2026-08-28
1 Johannes 2:1 NLV
Jy ken dalk nie die naam Angelo Dundee nie, maar jy het ongetwyfeld al van die wêreldkampioen-bokser Muhammed Ali gehoor. Vir meer as twee dekades was Angelo letterlik in Muhammed Ali se hoek. Hy was Ali se hoekman! Hy het ook ander wêreldbokskampioene opgelei. Een van die beste beskrywings van Jesus is dat Hy ons hoekman is! ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.’
In sy brief aan Timoteus spoor Paulus ons aan om die goeie stryd te stry (sien 1 Timoteus 6:12). Jy gaan vir seker ‘n keer of twee neergevel word. Jy het egter ‘n hoekman wat self drie rondtes met die dood geveg het. Hy is by die kruis neergevel, maar Hy het drie dae later weer opgestaan. Hy het uit die graf gestap en die stryd teen sonde en die dood gewen. Waar is Hy nou? Hy is aan die regterhand van die Vader en tree vir jou by Hom in. Met ander woorde, Christus is in jou hoek!
Hy is ook nie die enigste een nie. Jesus het die Heilige Gees die ‘parákletos’ genoem, wat in Afrikaans as trooster en raadgewer vertaal word. ‘Parakleet’ is ‘n militêre term wat na Romeinse soldate verwys wat rug-aan-rug veg wanneer hulle in ‘n handgeveg betrokke raak. Hulle het sodoende mekaar se blinde kant beskerm. Dit is wat die Heilige Gees doen. Die Heilige Gees beskerm jou rug, en Christus is in jou hoek. Die profeet Jesaja noem Hom ons agterhoede: ‘…die Here trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede’ (Jesaja 52:12 AFR).
Jy het nie net een lid van die drie-enige God wat vir jou intree nie – jy het twee!
Sielskos: Josua 8:30-10:43; Mark 9:30-37; Ps 119:169-176; Spr 22:20-23
2026-08-27
Filippense 4:8 NLV
Kenners skat dat ons 50 000 tot 70 000 gedagtes per dag het. Ons moet die volgende vier dinge oor ons gedagtes waarneem:
1) Sielkundiges sê dat 98 tot 99 persent van ons gedagtes gewoonte is. Met ander woorde, dit is basies dieselfde gedagtes wat ons gister, eergister en die dag daarvoor gehad het. Jou gedagtes moet egter elke dag vernuwe word (sien Romeine 12:2). Jy kan nie aanhou om dieselfde dinge te dink en dan ‘n ander uitkoms of uitkyk verwag nie. Wat is dan die antwoord? Neem ‘n leeringesteldheid aan! ‘Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee. Dit sal jou kroon met voorspoed…’ (Spreuke 4:8-9 NLV).
2) Slegs 12 persent van ons gedagtes is op die toekoms gefokus. Geloof is egter per definisie toekomsgerig. ‘…geloof… is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur’ (Hebreërs 11:1 NLV).
3) Navorsing het bevind dat die gemiddelde persoon 46,9 persent van hul wakker ure bestee om aan iets anders as waarmee hulle tans besig is, te dink. Dwalende gedagtes is dikwels ongelukkige gedagtes. Natuurlik is die mees voor die hand liggende rede daarvoor die digitale toestelle wat ons konstant gebruik. Niks verdof ons vermoë om te droom meer as ons sogenaamde slimfone nie!
4) Die Cleveland Clinic skat dat 80 persent van ons gedagtes negatief is. Dis 48 000 negatiewe gedagtes per dag! Wanneer ons dan daardie gedagtes verbaliseer, vererger dit die probleem. Wat is dan die antwoord? ‘…julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees’ (ABA).
