Duidelike tekens voor verkeerde besluite

2026-09-03
Job 34:4 NLV

Wanneer jy ‘n fout maak of ‘n slegte besluit neem sal jy, as jy wys is, daaruit leer deur te vra: ‘Waar het ek verkeerd gegaan?’ Hier is drie maniere om te verhoed dat jy ‘n slegte besluit neem:

1) Moenie betrokke raak waar jy nie hoort nie. Om sonder uitnodiging te ‘help,’ word ‘inmenging’ genoem. Maak nie saak hoe goed gekwalifiseerd jy is nie, maak nie saak hoe erg ander mense dinge deurmekaarkrap nie, wanneer jy intree waar God jou nie geroep het om te gaan nie, loop dinge nooit goed af nie.

2) Stop, dink en bid voordat jy besluit. ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom’ (Spreuke 18:13 NLV). As jy verslaaf aan prestasie is – iemand wat dink dis beter om enigiets te doen eerder as om te wag – kan jy impulsiewe besluite maak wat dinge eerder vererger as verbeter. Sluit sleutelpersone in jou besluitneming in en luister na die raad van die Heilige Gees voordat jy aksie neem (sien Johannes 16:13).

3) Moenie te lank wag om te besluit nie. As jy ‘n perfeksionis is, loop jy hierdie risiko. Jy raak so bekommerd dat jy die verkeerde besluit gaan neem, dat jy op die ou einde geen besluit neem nie. Om geen keuse te maak nie, is eintlik ‘n keuse. ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV).

Ten beste? Jy sal dapper optree, besorgdheid oor ander mense betoon en dinge verbeter. Ten slegste? Jy sal ‘n fout maak en daardeur wyser word.

Sielskos: Josua 22-24; Mark 10:35-52; Ps 142; Spr 23:7-9

Gebruik die gawe wat God jou gegee het

2026-09-02
Efesiërs 4:7 NLV

Paulus het gesê dat toe Jesus ‘…in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee’ (vers 8 NLV). Hy het die metafoor van ‘n seëvierende koning gebruik. Dit was algemeen in Paulus se tyd dat die verowerende monarg sy prestasie gevier het deur geskenke aan sy mense te gee. Jesus het dit ook gedoen. Nadat Hy die sonde en die dood aan die kruis verslaan het, het Hy na die hemel opgevaar, sy regmatige plek aan die regterhand van God ingeneem en ‘…geskenke aan die mense gegee.’

Wat ‘n heerlike gedagte! Jesus, wat vir ewig die kroon dra, deel vermoëns en vaardighede uit: ‘Pieter, neem jou plek in die veld van medisyne in. Maria, jou gebied is rekeningkunde.’ Almal kry ‘n gawe en hierdie gawes kom in verskillende dosisse en kombinasies voor. ‘Die Gees wys vir elkeen wat hy moet doen, want die Gees weet wat is goed vir die gemeente’ (1 Korintiërs 12:7 ABA).

Ons erfenis is op genade en gelykheid gebaseer, maar ons lewensopdragte is volgens maat gemaak. Geen twee sneeuvlokkies is dieselfde nie. Geen twee vingerafdrukke is dieselfde nie. Waarom sou twee vaardighede dieselfde wees? Geen wonder dat Paulus gesê het: ‘Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is’ (Efesiërs 5:17 NLV).

As jy nie weet wat jou lewensdoel is nie, sal jy nooit die lied sing wat God vir jou stem geskryf het nie en nooit die wenstreep met arms wat hemelwaarts gestrek is oorsteek en verklaar: ‘Ek is gemaak om dit te doen!’ nie. Daarom sê die Bybel: ‘Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk’ (Galasiërs 6:4 AFR83).

Sielskos: Josua 19:24-21:45; Mark 10:23-34; Ps 111; Spr 23:4-6

Hoe om seën te herken

2026-09-01
Psalm 103:2 NLV

Dis die slegte dae wat ons help om die goeie dae te waardeer. Sonder slegte dae sou ons geen vergelykingspunt hê nie. Dawid het eendag met homself gepraat en sy gedagtes vir ons opgeteken: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’ Hier is ses ‘goeie dade’ wat die moeite werd is om oor na te dink:

1) As jy vanoggend redelik gesond wakker geword het, is jy meer geseënd as die miljoen mense wat hierdie week nie sal oorleef nie.
2) As jy nog nooit die gevaar van oorlog, die eensaamheid van gevangenskap, die pyn van marteling of die pyn van hongersnood ervaar het nie, is jy beter as vyfhonderd miljoen ander mense in die wêreld daaraan toe.
3) As jy ‘n kerkdiens sonder vrees vir teistering, arrestasie, marteling of die dood kan bywoon, is jy meer geseënd as drie miljard mense in die wêreld.
4) As jy kos in die yskas, klere aan jou rug, ‘n dak oor jou kop en ‘n plek om te slaap het, is jy ryker as 75 persent van die wêreld.
5) As jy geld in die bank of in jou beursie, of kleingeld in ‘n laai iewers het, tel jy onder die top 8 persent van die wêreld se rykes.
6) As jy hierdie dagstukkie kan lees, is jy meer geseënd as meer as twee miljard mense in die wêreld wat glad nie kan lees nie.

Daar is altyd iemand wat slegter daaraan toe is. Dit beteken nie dat jy jouself in ander mense se ellende verlustig nie. Dit behoort egter jou Christus-gelyke deernis te verhoog en jou ‘n gevoel van dankbaarheid te gee waarvoor jy elke dag dankie moet sê.

