Jesus is die antwoord

2025-04-28
Romeine 10:20 NLV

Die Bybel sê: ‘…Ek is gevind deur mense wat nie na My gesoek het nie. Ek het Myself bekendgemaak aan mense wat nie na My gevra het nie.’ Jy vra: ‘Wat beteken hierdie Skrifgedeelte?’ Dit beteken dat selfs al soek jy antwoorde op die verkeerde plekke, al vra jy die verkeerde vrae en al beweeg jy in die verkeerde rigting, sal Jesus jou onderskep, jou herlei en in jou diepste behoeftes voorsien.

Toe die vrou by die put vir Jesus ontmoet het, het sy na die antwoord in verhoudings gesoek. Sy is deur vyf huwelike wat misluk het en het saam met man nommer ses gewoon (sien Johannes 4:18). Toe Saggeus vir Jesus ontmoet het, het hy die antwoord in materiële dinge gesoek. Toe Paulus vir Jesus ontmoet het, het hy die antwoord in godsdiens gesoek. Hier is sy résumé: ‘Ek is op die agtste dag besny. Ek is ‘n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ‘n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat die gehoorsaamheid aan wette betref om my saak met God reg te maak, kon niemand ‘n vinger op my lê nie!’ (Filippense 3:5-6 NLV).

Veelvoudige verhoudings het nie die vrou by die put bevredig nie, rykdom het Saggeus nie bevredig nie en godsdiens het Paulus nie bevredig nie. Hierdie dinge sal jou ook nie bevredig nie. Wat sal? ‘n Verhouding met Jesus! Vandag sê Hy vir jou: ‘Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV). Vandag is Jesus die antwoord.

Sielskos: Num 14-15; Mark 3:1-6; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Weier om die etiket te dra

2025-04-27
1 Kronieke 4:9 NLV

Die naam Jabes beteken ‘ongemak of pyn.’ Miskien is dit hoekom geen ander ouer in die Skrif hul kind so genoem het nie. Dis egter ‘n etiket wat Jabes geweier het om te dra en ‘n naam wat hy geweier het om hom te definieer. ‘n Etiket vertel jou gewoonlik wat in ‘n bottel is; die inhoud en selfs die waarde daarvan. Wanneer jy die etikette wat mense op jou probeer plaas aanvaar, begin jy glo dat dit is wie jy is en dat jy nooit meer as dit sal word nie. Die Bybel sê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). Mense sal ervarings uit die verlede gebruik om jou te etiketteer en jou te beperk. Hulle sal ook jou fisiese, geestelike en emosionele karaktereienskappe gebruik om jou te etiketteer en jou te beperk.

Wat staan jou dus te doen? Doen wat Jabes gedoen het – gaan na God toe! Op die ou einde is dit God se opinie oor jou verlede, hede en toekoms wat die meeste saak maak. Hy is lief vir jou en het ‘n plan vir jou lewe. Jabes het ‘n gebed gebid wat sy lewe verander het en dit sal ook jou lewe verander. ‘…’Laat u seën op my rus en vergroot my grond! Wees asseblief met my in alles wat ek doen, en bewaar my van moeilikheid en pyn!’ En God het sy versoek gehoor en dit gedoen’ (1 Kronieke 4:10 NLV).

Jabes het God vir vier dinge gevra: seën, invloed, krag en beskerming. God het dit vir hom gegee. Vandag het jy dus ‘n keuse: glo wat ander mense oor jou sê, of glo wat God oor jou sê. As jy so daarna kyk, is die keuse duidelik.

Sielskos: Eks 20:8-11; Eks 16:1-31; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17

Hou aan bid en glo

2025-04-26
Hebreërs 10:36 NLV

Hoe lank moet jy aanhou bid en God vir die antwoord vertrou? Die volgende Skrifgedeelte spreek hierdie vraag aan: ‘Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ‘n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (verse 35-36 NLV). Baie van God se beloftes het spesifieke tydslyne en jy het langtermyn geloof nodig om dit te ontvang.

Sien jouself as iemand wat ‘n marathon hardloop en vasbeslote is om die wedloop te voltooi en die prys te ontvang. Jy sê: ‘Ek is nie seker wat God se wil in hierdie saak is nie.’ Wat sê God se Woord? Dis wat jy moet gehoorsaam, waarop jy moet staan en oor jou situasie moet spreek. Vir twintig jaar lank het Abraham na die naghemel gekyk en geglo: ‘Here, U het gesê dat my kinders so baie soos die sterre in die hemel sal wees. Ek weet nie hoe U dit gaan doen nie, want ek is ‘n honderd jaar oud en my vrou Sara is negentig jaar oud. Ek gaan U egter in elk geval glo’ (sien Genesis 15:5-6).

Wanneer jy so bid, loop jy die risiko om dwaas in ander mense se oë te lyk. Die ontvangs van wonderdade kan behels dat jy dwaas mag lyk, soos Jesus wat vir diensknegte gesê het om potte met water te vul, terwyl hulle wyn nodig gehad het. Of om klei op ‘n blinde man se oë te vryf sodat hy kan sien. Die bruilofsgaste het egter die beste wyn gedrink, en die blinde het sy sig teruggekry. Hoekom? Omdat hulle op die woord wat Jesus vir hulle gegee het, gestaan het. Jy moet dieselfde doen.

