2026-09-21
1 Samuel 17:45 NLV
Goliat het bo Dawid uitgetroon. Dawid het egter na Goliat deur die oë van sy almagtige God wat hoog sit, laag sien en alles oorwin, gekyk. ‘…Jy kom na my toe met ‘n swaard en ‘n spies en ‘n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy beledig het.’ Intimidasie is een van Satan se gunstelingwapens. Hy sal jou gedagtes gee wat jou in ‘n toestand van vrees laat.
Eendag het die spotprentkarakter Charlie Brown by die skool middagete geëet toe hy aan sy vriend Linus bieg dat hy nie goed genoeg voel om ‘n sekere jong dame te nader nie: ‘Ek kan nie met daardie klein rooikopmeisie praat nie, want sy is iets en ek is niks. As ek iets was en sy niks was nie, kon ek met haar praat, of as sy iets was en ek iets was, dan kon ek met haar praat. Of as sy niks was en ek niks was nie, dan kon ek ook met haar praat. Maar sy is iets en ek is niks, so ek kan nie met haar praat nie.’ Linus het geantwoord: ‘Vir niks, Charlie Brown, is jy werklik nogal iets besonders!’ Charlie Brown het toegelaat dat die rooikop se skoonheid hom intimideer en na die kantlyn toe dwing.
As sy verloste kind, dink God dat jy werklik iets besonders is. Dawid het gesê: ‘Het die Here jou gered? Sê dit dan, jy wat Hy verlos het van die vyand’ (Psalm 107:2 NLV). Omdat Dawid se woorde met God se Woord en sy plan ooreengestem het, is Goliat in sy spore gestuit. Staan dus vandag voor jou ‘reus’ en kondig aan: ‘Ek sal jou verslaan in die Naam van die Here die Almagtige!’
Sielskos: Sag 12-14; Mark 14:43-52; Ps 39; Spr 24:26-27
2026-09-20
2 Korintiërs 9:8 NLV
Paulus het geskryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê… God wat saad voorsien aan die saaier… sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees…’ (verse 8, 10-11 NLV). Paulus kon dit nie duideliker stel nie. As ons getrou is om vrygewig te gee, sal God ons as bekwame vennote onthou en ons in die toekoms weer gebruik om aan ‘n behoefte te voldoen.
Wanneer ‘n restaurant goeie diens lewer, lei dit tot herhaalde besigheid. Dieselfde geld vir goeie rentmeesters. As jy vrygewig saai, is God in staat om jou meer en meer te gee. Wanneer jy in ‘n gee-vennootskap met Hom is, maak Hy seker dat jy alles kry wat jy nodig het, presies wanneer jy dit nodig kry. Dis sy aanbod aan jou. Ware rykdom is om alles te hê wat jy nodig het, wanneer jy dit nodig kry. Dit behoort al jou vrese om te gee, te verdryf.
Hou vrees jou vrygewigheid terug? Gee jy net wanneer daar oorskiet is omdat jy bekommerd is oor hoe om kop bo water te hou? Het jy al ooit vir God gevra om jou ‘n plan te gee vir die rentmeesterskap van die geld wat Hy aan jou toevertrou het? Op ‘n stadium moet jy as Christen die sprong neem en sê: ‘God, omdat ek my so baie oor geld bekommer, nooi ek U in my finansies in. Ek wil weet dat U betrokke is, maak nie saak of dinge goed of sleg gaan nie.’
Sielskos: Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2026-09-19
Jakobus 3:10 NLV
Let op wat die Bybel oor ‘n onbeheerste tong sê: ‘Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is. Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie! Kan ‘n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel? Kan jy olywe van ‘n vyeboom afpluk, of vye van ‘n druiwestok?’ (verse 9-12 NLV).
Inheemse Amerikaanse Indiane het gewaarsku om nie iemand met ‘n ‘gevurkte tong’ te vertrou nie. Hulle sal een ding op een tyd op een plek sê en die teenoorgestelde ding op ‘n ander tyd op ‘n ander plek sê. Ons mislei onsself as ons dink ons kan deur die lewe gaan en met ‘n gevurkte tong praat. Ons woorde is ‘n barometer van wat werklik in ons harte aangaan. Daarom het Salomo geskryf: ‘Bo alles wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen’ (Spreuke 4:23 NLV).
Soms sal ‘n dokter jou tydens ‘n ondersoek vra om jou tong uit te steek. Hoekom? Omdat interne probleme dikwels deur die film of laag op die tong geïdentifiseer kan word. ‘n Bekwame dokter sal egter nie net jou tong skoonmaak en jou huis toe stuur nie. Nee, hulle sal die oorsprong van jou probleem bepaal en dit dan behandel.
‘n Hart wat aan God oorgegee is, produseer ‘n tong wat onder die beheer van sy Heilige Gees is. Salomo het ook gesê: ‘Dis lekker om te luister na wyse woorde. Dwase se gepraat lei net tot vernietiging’ (Prediker 10:12 NLV).
