2026-09-09
Josua 6:16 NLV
Jerigo was die grootste vesting in Kanaän en moes verower word voordat Israel die land kon intrek en besit. Daarom het God vir hulle gesê om ses dae lank een keer per dag om die mure te marsjeer, en op die sewende dag sewe keer. Op die sewende dag het Josua vir die volk gesê: ‘…Gee die kreet! Die Here gee die stad vir julle!’
Is daar ‘n vesting in jou lewe? Is jy mismoedig en voel dat jy al lank sonder enige teken van oorwinning veg? Dit het dalk ook so vir die Israeliete gelyk. Let op dat God vir Josua gesê het dat die mure op die sewende dag sou ineenstort, maar Josua het dit nie vir die mense gesê nie. Hulle moes net aanhou marsjeer. Die Here vertel ons ook nie alles nie! Deur die pen van Paulus spoor Hy ons aan: ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV).
Hou dus aan marsjeer, hou aan bid en hou aan glo. Vandag mag dalk die dag wees wanneer die mure van jou Jerigo ineenstort. Jy is dalk net ‘n paar treë weg van ‘n oomblik soos hierdie: ‘Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaar gestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem’ (Josua 6:20 NLV).
Die einste mure wat hulle uitgehou het, het die trappe na oorwinning geword. Hou dus aan marsjeer en glo. Verslaan jou vestings met die geestelike wapens van aanbidding, Skrif en gebed. Dis net ‘n kwessie van tyd voordat jou Jerigo val.
Sielskos: Neh 8-10; Mark 12:13-27; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25
2026-09-08
Matteus 10:42 NLV
Les Goldberg se vriende het gedink hy was mal toe hy ‘n huis koop om aan haweloses te verhuur. As ‘n afgetrede ingenieur het Les gevoel dat dit die enigste besluit is wat hy kon neem. Hy het elke dag minstens een uur saam met sy hawelose vriende bestee en gehelp om verskeie eiendomme namens hulle op te knap. Goldberg het nooit die haweloses as onverantwoordelik of onbetroubaar beskou nie; hy het hulle slegs as mense gesien. Mense wat seer het! Hy het beplan dat die huis wat hy gekoop het, as beide ‘n tydelike skuiling en ‘n inloopsentrum gebruik kon word – ‘n plek waar haweloses hulle pos kon ontvang, telefoonoproepe kon maak, werksaanbiedinge kon opvolg en donasies kon ontvang.
Vier hawelose mans het in die huis gewoon en minimale huur betaal om uitgawes te dek. Huisreëls was streng: geen alkohol, geen dwelms, geen rondlê nie. Goldberg was nooit ryk nie. Vir twintig jaar het hy sy eie besigheid bedryf en ongeveer $25 000 per jaar verdien deur brandsproeiers te ontwerp en te installeer. Hy was eenvoudig ‘n man wat ‘n onvervulde behoefte gesien het en ‘n manier gevind het om dit te help vervul.
Moeder Teresa het gesê: ‘Ons kan nie almal groot dinge doen nie, maar ons kan almal klein dingetjies met groot liefde doen.’ Jesus het dit so gestel: ‘Selfs as jy ‘n beker koue water aan een van my geringste dissipels sou gee bloot omdat hy ‘n dissipel is, verseker Ek jou dat jy jou beloning nie sal misloop nie.’
Terwyl jy deur hierdie dag gaan, hou jou hart oop en vra God om jou ‘n oplossing vir iemand anders se probleem te gee. Wanneer jy dit doen, sal jy jou beloning vir seker nie misloop nie.
Sielskos: Neh 5-7; Mark 12:1-12; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21
2026-09-07
Jeremia 29:11 NLV
Niks is meer bevredigend as om jou lewensdoel te ken nie – selfs wanneer teenstand ondraaglik lyk en ander afleidings dreig om dit te oorskadu. Dikwels wanneer mense sê dat hulle nie ‘n passie vir enigiets het nie, bedoel hulle eintlik dat hulle nie die geloof het om te glo dat hulle dit kan doen wat hulle werklik in hul harte begeer nie.
Jesus het geweier om toe te laat dat enigiemand sy aandag van sy doel aflei. “Toe het iemand uit die skare geroep: ‘Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.’ Jesus het geantwoord: ‘Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?'” (Lukas 12:13-14 NLV). In wese het Jesus gesê: ‘My aandag gaan nie afgelei word deur ‘n arbitrasieverhoor tussen julle twee te hou nie. Dit is nie deel van my doel hier op aarde nie.’
Selfs op die dag wat Jesus sy lewe aan die kruis gegee het, was daar baie siek mense wat genesing nodig gehad het en ‘n magdom ander onmoontlike situasies wat sy aandag vereis het. Hy het egter geweet dat alles deur die krag van sy dood en opstanding aangespreek sou word. Dus, ten spyte van onopgeloste probleme, het Hy vol vertroue aan sy hemelse Vader hierdie verslag oor sy bediening gegee: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV).
