2025-03-20
Efesiërs 6:4 NLV
Om ‘n saad te plant is net die eerste stap in ‘n seisoen. Dan is daar water, bemesting, onkruid en die beskerming van die sukkelende plant teen plae, siektes, storms en ongunstige weer. Baie blomme en groente benodig stokke, hokke en ander ondersteunings om hulle te help om hoog te staan en hul vrugte te dra. Die tuinier wat niks anders doen as om ‘n saad te saai nie, moet nie verbaas wees as sy of haar plante nooit volwassenheid bereik nie. Byna alle lewende dinge in God se skepping plant voort deur ‘n saad te saai: mense, plante, voëls, visse en diere. Wanneer ‘n saad buite sig in die grond begrawe word, is daar min wat ons kan doen om sy groei te beïnvloed.
Wanneer ‘n nuwe plant – en veral ‘n nuwe baba – egter die wêreld binnekom, is dit waar die resultate van ware boerdery – en ouerskap – gesien kan word. Passiewe ouerskap is om ‘n kind op sy of haar eie manier te laat grootword. Bybelse ouerskap is egter ‘n ander saak. As jy ‘n ouer is, lees die volgende Skrifgedeeltes: ‘Iemand wat nederig is en respek het vir die Here, kry rykdom, eer en lewe. Op ‘n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle. Iemand wat omgee vir homself, bly ver daarvan weg. Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie’ (Spreuke 22:4-6 NLV). ‘Maar regverdiges sal blom soos ‘n palmboom en welig groei soos ‘n seder van die Libanon. Geplant in die Here se woning, groei hulle weelderig, daar in die tempel van ons God. Al is hulle oud, is hulle ‘n aanwins; hulle is vars en lewenskragtig’ (Psalm 92:13-15 NLV). Dit word ‘ouerskap op die Bybelse manier,’ genoem.
Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2025-03-19
Matteus 6:33 AFR53
Die eerste stap om dit wat jy in die lewe wil hê te kry, is om te weet wat jy wil hê. Jesus het in wese gesê: ‘Die sleutel om uit die lewe te kry wat jy wil hê, is om te fokus op wat Ek vir jou lewe wil hê.’ Let op die woorde ‘soek eers.’ Hierdie woord ‘soek’ beteken ‘om ywerig daarna te streef,’ of ‘om sterk te begeer.’ Die aksie is deurlopend. Dit sê: ‘Hou aan streef, hou aan soek, hou aan om daagliks te begeer.’
Wanneer Jesus sê: ‘Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid…’ beteken dit dat jy nie hoef te bid oor wat jou top prioriteit in die lewe behoort te wees nie; alles wat jy doen, sal deur hierdie twee dinge gerig word. Waar jy werk, hoe jy jou tyd bestee, die persoon met wie jy trou, hoe jy jou geld bestuur, die verhoudings wat jy aanknoop, die tydverdrywe wat jy geniet, die aankope wat jy maak – dit alles sal deur een filter gesif en gesorteer word: ‘Is dit vir sy koninkryk? Hou dit met sy geregtigheid verband?’
Kan jy dink hoe hierdie lewenswyse jou huwelik, jou werk, jou familie, jou finansies en elke ander area van jou lewe sal transformeer? Om egter die prioriteite van die koninkryk na te streef, moet jy eerstens ‘n verhouding met die Koning hê. Jy sal nie eers weet waar die koninkryk is of hoe dit lyk, totdat jy die Koning ken nie. Jy kan Hom ken. Hoe? Soos jy die bladsye van sy Woord oopslaan en jou hart oopmaak, sal Hy Homself aan jou openbaar. Soos jy tyd met Hom in gebed bestee, sal Hy op jou reageer.
Sielskos: Job 29-31; Luk 19:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2025-03-18
Johannes 20:21 NLV
Om God se wil in jou lewe te identifiseer, moet jy oor twee dinge duidelikheid hê:
1) Jou doel. In die aanloop na sy kruisiging het Jesus gesê: ‘…Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom…’ (Johannes 18:37 NLV). Jou passie is die area in jou lewe wat die vuur in jou aansteek. Dit kan wêreldhonger, of verwaarloosde bejaardes, of onderwys wees. Jy sien dalk hoe klein kindertjies in skooldistrikte wat nie genoeg hulpbronne het nie grootword en dit breek jou hart. Of dalk raak ongehude moeders jou hart aan. In plaas daarvan om jou passie in jou geleenthede en jou vaardighede te vind, sal jy dit soms in die area van jou seerkry en letsels vind. Van mense wat met verslawings sukkel, tot diegene wat tyd in die tronk deurgebring het, tot diegene wat met emosionele versteurings worstel – daar is soveel areas. God sal nie ‘n seer mors nie.
