Die oupa se fout het die kleinseun se wonderwerk geword

2025-04-06
Genesis 37:25 NLV

As Abraham en Sara bereid was om net ‘n bietjie langer te wag, sou Isak gebore word en God se belofte vervul gewees het. Hulle het egter ongeduldig geword en gevolglik is Ismael gebore. Een van die name wat aan God in die Skrif gegee word, is ‘Verlosser,’ omdat Hy jou van jou foute kan verlos en dit in ‘n leerervaring kan verander; Hy kan die gemors wat jy maak in die wonderwerk wat jy nodig het, verander.

Dit het drie generasies geneem, maar God het die gemors wat Abraham gemaak het in die wonderwerk van bevryding wat Josef nodig gehad het, verander. Josef se lotsbestemming was om oor Egipte te heers en sy familie en die wêreld in ‘n tyd van hongersnood te red. Omdat sy broers egter wrokkig oor hom gevoel het, het hulle hom as slaaf aan ‘n groep Ismaelitiese handelaars verkoop. Hulle was die nageslag van Ismael, wat vir Abraham en Hagar, Sara se slavin, gebore is. Waarheen was hierdie Ismaeliete op pad? Egipte toe! ‘Net toe hulle gaan sit… sien hulle… ‘n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem… Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe’ (verse 25, 28 NLV).

Dis nie verby nie totdat God sê dis verby. Hy kan die gemors wat jy in die verlede gemaak het in ‘n wonderwerk wat jy in die toekoms gaan benodig, omskep. Hierdie wonderwerk sal nie net jou nie, maar ook ander mense seën. Miskien sal daardie ander mense jou eie familie wees, net soos in Josef se geval.

Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11

Die beste kom nog

2025-04-05
Matteus 1:5 NLV

Menslik gesproke was die kans dat ‘n nie-Joodse meisie soos Rut, met ‘n ryk Jood soos Boas sou trou minder as nul, omdat die wet van Moses dit verbied het: ‘Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie’ (Deuteronomium 23:3 NLV). As daar nou ooit ‘n deur was wat toegemaak en gesluit was, was dit hierdie een. God heers egter oor mense en omstandighede. ‘…Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie’ (Openbaring 3:7 NLV).

God, nie mense nie, hou die sleutel van jou toekoms vas. Jesus het gesê: ‘…Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik’ (Lukas 18:27 NLV). Uit hierdie ongewone kombinasie van Jood en nie-Jood, ryk en arm, aanvaar en verwerp, sou Jesus, die Verlosser van die wêreld, voortgebring word. Die rekord lees dus: ‘…Boas die pa van Obed by Rut…’

Die woord vir jou vandag is – die beste kom nog. Jou pad met Christus kan vrugte voortbring, wat jou kinders en kleinkinders vir generasies wat nog kom sal, seën. Lewe in die hede en geniet elke dag wat God vir jou gee, maar hou altyd die toekoms in gedagte. Dit gaan nie net daaroor wat God vir jou wil doen nie, maar wat Hy deur jou, wat ander mense sal seën, wil doen. God het vir Abraham gesê: ‘Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees… Deur jou sal al die nasies op die aarde geseën word’ (Genesis 12:2-3 NLV). Eis hierdie belofte op!

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Luk 21-25-28; Ps 50:1-15; Spr 10:3

Wat die Bybel ons oor geld leer (5)

2025-04-04
1 Korintiërs 16:1 NLV

Toe ‘n resessie Jerusalem tref, het Paulus vir die gelowiges in Korinte gevra om geld te skenk om aan hierdie behoefte te voldoen: ‘Wat die geld betref wat ons vir die gelowiges in Jerusalem insamel, moet julle dieselfde reëling volg wat ek met die gemeentes in Galasië getref het. Op elke Dag van die Here, moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie. Wanneer ek kom, sal ek die persone waarop julle besluit, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawe in Jerusalem af te lewer’ (verse 1-3 NLV).

‘n Gesonde kerk sal altyd twee dinge hê: insameling en uitreiking. Dit sal streef om aan beide die geestelike en die materiële behoeftes van mense te voldoen. God het vir sy mense in die Ou Testament gesê: ‘As daar… ‘n arm Israeliet is, een van jou broers, moenie ongevoelig wees en jou hand vir hom toehou nie’ (Deuteronomium 15:7 NLV).

Wanneer jy ‘n ware ontmoeting met Christus het, sal jou hart vir mense wat seer het, sag word. “Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: ‘Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus sê toe vir hom: ‘Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom…'” (Lukas 19:8-9 NLV).

Die Bybel stel voor dat ons as basis 10 persent van ons inkomste as gawes aan God moet gee (sien Maleagi 3:10). Vir meer as dit moet jy deur jou liefde vir God gelei word: ‘Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief’ (2 Korintiërs 9:7 NLV).

