Jy is geroep om goeie werke te doen

2026-09-15
Kolossense 1:10 NLV

Baie mense ken die verhaal hoe Helen Keller die moeilike fisiese uitdaging oorkom het om sonder gehoor, spraak en sig gelaat te word nadat sy as baba koors opgedoen het, en hoe sy uiteindelik geleer het om deur braille te kommunikeer. Haar lewe het miljoene mense geïnspireer. Een van haar vurige bewonderaars was die skrywer Mark Twain.

Wat baie mense egter nie weet nie, is hoe hard Helen as volwassene gewerk het. Nadat sy met lof haar graad by Radcliffe College voltooi het, het sy tot haar dood op die ouderdom van agt-en-tagtig gewerk om ander mense te help. Sy het talle artikels geskryf. Sy het lesings vir die Amerikaanse Stigting vir Blindes gegee en miljoene dollars daarvoor ingesamel. Om en by haar tagtigste verjaardag het sy die Lions Humanitêre Toekenning vir haar uitstaande diens aan blindes, ontvang.

In die Bybel het Paulus vir die Christene in Kolossense gebid: ‘Dan sal julle leefstyl tot eer van die Here wees en Hy sal daarmee tevrede wees…’ (Kolossense 1:10 NLV). Hy het ook vir hulle twee maniere om dit te doen gegee: ‘Julle sal produktief wees in elke goeie werk en God al hoe beter persoonlik leer ken.’ Geloof en goeie werke; geestelikheid en diens; om die Here te dien en in die behoeftes van ander te voorsien. Dit is hoe Helen Keller geleef het.

Jy sê: ‘Maar ek wil eerder die Here as mense behaag.’ Hier is hoe jy dit doen: ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie’ (Efesiërs 6:7 NV). Die gesangeskrywer Charles Meigs het geskryf: ‘Others, Lord, yes others, let this my motto be. Help me to live for others, that I may live like Thee.’

Sielskos: Hab 1-3; Mark 13:24-37; Ps 78:56-64; Spr 24:5-10

Bid met vrymoedigheid (4)

2026-09-14
Josua 10:12-13 NLV

God het gesê: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). Jy moet God in die groot dinge sowel as die klein dingetjies aanroep.

Josua se leër het teen die gekombineerde mag van vyf vyandige leërs geveg en was besig om te wen. Die son was egter besig om onder te gaan en hy het meer daglig nodig gehad. Hy het dus iets gedoen wat niemand in die opgetekende geskiedenis al ooit tevore gedoen het nie: ‘Op die dag dat die Here vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die Here om hulp gevra. Voor almal het hy by die Here gebid: ‘Son, staan stil…’ Die son het stilgestaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het… Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie. So ‘n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die Here het geluister na wat ‘n mens vir Hom vra! Die Here het aan Israel se kant geveg’ (Josua 10:12-14 NLV).

Soos Josua, wat teen vyf konings geveg het, veg jy dalk teen ontmoediging, siekte, wanhoop, nederlaag of dood. Reageer in gebed – eerlike, voortdurende en vermetele gebed. Jy is ‘n lid van God se familie. Jy kom nie na Hom as ‘n vreemdeling nie, maar as ‘n erfgenaam. Nader sy troon met vertroue (sien Hebreërs 4:16). Maak jou versoeke ernstig bekend (sien Filippense 4:6). Omdat Christus sy bloed vir jou gestort het, kan jy met vertroue jou hart voor God uitstort, wetende dat jy resultate sal kry.

Sielskos: Miga 5-7; Mark 13:12-23; Ps 78:40-55; Spr 24:1-4

Bid met vrymoedigheid (3)

2026-09-13
Matteus 21:22 NLV

Max Lucado het oor die krag van gebed in die lewe van sy vriend, Greg Pruett, geskryf: ‘Hy is as ‘n ingenieur, taalkundige en Bybelvertaler opgelei. Sy belangrikste bydrae is egter dalk op die gebied van ‘extreme prayer.’ In Greg se boek met dieselfde naam, vertel hy hoe hy van Guinee in Wes-Afrika teruggekeer het om die pos van die president van Pioneer Bible Translators te aanvaar. Dit was in 2008 – tydens die Groot Resessie. Die bediening se finansies was beroerd, op pad na insolvensie. Greg het geen ervaring om so ‘n organisasie te lei gehad nie en kon geen tasbare plek vind om uitgawes te besnoei nie. Hulpbronne was min en die skenkers het verdwyn. Greg het net een reaksie daarop gehad: gebed. ‘Dit is toe dat ek begin leer het om nie oor my strategieë te bid nie, maar om gebed die strategie te maak.’

In Julie het hy ‘n brief aan sy vriende wêreldwyd geskryf en hulle tot gebed opgeroep. Hy het hulle aangespoor om voor God se troon met spesifieke en dapper versoeke te staan. Greg het die resultaat as volg beskryf: ‘Toe ek die jaareindverslag lees, het ek geweet dat God ons gebede verhoor het. My oë het vol trane geskiet. As ‘n finansiële kenner hierdie verslag sou ontleed, sou hulle hul vinger op die maand Julie plaas en vra: ‘Wat het jy hier gedoen? Wat dit ook al was, jy moet dit baie meer doen.’ Ek het tevergeefs na ‘n tasbare verduideliking gesoek. Ek wou ontleed presies wat ons gedoen het, sodat ons dit weer kon doen. Ek kon egter nooit. Al wat ek geweet het, is dat God voorsien het. Al wat ek gehad het, was God – en gebed.’

