Bid vir wysheid

2026-08-22
Spreuke 2:6 NLV

Hier is Paulus se gebed vir die kerk in Efese: ‘…dat die God van ons Here Jesus Christus… aan julle geestelike wysheid en insig sal gee…’ (Efesiërs 1:17 NLV). Vir die kerk in Kolosse het hy gevra dat God ‘…geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê’ (Kolossense 1:9 NLV). Jakobus het geskryf: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord…’ (Jakobus 1:5-6 NLV).

Hoe kan jy weet dat die wysheid waarin jy wandel, van God af kom? ‘Maar as ‘n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ‘n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef…’ (Jakobus 3:17 DB). Toe die jong Salomo die troon van Israel bestyg het, het God hom gevra: ‘…Wat wil jy hê?..’ (1 Konings 3:5 NLV). Salomo het geantwoord: “‘Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer…’ Die Here was tevrede met Salomo se antwoord…” (1 Konings 3:9-10 NLV).

Salomo het bekendheid as een van die wysste manne wat ooit geleef het, verwerf en hy het drie van die boeke in die Bybel geskryf. Die God wat vir hom wysheid gegee het, sal dit ook vir jou gee. Al wat jy hoef te doen is om daarvoor te bid en jou hart en verstand vir sy Woord oop te maak.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Mark 8:1-13; Ps 119:121-128; Spr 22:4-7

Die grootste oomblik in jou lewe is nou

2026-08-21
Psalm 118:24 NLV

Die grootste oomblik in jou lewe is nou. Nie omdat dit aangenaam of gelukkig of maklik is nie, maar omdat dit die enigste oomblik is wat jy het. Elke oomblik in die verlede is onherroeplik verby. Dit kom nooit terug nie. As jy in die verlede leef, verloor jy jou lewe. Die toekoms is altyd iewers daar buite. Jy kan ‘n ewigheid vir môre wag of jou oor môre bekommer. As jy in die toekoms leef, sal jy ook jou lewe verloor.

Hierdie oomblik is God se onvervangbare geskenk aan jou. Bowenal is dit hierdie oomblik wat saak maak, want God is in hierdie oomblik. As jy enigsins by God wil wees, moet jy nou by Hom wees – in hierdie oomblik. Daarom sê die Psalmdigter: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’ Daarom het die profeet Jeremia gesê dat mens altyd op God se genade kan vertrou, want ‘…Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:23 NLV). Daarom het die apostel Paulus gesê: ‘Wees dus baie versigtig hoe julle lewe… Benut elke geleentheid… probeer uitvind wat God se wil is’ (Efesiërs 5:15-17 NLV).

Frederick Buechner het geskryf: ‘Morning, afternoon, evening – the hours of the day, of any day, of your day and my day. The alphabet of grace. If there is a God who speaks anywhere, surely He speaks here: through waking up and working, through going away and coming back again, through people you meet and books you read, through falling asleep in the dark.’ Dit alles beteken net een ding – die grootste oomblik in jou lewe is nou.

Sielskos: 2 Kro 35-36; Mark 7:24-37; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3

Jou reaksietyd maak saak

2026-08-20
Jesaja 6:8 NLV

Onthou jy die tien spioene wat God se vermoë om sy belofte na te kom betwyfel het en die Israeliete ontmoedig het om die Beloofde Land binne te gaan? Hul twyfel was so aanstootlik vir God – Hy het immers reeds sy mag aan hulle deur die uittog uit Egipte en die skeiding van die Rooi See geopenbaar – dat God dadelik sy oordeel oor hulle voltrek het. Die volgende dag het die Israeliete ‘n ommeswaai gemaak. Hulle het van plan verander, maar dit was te min, te laat. Een dag se vertraging het hulle veertig jaar gekos! Hulle het die Beloofde Land misgeloop omdat hul reaksietyd te stadig was.

Dit beteken nie dat jy in vrees moet leef om iets mis te loop nie. God is immers die God van tweede kanse (sien Jona 3:1). Jy moet egter die volgende verstaan: onaktiwiteit is ‘n aksie en besluiteloosheid is ‘n besluit. Wanneer jy met God te doen het, is jou reaksietyd van kardinale belang. Paulus se bediening het begin toe hy ‘n lewensveranderende ontmoeting met Christus op die Damaskuspad gehad het. Onmiddellik het hy op sy knieë geval en uitgeroep: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53).

Toe die hemel oopgaan en God vra: “…Wie kan Ek met ‘n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir ons gaan?..’ het die profeet Jesaja onmiddellik geantwoord: ‘…Here, ek sal gaan! Stuur my!’ Hy het gesê: ‘Ja, gaan. Sê vir die mense so…'” (Jesaja 6:8-9 NLV).

Jy wil nie God vooruitloop nie en jy wil nie agtergelaat word nie. Wat jy moet doen, is om die geleenthede wat Hy jou gee so vinnig, so beslis en so dapper as moontlik aan te gryp. Jou reaksietyd maak saak.

