou dit in te dink. Job het egter nooit sy mening oor God verander nie en God het nooit sy mening oor Job verander nie. Hierdie Skrifgedeelte som Job se houding die beste op: ‘Al maak hy my dood, ek sal op hom vertrou…’

As jy tans op ‘n plek vasgevang is wat jy nie verstaan nie, moenie tou opgooi nie. Wanneer jy nie jou omstandighede verstaan nie en dit voel of dit meer is as wat jy kan hanteer, staan op hierdie wonderlike Bybelse belofte: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ‘n veilige toevlug’ (Jesaja 26:3-4 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – hou aan om op God te vertrou en Hy sal jou daardeur bring.

Sielskos: Dan 8-10; Luk 22:54-62; Ps 103:13-22; Spr 10:14

Gebruik jou gawes en bedien ander

2025-04-13
Romeine 11:29 NLV

Wanneer God aan ons ‘n geestelike gawe gee, neem Hy dit nie terug nie, ‘en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas.’ As God dit nie doen nie, moet ons ook nie! Paulus skryf: ‘…as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op… Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag… As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie’ (Galasiërs 6:1-3 DB).

Wanneer ‘n broer of suster in Christus die pad byster raak, sê die Bybel vir ons wat ons moet doen: Ons moet hulle liefdevol konfronteer, korrigeer, raad gee en hulle bedek. Die Bybel sê: ‘…Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV). Om die sondes ‘toe te maak’ beteken nie dat dit toegesmeer word nie. Dit beteken om ‘n plek van skuiling en herstel te bied waar hulle heel gemaak kan word.

Die wêreld hou ons dop om te sien hoe ons dit hanteer. As ons diegene tussen ons wat struikel weggooi, hoekom sal die wêreld dan na ons vir hulp draai? Jesus het ‘n blinde man genees deur klei op sy oë te vryf en vir hom te sê om dit in die Siloam-bad te gaan afwas. Hoe ver was die bad? Ons weet nie. Hy het egter iemand nodig gehad om sy hand vas te hou en saam met hom te loop totdat hy dit bereik het en sy sig herstel is. Dit is waarvoor ons geroep is.

Sielskos: Ps 118:19-29; Matt 21:1-16

Verwag om te ‘worstel’

2025-04-12
Efesiërs 6:12 AFR53

Die nuwe geboorte bring ‘n nuwe stryd tussen jou wedergebore gees en jou onwedergebore liggaam, wat steeds na ou begeertes smag en aan ou neigings vashou, mee. Paulus beskryf dit as ‘n worstelstryd. ‘Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly’ (verse 12-13 AFR53).

Die wenner in ‘n worstelstryd is die een wat steeds staande is wanneer die stryd verby is. Dink dus aan ‘n stoeigeveg en jy sal ‘n idee kry waarteen jy elke dag te staan kom. Om hulleself voor te berei, oefen die vegters vir ure lank. Elkeen weet dat hulle twee dinge nodig het om te wen: krag en ‘n strategie. Hulle het egter meer as dit nodig: hulle het ook vasberadenheid en uithouvermoë nodig. Elkeen weet ook dat dit baie belangrik is om nie hulle opponent te onderskat nie!

‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly…’ (1 Petrus 5:8-9 NLV). Moet dus nie probeer om Satan in jou eie krag te verslaan nie en moenie jou waaksaamheid vir ‘n oomblik laat verslap nie, want jy sal verloor. Paulus skryf: ‘Die bedoeling is dat ons nie deur die Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!’ (2 Korintiërs 2:11 NLV). Verwag dus om te ‘worstel,’ en verwag om te wen.

Sielskos: Dan 5-7; Luk 22:47-53; Ps 103:1-12; Spr 10:13

Jy is geroep om sout en lig te wees

2025-04-11
Matteus 5:13-14 NLV

Jesus het vir ons twee alledaagse metafore gegee sodat ons duidelik kon verstaan hoe Hy wil hê ons Hom elke dag moet dien en verteenwoordig.

1) Sout. Die enigste ding wat sout kan bedreig is om vir so lank in ‘n soutpot te wees dat dit klam word, sy geur verloor en nie meer gestrooi kan word nie. Jesus het gesê: ‘Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word’ (vers 13 NLV). Dis nie genoeg om goeie preke te geniet en ryke insigte uit jou Bybelstudie te kry nie; jy word geroep om dit te deel en dit op ander mense uit te strooi.

2) Lig. In plaas daarvan om jou van die wêreld te isoleer, is jy veronderstel om dit te verlig. Donker is nie vir die lig ‘n bedreiging nie; dis waar die lig sy beste werk doen. Jesus het gesê: ‘Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit dan onder ‘n emmer toe nie. Allesbehalwe! Jy sit dit bo-op ‘n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (verse 14-16 NLV). In ‘n wêreld van toenemende wanhoop, is jy geroep om die lig van die evangelie aan diegene wat in geestelike donkerte leef, te bring.

Die woord vir jou vandag is dus – wees sout en lig.

Sielskos: Dan 3-4; Luk 22:39-46; Ps 130; Spr 10:12