2025-04-22
2 Korintiërs 5:14 NLV
Die kragtigste aansporing om sonde te oorkom is nie ons liefde vir Christus nie, maar sy liefde vir ons. Selfs met die beste bedoelings, is ons liefde vir Hom onderhewig aan skommelinge. Jesus het vir die kerk in Efese gesê: ‘Maar Ek het hierdie klagte teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het’ (Openbaring 2:4 NLV). Aan die gemeente van Laodisea het Hy gesê dat hulle liefde ‘louwarm’ geword het (sien Openbaring 3:16).
Baie van ons het in ‘n kerk grootgeword waar ons vertel is dat die rede waarom ons aan sekere vleeslike begeertes toegee, is omdat ons die Here nie genoeg liefhet nie. Dus probeer ons harder, sonder sukses, en raak moedeloos. Dis soos om die kar voor die perd in te span. Dit moet egter andersom wees. Die geheim van ‘n oorwinnende Christelike lewe word nie in die poging om Jesus meer lief te hê nie, maar in ‘n openbaring van sy liefde vir jou, gevind. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Die liefde van Christus hou ons vas…’ Paulus se aksies is deur die kennis van Christus se ongelooflike liefde vir hom, geregeer.
As jy vandag met sondige gewoontes sukkel, bid vir ‘n openbaring van God se liefde vir jou. Dit sal die verskil maak! Paulus skryf: ‘Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (Efesiërs 3:17-19 NLV).
Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 1:9-13; Ps 6; Spr 10:22-23
2025-04-21
Romeine 8:28 NLV
Carolyn Arends skryf: “Ons verwagtinge is nie net onrealisties nie, dis ook nie volgens die evangelie nie. Baie van ons verdraai sy belofte van ‘n oorvloedige lewe in iets wat lyk soos wat adverteerders elke dag aan ons verkoop. Hoe weerstaan ons die verwronge verwagtinge wat so diep ingeburger is?
1) Kyk na die definisies. Wanneer ek lees dat God ‘alles ten goede laat saamwerk,’ dink ek aan die adverteerders se definisie van ‘goed’ – dat dit ‘maklik,’ ‘jeugdig,’ ‘begeerlik’ of ‘ryk’ beteken. God definieer ‘goed’ heeltemal anders. Die Christene in die Nuwe Testament het geglo dat die grootste ‘goed’ is om meer soos Jesus te word. Hulle het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die proses nie maklik sou wees nie. Hulle het verstaan dat die ‘goeie’ waarna God werk, baie meer omvangryk as een individu se omstandighede is. God is besig om sy koninkryk te vestig, ‘en om deur die Seun sy goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel…’ (Kolossense 1:20 NLV). Die grootste goed is om by daardie proses ingesluit te word. My hemelse Vader weet wat ek nodig het. Sy definisie van seën verskil van myne.
2) Herevalueer die dood. Ek kan ‘doodloopstrate’ in my loopbaan of verhoudings, wat geleenthede was om van rigting te verander, uitwys. As ek dink aan die energie wat ek bestee het om veranderings te weerstaan, wonder ek watter nuwe lewe ek sodoende misgeloop het. Jesus sê vir ons om te sterf sodat ons kan lewe, om al die illusies oor wat ‘n lewe goed maak, te laat gaan. Hy stap dan saam met ons terwyl ons ‘n duisend dode sterf, in die proses om ons lewe volgens sy Woord te verdiep.”
Sielskos: Num 1-2; Mark 1:1-8; Ps 144:9-15; Spr 10:19-21
2025-04-20
Kolossense 1:19-20 NLV
Ons definisie van ‘goed’ verskil van God s’n. ‘God het dit goedgedink… om deur die Seun sy goeie verhouding met alles… te herstel. Hierdie vrede is bewerk deur die… kruis…’
Carolyn Arends skryf: “Tydens ‘n jubelende Paasdiens het ons pastoor iets gesê wat my in my geestelike spore gestuit het: ‘Die wêreld bied beloftes vol leegheid. Paasfees bied egter leegheid vol belofte.’ ‘n Leë kruis, leë graf, leë grafklere – is alles vol belofte. As ek die paasverhaal sou skryf, dink ek nie ek sou leegheid as my simboliese gebaar gekies het nie. Ek sou egter ook nie van krag wat in swakheid sterk gemaak word (2 Korintiërs 12:9), dommigheid wat slim mense skaam maak (1 Korintiërs 1:27), sagte mense wat die aarde sal erf (Matteus 5:5) of mense wat God nodig het en deel aan sy koninkryk kry (Matteus 5:3), geskryf het nie. Ek sou definitief ook nie van sterf om sodoende te kan lewe (Johannes 12:24), geskryf het nie.
Ek verstaan nie die manier wat God dink nie. Op daardie dae wat ek egter leeg en gebroke voel, maak dit my bly om te onthou dat selfs die dood vol belofte is. Ek skryf hierdie gedurende ‘n besonder lang Goeie Vrydag-seisoen in my eie lewe. My ma is met kanker gediagnoseer en ek sal lieg as ek sê dat ek in staat is om deur hierdie beproewing bly te wees (sien Jakobus 1:2). Ek bid desperaat vir genesing. Ons ly egter nie alleen nie, want die God van die heelal het vir ons sondes gesterf en die dood se angel vir ewig verwyder. Selfs wanneer ek hartseer is, kyk ek na my ma en onthou: Sonder Goeie Vrydag sou daar geen Paasoggend wees nie. Dus bid ek deur die nag en wag vir die opstanding.”
