2025-05-22
Filippense 2:4 NLV
Jy kan leer om lief te hê deur liefdevolle gedagtes te dink. Jy doen dit deur op iemand anders se behoeftes, pyne, moeilikhede, doelwitte en begeertes, eerder as jou eie, te fokus. Daar is ‘n ou gesegde wat lui: ‘Dis makliker om iemand te verstaan wanneer jy ‘n myl in sy skoene geloop het.’ Mense wat seer het, is geneig om ander mense seer te maak. Hoe kan jy hulle liefhê? Deur verby hulle foute te kyk en hulle behoeftes raak te sien.
Die mense vir wie dit die moeilikste is om lief te wees, is dikwels die mense wat liefde die meeste nodig het. Die mense wat sal verkies dat jy hulle ignoreer, is die einste mense wat groot dosisse liefde nodig het. As ‘n persoon nie liefde kan kry nie, sal hulle aandag soek. As hulle nie positiewe aandag kan kry nie, sal hulle werk daarvan maak om negatiewe aandag aan te trek. Hulle sê in werklikheid: ‘Ek sal op een of ander manier raakgesien word.’
Maak liefde die meester van jou wil, nie die slaaf van jou emosies nie. Ons kan nie ons gevoelens verander nie, maar ons kan ons gedagtes verander. Wanneer ons die manier waarop ons aan iemand dink verander, sal ons stadig maar seker ons gevoelens oor hulle verander. Wanneer jy eerder oor ‘n persoon se behoeftes as hul foute begin dink, sal dit die manier wat jy oor hulle voel, verander.
Jy vra: ‘Sal dit nie skynheilig wees indien ek liefdevol teenoor iemand optree van wie ek nie eens hou nie?’ Nee, dit word liefde deur geloof genoem. Wanneer jy deur geloof liefhet, spoor jou optrede jou aan om die regte manier teenoor daardie persoon te voel. Probeer dit en vind vir jouself uit of dit werk!
Sielskos: 1 Kon 14-15; Mark 9:14-29; Ps 101; Spr 12:12-13
2025-05-21
Johannes 17:4 NLV
Om ja vir die wil van God te sê, moet jy leer om nee vir ander dinge te sê. Sommige mense gaan nie daarvan hou nie, veral as hulle gewoond is om hulle sin te kry. Mense sal eise op grond van hul behoeftes aan jou stel en onbewus wees of nie omgee oor jou behoeftes nie. Jy het dus ‘n keuse: Word deur God, of word deur ander mense, gelei.
Niemand was besiger of het ‘n groter opdrag as Jesus gehad nie. Tog lees ons: ‘en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: ‘Almal vra na U.’ Jesus het egter geantwoord: ‘Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het’ (Markus 1:37-38 NLV). Het Jesus nee gesê om aan onvervulde behoeftes te voldoen? Ja, Hy het geweet wat sy prioriteite was en Hy het daarop gefokus gebly. Op hierdie manier was Hy in staat om aan die einde van sy lewe aan sy hemelse Vader te sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV).
As jy dit moeilik vind om nee te sê, stop en verbeel jouself wat gaan gebeur wanneer jy nee sê. Die enigste manier om jou vrees of onsekerheid in hierdie area te oorkom, is om klein risiko’s te begin neem totdat jy uiteindelik gemaklik is om ‘n ferm nee te gee. Wanneer ‘n persoon deur roekelose besteding skuld aangaan, doen jy hulle nie ‘n guns deur hulle uit die put van skuld te red nie. Hulle leer dan nie hulle les nie en sal dit weer doen! Deur ja te sê vir iemand wat weier om ‘n nuwe vaardigheidstel waartoe hulle in staat is, aan te leer, bevorder jy ‘aangeleerde hulpeloosheid.’ Leer dus om nee te sê.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 9:1-13; Ps 128; Spr 12:10-11
2025-05-20
Jakobus 5:16 NLV
Om te verstaan hoe kragtig en effektief gebed is, moet ons vanuit ‘n neurologiese perspektief daarna kyk. By die basis van ons brein lê ‘n groep senuwees wat die retikulêre aktiveerstelsel (RAS) genoem word, wat ons omgewing monitor. Ons word voortdurend met ontelbare stimuli wat meeding om ons aandag, gebombardeer en dit is die RAS se taak om te bepaal wat raakgesien word en wat ongemerk bly.
