God kan jou genees (5)

2026-10-06
Psalm 107:20 NLV

Hier is ‘n gebed vir genesing en volgehoue goeie gesondheid: ‘Vader, die krag van u Woord is die bron van my genesing en volgehoue goeie gesondheid. Dit verklaar dat U my van alle vernietiging verlos het. Ek het dalk in die verlede besluite geneem wat swak gesondheid in my lewe veroorsaak het, maar U het my in Christus vergewe, en U verlos my voortdurend van alle siekte, pyn, swakheid en kwale. U Woord sê: ‘As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie’ (Psalm 91:9-10 NLV).

U is my toevlug en my skuilplek. Daar is geen siekte in u teenwoordigheid nie en aangesien ek in U bly, kan siekte nie in my lewe bly nie. Ek word beskerm omdat ek in Christus is. U Woord sê: ‘…laat die swakkes sê: Ek is sterk’ (Joël 3:10 KAB23). Daarom noem ek myself sterk, selfs wanneer ek swak voel. Here, u Woord sê U sal my lewe met goeie dinge vul, sodat my jeug vernuwe word (sien Psalm 103:5).

U is my bron van volkome tevredenheid en ek glo dat my jeug en krag hernu word. Gevolglik verouder ek goedgunstiglik in Christus. Here, u Woord sê dat ek U kan aanroep en dat U my sal antwoord. U sal by my wees in nood; U sal my verlos en my eer herstel. U sal vir my ‘n lang lewe gee en my u verlossing wys (sien Psalm 91:15-16). Daarom staan ek op u Woord en verklaar deur geloof: ‘Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel’ (Psalm 118:17 NLV).’

Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:43-51; Ps 92; Spr 26:1-3

God kan jou genees (4)

2026-10-05
Matteus 13:23 NLV

Net omdat jy nog nie resultate gesien het nie, beteken nie dat jou gebed nie verhoor word nie. Die Woord van God is ‘n saad; dit het tyd nodig om vrugte te dra. Vra God vir die genade om aan dit wat jy glo uit sy Woord vas te hou, terwyl dit wortel skiet en groei. Ongeag die situasie, is dit altyd ‘n goeie tyd om dankbaar te wees.

Satan wil hê dat jy op jou omstandighede en wat onveranderd lyk, moet fokus, in plaas daarvan om God te dank vir die deel van jou lewe wat beter geword het. Terwyl jy in geloof staan en die Woord toelaat om binne-in jou te werk, moet jy aanhou om oor die beloftes van God wat oor genesing handel, te mediteer. God se Woord werk wanneer jy dit in jou hart plant. Hou aan om daardie saad nat te gooi deur God se beloftes oor jou lewe te spreek.

God het gesê: ‘Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom. Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:10-11 NLV).

Hou jou geloof sterk en staan vas op God se Woord: ‘Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes’ (Psalm 27:13 NLV).

Sielskos: Eks 1-3; Joh 1:29-42; Ps 63; Spr 25:26-28

God kan jou genees (3)

2026-10-04
Galasiërs 6:9 NLV

Genesing kan op verskillende maniere plaasvind. Soms verrig God ‘n wonderwerk en genees iemand onmiddellik. Ander kere genees Hy iemand progressief. Wanneer ons na die Skrif kyk en die vele wonderwerke wat Jesus verrig het, is dit maklik om te dink dat Hy mense altyd op dieselfde manier genees het. By nadere ondersoek sien ons egter dat Hy in baie gevalle nie twee keer dieselfde opgetree het nie.

1) In Matteus 9:29 het Jesus twee blinde mans genees deur bloot aan hulle oë te raak. 2) In Markus 10:52 het Hy die blinde Bartimeus genees deur met hom te praat, eerder as om hom aan te raak. 3) In Markus 8:22-25 het Hy speeksel aan ‘n blinde man se oë gesmeer en hom twee keer die hande opgelê voordat hy heeltemal genees was. Jesus was nie aan een metode om mense te genees gebonde nie – maar Hy was altyd bereid om hulle te genees. Ongeag die metode, het die ontvangers konsekwent geloof in sy vermoë om te genees en bereidwilligheid om sy krag namens hulle vry te stel, getoon.

Dieselfde is vandag ook waar! As jy vir genesing gebid het en niks gebeur onmiddellik nie, beteken dit nie dat jou geloof wankel nie. Dit beteken ook nie dat God kwaad is vir jou of dat Hy wil hê jy moet ly nie. Dit beteken net dat dit tyd is om God te dank dat jy in sy belofte kan glo en dat jy dag vir dag progressief beter word: ‘…Deur sý verwonding is julle genees!’ (1 Petrus 2:24 NLV). Dit beteken om te glo dat dit wat reeds in die geestelike ryk bereik is, uiteindelik in die fisiese ryk sal manifesteer. Vanuit God se perspektief is jou genesing reeds gekoop en betaal.

Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16

God kan jou genees (2)

2026-10-03
Psalm 103:3 NLV

Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye’ (verse 2-4 NLV). Dawid het homself aan hierdie vier dinge herinner. Jy moet dit ook doen. God het al sy sondes vergewe. God het al sy siektes genees. God het sy lewe verlos van die dood en vernietiging. God het hom met liefde, vriendelikheid, barmhartigheid en guns gekroon.

Die Bybel sê: “‘n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, stommes en nog baie ander siekes na Jesus toe gekom en hulle voor Hom neergesit. En Hy het hulle gesond gemaak” (Matteus 15:30 NLV). Was dit wedergebore Christene wat Jesus genees het? Nee, dit was voor die kruis plaasgevind het. Dink daaraan: as Jesus bereid was om hulle almal te genees, dan kan Hy jou, wat ‘n verloste kind van God is en wat jou vertroue in Christus vir verlossing geplaas het, ook genees.

Is jy ‘n gelowige? Ja? Lees dan hierdie Skrifgedeelte en staan daarop: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo:… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Jakobus het geskryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (Jakobus 5:14-15 NLV). As jy siek is, staan op God se Woord en glo dat Hy jou sal genees.

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Joh 1:14-28; Ps 51; Spr 25:23-25

God kan jou genees (1)

2026-10-02
Matteus 8:3 NLV

Die Bybel sê: ‘Daar kom toe onverwags ‘n melaatse nader en val voor Jesus neer met die woorde: ‘Here as U wil, kan U my gesond maak.’ Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ En dadelik het sy melaatsheid verdwyn’ (verse 2-3 NLV). God wil nie hê dat ons deur die lewe moet gaan en wonder of dit sy wil is om ons te genees nie. Daarom het Hy genadiglik sy Woord aan ons gegee. Dawid het gesê: ‘Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk…’ (Psalm 30:3-4 NLV).

God is so ernstig oor ons genesing dat Hy dit met Jesus se dood aan die kruis verbind het. ‘Hy het self ons sondes in sy liggaam weggedra kruis toe. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý verwonding is julle genees!’ (1 Petrus 2:24 NLV). Ons twyfel nie aan Christus se triomf oor die dood aan die kruis of ons verlossing daardeur nie. Ons moet ook nie die Vader se wil om ons te genees, betwyfel nie. Vanuit God se perspektief is alles wat vir jou genesing nodig is, reeds aan die kruis volbring.

Hierdie melaatse man het geweet dat Jesus hom kon genees; hy het net nie geweet of Hy sou nie. Jesus het sy twyfel met twee kragtige sinne uit die weg geruim: ‘…Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ (Matteus 8:3 NLV). Die Bybel sê: ‘Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit beteken dat jy met vertroue na Hom toe kan gaan en Hom glo vir jou genesing.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Joh 1:1-13; Ps 60; Spr 25:21-22

Neem tyd vir rus en herstel

2026-10-01
Jesaja 40:31 NLV

Wanneer jy moeg voel, sê dit vir jou: 1) dat jou liggaam rus nodig het, 2) dat jy die lewe teen ‘n stadiger tempo moet benader, en 3) dat jy tyd moet neem om in die teenwoordigheid van God te vertoef. God het op die sewende dag gerus (sien Genesis 2:2). God – die Een wat alle dinge oortref, alle dinge weet en alle mag het – het gerus! Wat laat jou dink dat jy nie rus nodig het nie? As jy daaraan gewoond is om altyd aan die gang te wees, sal dit moeilik wees om selfs vir ‘n paar uur nie te werk nie.

Rus is egter ‘n geheime wapen wat God jou gegee het om jou te help om die vyand te verslaan. Wanneer jy uitgeput is, is jy van min nut vir God of enigiemand anders. Dit is een van die hoofredes waarom Satan jou hiernatoe en daarnatoe laat hardloop. As hy jou nie met verslawing, verkeerde verhoudings en slegte gewoontes kan versoek nie, sal hy jou met ‘n besige skedule versoek. Hy wil hê jy moet jouself uitput sodat wanneer die ware stryd aanbreek, jy te moeg sal wees om weerstand te bied.

Johannes het geskryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 2 NLV). Jou siel floreer nie wanneer jy uitgeput en in alle rigtings getrek word, met min tyd vir rus of herstel, nie. Wat staan jou dus te doen? Lê jou skedule, insluitend enige nuwe projekte, voor Jesus se voete neer. Wag vir sy leiding. Staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’

Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 16:9-20; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20