Kom van die kantlyn af

2024-05-02
Levitikus 23:22 NLV

Onder die wet in die Ou Testament, het God die Joodse boere beveel: ‘Wannneer julle julle lande oes, moenie die graan aan die kante van die lande ook oes nie… Los dit vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon…’ (vers 22 NLV). Rut het aan die kant van ‘n stuk landery wat deur ‘n ryk man genaamd Boas besit is, gewerk. Toe Boas vir Rut sien, het hy haar van die kantlyn af geroep na die middel van sy landerye toe. Hy het ook sy werkers beveel om are met opset op die grond te laat val sodat sy dit maklik sou kon optel (sien Rut 2:16).

Daar is ‘n les hieruit te leer. Een oomblik van God se guns kan jou lewe verander. Hy kan dit doen deur iemand wat Hy alreeds daarvoor voorberei het, iemand wat jy nog nie eers ontmoet het nie. Rut het dit nie geweet nie, maar omdat Boas aan haar skoonma Naomi verwant was, het dit hom as haar losser – iemand wat haar skuld sou kon delg, vir haar sorg en aan haar behoeftes kon voldoen – geposisioneer (sien Rut 3:1-9).

Jesus het gesê: ‘So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:4 NLV). Wees verseker, God het jou nie misgekyk nie. Ander mense mag dalk nie jou getrouheid raaksien nie, maar Hy doen en Hy sal jou daarvoor beloon. ‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie; hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Een van die dae gaan God vir jou sê: ‘Kom van die kantlyn af!’

Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21

Beweeg vorentoe of beweeg terug

2024-05-01
Rut 1:16 NLV

Die boek Rut illustreer die verskil tussen diegene wat in geloof uittree en risiko’s neem en diegene wat vrees, in veiligheid bly en God se beste vir hulle misloop. Die boek begin met hierdie woorde: ‘…’n man [het] uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ‘n swaar hongersnood was. Hy en sy vrou en twee seuns het gaan woon in die land Moab’ (vers 1 NLV).

Dinge het goed gegaan vir ‘n ruk, tot die tragedie hulle getref het. Eers is Naomi se man, Elimelek, oorlede en sy het met haar twee seuns agtergebly. Hulle het met twee plaaslike meisies, genaamd Orpa en Rut getrou. Toe is altwee seuns egter oorlede. Oorweldig deur smart, het Naomi besluit om na haar huis in Betlehem terug te keer en haar twee skoondogters aangeraai om in Moab te bly.

Dis waar die verskil in die twee meisies te voorskyn gekom het. Orpa het besluit om in Moab te bly, selfs al was dit ‘n plek van hartseer en moeilike tye. Hoekom? Omdat sy dit geken het. Dit was haar gemaksone. Sy het nie die geloof gehad om vorentoe te beweeg nie. Rut was anders. Sy het vir Naomi gesê: ‘…Waar Ma ook al gaan, sal ek gaan, en waar Ma ook al woon, sal ek woon. Ma se mense sal my mense wees en Ma se God sal my God wees’ (vers 16 NLV).

In Betlehem het Rut vir Boas ontmoet. Nie net was hy ryk nie, maar hy het goed vir haar gesorg en saam het hulle ‘n seun gehad van wie beide koning Dawid en ons heilige Here Jesus afgestam het. God beloon geloof, nie vrees nie. Die woord vir jou vandag is dus – dis tyd om met die verlede te breek en vorentoe te beweeg.

Sielskos: Hand 27-28; Mark 5:31-43; Ps 94:12-23; Spr 11:16-18

Lewe in die ‘hier en nou’

2024-04-30
Psalm 118:24 NLV

God wil hê dat ons die seisoen waarin ons is, moet geniet; dat ons in die ‘hier en nou’ moet lewe. Sommige mense lewe net vir die toekoms. ‘Ek sal gelukkig wees wanneer…’ Ander mense leef net in die verlede. Salomo spreek hulle aan: ‘Moenie sê: ‘Waarom was die ou dae beter as die huidige?’ nie. Dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vra nie’ (Prediker 7:10 NLV).

Die New Yorker tydskrif het een keer ‘n strokiesprent van twee monnike in togas met kaalgeskeerde koppe wat kruisbeen langs mekaar op die vloer sit, gedruk. Die jonger monnik, met ‘n vraende uitdrukking op sy gesig, luister na die ouer een wat sê: ‘Niks gebeur volgende nie. Hierdie is dit.’ Dis presies wat dit beteken om in die hier en nou te leef. Ons wag nie vir iets om te gebeur nie, ons aandag word nie deur iets rondom ons afgetrek nie, ons probeer nie in ons gedagtes na ‘n ander tyd ontsnap nie. Ons is ten volle lewendig omdat ons in die oomblik lewe! God mag dalk groot dinge vir jou in die verlede gedoen het en jy vertrou Hom om vir jou groot dinge in die toekoms te doen, maar sy teenwoordigheid, sy krag, sy goedheid, sy guns, sy seën en alles wat Hy is, kan net in die hier en nou ervaar word.

Vraag: Leef jy in ‘n dop om te keer dat jy lewendig deur die pyn van die lewe opgevreet word? Bewaak jy jouself deur dieper in jou dop terug te trek, net om beskikbaar te wees vir dit wat aangenaam, voorspelbaar en veilig is? ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’ Lewe in die ‘hier en nou.’

