Wees getrou aan die Skrif

2025-05-16
Jesaja 8:20 AFR83

Toe hulle gevra is of hulle glo dat die Bybel die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God is, het die meerderheid van sestien- tot nege-en-twintig-jariges in Amerika geantwoord: ‘Ja. Maar as jy nie die Woord uitleef nie, het jy nie die reg om dit aan my te verkondig nie.’ Dit is ‘n eerlike reaksie! Dink daaraan: Wie het die eerste leuen wat ooit opgeteken is vertel? Satan. In die tuin van Eden het hy vir Eva oortuig dat dit reg is om van die verbode vrugte te eet en dat God nie regtig dit wat Hy gesê het, bedoel het nie. Hy smous steeds met dieselfde ou leuen! Jy hoor dit in opmerkings soos die volgende:

1) ‘Jy kan die Bybel op baie verskillende maniere interpreteer.’ Dit klink redelik, totdat jy die volgende lees: ‘Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie… Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het’ (2 Petrus 1:20-21 NLV).

2) ‘Dit maak nie saak wat jy glo nie, solank jy net opreg is.’ Wat as jy opreg verkeerd is? As ‘n dokter vir iemand die verkeerde medisyne sou voorskryf, kan dit daardie persoon doodmaak, eerder as genees.

3) ‘Jy moet eerder niks sê as om iemand aanstoot te gee nie.’ As daardie persoon se huis aan die brand was, sou jy hulle nie waarsku om sodoende hulle lewe te red nie?

Voor Hy verraai is, het Jesus gesê: ‘…Julle vertroue in My gaan geskok word, en julle gaan almal julle rug op My draai…’ (Markus 14:27 NLV). Die waarheid maak seer, maar dit genees, so laat ons getrou aan die Skrif wees.

Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 7:24-37; Ps 93; Spr 11:30-31

Vergewe hulle en wis dit dan uit

2025-05-15
Lukas 23:34 NLV

Sommige gemeenskappe in die geskiedenis het diegene wat egbreuk gepleeg het, gestraf deur hulle ‘n groot bloedrooi letter A te laat dra wat hulle in die openbaar as egbrekers geïdentifiseer het. As jy betrap is dat jy gesteel het, het hulle jou ‘n bal en ketting laat rondsleep. Miskien dink jy: ‘Wel, hulle het dit verdien.’ Regtig?

Jesus het gesê as jy bloot wellustig na iemand kyk, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg (sien Matteus 5:28). Hy het ook verder gesê dat die manier waarop jy ander mense oordeel, dieselfde manier is waarvolgens jy geoordeel sal word (sien Matteus 7:1-2). Let twee dinge op: 1) God sal nie jou sonde net oorsien nie. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). 2) Hy sal nie sy rug op jou draai nie. Niks kan ons van God se liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39).

Wanneer iemand jou dus seermaak, sê God dat ons hulle moet vergewe en dit dan moet uitwis! Indien ons dit nie doen nie, sal dit aanhou om die manier wat ons dink, optree en praat, te beïnvloed. Dit sal ons ook aan ou, pynlike herinneringe vasgebind hou. Om iemand te vergewe begin deur vir hulle te bid. Jy sê: ‘Maar ek het nodig om te verstaan hoekom hulle dit gedoen het.’ Wyse mense doen dwase dinge, goeie mense doen slegte dinge en misleide mense weet nie wat hulle doen nie. Jesus het vir die mense wat Hom gekruisig het, gebid: ‘Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ Eendag mag jy dalk dit wat jou oortreder gemotiveer het, verstaan. Selfs al verstaan jy dit egter nie, moet jy hulle vergewe en dit uitwis.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 7:14-23; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29

Plaas God tussen jouself en jou vyand

2025-05-14
2 Kronieke 14:11 NLV

Toe hy voor ‘n vyand wat hy nie op sy eie kon oorwin nie te staan kom, het koning Asa gebid: ‘…’Here, niemand behalwe U kan dié wat magteloos is, help teen dié wat magtig is nie. Help ons, Here ons God, want ons vertrou op U alleen. Dit is in u Naam dat ons teen hierdie hordes stelling ingeneem het. Here, U is ons God; moenie dat blote mense teen U seëvier nie!’ Die Here het die Kussiete voor Asa en die leër van Juda verslaan sodat hulle gevlug het’ (verse 11-12 NLV).