Jy laai byvoorbeeld ‘n nuwe luitoon vir jou selfoon af. Jy is seker dat jy dit nog nooit vantevore gehoor het nie. Nadat jy dit egter afgelaai het, lyk dit asof almal dieselfde luitoon het. Dis nie omdat baie mense die luitoon na jou gaan aflaai het nie. Dit is die eenvoudige feit dat toe jy daardie luitoon afgelaai het, dit ‘n kategorie in jou RAS geskep het. Daardie luitoon het onopgemerk by jou verbygegaan voordat jy dit afgelaai het, want dit was nie vir jou belangrik nie. Sodra jy die luitoon afgelaai het, het die RAS dit as relevant erken. Gebed werk op dieselfde manier.
Wanneer jy vir iets of iemand bid, skep dit ‘n kategorie in jou retikulêre aktiveerstelsel. Nou merk jy alles wat relevant aan daardie gebed is, op. ‘n Pastoor skryf: ‘Het jy al ooit opgelet dat toevallighede gebeur wanneer jy bid? Dit is meer as net toeval, dit is voorsienigheid. Gebed skep goddelike geleenthede. Gebed heilig egter ook die retikulêre aktiveerstelsel en stel ons in staat om die geleenthede wat God beskik het en wat heeltyd oral om ons is, raak te sien. Sodra ons hierdie geleenthede sien, moet ons ons geloof aktiveer en hulle aangryp.’ Gebed is die portaal na God se koninkryk en waardeur sy seëninge na ons toe vloei. Bid dus elke dag.
Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 8:27-38; Ps 45; Spr 12:7-9
2025-05-19
Romeine 12:10-11 NLV
‘n Leierskapskundige sê: ‘Die meeste leiers fokus op twee dinge: die visie en die bankrekening. Die visie maak ons gewoonlik die meeste opgewonde, maar die bankrekening hou ons in besigheid. Tussen die visie en die bankrekening is egter al die mense in jou organisasie. As jy die mense ignoreer en net aan hierdie ander twee dinge aandag gee, sal jy die mense en die visie (en waarskynlik die bankrekening), verloor. As jy egter op die mense fokus, het jy die potensiaal om die mense, die visie en die bankrekening te wen.’ Interessant genoeg sit die Bybel hierdie twee dinge bymekaar: ‘…julle [moet]… voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer… moenie sleepvoet wees in julle toewyding [harde werk] nie…’
Toe die sakekonsultant Jim Collins groot maatskappye bestudeer het, het hy ‘vlak vyf leiers’ geïdentifiseer. Hy sê dat hierdie leiers weier om krediet vir hul organisasie se prestasies te neem. In plaas daarvan gee hulle nederig die krediet aan hul werknemers. Talle leiers sê dat hulle hul werknemers en kliënte waardeer. Dit is ‘n gewilde sêding. As jy egter wil uitvind of dit ‘n waarde is wat werklik in jou organisasie te voorskyn kom, gesels met mense wat jou organisasie goed ken, maar nie by jou in diens is nie. Wat sê hulle? Hul antwoord sal jou die akkuraatste prentjie wys.
Aangesien jy jou eie hart beter as enigiemand anders ken, begin dit alles by jou. Vra jouself af: ‘Heg ek ‘n hoë waarde aan mense?’ As jy dit doen, sal hoe jy hulle behandel, dit wys. As jy hulle reg behandel, sal God jou pogings seën. Die Bybel sê: ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring…’ (Spreuke 10:22 NLV).
