Stel finansiële grense

2026-08-24
Amos 3:3 NLV

Dit is geen geheim dat die meerderheid huwelike deesdae weens finansiële probleme misluk nie. Ander verhoudings kan ook bedreig word wanneer ons nie ‘n lening terug betaal of ons finansiële verantwoordelikhede nakom nie. Die volgende drie strategieë sal help om hierdie slaggate te vermy:

1) Besluit saam met jou eggenoot die maksimum bedrag wat elkeen van julle sonder die ander se toestemming mag spandeer. Enige bedrag bo hierdie limiet sal volledige instemming vereis. Elke paartjie definieer ‘n ‘groot’ aankoop anders, afhangende van hul huishoudelike inkomste – hou dus by julle besluit. Dit is belangrik. As julle nie oor ‘n transaksie saamstem nie, sal julle geneig wees om vinger te wys indien die transaksie skeefloop.

2) Lig julle familie in dat persoonlike lenings teen julle beleid is. Indien jy besluit om ‘n uitsondering te maak, maak seker dat jou eggenoot ten volle saamstem. As jy wys is, sal jy die voorwaardes en spertye van die lening op skrif stel.

3) Moenie jou kind, eggenoot of enigiemand anders in staat stel om onverantwoordelik te lewe deur hom of haar finansieel by te staan of altyd hul veiligheidsnet te wees nie. Sê net nee. Wanneer jy nie nee sê nie, word een van God se effektiefste beginsels ondermyn – deur die gevolge van hulle onverantwoordelike finansiële gedrag te ontduik. Ware volwassenheid vind plaas wanneer hierdie les geleer word. Liefde moet soms streng wees! Dring byvoorbeeld aan dat jou volwasse kind wat steeds in die huis bly, sy of haar huurgeld moet betaal. Dit demonstreer karakterbouende liefde, wat ware liefde is. As jy finansiële grense moet stel, doen dit!

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Mark 8:14-26; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10

‘History is His story’

2026-08-23
Matteus 28:19-20 NLV

Die woorde wat Jesus gespreek het, het die wêreld vir altyd verander. Sy laaste instruksie aan sy dissipels was die volgende: ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan, maak al die nasies my dissipels… Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het…’ (verse 18-20 NLV). Jesus se volgelinge het dit ernstig opgeneem: ‘En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is’ (Handelinge 5:42 NLV).

Hulle het onthou dat hulle ‘n man gevolg het wat almal geleer het en wat hulle beveel het om al die volke te leer. Hulle het begin om beide mans en vroue en beide slawe en vrymense, te leer. Van die wêreld se grootste onderwysinstellings is deur volgelinge van Christus gestig. Oxford en Cambridge Universiteite is in die dertiende eeu gestig. (Die leuse van Oxford Universiteit kom uit Psalm 27:1: ‘Die Here is my lig.’)

George Marsden het opgemerk: ‘Dis merkwaardig dat die Puriteine binne ses jaar nadat hul in die wildernis van Massachusett geland het, ‘n leerskool begin het wat kort daarna ‘n gerespekteerde kollege sou word.’ Hierdie woorde kom uit ‘n studentehandboek van daardie kollege: ‘Laat elke student duidelik onderrig en ernstig aangespoor word dat die hoofdoel van sy lewe en studies sal wees om God en Jesus Christus te ken, wat die ewige lewe is (sien Johannes 17:3), en om Christus as die enigste fondament van alle gesonde kennis en leer te beskou.’ Dit was Harvard Universiteit! 92 persent van die eerste 138 kolleges en universiteite wat in Amerika gestig is, is deur volgelinge van Christus begin. Sy woorde gee nie net kennis nie; dit transformeer ons ook.

Sielskos: Eks 17:8-16; Rut 2:12; Gal 3:27

Bid vir wysheid

2026-08-22
Spreuke 2:6 NLV

Hier is Paulus se gebed vir die kerk in Efese: ‘…dat die God van ons Here Jesus Christus… aan julle geestelike wysheid en insig sal gee…’ (Efesiërs 1:17 NLV). Vir die kerk in Kolosse het hy gevra dat God ‘…geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê’ (Kolossense 1:9 NLV). Jakobus het geskryf: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord…’ (Jakobus 1:5-6 NLV).

Hoe kan jy weet dat die wysheid waarin jy wandel, van God af kom? ‘Maar as ‘n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ‘n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef…’ (Jakobus 3:17 DB). Toe die jong Salomo die troon van Israel bestyg het, het God hom gevra: ‘…Wat wil jy hê?..’ (1 Konings 3:5 NLV). Salomo het geantwoord: “‘Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer…’ Die Here was tevrede met Salomo se antwoord…” (1 Konings 3:9-10 NLV).

Salomo het bekendheid as een van die wysste manne wat ooit geleef het, verwerf en hy het drie van die boeke in die Bybel geskryf. Die God wat vir hom wysheid gegee het, sal dit ook vir jou gee. Al wat jy hoef te doen is om daarvoor te bid en jou hart en verstand vir sy Woord oop te maak.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Mark 8:1-13; Ps 119:121-128; Spr 22:4-7

Die grootste oomblik in jou lewe is nou

2026-08-21
Psalm 118:24 NLV

Die grootste oomblik in jou lewe is nou. Nie omdat dit aangenaam of gelukkig of maklik is nie, maar omdat dit die enigste oomblik is wat jy het. Elke oomblik in die verlede is onherroeplik verby. Dit kom nooit terug nie. As jy in die verlede leef, verloor jy jou lewe. Die toekoms is altyd iewers daar buite. Jy kan ‘n ewigheid vir môre wag of jou oor môre bekommer. As jy in die toekoms leef, sal jy ook jou lewe verloor.