Sielskos: Josua 16:1-19:23; Mark 10:13-22; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3

Hou aan

2026-08-31
Galasiërs 6:9 NLV

Van die wêreld se suksesvolste mense is deur sogenaamde kenners meegedeel dat hulle nie sukses in die beroepe wat hulle gekies het, sal behaal nie. In 1927 het ‘n instrukteur by die John Murray Anderson Dramaskool vir Lucille Ball gesê: ‘Probeer eerder enige ander beroep. Enige ander een.’ Universal Pictures het beide Clint Eastwood en Burt Reynolds van die hand gewys en gesê dat Reynolds geen talent het nie en dat Eastwood te stadig praat. Malcolm Forbes, die voormalige hoofredakteur van die Forbes-tydskrif, kon nie daarin slaag om deel van sy skoolkoerant se redaksie te word toe hy ‘n voorgraadse student aan Princeton Universiteit was nie.

Bestuurders van die Decca Recording Company het negatief op die oudisie van vier jong musikante gereageer en gesê: ‘Ons hou nie van hul klank nie. Groepe met kitare is uit die mode uit.’ Gevolglik het die Beatles hul klank elders geneem. Vir sewe jaar lank het ‘n jong uitvinder genaamd Chester Carlson sy idee na twintig verskillende maatskappye geneem, wat hom almal die deur gewys het. Die Haloid Company het uiteindelik die regte op sy elektroniese papierkopieerproses gekoop. Haloid het later Xerox geword.

Moenie moedeloos word as jy nie die aanvaarding en sukses wat jy op die oomblik begeer, vind nie. Jou storie word steeds geskryf! Die Bybel sê: ‘Dan sal julle nie geestelik afgestomp raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het’ (Hebreërs 6:12 NLV). Geloof en geduld is die twee eienskappe wat sukses sal meebring. Daarom het die apostel Paulus geskryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.’

Sielskos: Josua 14-15; Mark 10:1-12; Ps 103:1-12; Spr 22:27-29

Vertrou in jou verbond met God

2026-08-30
1 Samuel 17:26 NLV

Veertien geslagte voordat Dawid teen Goliat geveg het, het God vir Abraham gesê: ‘Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek…’ (Genesis 12:3 NLV). Later het God hierdie verbond na Abraham se nageslag uitgebrei en ‘n sleutelbepaling bygevoeg: ‘Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is ‘n teken dat julle my verbond nakom’ (Genesis 17:11 NLV).

Blykbaar het niemand in Saul se leër, insluitend Saul self, onthou dat hulle ‘n verbond met God het nie. Dit het Dawid genoop om te vra: ‘Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die leër van die lewendige God so beledig?’ Dawid het met ander woorde gevra: ‘Hoe kan hierdie man, wat geen verbond met God het nie, selfs daaraan dink dat hy ons sal kan oorwin?’

Glo jy dat God deur sy verbond diegene wat in ‘n egte verhouding met Hom is, sal seën, beskerm en voorspoedig maak? As jy aanhou om van die reuse in jou lewe weg te vlug, sal jy nooit die krag van God gemanifesteer sien nie. Het jy geweet dat jy ‘n erfgenaam van dieselfde verbond van seën wat God aan Abraham gegee het, is? ‘Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!’ (Galasiërs 3:29 NLV).

Dawid het op ‘n verbond van beskerming wat veertien geslagte oud was en vandag nog steeds geldig is, staatgemaak. Die verhaal van Dawid en Goliat is verteenwoordigend van die vele gevegte wat ons gereeld in die gesig staar: goed oor kwaad en geloof oor vrees. Wat ook al die situasie is, ons kan rus op God se Woord: ‘Want hierdie blye boodskap van ‘n plek van rus wat God vir ons gereedgemaak het, het ons ook ontvang…’ (Hebreërs 4:2 NLV).

Sielskos: Rig 6:24; Joh 14:27; 1 Pet 3:8

Jesus is in jou hoek (2)

2026-08-29
Hebreërs 9:24 NLV

Baie van ons het kleintyd geen idee gehad waarmee ons ouers veertig uur van die week besig was nie. Ons het dalk geweet waar hulle werk, maar ons was nie heeltemal seker wat hulle doen nie. Net so weet die meeste van ons nie regtig wat Jesus heeldag doen nie. Ons gebrek aan heilige vertroue spruit juis uit hierdie feit uit. Wat doen Jesus dan heeldag, elke dag? Hy is besig om jou saak te bepleit. Al wat jy hoef te doen is om die bloed oor jou te pleit.

Hierdie frase het in sommige kringe in onbruik verval, deels as gevolg van die verkeerde toepassing daarvan. Kom ons kyk of ons dit kan laat herleef. Om die bloed oor jou te pleit is nie ‘n bygeloof nie. Dit is nie iets ongeoorloofs nie; dit is ‘n bewustheid van jou gesag in Christus. Dit is om te begryp dat jou vergifnis reeds met bloedgeld betaal is. Dit is om vrede met die feit dat ons Satan deur die bloed van die lam oorwin het, te maak (sien Openbaring 12:11). Christus is in jou hoek, wat beteken dat jy die volle steun van die Koning en sy koninkryk het. Sy volle seën – sy volle gesag!

Satan wil jou graag daaraan laat twyfel. Onthou jy wat hy vir Eva in die Tuin van Eden gevra het: ‘…Het God regtig gesê…?’ (Genesis 3:1 NLV). As Satan jou sover kan kry om God se goedheid te wantrou, wen hy en jy verloor. Is dit moontlik dat omdat jy terughou wanneer dit by God kom, Hy jou nie dalk ook terughou nie? Lewe voluit met God! As jy Hom nie terughou nie, sal Hy jou vir seker nie terughou nie.

Sielskos: Josua 11-13; Mark 9:38-50; Ps 84; Spr 22:24-26