Sielskos: 2 Kro 32-34; Mark 7:14-23; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31

Jy kan jou probleme oorkom

2026-08-19
2 Korintiërs 10:4 NLV

Vandag se probleem is nie noodwendig môre se probleem nie. Weerstaan die versoeking om jouself te etiketteer: ‘Ek is nou maar net ‘n kommerkous.’ ‘My swakheid is nou maar een maal om te skinder.’ ‘My pa was ‘n drinker; ek sit maar net die tradisie voort.’ Hou op daarmee! Hierdie woorde skep bondgenootskappe met die duiwel. Dit gee hom toegang tot jou gees. Dit is nie God se wil dat jy ‘n verslane, ongelukkige lewe moet lei nie.

Draai ‘n dowe oor vir die ou stemme en maak nuwe keuses. “‘n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi!” (Psalm 16:6 NLV). Leef uit jou erfenis, nie uit jou omstandighede nie. God het jou reeds oorwinning belowe en jou van wapens vir die stryd voorsien. ‘Ons leef wel in ‘n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie. Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig… (2 Korintiërs 10:3-4 NLV).

Hoe het Josua Jerigo verower? Deur God se strategie te gebruik: ‘…Dra die ark van die verbond. Laat sewe priesters elkeen met ‘n ramshoring voor die ark van die Here loop’ (Josua 6:6 NLV). Die verbondsark was die simbool van God se teenwoordigheid. Josua het dit in die middel van die optog geplaas. Elke aktiwiteit het om God gewentel.

Die geheim van oorwinning is om God sentraal in jou lewe te hou deur die wapens van aanbidding – die Skrif en gebed – te gebruik. Gebruik elke instrument wat God bied: Memoriseer die Skrif en pleit by God. Skakel die TV af en maak die Bybel meer gereeld oop. Bekommer jou minder en bid meer. Jy kan jou probleme oorkom deur daagliks op die teenwoordigheid van God staat te maak.

Sielskos: 2 Kro 29-31; Mark 7:1-13; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27

Bid en glo God vir genesing

2026-08-18
Jeremia 17:14 NLV

Dr A. B. Simpson, stigter van die Christian and Missionary Alliance, is deur swak gesondheid geteister. Twee senuwee-ineenstortings en ‘n hartkwaal het daartoe gelei dat ‘n dokter hom – op agt-en-dertigjarige ouderdom – meegedeel het dat hy nie veertig sou word nie. Die diagnose was nie vir Simpson ‘n verrassing nie. Dit was vir hom ‘n foltering om te preek; selfs die klim van ‘n effense hoogte het hom asemloos gelaat.

In desperaatheid het hy hom na sy Bybel gewend om uit te vind wat Jesus oor siekte sê en hy het oortuig geraak dat Jesus hom wou genees. Kort daarna het hy ‘n entjie in die platteland gaan stap. Toe hy by ‘n dennebos kom, het hy op ‘n stomp gaan sit om te rus en te bid. Hy het Christus gevra om sy fisiese lewe te seën sodat hy sy lewenstaak kon voltooi.

Hy het later gesê: ‘Elke vesel in my het getintel van die bewustheid van God se teenwoordigheid. Van daardie oomblik af het ek letterlik ‘n nuwe hart gehad.’ Hy het in die volgende drie jaar 3 000 preke gelewer en soms twintig vergaderings per week bygewoon. Hy het ‘n produktiewe skrywer geword wie se boeke steeds die wêreld seën. Hy is uiteindelik oorlede – op die ouderdom van ses-en-sewentig.

In die Bybel het Jeremia gebid: ‘Here, U alleen kan my gesond maak…’ Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk…’ (Psalm 30:3-4 NLV). Jesaja het gesê: ‘…U het my gesondheid teruggegee en my toegelaat om te lewe!’ (Jesaja 38:16 NLV). Bid dus en glo God vir genesing.

Sielskos: 2 Kro 25-28; Mark 6:45-56; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23

‘n Gees van samewerking

2026-08-17
1 Korintiërs 3:9 AFR83

Sodra jy die feit aanvaar dat jy vir jou eie sukses saad saai wanneer jy ander mense ondersteun, sal ‘n gees van samewerking jou norm word. Neem die geval van Paulus en Apollos. Sommige van die Christene in Korinte het gevoel dat hulle kant moes kies oor watter een om te volg – ten spyte van die feit dat hulle dieselfde evangelie verkondig het. Paulus het hulle aangespreek oor hul vleeslike gesindhede. ‘As een van julle sê: ‘Ek is vir Paulus,’ en ‘n ander: ‘Ek is vir Apollos,’ is julle dan nie nog wêrelds nie? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei… Ons is medewerkers in diens van God… (1 Korintiërs 3:4-9 AFR83).

Sommige predikante maak neerhalende opmerkings oor ander bedieninge in ‘n poging om iemand anders se lig te verdoof sodat hul eie lig helderder kan skyn. Dit skrik beide gelowiges en ongelowiges af. Paulus se primêre doelwit was om die evangelie te versprei en hy wou seker maak dat geen predikant verhinder word om dit te doen nie. In sy brief aan Titus het hy gelowiges aangemoedig om Apollos hul volle ondersteuning te gee: ‘Doen jou uiterste bes om… Apollos met hulle reis te help…’ (Titus 3:13 NLV). So ‘n versoek kan slegs uit ‘n geruste hart kom.

Die woord vir jou vandag is dus: jy moet ‘n gees van samewerking hê.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Mark 6:30-44; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19