Hierdie oomblik is God se onvervangbare geskenk aan jou. Bowenal is dit hierdie oomblik wat saak maak, want God is in hierdie oomblik. As jy enigsins by God wil wees, moet jy nou by Hom wees – in hierdie oomblik. Daarom sê die Psalmdigter: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’ Daarom het die profeet Jeremia gesê dat mens altyd op God se genade kan vertrou, want ‘…Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:23 NLV). Daarom het die apostel Paulus gesê: ‘Wees dus baie versigtig hoe julle lewe… Benut elke geleentheid… probeer uitvind wat God se wil is’ (Efesiërs 5:15-17 NLV).

Frederick Buechner het geskryf: ‘Morning, afternoon, evening – the hours of the day, of any day, of your day and my day. The alphabet of grace. If there is a God who speaks anywhere, surely He speaks here: through waking up and working, through going away and coming back again, through people you meet and books you read, through falling asleep in the dark.’ Dit alles beteken net een ding – die grootste oomblik in jou lewe is nou.

Sielskos: 2 Kro 35-36; Mark 7:24-37; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3

Jou reaksietyd maak saak

2026-08-20
Jesaja 6:8 NLV

Onthou jy die tien spioene wat God se vermoë om sy belofte na te kom betwyfel het en die Israeliete ontmoedig het om die Beloofde Land binne te gaan? Hul twyfel was so aanstootlik vir God – Hy het immers reeds sy mag aan hulle deur die uittog uit Egipte en die skeiding van die Rooi See geopenbaar – dat God dadelik sy oordeel oor hulle voltrek het. Die volgende dag het die Israeliete ‘n ommeswaai gemaak. Hulle het van plan verander, maar dit was te min, te laat. Een dag se vertraging het hulle veertig jaar gekos! Hulle het die Beloofde Land misgeloop omdat hul reaksietyd te stadig was.

Dit beteken nie dat jy in vrees moet leef om iets mis te loop nie. God is immers die God van tweede kanse (sien Jona 3:1). Jy moet egter die volgende verstaan: onaktiwiteit is ‘n aksie en besluiteloosheid is ‘n besluit. Wanneer jy met God te doen het, is jou reaksietyd van kardinale belang. Paulus se bediening het begin toe hy ‘n lewensveranderende ontmoeting met Christus op die Damaskuspad gehad het. Onmiddellik het hy op sy knieë geval en uitgeroep: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53).

Toe die hemel oopgaan en God vra: “…Wie kan Ek met ‘n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir ons gaan?..’ het die profeet Jesaja onmiddellik geantwoord: ‘…Here, ek sal gaan! Stuur my!’ Hy het gesê: ‘Ja, gaan. Sê vir die mense so…'” (Jesaja 6:8-9 NLV).

Jy wil nie God vooruitloop nie en jy wil nie agtergelaat word nie. Wat jy moet doen, is om die geleenthede wat Hy jou gee so vinnig, so beslis en so dapper as moontlik aan te gryp. Jou reaksietyd maak saak.

Sielskos: 2 Kro 32-34; Mark 7:14-23; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31

Jy kan jou probleme oorkom

2026-08-19
2 Korintiërs 10:4 NLV

Vandag se probleem is nie noodwendig môre se probleem nie. Weerstaan die versoeking om jouself te etiketteer: ‘Ek is nou maar net ‘n kommerkous.’ ‘My swakheid is nou maar een maal om te skinder.’ ‘My pa was ‘n drinker; ek sit maar net die tradisie voort.’ Hou op daarmee! Hierdie woorde skep bondgenootskappe met die duiwel. Dit gee hom toegang tot jou gees. Dit is nie God se wil dat jy ‘n verslane, ongelukkige lewe moet lei nie.

Draai ‘n dowe oor vir die ou stemme en maak nuwe keuses. “‘n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi!” (Psalm 16:6 NLV). Leef uit jou erfenis, nie uit jou omstandighede nie. God het jou reeds oorwinning belowe en jou van wapens vir die stryd voorsien. ‘Ons leef wel in ‘n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie. Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig… (2 Korintiërs 10:3-4 NLV).

Hoe het Josua Jerigo verower? Deur God se strategie te gebruik: ‘…Dra die ark van die verbond. Laat sewe priesters elkeen met ‘n ramshoring voor die ark van die Here loop’ (Josua 6:6 NLV). Die verbondsark was die simbool van God se teenwoordigheid. Josua het dit in die middel van die optog geplaas. Elke aktiwiteit het om God gewentel.

Die geheim van oorwinning is om God sentraal in jou lewe te hou deur die wapens van aanbidding – die Skrif en gebed – te gebruik. Gebruik elke instrument wat God bied: Memoriseer die Skrif en pleit by God. Skakel die TV af en maak die Bybel meer gereeld oop. Bekommer jou minder en bid meer. Jy kan jou probleme oorkom deur daagliks op die teenwoordigheid van God staat te maak.

Sielskos: 2 Kro 29-31; Mark 7:1-13; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27