2025-11-05
Psalm 120:1 NLV
Die 911 noodstelsel in Amerika is ‘n wonderlike stelsel. Op die meeste plekke in Amerika hoef jy net daardie nommer te skakel om onmiddellik aan ‘n beampte deurgeskakel te word. Die beampte sien onmiddellik op ‘n rekenaarskerm die persoon wat die oproep maak se telefoonnommer, adres en die naam waaronder die nommer gelys is. Die polisie, brandweer en paramedici luister ook na die oproep. ‘n Inbeller hoef niks te sê sodra die oproep gemaak is nie. Selfs ‘n hoes of histeriese gehuil sal ‘n vinnige reaksie tot gevolg hê. Die beampte weet waar die oproep vandaan kom en hulp word dadelik soontoe gestuur.
Soms is ons situasie so dringend en desperaat dat ons dit nie in woorde kan omskryf nie, daarom stuur ons die 911-gebed op: ‘Here, ek het u hulp nodig!’ Hulp is dadelik op pad. ‘Ek sal hulle antwoord nog voor hulle na My roep. Terwyl hulle vra sal Ek hulle gebede verhoor’ (Jesaja 65:24 NLV).
Soms voel jy die effek van iets, maar jy verstaan nie die oorsaak daarvan en jy kan dit nie verduidelik nie. Dis wanneer die inwonende krag van God se Gees jou te hulp snel: ‘Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:26-28 NLV).
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 9:1-12; Ps 68; Spr 25:21-22
2025-11-04
Jakobus 2:22 NLV
As jy regtig God se Woord rakende jou situasie glo, hoe sal jy anders optree? Om te sê jy glo is net die begin; om jou geloof te aktiveer beteken dat jy jou vir die antwoord moet begin voorberei. Vra jouself: ‘As ek regtig ‘n antwoord op my gebede verwag, hoe sal ek daarop voorberei?’
Jesus het in die Skrif die volgende gelykenis vir sy dissipels gegee: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het… Dit word so ‘n groot boom…’ (Matteus 13:31-32 NLV). Die boer kan opreg glo dat hy ‘n mosterdboom kan laat groei, maar niks sal gebeur voor hy nie die plek kies, die grond voorberei, die saad plant en dit voortdurend natmaak nie. Sodra hy al daardie dinge doen, kan hy aktief begin uitkyk of die boom begin opkom. Waar moet mens dus begin?
1) Bid vir wysheid om die regte besluite te neem (sien Jakobus 1:5-7).
2) Beplan jou werk en werk volgens jou plan. Doellose, passiewe verwagting vir iets om te realiseer sonder deurdagte, aktiewe betrokkenheid, sal teleurstellend en vrugteloos wees. God gebruik jou as sy vennoot. ‘Ons is Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV).
3) Breek jou plan in klein, uitvoerbare stappe op.
4) Moenie wag vir die vrees om weg te gaan of vir die geloof om te groei nie. Wees voorbereid om berekende, produktiewe risiko’s te neem. Voel die vrees en doen dit in elk geval!
5) Begin om God te dank, nog voor jy die antwoord kan sien. ‘…[Abraham se] geloof het dus eers volwassenheid bereik toe dit dade geword het.’ Dis nog steeds die Bybel se formule vir sukses.
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 8:42-59; Ps 49; Spr 25:18-20
2025-11-03
Jakobus 2:17 NLV
Jakobus vra: ‘…wat help dit as ‘n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie?.. Sê nou jy sien ‘n Christenbroer of suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: ‘Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,’ maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: ‘Party mense het geloof, en ander het dade.’ Ek sê: ‘Jou geloof bly onsigbaar as dit nie dade word nie. Juis uit my dade sal ek jou my geloof wys’ (verse 14-18 NLV).
‘n Greintjie geloof wat met dade gevolg word, kan ‘n see van resultate oplewer (sien Matteus 13:31-32). Die Bybelse voorskrif vir geloof is eenvoudig maar kragtig.
1) Jy besluit om God se beloftes en sy krag om dit te laat gebeur, te glo – en laat die ‘hoe en wanneer’ aan Hom oor.
2) Jy kies om in ooreenstemming met dit wat jy glo op te tree, voor jy enige bewyse van resultate sien.
3) God reageer op jou geloof deur sy onbreekbare beloftes na te kom.
‘…Het Hy al ooit iets gesê wat Hy nie gedoen het nie? Het Hy iets belowe wat Hy nie nagekom het nie?’ (Numeri 23:19 NLV). God oefen altyd sy onbeperkte vermoë om sy Woord uit te voer, uit. Jesus het gesê: ‘…alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV). Dis nou jou verantwoordelikheid om sy beloftes aan te neem en daarvolgens op te tree.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17
2025-11-02
Romeine 12:3 NLV
Dank God dat geloof nie net vir diep geestelike mense bedoel is nie. As dit die geval is, sou ons almal in die moeilikheid wees! Ons is geneig om te dink dat geloof eksklusief aan mense soos Abraham, Moses, Elia, Samuel, Dawid, Daniël, Petrus en Paulus behoort. Hulle was inderdaad almal helde van geloof, maar geloof behoort nie alleenlik aan hulle nie. Die Bybel sê dat God geestelike toerusting aan ons almal gegee het. Niemand sal die hemel misloop omdat hy of sy nie genoeg geloof ontvang het om in die Here Jesus te glo en gered te word nie (sien Handelinge 16:31).