F.B. Meyer skryf: ‘Herinner God aan sy belofte: ‘…niemand behalwe U kan dié wat magteloos is, help teen dié wat magtig is nie.’ Die beproewing waarvoor Asa te staan gekom het was enorm. Daar was ‘n miljoen gewapende mans langs driehonderd strydwaens wat teen hom wou veg. Dit het onmoontlik gelyk om teen daardie groot menigte staande te bly. Daar was geen bondgenote wat hom sou help nie; sy enigste hoop het dus op God gerus. Dit mag wees dat jou moeilikhede so erg geword het dat jy nie meer op die mense wat jou in kleiner beproewinge bygestaan het, kan steun nie; al wat oorbly is om jou aan die genade van die Almagtige te onderwerp. Plaas God tussen jouself en die vyand.

Asa het geglo dat God tussen die leër van Serag, die Kussiet, en homself sou kom staan. Hy het hom ook nie misgis nie, want die Here het die Kussiete voor Asa en sy leër verslaan. Ons God kan onverwagte versterkings op enige oomblik om sy mense te help, ontbied. Glo dat Hy tussen jouself en jou vyand staan. Die moeilikheid sal dan soos wolke voor die stormwind vlug.’

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 7:1-13; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26

Net Jesus kan jou siel bevredig

2025-05-13
Jeremia 2:13 NLV

Dit is deel van ons natuur om dinge te begeer. Ons hou aan om te begeer net soos wat ons aanhou om ons volgende asemteug te neem. Die probleem is dat wanneer ons die dinge kry wat ons begeer, bring dit nie die geluk waarna ons smag mee nie. Dus bly ons na meer en meer dinge soek.

Volgens een teoloog is die probleem egter as volg: ‘Ons kan nie genoeg kry van dit wat ons nie nodig het nie. Maak nie saak hoeveel ons het nie, dis nooit genoeg nie. Daar is geen blywende sielsbevrediging nie. Ek het ‘n advertensie met die opskrif: ‘Gister het ek nie geweet dit bestaan nie; vandag kan ek nie daarsonder lewe nie,’ gesien. Dit word die mite van meer genoem, die mite dat meer op die ou einde genoeg sal wees. As ons hierdie mite glo, bestee ons ons lewens op soek na die volgende ding. Dit kan ‘n motor, of ‘n promosie, of die liefde van ‘n pragtige vrou of aantreklike man, wees. Dit kan, afhangend van jou ouderdom, ‘n iPod, of ‘n Lamborghini, of ‘n Barbiepop wees. Ons bly hoop dat die volgende ding dit waarna ons soek – die bron van ware bevrediging vir ons siele – sal wees. Vir ‘n paar minute, of dalk dae, ervaar ons ware sielsbevrediging. Dan vervaag dit. Dit vervaag altyd.’

Net Jesus kan ons bevredig; alles anders stel net teleur. God het gesê: ‘My volk het twee sondes gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee, en hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie.’ As jy moeg is daarvoor om ‘n leë lewe te lei, kom na Jesus toe. Hy sal jou nie teleurstel nie.

