God kan jou genees (2)

2026-10-03
Psalm 103:3 NLV

Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye’ (verse 2-4 NLV). Dawid het homself aan hierdie vier dinge herinner. Jy moet dit ook doen. God het al sy sondes vergewe. God het al sy siektes genees. God het sy lewe verlos van die dood en vernietiging. God het hom met liefde, vriendelikheid, barmhartigheid en guns gekroon.

Die Bybel sê: “‘n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, stommes en nog baie ander siekes na Jesus toe gekom en hulle voor Hom neergesit. En Hy het hulle gesond gemaak” (Matteus 15:30 NLV). Was dit wedergebore Christene wat Jesus genees het? Nee, dit was voor die kruis plaasgevind het. Dink daaraan: as Jesus bereid was om hulle almal te genees, dan kan Hy jou, wat ‘n verloste kind van God is en wat jou vertroue in Christus vir verlossing geplaas het, ook genees.

Is jy ‘n gelowige? Ja? Lees dan hierdie Skrifgedeelte en staan daarop: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo:… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Jakobus het geskryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (Jakobus 5:14-15 NLV). As jy siek is, staan op God se Woord en glo dat Hy jou sal genees.

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Joh 1:14-28; Ps 51; Spr 25:23-25

God kan jou genees (1)

2026-10-02
Matteus 8:3 NLV

Die Bybel sê: ‘Daar kom toe onverwags ‘n melaatse nader en val voor Jesus neer met die woorde: ‘Here as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (verse 2-3 NLV). God wil nie hê dat ons deur die lewe moet gaan en wonder of dit sy wil is om ons te genees nie. Daarom het Hy genadiglik sy Woord aan ons gegee. Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk…’ (Psalm 30:3-4 NLV).

God is so ernstig oor ons genesing dat Hy dit met Jesus se dood aan die kruis verbind het. ‘Hy het self ons sondes in sy liggaam weggedra kruis toe. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý verwonding is julle genees!’ (1 Petrus 2:24 NLV). Ons twyfel nie aan Christus se triomf oor die dood aan die kruis of ons verlossing daardeur nie. Ons moet ook nie die Vader se wil om ons te genees, betwyfel nie. Vanuit God se perspektief is alles wat vir jou genesing nodig is, reeds aan die kruis volbring.

Hierdie melaatse man het geweet dat Jesus hom kon genees; hy het net nie geweet of Hy sou nie. Jesus het sy twyfel met twee kragtige sinne uit die weg geruim: ‘…Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ (Matteus 8:3 NLV). Die Bybel sê: ‘Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit beteken dat jy met vertroue na Hom toe kan gaan en Hom glo vir jou genesing.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Joh 1:1-13; Ps 60; Spr 25:21-22

Neem tyd vir rus en herstel

2026-10-01
Jesaja 40:31 NLV

Wanneer jy moeg voel, sê dit vir jou: 1) dat jou liggaam rus nodig het, 2) dat jy die lewe teen ‘n stadiger tempo moet benader, en 3) dat jy tyd moet neem om in die teenwoordigheid van God te vertoef. God het op die sewende dag gerus (sien Genesis 2:2). God – die Een wat alle dinge oortref, alle dinge weet en alle mag het – het gerus! Wat laat jou dink dat jy nie rus nodig het nie? As jy daaraan gewoond is om altyd aan die gang te wees, sal dit moeilik wees om selfs vir ‘n paar uur nie te werk nie.

Rus is egter ‘n geheime wapen wat God jou gegee het om jou te help om die vyand te verslaan. Wanneer jy uitgeput is, is jy van min nut vir God of enigiemand anders. Dit is een van die hoofredes waarom Satan jou hiernatoe en daarnatoe laat hardloop. As hy jou nie met verslawing, verkeerde verhoudings en slegte gewoontes kan versoek nie, sal hy jou met ‘n besige skedule versoek. Hy wil hê jy moet jouself uitput sodat wanneer die ware stryd aanbreek, jy te moeg sal wees om weerstand te bied.

Johannes het geskryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 2 NLV). Jou siel floreer nie wanneer jy uitgeput en in alle rigtings getrek word, met min tyd vir rus of herstel, nie. Wat staan jou dus te doen? Lê jou skedule, insluitend enige nuwe projekte, voor Jesus se voete neer. Wag vir sy leiding. Staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’

Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 16:9-20; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20

Erken jou tekortkominge

2026-09-30
Jakobus 5:16 NLV

Dit voel of daar vandag om elke hoek en draai iemand is wat ‘n verskoning vir sy of haar swak keuses, prestasie of gedrag maak, of versuim om hul swakhede of tekortkominge te erken. Tog maak ons almal foute. Een van die beste voorbeelde van iemand wat sy fout erken het, word in die verhaal van Dawid wat onregverdig deur koning Saul agtervolg is, gevind. Dawid het ‘n voortvlugtige geword en in die proses onwetend die lewens van sekere priesters in gevaar gestel toe hy hulle om hulp genader het.

