Jy het ‘n gawe wat God kan gebruik

2025-11-11
Romeine 12:6 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘God het ‘n onkonvensionele gawe gebruik om Dawid strategies te posisioneer. Sy gawe met die slingervel is nie die enigste voorbeeld daarvan nie. Toe Dawid op die harp gespeel het, het dit Saul se gees gesus (sien 1 Samuel 16:23). Dit is hoe Dawid vir Jonatan (koning Saul se seun) ontmoet het. Dit is hoe hy die gebruike van die koning se hof geleer het. Sonder sy musikale gawe sou David nie eers ‘n voet in die deur gekry het nie!

Jy weet nooit watter gawe God vir sy doeleindes sal gebruik nie, moet dus nie jou gawe onderskat nie. God kan enigiets vir sy doeleindes gebruik, as ons bloot toelaat dat ons deur Hom gebruik word. God het Noag se bootbouvaardighede en Josef se vermoë om drome te interpreteer, gebruik. Geen gawe is onnodig of onbruikbaar in God se groot plan nie.

Jy moet egter besef: die grootste psalms is onder die ergste omstandighede geskryf. Die mees vertroostende psalms is in die ongemaklikste situasies geskryf. Dawid loop deur die dal van doodskaduwee. Dawid kwel hom oor sy owerspelige verhouding met Batseba. Dawid is ‘n voortvlugtige wat in grotte wegkruip. David wou nie in enige van daardie situasies wees nie, maar dit het die diep woorde wat ons in Psalm 23, Psalm 51 en Psalm 142 lees, voortgebring.

Miskien worstel jy met depressie of steier jy onder ‘n fout wat onvergeeflik lyk, of dalk is jy net siek en sat daarvan om siek en sat te voel. Jy mag dalk nie van jou huidige omstandighede hou nie, maar dit mag dalk die sleutel tot jou karakterontwikkeling wees. Karakterontwikkeling is die sleutel tot jou toekoms.’

Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 10:22-42; Ps 83:1-8; Spr 26:13-16

Ken die ‘seisoen’ waarin jy jou bevind

2025-11-10
Psalm 1:3 NLV

Een sleutel om jou lewensdoel te vervul, is om te besef in watter seisoen jy jou bevind. As jy dit nie besef nie, sal jy geïrriteerd en teleurgesteld voel. Dis byvoorbeeld in sommige seisoene belangriker om te volg as om te lei. In sommige seisoene is dit waardevoller om mislukking, eerder as sukses, te hanteer. Een van die grootste foute wat ons maak is om met al ons energie op die volgende seisoen te konsentreer, eerder as om die seisoen waarin ons is te geniet, alles daaruit te put en al die lesse daaruit te leer. God wil jou bring waar Hy wil hê jy moet wees, selfs meer as wat jy daar wil kom. Geniet dus die reis en besef dat God jou daar sal bring wanneer jy gereed is. God is besig om emosionele uithouvermoë in jou te ontwikkel.

Die sleutel tot emosionele uithouvermoë is om deur hoë vlakke van teleurstelling wat ons afbreek te beweeg, sodat God ons weer met ‘n heilige selfvertroue kan opbou. Kan jy jou indink hoe Dawid gevoel het om te kyk hoe sy broers gaan oorlog maak, terwyl hy moes agterbly om die skape op te pas? Sy dag was egter op pad. Joune ook. Moenie terwyl jy wag God se planne probeer vooruit loop deur kortpaaie te neem nie. God is besig om jou voor te berei.

Hoe groter die geleentheid egter is, hoe langer neem dit. Die rede waarom ons geïrriteerd raak, is omdat ons groot droom sonder om lank te droom. Heroorweeg jou tydlyn en wees bemoedig wanneer dit langer neem as wat jy verwag het. Dit beteken dat God iets aansienlik meer wil doen as wat jy ooit kan vra of dink om te vra (sien Efesiërs 3:20).

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12

Jy sal nooit perfek genoeg wees nie (2)

2025-11-09
Hebreërs 10:14 NLV

Dorothy Littell Greco skryf: ‘Vir sommige perfeksioniste lei die vrees om ‘n fout te maak tot ‘n soort verlamming, wat ons oor elke besluit laat tob. Om jou te help onderskei of perfeksionisme in jou lewe ingesluip het, oorweeg die volgende vrae: a) Is jy gemaklik om hulp te vra, of is jy slegs gemaklik om dit aan te bied? b) Is jy in staat om gepaste kritiek te ontvang sonder om verdedigend te wees? c) Het jy ‘n knaende oortuiging dat jy op een of ander manier tekort skiet? d) Kritiseer jy jouself aanhoudend? e) Is jy in staat om vreugde te ervaar? ‘n Afwesigheid van vreugde kan een van die grootste tekens van perfeksionisme wees. Dit pers stadig die vreugde uit die lewe uit deur kreatiwiteit te verminder, foute te beklemtoon en ons slawe van sukses te maak.’

