2025-03-26
Spreuke 19:2 NLV
As jy impulsief is, neig jy om ‘n tekort aan dissipline te hê. Jy kan onnadenkend of onsensitief teenoor ander wees. Jy mag dit dalk moeilik vind wanneer jy nie onmiddellike bevrediging kry nie. Jy het ‘n lae verdraagsaamheid teenoor frustrasie. Jy raak maklik verveeld. Jy kan vinnig op jou perdjie spring. Indien dit jou beskryf, is hier ses beginsels wat jy in jou lewe moet probeer inkorporeer:
1) Vra raad by wyse vriende voor jy met ‘n idee voortgaan. “‘n Mens met insig kry steeds meer kennis. Wyse mense hou altyd hulle ore oop vir nog meer kennis” (Spreuke 18:15 NLV).
2) Bou vriendskappe met mense wat nie net wys is nie, maar ook sterk genoeg is om jou verantwoordbaar te hou. ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
3) Neem tyd om oor ‘n potensiële oop deur te bid, moenie aanneem dat jou intuïsie ‘n goddelike opdrag is nie. ‘…Hy wys vir sondaars die regte pad. Hy lei die nederiges op die regte weg, en vir dié wat beskeie is, leer Hy sy pad’ (Psalm 25:8-9 NLV).
4) Bestudeer en lees op oor ‘n area voordat jy tot aksie oorgaan. “‘n Dwaas glo alles wat hy hoor. ‘n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee” (Spreuke 14:15 NLV).
5) Wanneer jy aan die einde van ‘n seisoen van aktiwiteit kom, neem tyd om daaroor te reflekteer, sodat jy ‘n wyser persoon kan word voor jy na die volgende ding aanbeweeg. ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek’ (Spreuke 21:5 NLV).
6) Wy jouself aan iets toe en hou daarby, selfs wanneer die volgende impuls, wat soveel lekkerder lyk, verbykom.
Sielskos: Est 5-10; Luk 20:1-8; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27
2025-03-25
1 Johannes 4:17 NLV
Wanneer jy jou vertroue in Christus as jou Redder plaas, sien God jou as ‘in Christus.’ Die woorde ‘in Christus’ word ongeveer agt-en-sewentig keer in die Nuwe Testament gebruik. Wanneer God na jou kyk, sien Hy jou nie met al jou foute en gebreke nie; Hy sien jou in Christus. Aangesien Christus vir al jou sonde versoening gedoen het, is jy aanvaarbaar deur Hom (sien Efesiërs 1:6 NLV).
‘n Geseënde toekoms hang nie af van hoeveel jy daarna streef om perfek te wees of hoe hard jy werk om jouself te verander nie. Dit hang van die persoon van Jesus Christus en die feit dat jy in Christus is, af. Die Bybel verkondig: ‘…Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is.’ Jy sê: ‘Maar sekerlik kry jy net wat jy verdien?’ Dis waar, tensy jy in Christus is. Dan kry jy wat Hy verdien! ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV).
Die woord ‘geregtigheid’ is ‘n wetlike term. Dit beteken ‘om reg voor God te hê.’ Vine se An Expository Dictionary of Biblical Words definieer geregtigheid as ‘daardie genadige gawe van God aan mense waardeur almal wat in die Here Jesus Christus glo, in ‘n regte verhouding met God gebring word.’ Met ander woorde, jou regte posisie voor God is op Jesus se regte posisie voor God gebaseer. Jy moet bly wees daaroor. Hoekom? Omdat die enigste geregtigheid wat aan God se veeleisende standaard van volmaaktheid voldoen, die geregtigheid van Christus is. Aangesien jy in sy geregtigheid geklee is, kan jy seker wees van God se aanvaarding en elke dag in sy seën wandel.
Sielskos: Est 1-4; Luk 19:45-48; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2025-03-24
Jesaja 26:3 NLV
Jou gedagtes bepaal jou gevoelens en jou gevoelens bepaal jou benadering tot die lewe. Deur dus die manier wat jy dink te verander, kan jy verander hoe jy voel en hoe jy die lewe benader. Anders as die wêreld, wat jou leer dat jy jou gedagtes leeg moet maak om vrede te ervaar, vul God jou gedagtes met vars, kragtige, verlossende gedagtes. ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’
Dit gaan nie net daaroor om jou wilskrag te gebruik om slegte gedagtes te probeer uitwis nie. As ‘n verkeerde, slegte of negatiewe gedagte in jou kop vassit en jy dit nie kan laat gaan nie, hou op probeer! Jy sal dit nie uit jou gedagtes uitwis nie. Dis soos om ‘n onkruid teen die grond af te sny in plaas daarvan om die wortels uit te trek; dit sal net weer begin groei. Wat jy moet doen is om die vernietigende gedagte met ‘n gedagte wat van God af kom, te vervang. Dis die enigste manier om verkeerde gedagtes te hanteer en die genesingsproses te begin. Die apostel Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Is jy oor jou gesondheid bekommerd? Vul jou gedagtes dan met die volgende Skrifgedeelte: ‘…Hy het ons kwale sy eie gemaak, en ons siektes het Hy op Homself geneem’ (Matteus 8:17 NLV). Is jy oor die toekoms bekommerd? Vul jou gedagtes met hierdie belofte: ‘Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie’ (Deuteronomium 31:8 NLV).
Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2025-03-23
Hebreërs 10:2 AFR20
Om ‘n aanbidder in die volste sin van die woord te word, verg twee dinge. Eerstens, die begrip dat God se liefde vir jou nie van jou liefde vir Hom afhang nie. Die oomblik wanneer jy Christus as jou Verlosser aanneem, aanvaar God jou en klee Hy jou in die geregtigheid van Christus; daarom is jy altyd waardig om tot Hom te nader.
Tweedens, om te verstaan dat God se liefde vir jou nie bloot ‘n teologiese konsep is nie, maar iets wat met jou hart omhels word en waarop jou emosies reageer. Wanneer jy aanbid, laat jy jouself gaan en gee jy jouself sonder voorbehoud aan Hom oor. ‘…omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie…’
Wanneer jy glo dat die bloed van Jesus jou van alle sonde – verlede, hede en toekoms – gereinig het, word jy ‘n aanbidder wat in vervoering oor sy liefde is. Sondige patrone word verander en hardnekkige gewoontes word verbreek, wanneer jy jou oë van jouself afhaal en op Christus fokus. Paulus skryf: ‘…Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here’ (Efesiërs 5:18-19 NLV).
Die psalmdigter Dawid skryf: ‘Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!’ (Psalm 34:9 AFR53). Verbeel jouself dat jy by jou gunsteling maaltyd aansit, dat jy elke happie proe en daaraan smul. So moet jy die liefde van God benader. Die waarheid van God se liefde vir jou moet nie net in jou gedagtes bly nie; dit moet deur jou hart ervaar word. Wanneer dit gebeur, aanbid jy God werklik.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15
2025-03-22
Markus 16:20 NLV
Die boek Markus word op die volgende manier afgesluit: ‘Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.’ Om die wil van God te verstaan is nie ‘n presiese wetenskap nie, selfs diegene wat geestelik volwasse is kan dit verkeerd verstaan. Jy kan egter op die volgende staatmaak: God sal ‘n kombinasie van die Gees en die Skrif gebruik om jou te lei. Soos jy sy Woord en jou hart oopmaak, sal God met jou praat. Dan moet jy daarop reageer.
Die manier om geestelik momentum te kry is deur te bid en dan ‘n besluit te maak. Hoe moeiliker die besluit is, hoe meer momentum kan dit produseer. Die hoofrede hoekom die meeste van ons nie agterkom dat God beweeg nie, is omdat ons nie beweeg nie. Aan die einde van haar bediening is Moeder Teresa dikwels deur haar bewonderaars gevra hoe hulle ‘n verskil met hulle lewens, soos sy met hare gemaak het, kan maak. Sy het dikwels met slegs vier woorde gereageer: ‘Vind jou eie Kalkutta.’
Dit beteken nie dat God se wil vir jou is om ‘n sendeling in ‘n ander land te wees nie. Dit kan dit wees; maar die groter waarskynlikheid is dat God jou roep om waar jy leef en werk aksie te neem. Voor God jou vra om groter dinge te doen, sal Hy jou vra om dit wat jy reeds het te gebruik, te doen wat jy kan en te dien waar jy is. Watter klein dinge kan jy dus nou doen wat jou gereed gaan maak vir die groot dinge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het?
Sielskos: Job 38-39; Luk 19:28-36; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2025-03-21
Jeremia 31:3 NLV
Nadat hulle vierhonderd jaar as slawe in Egipte deurgebring het, het die Israeliete met lae selfbeeld gesukkel. Dus het God vir hulle gesê: ‘Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (verse 3-4 NLV). Hoe kan jy jou selfbeeld bou, of weer herbou? Op drie maniere:
Eerstens, deur in God se onverdiende, onveranderlike, onfeilbare liefde vir jou te alle tye te glo.
Tweedens, deur te dien en aan ander te gee. Wanneer jy in die verlede geviktimiseer is, is jy geneig om op jouself te fokus. Dis nie dat jy selfsugtig wil wees nie, dis wat jy voel jy moet doen sodat jy kan oorleef. Tog is die teenoorgestelde waar. Wanneer jy iemand anders help – selfs deur net ‘n klein verskil te maak – verbeter dit jou selfbeeld. Dis moeilik om slegte gevoelens oor jouself te hê wanneer jy besig is om iets goeds vir iemand anders te doen. Boonop veroorsaak waardetoevoeging tot ‘n ander se lewe dat daardie persoon jou meer waardeer. Dit skep ‘n siklus van positiewe gevoelens van een persoon na ‘n ander.
Derdens, om die regte ding te doen, selfs wanneer dit die moeilike ding is om te doen. Om getrou aan jouself en jou waardes te wees is ‘n merkwaardige selfbeeldbouer. Elke keer as jy iets doen wat jou karakter bou, word jy ‘n sterker mens – hoe moeiliker die taak is, hoe meer word jou karakter gebou. ‘n Positiewe karakter beïnvloed elke area van jou lewe, wat jou selfvertroue en positiewe gevoelens in alles wat jy doen, gee.
Sielskos: Job 35-37; Luk 19:20-27; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23