Is dit al wat jy het? Dis al wat jy nodig het!

Sielskos: Gen 15:6; Jer 23:6; Matt 6:33

Bid met vrymoedigheid (2)

2026-09-12
Hebreërs 10:19 NLV

Martin Luther het ‘n goeie vriend, genaamd Frederick Myconius, gehad wat dodelik siek geword het. Luther het aan hom geskryf: ‘Ek beveel jou in die naam van God om te lewe, want ek het jou steeds nodig in die werk om die kerk te hervorm. Die Here sal toelaat dat jy oorleef. Hiervoor bid ek, dit is my wil en mag my wil geskied, want ek lewe slegs om die Naam van God te verheerlik.’

Ons dink ons moet saggies met God te praat, ons moet onsself voor God verootmoedig, maar ons dink nie daaraan om vrymoedig te bid nie. Tog is dit wat die Bybel sê ons moet doen: ‘Liewe broers en susters, ons het dus nou deur die bloed van Jesus volle vrymoedigheid om in die hemelse heiligdom in te gaan… met ‘n opregte hart en absolute vertroue… Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het… Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ‘n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (verse 19, 22, 23, 35-36 NLV).

Gebed gaan nie daaroor om God te oorreed om iets te gee wat Hy huiwerig is om te gee nie. Hy is gewilliger om te gee as wat ons is om te ontvang. Hy soek inderwaarheid na geleenthede om ons te seën: ‘Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou…’ (2 Kronieke 16:9 NLV). Bid dus met vrymoedigheid en wees vol vertroue dat God sal doen wat Hy belowe het.

Sielskos: Miga 1-4; Mark 13:1-11; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35

Bid met vrymoedigheid (1)

2026-09-11
Hebreërs 4:16 NLV

Toe Martin Luther se kollega siek geword het, het die hervormer vrymoedig vir genesing gebid. ‘Ek het die Almagtige met groot ywer gesmeek en al die beloftes wat ek uit die Skrif kon onthou, aangehaal. Ek het gesê dat Hy asseblief my gebed moet verhoor sodat ek voortaan geloof in sy beloftes moet hê.’

Terwyl John Wesley die Atlantiese Oseaan oorgesteek het, het sy skip ‘n groot storm binnegevaar. Hy het dadelik in sy kajuit gaan bid. Adam Clark, ‘n kollega, het die gebed gehoor en dit opgeteken: ‘Almagtige God, U heers oral en alle dinge dien die doel van u wil. Beveel hierdie winde en golwe dat hulle U moet gehoorsaam, en neem ons vinnig en veilig na die hawe waarheen ons wil gaan.’ Adam Clark het op die dek gaan staan, waar hy kalm winde en die skip op koers gevind het. Wesley het egter geen opmerking oor die verhoorde gebed gemaak nie. Clark het geskryf: ‘Hy het so volkome verwag om gehoor te word dat hy dit as vanselfsprekend aanvaar het dat sy gebed verhoor sou word.’

Vrymoedigheid in gebed is vir baie ‘n ongemaklike gedagte. Om aan die deur van die Allerhoogste te klop? Om met God te worstel? Is sulke gebed oneerbiedig? Vermetel? Dit sou wees as God ons nie genooi het om so te bid nie: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.’

Bevind jy jouself tans in ‘n noodsituasie? ‘…gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God,’ in die geloof dat God jou gebed sal verhoor en namens jou sal optree.

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; 1 Kor 15:50-58

Spreek die Skrif

2026-09-10
Spreuke 18:21 NLV

Iets kragtigs gebeur wanneer ons God se Woord spreek. ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.’ Jesus het letterlik met die wind en die golwe gepraat, nie waar nie? Hy het storms bestraf. Hy het demone bestraf. Hy het siektes bestraf. Hy het selfs vir ons gesê om berge aan te sê om te versit! (Sien Markus 11:23.)

Wanneer jy jou geloof verbaliseer, gee jy dit krag. Daar is ‘n paar dinge wat jy egter nie moet sê nie. Toe Jeremia sy ouderdom as ‘n verskoning gebruik het om nee vir God se roeping te sê, het die Here hom bestraf: ‘Moenie sê jy is te jonk nie…’ (Jeremia 1:7). Met ander woorde, moenie jouself diskwalifiseer wanneer God jou roep nie! Spreek eerder lewe-gewende, geloofsgevulde, genade-deurdrenkte woorde.

Mark Batterson sê: ‘Daar is sommige dinge wat ek weier om te sê, want dit gee hulle krag. Ek noem dit my ‘Sê Nie’-lys. Watter woorde moet op jou ‘Sê Nie’-lys gaan? Ek praat nie net van woorde wat nie in ordentlike geselskap gesê moet word nie. Jesus het gesê ons sal van elke ydele woord rekenskap gee. ‘n Ydele woord is ‘n nuttelose, waardelose woord – ‘n woord wat niks bereik nie.’

Jesus het ook in Matteus 12:34 gesê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor’ (NLV), dus is ons woorde x-strale van wat binne-in ons aangaan. Dit is waar die stryd gewen of verloor word. As ons wil hê dat ons woorde sy Woord moet weerspieël, is dit waar ons geanker moet wees. Wanneer ons dit doen, word die gesindheid van Christus ook ons denkwyse.

Sielskos: Neh 11-13; Mark 12:28-44; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28