Sielskos: 1 Kon 8-9; Mark 8:14-26; Ps 47; Spr 12:4-6
2025-05-18
Spreuke 23:24 NLV
As ouer wil jy graag hê dat jou kinders goed moet uitdraai en die beste manier om dit te doen, is deur voorbeeldige gedrag tuis te vertoon (sien Efesiërs 5:1). Leer om nee te sê.
Susan Alexander Yates sê: ‘Daar is eenvoudig te veel eise en keuses en te min tyd. Volwassenheid beteken om te leer om iets wat jy regtig graag wil doen uit te stel, om sodoende op iets belangriker te kan fokus. Miskien stel jy daardie loopbaangeleentheid uit sodat jy meer tyd saam met jou kinders kan hê, of daardie uitstappie saam met jou vriende sodat jy daar is wanneer jou tieners hul vriende by jou huis onthaal. Miskien moet jy vir nog ‘n skoolsport ‘nee’ sê, sodat jou gesin saam aandete kan eet. Vra jouself wat oor 10 jaar gaan saak maak – dat jy jou kind vir nog ‘n aktiwiteit ingeskryf het en aande apart deurgebring het, of ‘nee’ gesê het en sodoende saam as gesin aandete geëet het?
Jaag Christus met nuwe krag na. Ek bid koning Dawid se gebed: ‘Help my om weer opgewonde en bly te wees. Help my om te jubel van vreugde…’ (Psalm 51:10 DB). Besluit om daardie vreugde te herwin. Verander jou alleentyd met God. Besluit op ‘n nuwe onderwerp in jou Bybelstudie. As jy nog steeds afgerem voel, vra God om vir jou die rede te wys. Is daar sonde in jou lewe wat jy ignoreer? ‘n Verkeerde verhouding, selfbejammering, jaloesie?’
Die Bybel sê: ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV). Wees altyd bewus dat die kinders jou dophou.
Sielskos: Eks 20:14; Spr 6:23-35; Matt 5:27-28; Joh 8:1-11
2025-05-17
Efesiërs 5:1 DB
Susan Alexander Yates bied vir ons Skriftuurlike riglyne aan oor hoe om invloed oor ons kinders uit te oefen.
1) Ryk na nie-Christene uit. As jy wil hê dat jou kinders in geloof moet groei, moet jy hulle aan mense wat geloof nodig het, blootstel. God het ons geroep om sout en lig vir die aarde te wees (sien Matteus 5:13-16), maar dit sal nie gebeur as jy al jou vrye tyd saam met gelowiges deurbring nie. Kinders is ook meer geneig om na ander uit te reik wanneer hulle ‘n voorbeeld daarvan by die huis sien. Om uit te reik kan skrikwekkend voel, maar wanneer jy dit waag, sal God op opwindende maniere deur jou werk.
2) Bewys dankbaarheid. Niemand, insluitend God, geniet ‘n kind wat neul nie. Wanneer ons Hom waardeer, behaag dit sy hart. Kinders neem jou houding waar. Wanneer jy aanhoudend kla, sal hulle meer geneig wees om te neul. Wanneer jy op die negatiewe fokus, leer hulle om op dit wat kortkom, te fokus.
3) Maak tyd vir jou eggenoot. Ons raak besig met die kinders, die werk en aktiwiteite by die kerk en dink dat ons tyd met ons eggenoot sal bestee wanneer dinge gekalmeer het. Die probleem is dat dit nooit doen nie. Moenie dat die onkruid van sogenaamde belangrike dinge, jou verhouding verwurg nie. Jou kinders se sekuriteit word op die wete dat jy hulle liefhet gebaseer, maar dit kry vlerke wanneer hulle weet dat julle vir mekaar lief is! Die Bybel sê: ‘…’n Wyse kind verskaf sy ouers groot vreugde’ (Spreuke 23:24 NLV). Jy maak die volgende generasie groot en hulle moet weet dat ‘n gelukkige huwelik tyd en inspanning verg.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 8:1-13; Ps 97; Spr 12:1-3