Sielskos: Josua 5:1-8:29; Mark 9:14-29; Ps 119:161-168; Spr 22:17-19
2026-08-26
2 Korintiërs 10:5 NLV
Max Lucado het geskryf: “‘n Ruk terug het ‘n ma my gevra om vir haar agtjarige seun te bid. Hy is gedurig deur beelde en skrikwekkende visioene geteister wat hom teruggetrokke en skugter gelaat het. Dit het selfs sy slaap beïnvloed. Die dag wat ons ontmoet het, het sy oë vol trane geskiet en hy het aan sy ma vasgeklou. Sy het hom na dokters toe geneem, maar niks het gehelp nie. Ek het vir hom gesê dat die duiwel geen gesag oor sy lewe het nie. Dat die ware geveg in sy gedagtes gevoer moet word. Dat God ons sal help om elke gedagte gevange te neem. Ek het hom aangespoor om ‘n Bybelvers te memoriseer en dit elke keer wanneer die vreesaanjaende gedagtes by hom opkom, aan te haal.
‘Steek jou hand uit,’ het ek hom aangemoedig, ‘en gryp die gedagte en gooi dit in die asblik. Vervang dit dan dadelik met ‘n vers uit die Skrif.’ Ons het hom toe met olie gesalf en vir hom gebid. Vyf dae later het sy ma laat weet dat hy groot vordering gemaak het. ‘Sedert verlede week is die beelde weg; hy sien hulle nie meer nie. Hy sê elke aand hierdie Skrifgedeelte uit Psalm 25:5 (NLV) op: ‘Lei my deur u waarheid en leer my, want U, o God, is my redder…’ Ek glo dit het hom nader aan Christus gebring.
Hy gebruik die strategie om die vreesaanjaende gedagtes in die asblik weg te gooi. Hy sê toe hy eers probeer het om die gedagtes weg te gooi, het dit sy kop seergemaak. Ek het gevra: ‘Hoe het hulle dan weggegaan?’ Hy het geglimlag en gesê: ‘God het hulle laat weggaan.'” Die woord vir jou vandag is dus: ‘Gryp dit en gooi dit in die asblik.’
Sielskos: Josua 1-4; Mark 9:1-13; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16
2026-08-25
Jakobus 5:16 NLV
Die kardioloog dr Randolph Byrd, wat ‘n christen was, het baie daarin belang gestel om te weet of gebed ‘n ‘wetenskaplik meetbare’ impak op genesing het. Hy het gesê: ‘Na baie gebed het die idee van hoe om dit te meet by my opgekom.’ Oor ‘n tydperk van tien maande het ‘n rekenaar 393 pasiënte in die kardiologiese sorgeenheid by die San Francisco Algemene Hospitaal aan een van twee groepe toegewys. Gebedsgroepe het vir die eerste groep gebid. Die tweede groep is nie voor gebid nie. Die gebedsgroepe het uit verskeie Christelike denominasies bestaan. Hulle het slegs die voorname van die pasiënte en kort beskrywings van hul diagnose en toestand gekry. Daar is elke dag vir hulle gebid. Die pasiënte waarvoor gebid is, het op die volgende maniere van dié waarvoor nie gebid is nie, verskil:
1) Hulle was vyf keer minder geneig om antibiotika nodig te kry.
2) Hulle was drie keer minder geneig om vloeistof in die longe te ontwikkel.
3) Nie een van hulle moes aan ‘n ventilator gekoppel word nie.
4) Minder van hulle het gesterf.
As dit ‘n nuwe middel of prosedure was wat bestudeer is, sou hierdie as ‘n deurbraak beskou geword het. Selfs dr William Nolan, die skrywer van ‘n boek wat geloofsgenesing veroordeel, het gesê: “Dit klink asof hierdie studie ondersoek moet word. Miskien behoort ons dokters op ons voorskrifte te skryf: ‘Bid drie keer per dag.'” Ons lees in die Ou Testament: “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV). Jakobus skryf in die Nuwe Testament: ‘En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan… Daarom moet julle… vir mekaar bid sodat julle gesond kan word’ (Jakobus 5:15-16 NLV).
