Beweeg van mislukking na sukses (2)

2024-05-07
Job 8:7 NLV

Dis makliker om sukses te herken wanneer jy terugkyk as wanneer jy vorentoe kyk. Vir sommige van ons kan dit baie jare neem voor ons ons sukses herken, dit vier en standvastig daarin voel. Dis omdat ons die regte perspektief kortkom. Op sy breedste, is ‘n brug van twee myl lank nodig om die Mississippi rivier oor te steek; by sy oorsprong is die rivier so smal dat jy daaroor kan spring. Dis egter steeds dieselfde rivier. Die meeste dinge begin klein!

Het jy al van die Rusgebed gehoor? Dit gaan as volg: ‘God, gee my die rus om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge wat ek kan, te verander, en die wysheid om die verskil te ken.’ Dit is die eerste keer in ‘n klein kerkie in Massachusetts deur die teoloog Reinhold Niebuhr tydens ‘n Sondagoggend diens gebid. Net ‘n klein groepie mense was daardie dag in die kerk, maar een persoon het so baie van die gebed gehou dat hy na die diens vir Niebuhr vir ‘n kopie daarvan gevra het. ‘Hier,’ het Niebuhr geantwoord en ‘n opgefrommelde stuk papier vir die gemeentelid gegee. ‘Ek glo nie ek sal meer nut daarvan hê nie.’

Raai wat? Na die Onse Vader, is dit die gebed wat die meeste in die wêreld gebid word. Is dit nie ironies dat Niebuhr se gebed so gewild geword het nadat hy gedink het hy sal geen nut meer daarvan hê nie? Met hierdie verhaal in gedagte, lees die volgende Skrifgedeelte en dink waarlik daaroor: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig.’ Met God se hulp kan jy jou mislukking in sukses verander en aangaan om groter dinge te doen.

Sielskos: Deut 11-13; Mark 6:45-56; Ps 37:16-24; Spr 11:30-31

Beweeg van mislukking na sukses (1)

2024-05-06
1 Samuel 17:46 NLV

Elkeen wat al ooit iets betekenisvol gedoen het, moes die kans waag. Vir meeste van ons is die probleem nie of die kanse goed lyk of nie, maar dat ons te min van onsself verwag. Soos R. H. Headlee opgemerk het: ‘Die meeste mense dink te klein, mik te laag en gee te gou tou op.’ Die kanse het nie goed gelyk dat Dawid vir Goliat sou oorwin nie, behalwe wanneer jy God in die berekening bring, wat Dawid gedoen het. Luister na sy woorde: ‘…Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap…’ (vers 46 NLV). Duidelik het Dawid hoog gemik.

Wanneer dit kom by die ding waarvoor God jou geroep het, moet jy ook hoog mik. Die kanse maak nie saak nie. Of jy langs die pad struikel maak nie saak nie. Jy het geval toe jy leer loop het, nie waar nie? Dr Maxwell Maltz sê: ‘Jy is ‘n kampioen in die kuns van die lewe as jy maar net 65 persent van jou doelwitte bereik.’

As die kanse goed lyk dat jy baie foute op die pad na sukses gaan maak, dan moet dit maar so lyk. Wat saakmaak is dat jy op die ou einde sukses behaal. Solank as wat jy op God vertrou en aanhou probeer, sal Hy jou help. Jakobus skryf: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Paulus skryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).

Wanneer jy glo dat God wil hê dat jy sukses moet behaal en jy volhard, sal jy van mislukking na sukses beweeg.

Sielskos: Deut 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29

Eer God en Hy sal jou eer

2024-05-05
Daniël 3:25 DB

Daar kom ‘n tyd wanneer ons ons vrese moet trotseer en standpunt vir dit wat ons weet reg is, moet inneem. Dis wat Sadrag, Mesag en Abednego gedoen het. Hulle het hul lewens gewaag toe hulle geweier het om koning Nebukadnesar se afgodsbeeld te aanbid. Hulle kon dalk gesê het: ‘Ek sal aan die buitekant buig, maar binne-in my weet ek dat ek dit nie bedoel nie,’ of ‘Ek sal net voorgee asof die afgodsbeeld Jehova is.’ Hulle het egter ‘n standpunt ingeneem vir wat reg is en dit het ‘n wonderwerk tot gevolg gehad.

‘Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: ‘Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?’ ‘Dit is waar, U Majesteit,’ het hulle geantwoord. ‘Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ‘n hemelwese’ (verse 24-25 DB).

