2026-09-27
Spreuke 22:29 NLV
Om dowes te help kommunikeer, was wat Alexander Graham Bell, die uitvinder van die telefoon, werklik gemotiveer het. Miskien was dit omdat sy ma en sy vrou albei doof was. ‘As ek ‘n doofstom persoon kan laat praat,’ het Bell gesê, ‘kan ek metaal laat praat.’ Vir vyf frustrerende en armoedige jare het hy met ‘n verskeidenheid materiale geëksperimenteer om ‘n metaalskyf te maak wat in reaksie op klank sou vibreer, daardie klanke sou reproduseer en dit oor ‘n elektriese draad sou stuur.
Tydens ‘n besoek aan Washington DC, het hy Joseph Henry, ‘n wetenskaplike wat ‘n pionier in navorsing met betrekking tot elektrisiteit was, besoek. Hy het sy idees aan hom voorgelê en sy raad gevra – moet hy iemand anders die telefoon laat vervolmaak of moet hy dit self doen? Henry het Bell aangemoedig om dit self te doen, waarop hy gekla het dat hy nie die nodige kennis van elektrisiteit het nie. Henry se kort antwoord was: ‘Kry dit dan.’ Dus het Bell begin om elektrisiteit te bestudeer. ‘n Jaar later, toe hy ‘n patent vir die telefoon verkry het, het die amptenare van die patentkantoor gesê dat hy meer van elektrisiteit as al die ander uitvinders saam, geweet het.
Studie, werk, hoop en deursettingsvermoë is ‘algemene dinge’, maar hulle is die sleutels tot ongewone sukses in die lewe. Soos Bell ontdek het, is deursettingsvermoë dikwels die uitdagendste daarvan. Longfellow het geskryf: ‘The heights by great men reached and kept were not attained by sudden flight. But they, while their companions slept, were toiling upward in the night.’ Salomo het geskryf: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie.’
Sielskos: Eseg 48:35; Ps 139:7-10; Joh 1:14
2026-09-26
Prediker 3:1, 11 NLV
In sy boek, Good to Great, vergelyk die sakeleier en skrywer Jim Collins die mega-kruidenierswinkel A&P, die grootste kleinhandelorganisasie ter wêreld in die 1950’s, met Kroger, ‘n klein, waardegebaseerde supermarkketting wat ook in die vyftigerjare floreer het. Beide maatskappye het besef dat die wêreld besig was om tegnologies te verander. Beide maatskappye het slim navorsing gedoen en gekwalifiseerde ontleders aangestel om te voorspel hoe hierdie veranderinge toekomstige besigheid sou beïnvloed. Hulle het elk tot die gevolgtrekking gekom dat gerief vir die kliënt van die allergrootste belang sou wees. Eenstop-inkopies sou al hoe belangriker word.
Kroger het dus stappe gedoen om sy winkels by die nuwe ‘superwinkel’-strategie wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar, aan te pas. Benewens kos, het hulle begin om toiletware, voorskrifmedisyne, huishoudelike items en meer te verkoop. A&P het egter gekies om die bevindinge te ignoreer. Die resultaat? In 1999 het Kroger tagtig keer dié van sy eenmalige mededinger A&P se winste gegenereer en die nommer een plek in die mark oorgeneem.
Daar is ‘n les hieruit te leer. Om dit wat jy in die lewe wil hê te bereik, kan jy nie bekostig om die tekens van verandering of die komende uitdagings te ignoreer nie. Om voor te gee dat iets nie gebeur nie, is bloot om in ontkenning te leef. Is jy dus gereed en gewillig om by verandering aan te pas wanneer dit opdaag? Is die tegnieke wat jy gebruik om verandering te hanteer proaktief en effektief? Soek jy God se leiding en seën? ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV).
Sielskos: 1 Kor 10-11; Mark 15:12-20; Ps 54; Spr 25:1-3
2026-09-25
Job 8:7 NLV
Ons klou dikwels aan mense en dinge vas asof ons alles dieselfde kan hou. Dit kan egter nie gebeur nie. Wat jy wel kan doen, is om gereed te wees om verandering te hanteer wanneer dit plaasvind. Jy mag dalk nie kan voorspel wat die verandering sal wees nie, maar jy kan dinge in plek stel om jou te help om dit te hanteer wanneer dit aanbreek. Kinders gaan universiteit toe, dus oorweeg wyse ouers dit om ‘n spaarplan uit te neem wanneer hulle kinders gebore word. Mense hou uiteindelik op werk, dus maak dit sin om vir aftrede te spaar. ‘n Uitvoerende beampte wat eendag gaan bedank, beplan vir ‘n opvolger sodat die maatskappy kan aanhou floreer. Soms is verandering moeilik, maar beplanning help ons om verandering tegemoet te kom.
Met God aan jou sy het jy al die gereedskap wat jy nodig het vir sukses, insluitend die buigsaamheid en aanpasbaarheid om jou koers soos nodig aan te pas. Dink aan hoe tegnologie, soos selfone en rekenaars, die manier waarop ons kommunikeer, inkopies doen en leef, verander het. Die GPS is ‘n wonderlike tegnologiese uitvinding, maar bestuurders was aanvanklik huiwerig om daarvan gebruik te maak. Dit het egter die ervaring om jou pad te vind terwyl jy bestuur, verander. Terwyl jy deur die veranderinge van die lewe navigeer:
1) Besef dat God in jou leef, deur jou werk en altyd jou beste belange op die hart dra (sien Filippense 2:13).