Jesus het geweier om toe te laat dat sy dissipels, Satan, welmenende familielede, behoeftige mense of enigiemand anders Hom van sy doel weerhou het. Jy moet ook leer om dit te doen. Dit laat die vraag ontstaan: Kan jy jou Godgegewe doel in ‘n enkele sin stel? Streef jy dit na?
Sielskos: Neh 1-4; Mark 11:27-33; Ps 27; Spr 23:16-18
2026-09-06
2 Korintiërs 9:6 NLV
Die Bybel leer ons duidelik dat diegene wat vrygewig vir God se koninkryksdoeleindes gee, iets terug in ruil vir hul deelname sal ontvang. Verder is daar ‘n korrelasie tussen hoeveel jy gee en hoeveel jy terugkry. ‘…wie ruimhartig saai, sal volop oes.’ Dit is goeie nuus vir mense wat huiwerig is om te gee. Wanneer jy iets waardevols weggee, kan dit soos ‘n verlies voel. Paulus het egter hierdie konsep in ‘n heeltemal ander lig gestel. Hy het gesê dat wanneer jy vir God se werk gee, jy dit nie weggee nie. Dit is ‘n belegging, nie ‘n verlies nie.
Die boer wat saai, verloor nie saad nie; hy kry ‘n oes terug. Geen rasionele boer sou sê: ‘Ek is bang om my saad te saai, want dan sal ek nie meer die saad hê nie. Wat sal gebeur as ek hierdie saad nodig kry?’ nie. Enige boer weet dat as hy ‘n oes wil hê, hy saad moet saai. Dit is kragtige inligting vir enigiemand wat as gevolg van finansiële onsekerheid bang is om te gee. Dit dui daarop dat die wysste stap wat ons finansieel kan neem, is om ons finansiële saad te begin saai.
Wanneer ons dit doen, raak God by ons finansies betrokke. Dit is die veiligste plek waar ons finansieel kan wees. Hoekom? Want wanneer ons gee, stel dit God in staat om meer aan ons terug te gee, om meer aan ons in hierdie lewe toe te vertrou. Dit stel ons weer in staat om meer te gee. ‘In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (vers 11 NLV). Dit beteken as jy gee soos jy veronderstel is om te gee, sal God jou meer gee.
Sielskos: Ps 23:1; Jes 40:11; Joh 10:11
2026-09-05
Jakobus 3:17 NLV
Die Bybel sê dat die wysheid wat uit hierdie wêreld kom, ‘aards… sondig… demonies…’ is, want dit kom uit ‘jaloesie en selfsugtige ambisie…’ en ‘allerhande gemene dade…’ (verse 15-16 NLV). Die wysheid wat jy nodig het, kom vanuit ‘n ander bron: ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys en het goeie gevolge’ (vers 17 NLV).
Mense het deesdae toegang tot meer kennis as ooit tevore. Tog lyk dit of wysheid amper glad nie bestaan nie. Paulus se woorde aan die Korintiese kerk kan heel moontlik ook aan ons gerig word: ‘Is daar dan regtig niemand in julle gemeente wat oor genoeg wysheid beskik nie?’ (1 Korintiërs 6:5 NLV).
Daar is ‘n groot verskil tussen kennis en wysheid. Kennis is die opgaar van feite en inligting. Enigeen kan feite opgaar. Ons probleem is ons gebrek aan wysheid; ons is nie in staat om die feite wat ons geleer het, in die praktyk en in werklike situasies toe te pas nie. As ons ons geloof in aksie wil omsit, sal ons ‘die wysheid wat van Bo kom’ nodig hê. As paartjies het ons dit nodig om sterk huwelike te bou (sien 1 Petrus 3:7). As ouers het ons dit nodig om ons kinders op die pad wat hulle moet loop, te lei (sien Spreuke 22:6). As Christen-sakemanne het ons dit nodig om in die werksplek te slaag (sien Jesaja 48:17).
As jy wys is, sal jy bid: ‘Here, ek nooi U uit om saam met my te werk, in my te werk, deur my te werk en vir my te werk.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal verhoor.
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Mark 11:12-26; Ps 112; Spr 23:13-15
2026-09-04
Hebreërs 13:16 NLV
In die volgende Skrifgedeeltes leer die Bybel ons dat God van ons verwag om in die behoeftes van die minderbevoorregtes te voorsien: ‘As daar… ‘n arm Israeliet is… Gee gewillig sonder om sleg te voel daaroor en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen’ (Deuteronomium 15:7, 10 NLV). ‘Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red. Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou… Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed’ (Psalm 41:2-4 NLV). ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm. Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:24-25 NLV).
‘Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte’ (Handelinge 2:44-45 NLV). ‘Aangesien julle in elke opsig uitblink… munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk’ (2 Korintiërs 8:7 NLV). ‘Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak’ (Hebreërs 13:16 NLV).
‘Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om ‘n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde en gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings’ (1 Johannes 3:17-18 NLV).
Gee dus om in die behoeftes van ander te voorsien.
Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 20; Spr 23:10-12