2) Jou medewerkers. Jesus het die twaalf dissipels geroep en hulle toe twee-twee uitgestuur om die evangelie te gaan verkondig. Tesame met jou passie, jou sterkpunte en jou letsels, het jy mense in jou lewe nodig wat jou sal aanmoedig, jou sal vier en by dit wat jy besig is om te doen, betrokke sal raak. Paulus spel sy passie uit: ‘…die intense verlange van my hart… is dat my volk gered sal word’ (Romeine 10:1 NLV). Paulus het ook sy medewerkers geken: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (Filippense 1:3, 5 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – ken jou doel, ken jou medewerkers.
Sielskos: Job 24-28; Luk 18:31-43; Ps 13; Spr 8:14-16
2025-03-17
Eksodus 33:11 NLV
Moses het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Dit is die ‘ontmoetingstent’ genoem (vers 7 NLV). Waaroor het hulle gepraat? “Op ‘n keer het Moses vir die Here gesê: ‘U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie… sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag…’ Hy vra toe vir Moses: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (verse 12-14 NLV). Let die drie dinge op waaroor Moses vir God uitgevra het:
1) ‘U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie.’ Dit was wys, want mense kan jou opbou of afbreek. Jy moet weet wie in jou lewe hoort en wie nie en God is die enigste een wat dit vir jou kan sê.
2) ‘Sê asseblief wat u planne is.’ God se wil, wat op God se manier, volgens God se tydsberekening gedoen word, bring altyd sukses mee. As jy egter jou eie wil, op jou manier, volgens jou eie tydsberekening doen, bring dit net moeilikheid en hartseer mee.
3) ‘Sodat ek kan weet wat U van my verwag.’ Op jou eie kan jy nie die uitdaging baasraak nie, maar deur die krag van God se inwonende Gees kan jy groot dinge vermag, Wat God vir Moses belowe het, beloof Hy ook vir jou: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?’
Sielskos: Job 21-23; Luk 18:18-30; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13
2025-03-16
Jeremia 7:23 NLV
‘n Vooraanstaande Christelike sielkundige sê dat daar ‘n direkte korrelasie tussen die stres wat ons ervaar en ongehoorsaamheid aan God se Woord is. Kan dit waar wees? Kan daar ‘n skakel tussen die stres wat jy ervaar en jou vlak van gehoorsaamheid aan God wees? Ja. Dink daaroor. Wanneer jy as verloste kind van God Hom wetend ongehoorsaam is, pla jou gewete jou en voel jy konflik en vooroordeel in jou binneste.
Wanneer jy bewustelik sy Woord skend, voel jy ongemaklik in jou eie vel. Wanneer jy dan tot God bid en Hom iets vra, voel dit asof jy met ‘n skuldeiser oor jou onbetaalde rekeninge praat. ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).
Soms kan ons nie die presiese oorsprong van die stres wat ons ervaar vasstel nie; dit voel net asof iets nie reg is nie. Wat moet jy doen? Stop en neem voorraad! Die twaalfstap-program verwys hierna as “‘n deursoekende en vreeslose morele inventaris”. Dit moet gedoen word sodat ‘n alkoholis of verslaafde van dit wat hulle bly terugdryf na hul verslawing, kan loskom.
Lees die volgende Skrifgedeelte versigtig en met gebed: ‘Wat Ek beveel het was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan’ (Jeremia 7:23 NLV).
Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-18; Mark 2:18-22
2025-03-15
2 Kronieke 34:30 NLV
Toe Josia koning in Jerusalem geword het, het hy werkers aangestel om die tempel reg te maak. Daar het hulle ‘n kopie van die boek van gebooie van die Here, in die puin ontdek. Niemand het dit in jare gesien nie! Josia het geredeneer dat Juda se afgodsdiens direk verband daarmee hou dat hulle nie meer God se Woord lees nie. Dus het hy al die mense van Juda bymekaar laat kom, persoonlik vir hulle God se wet voorgelees en hulle gelei om hulle weer daaraan toe te wy om volgens die beginsels van God se Woord te leef.
Moenie die skakel misloop nie! Omdat hulle nie God se Woord gelees en daarvolgens geleef het nie, het God se mense in afgodsdiens verval. Jy ontdek God se prioriteite vir jou lewe in die Bybel. Wanneer jy nie God se Woord lees, dit bestudeer en oor die voorskrifte daarin mediteer nie, fokus jy uiteindelik op jou eie belange en skeep God se prioriteite af.
Enigiets wat jy bo God plaas, is ‘n ‘afgod.’ Soms is ‘n afgod ‘n sondige praktyk wat jy weet verkeerd is. ‘n Afgod kan egter ook ‘n wettige iets soos ‘n werk, of ‘n verhouding, of ‘n besondere belangstelling wees wat soveel van jou tyd en energie in beslag neem dat dit jou verhouding met God kortwiek of totaal verwaarloos. Die gesangeskrywer William Cowper het geskryf: ‘The dearest idol I have known, whate’er that idol be, help me to tear it from thy throne, and worship only thee.’
As jy ernstig daaroor is om God beter te leer ken, nader aan Hom te beweeg en Hom eerste in jou lewe te stel, moet jy die besluit neem om elke dag tyd met sy Woord deur te bring.
Sielskos: Job 18-20; Luk 18:1-17; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9