Agimelek, die priester, het hom kos en ‘n swaard gegee en God namens hom geraadpleeg. Doëg, koning Saul se hoofveewagter, het die hele ding aanskou. Saul het Agimelek gekonfronteer, hom daarvan beskuldig dat hy met Dawid saamgesweer het en Doëg beveel om hom en vyf-en-tagtig ander priesters en hul hele families dood te maak.

‘Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het weggekom en na Dawid toe gevlug. Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die Here doodgemaak het, roep Dawid uit: ‘Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak’ (1 Samuel 22:20-22 NLV).

Wat ‘n erkenning! Geen verskonings nie, net ‘n erkenning dat hy ‘n verskriklike fout gemaak het deur by hulle hulp te soek. Hy het hom egter daaraan verbind om nie die fout te herhaal nie en daarvoor probeer vergoed: ‘Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig’ (1 Samuel 22:23 NLV). Mense maak foute. Hulle het blindekolle. Vrede vind plaas wanneer ons ons tekortkominge aan mekaar erken.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 16:1-8; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16

Hoe om ontmoedigende mense te hanteer

2026-09-29
1 Samuel 17:30 NLV

Die eerste persoon wat Dawid probeer ontmoedig het om teen Goliat te veg, was sy eie broer. ‘Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. ‘Hoekom het jy hierheen gekom?’ vra hy. ‘En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!’ ‘Wat het ek dan nou gedoen?’ antwoord Dawid. ‘Ek het maar net ‘n vraag gevra!’ Hy gaan toe na iemand anders toe en vra dieselfde vraag en kry dieselfde antwoord’ (1 Samuel 17:28-30 NLV).

Moenie in die strik trap om te veel aandag aan ‘n ontmoediger te gee nie. Bring jou tyd met diegene wat jou aanmoedig, nie afbreek nie, deur. Selfs koning Saul het vir Dawid gesê: ‘…Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ‘n seun, terwyl hy van jongs af ‘n vegter is!’ (vers 33 NLV). Dawid was egter nie bekommerd oor hoeveel ondervinding Goliat gehad het nie, want hy het geweet dat sy God almagtig is.

Hoe tragies is dit wanneer ons ons geloof tot slegs dit wat ons kan sien, beperk. Deur te dink dat ons onvoldoende vir ‘n taak is, raak ons selfgesentreerd en fokus ons op ons eie vermoëns, eerder as op God. Hierdie onafhanklike ingesteldheid sluit God uit en ignoreer die feit dat Hy verklaar het dat sy krag in ons swakheid tot volle verwesenliking kom (sien 2 Korintiërs 12:9-10 NLV).

Dawid se oudste broer se naam was ‘Eliab,’ wat ‘God is my vader,’ beteken. Hoe ironies, want hy het glad nie vertroue in God gehad nie. Om dus oorwinning te ervaar, moet jy dalk eers die twyfel en ongeloof van diegene naaste aan jou oorkom.

Sielskos: 1 Kor 15-16; Mark 15:33-47; Ps 91; Spr 25:9-12

God werk namens jou

2026-09-28
Romeine 8:28 NLV

Die Bybel begin met die volgende woorde: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder. Maar die aarde was n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef. Toe beveel God: ‘Laat daar lig wees!’ en dit was so. Die lig was vir God goed…’ (Genesis 1:1-4 NLV).

Selfs wanneer jou lewe soos ‘n deurmekaar gemors lyk, kan jy die God wat orde uit chaos en lig uit duisternis gebring het, vertrou om jou lewe weer sin te laat maak. Wanneer jy glo dat ‘…God alles ten goede laat saamwerk…’ (Romeine 8:28 NLV), herdefinieer dit die slegte dinge wat in jou lewe gebeur. Die slegste dag van jou lewe kan in die beste dag verander. Daar is ‘n silwer randjie om elke donker wolk, en elke nadeel het ‘n potensiële positiewe kant. Wanneer jy die lewe deur hierdie prisma interpreteer, gee dit jou vertroue dat alles goed gaan uitdraai. Dit verseker jou dat die beste nog voorlê, want God het gesê: ‘Ek weet wat ek vir julle beplan het… Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie…’ (Jeremia 29:11 NLV).

Jy het egter soms ‘n rol om te speel. God maak goddelike afsprake, maar jy moet hulle nakom. God gee gawes, maar jy moet jou gawe aanwakker. God roep, maar jy moet antwoord (sien Jesaja 6:8). God rig jou voetstappe, maar jy moet met die Gees tred hou. As jy getrou jou deel doen, kan jy op God staatmaak om sy deel te doen – om namens jou te werk.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Mark 15:21-32; Ps 13; Spr 25:4-8