God het nie bedoel dat ons net geloof sal hê nie, maar dat ons deur geloof sal lewe. Drie keer verseker die Nuwe Testament ons dat: ‘Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe…’ (Hebreërs 10:38 NLV). Jy antwoord: ‘Ja, maar daardie Bybelse helde van geloof se geloof was groot; my geloof is so klein!’ Het jy geweet dat die apostels ook so gevoel het? Hulle het vir Jesus gesê: ‘…Help ons. Ons het meer geloof nodig’ (Lukas 17:5 NLV). Jesus het geantwoord: ‘…Al sou julle maar net ‘n geloof só klein soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see,’ – hy sou julle gehoorsaam!’ (vers 6 NLV).
Soos so baie van ons, het die apostels gedink dat hulle meer geloof nodig het. Jesus het hierdie geestelik verlammende wanpersepsie egter reggestel deur vir hulle te sê dat jy het nie ‘n trok vol geloof nodig het om wonderlike resultate te sien nie. ‘Geloof so klein soos ‘n mosterdsaadjie’ kan wonderlike resultate teweegbring. Wanneer jy die geloof wat jy reeds gegee het in aksie omskep, sê Jesus dat dit resultate sal lewer!
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11
2025-11-01
Hebreërs 11:1 NLV
Geloof het min met godsdiens of die kerk wat jy bywoon, te doen. Die Griekse definisie van die woord ‘geloof’ is pistis, wat ‘n vaste oortuiging, ‘n oortuiging wat op hoor en leer gebaseer is, beteken. Ander woorde wat ons help om geloof te definieer is vertroue, vrymoedigheid en om te glo.
Hier is ‘n paar Skriftuurlike beskrywings van geloof: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.’ Die Bybel sê vir ons: ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). Dit sê ook vir ons: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Jakobus skryf: ‘…Geloof wat nie dade word nie… sulke geloof is dood en help niks’ (Jakobus 2:17 NLV).
Geloof, alhoewel dit gevoel kan word, is glad nie ‘n gevoel nie. Jy kan geloof hê en niks voel nie. Dit hou ook nie met intellektuele of teologiese kennis verband nie. Jou IK of vlak van opvoeding het niks met jou kapasiteit om geloof uit te oefen, te maak nie. Effektiewe geloof verg ‘n daad van jou wil. Dis ‘n keuse wat jy maak om dit wat God in sy Woord sê, ten volle te omhels. Wanneer dit gebeur, skep dit ‘n klimaat in jou hart wat jou motiveer om in ooreenstemming met dit wat jy kies om te glo, op te tree. Dis geloof!
Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2025-10-31
Spreuke 15:6 NLV
Om jou vrees vir beleggings te oorkom, moet jy die volgende drie dinge doen:
1) Raak vaardig. Voordat jy begin belê, moet jy die taal en nuanses van die aandelemark, vaste eiendom, gesamentlike beleggingsfondse en ander transaksies aanleer. Daar is ‘n magdom inligting op die internet beskikbaar. Ja, jou spaarrekeninge en geldmarkrekeninge is goeie maniere om jou geld te beskerm terwyl jy ‘n bietjie rente verdien. As jy egter ‘n hoër opbrengs wil ontvang, moet jy ‘n mate van risiko neem. Hoe hoër die risiko, hoe hoër die opbrengs.
2) Kry raad. ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV). ‘n Goeie finansiële konsultant sal jou help om ‘n plan volgens jou ouderdom, toleransie vir risiko’s en beleggingsdoelwitte daar te stel. Praat met vriende en familie wat beleggings gemaak het; leer uit hul ervarings. Maak ook seker dat jy die Heilige Gees se leiding soek. Hy word die ‘Raadgewer’ genoem, omdat Hy jou in elke area van jou lewe kan lei (sien Johannes 14:26).
3) Begin beweeg. Tyd is geld. Jy kan bankrot speel terwyl jy vir groot dinge soos jou kinders se universiteitsopleiding of jou aftrede probeer spaar, as jy nie voordeel uit die hoë opbrengste wat die aandelemark en ander beleggings oor ‘n lang tydperk bied, trek nie.
Maak ook seker om op God se Woord te staan en Hom te vertrou: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). Solank as wat jou beweegrede is om God se wil te doen en ander mense te seën, kan jy vir God vra om jou met sukses te seën, en Hy sal.
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34