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 6:45-56; Ps 75; Spr 11:23

Gebore om te glo (2)

2025-05-12
Efesiërs 6:4 NLV

Ouerskap eindig nie wanneer jou kind ‘n tiener word nie. Tieners is net meer mobiel, bestee minder tyd saam met jou en is meer onafhanklik. Hulle waardeer en volg nou eerder hulle eweknieë, wat net so onvolwasse soos hulle is, na. Selfs wanneer jy morele en geestelike fondamente in hul vroeë jare gelê het, sal dinge gebeur wat jou laat vra: ‘Wat het gebeur? Waar het ek verkeerd opgetree?’ Adolessensie het gebeur!

Dis hoe die tiener se brein werk; dit is so bedraad. Hul frontale lobbe – die deel van die brein wat aan morele ontwikkeling, emosionele reaktiwiteit, impulsbeheer en besluitneming gekoppel is – is nog nie ten volle ontwikkel nie. Hul frontale lobbe sal nie voor hul twintigs, en soms selfs later, klaar gegroei wees nie.

Wat het intussen van al daardie Bybelverhale en jou pogings om godvrugtige oortuigings daaruit te bou, geword? Dit is alles steeds daarbinne, tydelik verlore in daardie ontluikende lobbe! Die geloofstelsels wat jy hulle vroeër help bou het, word nie uitgevee nie – dit lê net dormant totdat hul nuwe ‘gesonde verstand’ breinselle arriveer. Dit sal weldra gebeur!

Jou taak is om paniek te vermy, te bid, God toe te laat om aan hulle te werk, hulle onvoorwaardelik lief te hê en hulle anker te wees. Staan vas en leef volgens jou beginsels. Toon empatie, maar leer hulle hoe hul besluite ander mense raak. Help hulle om selfbeheersing te leer deur hulle toe te laat om die gevolge van hul dade te hanteer! Wees geduldig, ondersteunend en gee nooit met hulle op nie. Jy het die sade van God se Woord in hulle gesaai, en jy sal ‘op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV)!

Sielskos: Heb 5-8; Mark 6:30-44; Ps 18:30-50; Spr 11:22

Gebore om te glo (1)

2025-05-11
Spreuke 22:6 NLV

Om jou kind op te voed is beide uitdagend en lonend. Deur hulle onderliggende geloofsisteem te vorm, help jy hul ontwikkelende brein om permanente neurale weë te vestig wat hul morele en geestelike groei sal lei. Die neurowetenskaplikes, Andrew Newberg en Mark Robert Waldman, skrywers van die boek Born to Believe, sê vir ons dat die belangrikste jare die ouderdom van sewe tot tien is. Dit is wanneer jou kind die grootste geneigdheid het om die konsep van ‘n God wat hulle nie kan sien, voel of hoor nie, te verstaan. Wat ‘n ideale geleentheid!

Newberg en Waldman stel ook voor dat ons effektiefste instrument om ons kinders se geloof op hierdie stadium te bou storievertelling is, nie preke of moralisering nie. Verhale wat goddelike beginsels, morele gedrag, moed, geloof, liefde, deernis en vergifnis insluit, word maklik verteerbare bestanddele vir die bou van ‘n Christelike karakter.

Storievertelling is hoe God die Israeliete opdrag gegee het om hulle kinders in sy weë en Woord te leer. Verhale van Adam en Eva, Noag, Daniël, Ester, Simson, Rut en Dawid; van Christus se geboorte, lewe, dood en opstanding; van Jesus wat op die see loop, die dooies opwek en die vyfduisend voed, roer die harte, belangstelling en verbeelding van jong kinders en veroorsaak blywende, lewensveranderende beginsels! Trouens, studies toon dat die geloofstelsels van volwassenes kragtig deur stories wat hulle gehoor het toe hulle grootgeword het, beïnvloed word.

Vertel vir jou kinders stories wat hul karakter sal bou en die basis vir ‘n leeftyd van geloof sal word. As ouer is dit jou taak om hul ontwikkelende brein aan te moedig en te stimuleer tot goddelike oortuigings, besluite en lewenstyl!

Sielskos: Eks 20:13; Gen 4:1-15; Matt 5:21-22