2) Reik uit na die nuutste gereedskap en tegnieke, of dit nou tegnologies is of ‘n nuwe benadering tot gesinslewe, dieet, oefening of spiritualiteit behels.
Met ander woorde, maak gereed vir verandering.
Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Heb 11:8-16
2026-09-24
Galasiërs 2:19 NLV
Paulus het geskryf: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde beleef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf’ (verse 19-20 NLV). Dis moeilik om aanstoot te neem wanneer jy dood is. Dis ook moeilik om kwaad te word, ontsteld te raak of depressief te raak wanneer jy dood is.
Die dag waarop jy jou geloof in Christus plaas, is die dag waarop jou ou mens sterf. Jou begeertes, jou drome en jou planne is dood. Jy is ‘n nuwe skepping in Christus. Natuurlik moet jy daagliks in hierdie identiteit leef. Paulus het gesê: ‘Ek sterf dag vir dag…’ (1 Korintiërs 15:31 AFR53). Jesus het gesê: ‘…as enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg’ (Lukas 9:23 NLV). Die kern van beide verse is dat dit daagliks moet gebeur.
Daar is groot vryheid in hierdie daaglikse dood. Jou prestasie is nie meer ‘n bewys van jou waarde nie. Jou ego is nie meer op die spel nie. Jou reputasie is nie meer in gevaar nie. Jy leef vir die goedkeuring van Een – die Here! Daarom kon Paulus skryf: ‘Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld’ (Galasiërs 6:14 NLV). Om sy punt tuis te bring, het hy geskryf: ‘Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek’ (Kolossense 3:3 NLV).
Sielskos: 1 Kor 7-9; Mark 15:1-11; Ps 52; Spr 24:32-34
2026-09-23
Josua 8:1 NLV
Na ‘n vernederende nederlaag, het God vir Josua ‘n tweede kans op oorwinning gegee: ‘…Vat al jou manskappe en gaan veg teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk en sy stad en sy land in jou mag.’ Die koning van Ai was op pad om ‘n tweede oorwinning teen Josua te gaan behaal. Hy het na Josua toe gemarsjeer en sy stad onbeskermd gelaat. Josua se elite groep soldate het ingestorm en dit aan die brand gesteek. Toe het Josua van koers verander en die leër van Ai in die middel vasgevang. Die oorwinning was voltrek.
Vergelyk egter hierdie aanval met die eerste een. In die eerste aanval het Josua spioene geraadpleeg; in die tweede het hy na God geluister. In die eerste het hy tuis gebly. In die tweede het hy sy leër gelei. Toe Josua God se strategie gevolg het, het die oorwinning plaasgevind. Dit gebeur altyd so! Miskien het jy ook, soos Josua, ‘n vernederende nederlaag gely. Indien wel, is hier twee dinge wat jy moet weet:
1) Moenie moed opgee met God nie, want Hy sal nie moed opgee met jou nie. ‘Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe!’ (Jesaja 55:7 NLV).
2) God sal jou nog ‘n kans gee. Jona het van God se roepstem weggehardloop, maar God was nie klaar met hom nie. ‘Die Here het ‘n tweede keer met Jona gepraat: ‘Maak jou gereed en gaan na die groot stad Nineve…’ Jona het gereedgemaak en na Nineve toe gegaan…’ (Jona 3:1-3 NLV).
Wat God vir Josua en Jona gedoen het, sal Hy vir jou ook doen as jy jou tot Hom bekeer.
Sielskos: 1 Kor 4-6; Mark 14:66-72; Ps 34:11-22; Spr 24:30-31
2026-09-22
Genesis 2:15 NLV
Toe God Adam gemaak het, het Hy hom eerstens aan die werk gesit. Dit is omdat werk ons ‘n gevoel van doel, betekenis en waardigheid gee. ‘Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg.’ Adam was dus ‘n tuinier. Of jy nou kontant in ‘n bank tel, op Wall Street verhandel, burgers in ‘n strandstalletjie braai, spesialiteit-disse in ‘n vyfster-restaurant maak, hout in die bos kap of brandhout kloof en aflewer, ‘n span afrig, by ‘n gemeente as pastoor optree, topverkoperboeke publiseer, koerante in die vroeë oggendure aflewer, in ‘n televisieprogram speel, ‘n groot stuk grond bewerk, grasperke sny en afrond, rekenaars verkoop, ‘n vragmotor vol masjinerie bestuur, huise bou, swembaddens skoonmaak, sake voor ‘n regter argumenteer, of familiegeskille as ‘n berader besleg, doen altyd ‘n goeie werk.
‘n Wyse man het eenkeer gesê: ‘Elke werk is ‘n selfportret van die persoon wat dit doen. Onderteken jou werk met uitnemendheid.’ Daniël het dit gedoen en die boonste sport in Babilon bereik. ‘Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel’ (Daniël 6:4 AFR83).
Daar is geen geringe werkies nie, net mense wat dit as gering beskou en in die uitvoering daarvan gering word. Die Bybel sê: ‘Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, het meer as wat hulle kan begeer’ (Spreuke 13:4 NLV). Doen dus altyd jou werk goed.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Mark 14:53-65; Ps 34:1-10; Spr 24:28-29