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24
2025-04-19
Johannes 11:25 NLV
Chuck Swindoll vertel van ‘n egpaar wat se huwelik vir vyftig jaar lank ‘n stryd was. Die man het uiteindelik gesterf en sy vrou moes vir hom ‘n grafsteen uitkies. Sy het ‘n begrafnisondernemer gekontak en vir hom gesê: ‘Ek wil nie iets oordrewe hê of baie geld spandeer nie. Graveer net die woorde: ‘AAN MY MAN’ op ‘n geskikte plek op die steen. Sy het sy graf gaan besoek en tot haar afgryse hierdie woorde op sy grafsteen gelees: ‘AAN MY MAN… OP ‘N GESKIKTE PLEK.’
Swindoll skryf: “‘n Humoristiese verhaal help om die pyn en verwarring rondom die dood te verdoof, maar op die ou einde hou die lag op omdat die dood steeds opdaag. Humor is magteloos om die dood te keer. Onthou jy die plakker: ‘Moenie die lewe te ernstig opneem nie, jy sal dit nie lewend verlaat nie’? Die waarheid is dat ons die lewe en dood ernstig moet opneem, want ons verlaat dit lewendig. Ons almal staar lewe na die dood in die gesig, want ons almal het ewige siele. Ons almal gaan vir ewig êrens lewe. Die vraag is waarheen. Die waarheen hang van die volgende vraag van Jesus af: ‘…Wie in My glo… sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit…?’ Slegs Jesus het die krag van opstanding. Die versekering wat ons het om vir ewig saam met Hom in die hemel te leef, hang van ons antwoord af. As ons ‘Ja’ sê deur vir Jesus te vra om ons sondes te vergewe en ons te verbind om Hom as Here te volg – dan, en slegs dan, het ons sy lewenskrag tot ons beskikking. Slegs dan kan ons die einde van ons lewe met ‘n kalm verwagting inwag.”
Sielskos: Matt 27:62-66; Luk 23:50-56; Ps 144:1-8; Spr 10:17-18
2025-04-18
Romeine 5:1 NLV
In die regstelsel is daar iets wat as ‘die wet van dubbele strafvervolging,’ bekend staan. Dit beteken dat jy nie twee keer vir dieselfde misdaad verhoor kan word nie. Kom ons pas hierdie beginsel op jou redding toe. Jesus is reeds verhoor en het vir jou sondes gesterf – almal van hulle! Moet dus nie toelaat dat Satan, die aanklaer, jou oorreed dat God jou gaan straf en jou hel toe gaan stuur nie. Christus se laaste woorde aan die kruis: ‘…Dit is nou afgehandel!..’ (Johannes 19:30 NLV), word in die Griekse teks vertaal as ‘ten volle betaal.’ Al jou sondes – in die verlede, die hede en die toekoms – is op Golgota versoen.
Dink aan die woord ‘afgehandel.’ Stel jou voor dat ‘n meester skrynwerker die laaste afwerking aan ‘n pragtige tafel doen. Sal jy ‘n stuk skuurpapier neem en sê: ‘Ek dink ek kan hierdie ‘n bietjie beter laat lyk en dit ‘n bietjie meer waarde gee?’ Die skrynwerker sal sê: ‘Hou op; as jy daaraan raak, gaan jy dit verwoes!’ Hy sal reg wees. Dieselfde geld vir jou verlossing. Jy kan niks daarby voeg nie, maar deur dit deur jou prestasie en goeie werke te probeer verdien, kan jy beslis iets daarvan wegneem.
Die woord ‘geregverdig’ beteken regverdig in die oë van God gemaak. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus as jou Verlosser plaas, is dit hoe God jou sien. ‘As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons op grond van die geloof toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind…’ (verse 1-2 NLV).
Hoe kan jy geklee in genade voor God staan? Alleenlik deur geloof in Christus.
Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53
2025-04-17
Johannes 4:4 NLV
Die Bybel sê: ‘Dus het [Jesus] Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek. Hy moes deur Samaria reis’ (verse 3-4 NLV). Samaria is nie op die pad na Galilea toe nie. Dit is inderwaarheid myle uit die pad uit. Tog sê die Bybel dat Jesus deur Samaria moes reis. Dink daaroor: Dit was ‘n lang reis en Hy was te voet. Dit was warm. As Jood sou Hy nie in Samaria verwelkom word nie, as gevolg van ‘n vyandigheid wat al lank tussen Jode en Samaritane bestaan het. Wat die vrou wat Hy by die put gaan ontmoet het betref, is vroue in daardie kultuur verbied om met mans buite hul eie familie te praat. Die mense op die dorp het ook vreeslik oor hierdie vrou geskinder, omdat sy al deur vyf egskeidings was.
Hoekom het Jesus dan gevoel dat Hy soontoe moes gaan? Omdat Hy hierdie vrou as ‘n ruwe diamant gesien het. Terwyl die mense rondom haar oor haar verlede en probleme gepraat het, het Jesus haar potensiaal vir sy koninkryk raakgesien. ‘Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou…’ (vers 39 NLV).
Om Galilea volgens God se skedule te bereik, moes Jesus die menslike skedule by die venster uitgooi. Sy skedule het Hom egter nie beheer nie. Wat het dan? Die wil van God en die behoeftes van mense wat seer het. Hy was gewillig om uit sy pad te gaan, tradisie op sy kop te keer en nuwe grond te breek om dit te doen. Wat van jou? Kan God jou planne onderbreek? As Hy kan, kan Hy jou gebruik. Bid die volgende: ‘Here, wys my wat ek vandag moet doen om U te behaag.’
Sielskos: Jak 3-5; Luk 23:13-25; Ps 7:10-17; Deut 21:22-23