Sielskos: 2 Joh; 3 Joh; Judas; Mark 8:27-38; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13
2026-08-24
Amos 3:3 NLV
Dit is geen geheim dat die meerderheid huwelike deesdae weens finansiële probleme misluk nie. Ander verhoudings kan ook bedreig word wanneer ons nie ‘n lening terug betaal of ons finansiële verantwoordelikhede nakom nie. Die volgende drie strategieë sal help om hierdie slaggate te vermy:
1) Besluit saam met jou eggenoot die maksimum bedrag wat elkeen van julle sonder die ander se toestemming mag spandeer. Enige bedrag bo hierdie limiet sal volledige instemming vereis. Elke paartjie definieer ‘n ‘groot’ aankoop anders, afhangende van hul huishoudelike inkomste – hou dus by julle besluit. Dit is belangrik. As julle nie oor ‘n transaksie saamstem nie, sal julle geneig wees om vinger te wys indien die transaksie skeefloop.
2) Lig julle familie in dat persoonlike lenings teen julle beleid is. Indien jy besluit om ‘n uitsondering te maak, maak seker dat jou eggenoot ten volle saamstem. As jy wys is, sal jy die voorwaardes en spertye van die lening op skrif stel.
3) Moenie jou kind, eggenoot of enigiemand anders in staat stel om onverantwoordelik te lewe deur hom of haar finansieel by te staan of altyd hul veiligheidsnet te wees nie. Sê net nee. Wanneer jy nie nee sê nie, word een van God se effektiefste beginsels ondermyn – deur die gevolge van hulle onverantwoordelike finansiële gedrag te ontduik. Ware volwassenheid vind plaas wanneer hierdie les geleer word. Liefde moet soms streng wees! Dring byvoorbeeld aan dat jou volwasse kind wat steeds in die huis bly, sy of haar huurgeld moet betaal. Dit demonstreer karakterbouende liefde, wat ware liefde is. As jy finansiële grense moet stel, doen dit!
Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Mark 8:14-26; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10
2026-08-23
Matteus 28:19-20 NLV
Die woorde wat Jesus gespreek het, het die wêreld vir altyd verander. Sy laaste instruksie aan sy dissipels was die volgende: ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan, maak al die nasies my dissipels… Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het…’ (verse 18-20 NLV). Jesus se volgelinge het dit ernstig opgeneem: ‘En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is’ (Handelinge 5:42 NLV).
Hulle het onthou dat hulle ‘n man gevolg het wat almal geleer het en wat hulle beveel het om al die volke te leer. Hulle het begin om beide mans en vroue en beide slawe en vrymense, te leer. Van die wêreld se grootste onderwysinstellings is deur volgelinge van Christus gestig. Oxford en Cambridge Universiteite is in die dertiende eeu gestig. (Die leuse van Oxford Universiteit kom uit Psalm 27:1: ‘Die Here is my lig.’)
George Marsden het opgemerk: ‘Dis merkwaardig dat die Puriteine binne ses jaar nadat hul in die wildernis van Massachusett geland het, ‘n leerskool begin het wat kort daarna ‘n gerespekteerde kollege sou word.’ Hierdie woorde kom uit ‘n studentehandboek van daardie kollege: ‘Laat elke student duidelik onderrig en ernstig aangespoor word dat die hoofdoel van sy lewe en studies sal wees om God en Jesus Christus te ken, wat die ewige lewe is (sien Johannes 17:3), en om Christus as die enigste fondament van alle gesonde kennis en leer te beskou.’ Dit was Harvard Universiteit! 92 persent van die eerste 138 kolleges en universiteite wat in Amerika gestig is, is deur volgelinge van Christus begin. Sy woorde gee nie net kennis nie; dit transformeer ons ook.
Sielskos: Eks 17:8-16; Rut 2:12; Gal 3:27