Indien Sadrag, Mesag en Abednego voor die afgodsbeeld gebuig het, 1) sou hulle nie bevordering gekry het nie, 2) die Joodse mense sou nie beskermde status in Babel gekry het nie, 3) afgodsaanbidding sou voortgegaan het en 4) Nebukadnesar sou nie ‘n lewensveranderende ontmoeting met God gehad het nie. ‘Toe sê Nebukadnesar: ‘Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red… Daar is nie nog ‘n god hier op aarde wat so kan red nie. Hierna het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego na nog hoër posisies in die provinsie Babel bevorder’ (verse 28-30 DB). Deur God vandag te eer, plaas jy jouself in die posisie vir Hom om jou te seën en jou te eer.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 6:27-36; Eks 23:1-9; Rom 12:14-21

God se krag bewerk groot dinge

2024-05-04
Filippense 1:6 NLV

Baie van ons het ‘n God-grootte droom binne-in ons, maar ons is so bang vir mislukking dat ons nie eers probeer nie. Ons kan ons nie indink hoe dit moontlik die realiteit kan word nie. Dus doen ons niks daaraan nie. Hier is ‘n uitdaging: Moenie jouself oor die resultate bekommer nie. Dis nie jou verantwoordelikheid nie. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ Jy moet eenvoudig daarop reageer.

Dit hoef nie iets groots te wees nie; dit sal heel waarskynlik iets kleins wees. Alles wat groot is begin klein. As jy egter die klein dinge doen asof hulle groot dinge is, sal God hulle seën en hulle gebruik. A.W. Tozer het gesê: “‘n Lae dunk van God is die oorsaak van ‘n honderd klein euwels. ‘n Hoë dunk van God is die oplossing vir tienduisend tydelike probleme.”

Let op hoe Paulus vir die gelowiges in Efese gebid het: ‘Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ‘n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ‘n volk verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:18-19 NLV).

Ons kan ons nie indink waartoe God in staat is nie. Dit beteken dat ons ons nie kan indink waartoe ons in staat is wanneer ons God beheer van ons lewens gee nie. Sy krag veroorsaak ‘n kettingreaksie. Met sy energie wat in ons werk, kan ons alles waarvoor Hy ons geroep het, verwesenlik.

Sielskos: Deut 5-7; Mark 6:14-29; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26

Praat die waarheid

2024-05-03
Spreuke 12:22 NLV

Is jy in ‘n situasie waar dit lyk asof om te lieg die enigste oplossing is? Tensy jy ‘n probleem tussen jouself en God wil skep – moet dit nie doen nie! ‘Die Here verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan.’ Wanneer jy ‘n leuen vertel, maak jy God, jouself en ander mense seer. ‘…Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). Leuens het altyd die volgende gevolge:

1) God hoor jou. Wanneer jy besluit om te bid, is die laaste ding wat jy wil bespreek die eerste ding wat Hy met jou wil bespreek; naamlik, jou oneerlikheid!

2) Dit steel jou selfvertroue voor God. Die Bybel sê: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).

3) Jy loop die risiko om uitgevang te word. Onthou: ‘Die waarheid hou vir altyd; die leuen kom gou aan die lig’ (Spreuke 12:19 NLV). Wanneer mense agterkom dat jy gelieg het, verloor hulle respek vir jou, hulle vertroue in jou word geskend en jou reputasie waaraan jy al jare bou, kry ‘n knou waarvan dit moontlik nie kan herstel nie.

Paulus skryf: ‘Julle het tog van Hom gehoor… Julle het tog die waarheid oor julle verhouding met Jesus geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek… Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is… Gevolglik moet julle ophou leuens vertel en die waarheid teenoor mekaar praat…’ (Efesiërs 4:21-25 NLV).

Sielskos: Deut 3-4; Mark 6:7-13; Ps 2; Spr 11:22-23

Kom van die kantlyn af

2024-05-02
Levitikus 23:22 NLV

Onder die wet in die Ou Testament, het God die Joodse boere beveel: ‘Wannneer julle julle lande oes, moenie die graan aan die kante van die lande ook oes nie… Los dit vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon…’ (vers 22 NLV). Rut het aan die kant van ‘n stuk landery wat deur ‘n ryk man genaamd Boas besit is, gewerk. Toe Boas vir Rut sien, het hy haar van die kantlyn af geroep na die middel van sy landerye toe. Hy het ook sy werkers beveel om are met opset op die grond te laat val sodat sy dit maklik sou kon optel (sien Rut 2:16).

Daar is ‘n les hieruit te leer. Een oomblik van God se guns kan jou lewe verander. Hy kan dit doen deur iemand wat Hy alreeds daarvoor voorberei het, iemand wat jy nog nie eers ontmoet het nie. Rut het dit nie geweet nie, maar omdat Boas aan haar skoonma Naomi verwant was, het dit hom as haar losser – iemand wat haar skuld sou kon delg, vir haar sorg en aan haar behoeftes kon voldoen – geposisioneer (sien Rut 3:1-9).

Jesus het gesê: ‘So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:4 NLV). Wees verseker, God het jou nie misgekyk nie. Ander mense mag dalk nie jou getrouheid raaksien nie, maar Hy doen en Hy sal jou daarvoor beloon. ‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie; hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Een van die dae gaan God vir jou sê: ‘Kom van die kantlyn af!’

Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21