Sielskos: Hand 24-26; Mark 5:21-30; Ps 94:1-11; Spr 11:14-15

Om gelykvormig te wees is om kreatief te wees

2024-04-29
Romeine 8:29 AFR83

Omdat God beide ons Skepper en Verlosser is, is ons geroepe om gelykvormig aan sy beeld in beide opsigte te wees. Om dus meer soos die Skepper te wees, moet jy meer kreatief word. Wanneer ons ons geheiligde verbeelding toepas om sy doelwitte te bereik, doen ons wat God die beste doen en die meeste liefhet. Ons hemelse Vader vind diepe vreugde en trots daarin. Net soos ons kreatiwiteit in ons kinders vier, so vier God kreatiwiteit in ons.

Het jy al ooit opgelet hoe dikwels die Psalms vir ons sê om ‘n nuwe lied te sing? Hierdie kreatiewe bevel word nie minder as ‘n halfdosyn keer herhaal nie. Hoe meer jy van God ontdek, hoe liewer raak jy vir Hom. Hoe liewer jy vir Hom raak, hoe meer het jy nuwe maniere nodig om jou liefde uit te druk. Die meeste van ons dink dat ons nie regtig kreatief is nie, omdat ons kreatiwiteit baie nou definieer. Ons dink daaraan as ‘n kunswerk, ‘n nuwe uitvinding of ‘n entrepreneuriese idee. Dis egter net ‘n klein deel van kreatiwiteit.

Kreatiwiteit is nie net vir kunstenaars, uitvinders en entrepreneurs nie; dis noodsaaklik in alle aspekte van die lewe. In die volste sin is kreatiwiteit enige gebruik van die verbeelding. Ja, in die verlede mag ons dalk ons verbeelding vir die verkeerde doelwitte gebruik het. Na ons wedergeboorte, word ons verbeelding egter verlos sodat dit gebruik kan word om God te verheerlik. As God oneindig kreatief is en ons nie net na sy beeld geskape is nie, maar geroep is om gelykvormig aan sy beeld te wees, dan is kreatiwiteit nie opsioneel nie. Dit is ‘n dimensie van geestelike volwassenheid.

Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13

Wees geduldig, God is aan die werk

2024-04-28
Psalm 37:34 NLV

Wanneer dinge nie so vinnig gebeur soos ons dit graag wil hê nie, kan ons angstig, gefrustreerd, geïrriteerd en negatief word. As jy die tipe persoon is wat dinge graag self wil laat gebeur, kan jy voor God uitjaag en in die moeilikheid beland. ‘Danksy die Here stap ‘n jong man met ferm treë; en die Here is tevrede met sy lewenspad.’ (Psalm 37:23 AFR20).

Dink daaroor: As jy die Here volg, kan jy nie vinniger as die Een wat lei beweeg nie. Neem dus net die volgende tree en vertrou Hom om dinge vir jou te laat uitwerk. God weet wat jy nie weet nie. Jy werk met beperkte kennis. Glo jy dat die Here jou treë rig? Glo jy dat Hy ‘n plan vir jou lewe het? Glo jy dat Hy vir jou omgee en jou beste belange op die hart dra? Indien jy dit glo, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe en jy moet lewe soos Hy wil hê. Dan sal Hy jou die hoof van die land laat word…’ (Psalm 37:34 ABA). God weet wat Hy doen. Hy werk volgens sy skedule, nie ons s’n nie.

Ongeduld is ‘n teken van twee dinge: 1) Onvolwassenheid. Babas huil totdat jy hulle optel en kinders wil nie vir enigiets wag nie. ‘n Wyse ouer weet egter dat die kind dikwels nie gereed is om dit wat hulle wil hê, te kan hanteer nie. 2) Twyfel en ongeloof. ‘Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (Hebreërs 10:36 NLV).

Sielskos: Gal 5:22; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Gen 50:15-21

Lewe volgens die lewende Woord

2024-04-27
Psalm 119:100 NLV

Eugene Peterson, die skrywer van Die Boodskap, sê: ‘Die woorde wat op die bladsye van my Bybel gedruk is, getuig van die lewende en aktiewe openbaring van die God van skepping en redding, die God van liefde wat die Woord geword het, wat vlees geword het in Jesus. Ek beter dit nie vergeet nie. As ek in die lees van my Bybel voeling hiermee verloor, as ek versuim om na hierdie lewende Jesus te luister, my aan sy soewereiniteit te onderwerp en op sy liefde te reageer, word ek arrogant in my wete en onpersoonlik in my gedrag. ‘n Enorme hoeveelheid skade word in die naam van Christenskap aangerig deur mense wat nie hulle Bybel op die regte manier lees nie.’

Dis nie genoeg om daagliks die Bybel te lees nie, jy moet ook aanhoudend die beginsels daarvan uitoefen. Die Psalmdigter skryf: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad’ (Psalm 119:97-105 NLV).

Die Bybel word ‘n lewende Woord, wanneer jy besluit om elke dag volgens sy beginsels en voorskrifte te lewe.

Sielskos: Hand 20-21; Mark 5:1-10; Ps 144:1-8; Spr 11:10-11