Sielskos: Lev 18-20; Luk 21:12-24; Ps 25:16-22; Spr 10:2

Wat die Bybel ons oor geld leer (4)

2025-04-03
Deuteronomium 16:17 NLV

Wanneer dit by gee kom, is daar twee belangrike lesse wat die Bybel ons oor geld leer:

1) God verwag nie van ons om almal dieselfde bedrag te gee nie. ‘Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die Here jou God ontvang het’ (vers 17 NLV). Paulus skryf: ‘As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat hulle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie’ (2 Korintiërs 8:12 NLV).

2) God sal jou vra om opofferings te maak om sy doelwitte vir sy koninkryk op aarde, te vervul. Om die oordeel van God wat hy oor die volk laat kom het, om te keer, is koning Dawid beveel om ‘…’n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet’ (2 Samuel 24:18 NLV), te gaan bou. Toe Arauna vir Dawid sien aankom, het hy vir hom die land verniet aangebied. Dawid het egter gesê: ‘…’Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.’ Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer gekoop. Dawid het daar ‘n altaar opgerig tot eer van die Here en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou’ (verse 24-25 NLV).

God vra ons nie om dieselfde hoeveelheid te gee nie, maar Hy vra ons om dieselfde op te offer. Vir elke opoffering wat God jou vra om vir Hom te maak, wag sy seëninge en sy belonings aan die ander kant daarvan op jou.

Sielskos: Lev 15 -17; Luk 21:8-11; Ps 25:8-15; Spr 10:1

Wat die Bybel ons oor geld leer (3)

2025-04-02
Job 1:21 NLV

Job het die volgende oor sy groot rykdom gesê: ‘…Naak het ek uit my ma se skoot gekom, en naak sal ek weer van alles gestroop wees die dag wanneer ek doodgaan…’ Job het verstaan dat ons almal met leë hande die lewe binnekom en met leë hande die lewe verlaat. Die enigste ding wat ons saam met ons kan neem, is dit wat ons vooruit gestuur het.

Jesus sê die volgende daaroor: ‘Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees’ (Matteus 6:19-21 NLV).

Jesus se gehoor sou rykdom en skatte as klere, kos en geld gesien het. Ryk mense het die beste klere gedra, maar motte kon gate daarin vreet. Ryk mense het die beste kos geëet, maar rotte en wurms kon dit opvreet. Ryk mense het silwer en goud besit, maar aangesien daar geen banke was nie, het hulle hul geld in hulle huise bewaar. Die huise was egter van klei gebou en diewe kon gemaklik deur die muur breek en dit steel. Dus het Jesus gesê: ‘Moenie jou skat bêre waar dit beskadig, verrot of gesteel kan word nie.’

‘n Pastoor skryf: ‘Jesus wil nie jou geld hê nie. Dis reeds syne. Jesus wil jou hart hê. Aangesien jou hart egter altyd jou geld volg, wil Hy hê dat jy jou geld, jou rykdom en jou besittings aan Hom moet oorgee.’ Wanneer jy dit doen, belê jy in die ewigheid.

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 21:1-7; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18

Wat die Bybel ons oor geld leer (2)

2025-04-01
Deuteronomium 8:18 NLV

Nadat hulle vierhonderd jaar as slawe geleef het, was die Israeliete op die punt om die Beloofde Land in te neem. God was egter besorg – dieselfde besorgdheid wat Hy oor elkeen van ons het. Wanneer jy min het, besef jy hoe afhanklik jy van God is. Wanneer jy egter baie het, is mens geneig om God, die bron van elke seëning, te vergeet.

Let op wat Dawid gesê het toe God se mense oorvloedig gegee het om die tempel te bou: ‘…Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!… selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om ‘n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U!’ (1 Kronieke 29:14, 16 NLV). Die gebed wat Dawid daardie dag gebid het, het ‘n blywende indruk op sy seun Salomo gemaak, wat later geskryf het: ‘En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ‘n geskenk uit sy hand’ (Prediker 5:18 NLV).

Jy sê: ‘Ek het hard gewerk om bo in my beroep uit te kom,’ of ‘Ek het hard gewerk om hierdie besigheid op te bou.’ Wie het vir jou die krag daarvoor gegee? Wie het vir jou die talente gegee? As jy dink dat jy dit alles self behaal het, lees die volgende Skrifgedeelte, skryf dit neer en dra dit met jou saam: “Nou sê die Here, jou Redder, die Heilige van Israel: ‘Ek is die Here jou God wat jou leer wat vir jou reg is. Ek lei jou op die pad waarop jy moet loop'” (Jesaja 48:17 NLV).

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 20:41-47; Ps 32; Spr 9:10-16