Sielskos: Num 11-13; Mark 2:18-28; Ps 2; Spr 10:30-32

Kry gebedsmaats

2025-04-25
Markus 2:3 NLV

Jy sê: ‘Ek het nie die geloof om genees te word nie.’ Kry dan gebedsmaats met geloof. “Daar daag toe vier mans by Hom op wat ‘n verlamde persoon op ‘n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man… ‘Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan gesond na jou huis toe!’ Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitetoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: ‘So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!'” (verse 3-5, 10-12 NLV).

As jy nie geloof het om genees te word nie, wees op die uitkyk vir diegene wat jou in gebed na Jesus se teenwoordigheid kan dra, wat namens jou in God kan glo en tot Hom kan bid totdat Hy antwoord. Hierdie verlamde man het vier vriende met geloof nodig gehad – jy het net twee nodig. Jesus het gesê: ‘Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir jullle doen’ (Matteus 18:19 NLV).

Dit laat ‘n paar vrae ontstaan. Hoe gereeld bid jy? Daagliks? Weekliks? Maandeliks? Slegs wanneer jy ‘n probleem het wat jy nie kan oplos nie? Is al jou gebede op jouself gefokus, of bid jy vir ander? Om gebedsmaats te hê wanneer jy dit nodig het, moet jy self een wees.

Sielskos: Num 8-10; Mark 2:1-17; Ps 35; Spr 10:28-29

Groei gaan oor vergroting

2025-04-24
Psalm 18:37 NLV

Lees die volgende Skrifgedeeltes wat oor vergroting handel: “Die pad onder my maak U breed…’ ‘[Jabes] was die een wat tot die God van Israel gebid en gesê het: ‘Laat u seën op my rus en vergroot my grond!..'” (1 Kronieke 4:10 NLV). ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer… Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in’ (Jesaja 54:2 NLV). God wil jou geestelik, emosioneel en verhoudingsgewys in elke area van jou lewe vergroot. Om egter vergroting te ervaar, moet jy van mense groter as jy leer.

Dr John Maxwell skryf: “Die eerste tien jaar wat ek doelbewus persoonlike groei nagejaag het, was ek altyd agter en het probeer om in te haal. Ek moes oor die vergelykingsgaping kom. Ek het besef ek moes aan groter en beter leiers buite my eie klein kring blootgestel word, maar toe ek uit my gemaksone stap, was ek geïntimideer. Dit was duidelik dat ek nie in hulle liga was nie. Hulle organisasies was ses keer groter as myne en hulle het baie meer en baie beter idees as ek gehad. Ek was oorweldig en het gevoel of ek verdrink.

Ten spyte daarvan was ek bemoedig, omdat ek ontdek het dat groot manne bereid was om hul idees met my te deel. Ek het so baie geleer. Dit was ‘n moeilike oorgang, maar dit was die moeite werd. As jy dus bewus is dat ander beter as jy is, moenie moedeloos word nie. Wees bly ander is daar om jou die pad te help wys. Groei is nie ‘n wiegstoel waarin jy sit nie, dit is ‘n berg wat jy elke dag klim. Daar is egter goeie nuus. Soos Jim Rohn gesê het: ‘Jy kan nie jou bestemming oornag verander nie, maar jy kan jou rigting oornag verander.'”

Sielskos: Num 7; Mark 1:21-45; Ps 94:12-23; Spr 10:27

Verwag vandag God se guns

2025-04-23
Psalm 5:13 NLV

Die Bybel sê dat God ons sal seën en genade aan ons sal bewys. As jy op die voltooide werk van Christus vertrou, sien God jou as ‘regverdig’ (sien Romeine 3:22). Jy kwalifiseer dus en kan dus bid: ‘Here, ek het u guns vir hierdie werksonderhoud nodig,’ of ‘om hierdie huis te verkoop,’ of ‘om hierdie transaksie aan te gaan,’ of ‘om op hierdie afspraak te gaan,’ ensovoorts. Wees egter voorbereid vir jou ou programmering om in te skop, waar jy oor die woord ‘regverdig’ begin dink; waar jy begin wonder of jou gedagtes, woorde en dade goed genoeg is om God se guns te verdien.

Hier is ‘n waarheid wat jy in gedagte moet hou: Die enigste geregtigheid waarop God reageer, is die geregtigheid van Christus. Aangesien Hy jou ‘in Christus’ geplaas het, is jy altyd bevoeg om God vir sy guns te vra en te glo dat Hy dit sal gee. Jy is uit genade gered. Die woord genade beteken ‘onverdiende guns.’ Die wêreld se konsep van guns is misleidend: ‘Sy skuld my ‘n guns,’ of ‘Ek skuld jou geen gunste nie!’ Met ander woorde, die wêreld se konsep van guns word geheel en al op prestasie gebaseer.

Die enigste prestasie waarna God egter kyk wanneer dit by die toekenning van sy guns aan jou kom, is Christus se optrede namens jou en die feit dat jy volkome op Hom vertrou. Sy lewe en sterfte aan die kruis bedek al jou sondes. ‘Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het!.. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het’ (Romeine 4:22,24 NLV). Verwag dus vandag God se guns.

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 1:14-20; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26