Sielskos: Sag 9-11; Mark 14:32-42; Ps 3; Spr 24:23-25
2026-09-18
Haggai 1:5-6 NLV
In die eerste hoofstuk van Haggai lees ons van ‘n groep mense vir wie God gesê het om sy huis te herbou. Na agtien jaar het hulle Hom steeds nie gehoorsaam nie, maar kon nie verstaan waarom hulle lewens ‘n gemors was nie. Hulle het gewonder waarom God hulle nie seën nie.
Daarom het Hy vir hulle gesê: ‘Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ‘n ruïne is?.. Dink ‘n bietjie na oor hoe sake vir julle staan! Julle het baie aanplantings gedoen, maar die oes was maar skraal. Julle het nou wel kos om te eet, maar julle is nog honger. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle dors te les nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie voldoende om julle warm te hou nie. Julle geld raak weg asof dit gebêre is in ‘n broeksak met gate! Gaan haal hout op die heuwels en begin dan my huis herstel. Dit sal My tevrede stel en Ek sal voel dat julle My eer betoon…’ (verse 4-8 NLV).
As jy nie tevrede is met hoe dinge gaan nie, is dit nie dalk omdat jy nie gedoen het wat Hy vir jou gesê het om te doen nie? Jakobus het geskryf: ‘Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie’ (Jakobus 1:17 NLV).
God is intrinsiek goed en Hy wil graag jou lewe met sy goedheid oorlaai. Om dit te ervaar, moet jy egter in gehoorsaamheid wandel. ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Gehoorsaamheid is jou sleutel tot oorwinning en seën.
Sielskos: Sag 7-8; Mark 14:27-31; Ps 19; Spr 24:19-22
2026-09-17
2 Korintiërs 9:10 NLV
Drie jong mans het elk drie mieliepitte van ‘n ou wysgeer ontvang. Hy het hulle beveel om die wêreld in te gaan en die mieliepitte te gebruik om vir hulself goeie geluk te bring. Die eerste jongman het sy drie mieliepitte in ‘n bak sop gesit en dit geëet. Die tweede jongman het gedink: ‘Ek kan beter doen as dit,’ en sy drie mieliepitte geplant. Binne ‘n paar maande het hy drie mielieplante gehad. Hy het die mieliekoppe van die plante afgehaal, dit gekook en genoeg mielies vir drie maaltye gehad.
Die derde man het vir homself gesê: ‘Ek kan nog beter doen as dit!’ Hy het ook drie mieliepitte geplant. Toe sy drie mielieplante egter opkom, het hy een van die koppe gestroop en al die sade daarin herplant, die tweede mieliekop vir ‘n liewe meisie gegee en die derde het hy self geëet. Die herplante mieliepitte het hom 200 mielieplante gegee! Met die pitte daarvan het hy aanhou herplant en slegs ‘n absolute minimum opsy gesit om te eet. Hy het uiteindelik ‘n honderd akkers mielies geplant. Met sy fortuin het hy nie net die hand van die lieflike meisie gewen nie, hy het ook die grond wat aan die lieflike meisie se vader behoort het, gekoop. Hy het nooit weer honger gehad nie.
Daar is ‘n belangrike Skriftuurlike beginsel hieruit te leer. Aan wie voorsien God saad? Saaiers. Wanneer vermeerder God saad? Wanneer dit in goeie grond gesaai word om goeie dinge te bereik. Wees dus ‘n saaier.
Sielskos: Sag 4-6; Mark 14:12-26; Ps 24; Spr 24:15-18
2026-09-16
2 Korintiërs 4:17 NLV
Sonder God se Woord maak die meeste van ons ervarings in die lewe glad nie sin nie. Ons kan egter ons ervarings deur middel van die Woord ontsyfer. Min dinge is meer vertroostend of opwindend as om te weet dat God die Een is wat die legkaart van ons lewens aanmekaar sit.
‘n Londense kartograaf, John Spilsbury, het glo begin om legkaarte rondom 1760 te kommersialiseer. Tydens die Groot Depressie het hulle in Amerika as ‘n goedkoop vorm van vermaak gewild geword. Legkaarte kom in alle vorms en groottes voor, insluitend die nuutste en beste – 3D sferiese legkaarte. Die metode om dit te bou het egter nie verander. Dit vereis dat jy stukke wat vreemd gevorm is, in mekaar moet probeer pas. Die sleutel is die prentjie bo-op die boks. Daarsonder is jy verlore.
Daarom voel baie van ons soms hulpeloos en hopeloos – omdat die stukke van ons lewens nie bymekaar pas nie en ons nie God se visie vir die geheel kan sien nie. Min mense het meer as die apostel Paulus gely, maar hy het geskryf: ‘Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).
Ja, slegte dinge gebeur wel met goeie mense. God het egter belowe om dit te herwin, te verlos en vir ons beswil en sy heerlikheid te gebruik.
Sielskos: Sag 1-3; Mark 14:1-11; Ps 78:65-72; Spr 24:11-14