Die waarheid is dat dit nie saak maak hoe hard ons probeer nie, ons sal nooit perfek genoeg wees om ons sondeskuld af te betaal nie. Ons hoef nie te wees nie! ‘Maar ons Hoëpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit… Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig’ (verse 12,14 NLV). Wanneer God jou perfek maak, gaan dit vir ewig wees en sodra jy hierdie waarheid begin verstaan, sal dit jou lewe verander.

Gigi Graham Tchividjian sê: ‘Ons hoef nie perfek te wees om ‘n seën vir ander te wees nie. Ons moet net eerlik wees, op sy volmaaktheid vertrou om ons onvolmaaktheid te bedek en weet dat ons uiteindelik eendag alles sal wees waarvoor Christus ons gered het en wil hê ons moet wees.’

Sielskos: Gen 14:18-24; Ps 110; Heb 5:5-10

Jy sal nooit perfek genoeg wees nie (1)

2025-11-08
Efesiërs 2:8-9 NLV

‘n Perfeksionis streef daarna om niks minder as absolute perfeksie te bereik nie. Dorothy Littel Greco skryf: ‘Ek is al my lewe lank ‘n perfeksionis. Ek moes A’s op skool kry, moes wen en moes almal tevrede stel. Elke fout of vermeende mislukking het ‘n stortvloed van selfveroordeling ontketen. Perfeksionisme spruit dikwels uit onsekerheid en ‘n foutiewe begrip van genade. Gedurende die eerste paar jaar behoort ouers deur hul woorde en dade te kommunikeer dat ons dierbaar is, al doen ons niks om daardie liefde te verdien nie. Nie almal van ons was egter aan die ontvangkant van sulke ouerskap nie. Daar is aan baie van ons behoeftes met frustrasie of selfs woede voldoen, wat ons as volg geïnterpreteer het: ‘Daar is iets fout met my.’ Wanneer dit die geval is, sluip skaamte mettertyd in en word ons begrip van ons eiewaarde verdraai.

Die stem van perfeksionisme het toegeneem toe ek Jesus begin volg het. Ek was bang om geoordeel en uitgesluit te word, wat my gemotiveer het om my waarde aan my mede-Christene te bewys. Alhoewel ek teoreties geglo het dat ek uit genade gered is, het ek gelewe asof ek verlossing op krediet gekoop het en ‘n enorme skuld aangegaan het. Ek het geleef asof Jesus my ‘verlossingskontrak’ sou opskeur die oomblik wat ek ‘n fout maak. Toe ek begin verstaan het dat trots en ‘n vrees vir die mensdom my perfeksionisme aandryf, het ek dit as sonde bely en het perfeksionisme se wurggreep op my lewe begin verslap. Soos die Samaritaanse vrou by die put, het ek nodig gehad dat Jesus by my hart en gedagtes inbreek en my saggies na sy lewende water toe lei.’

Onthou, jy hoef nie perfek te wees om ‘n seën vir ander mense te wees nie!

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6

Bewys waardering teenoor jou pastoor

2025-11-07
1 Tessalonisense 5:12 NLV

Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika en sê: ‘Liewe broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad. Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon…’ (verse 12-13 NLV). Oorweeg hierdie statistieke van die een-en-twintigste eeu:

1) Vyftig persent van predikers voel so moedeloos dat hulle die bediening sou verlaat as hulle kon, maar hulle ken geen ander manier om ‘n bestaan te maak nie.

2) Vyftig persent van predikante sal nie vyf jaar in die bediening uithou nie.

(3) Slegs een uit elke tien predikante sal as predikante in een of ander hoedanigheid aftree.

4) In Amerika het daar in 2011 elke maand meer as ‘n duisend sewehonderd predikante die bediening verlaat. Daar is baie redes waarom predikers die bediening verlaat. Een rede is onvoldoende finansiële ondersteuning en stres op die gesin. Paulus spreek dit aan: “Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering. Want die Skrif sê: ‘Moenie ‘n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.’ En op ‘n ander plek: ‘Dié wat werk, verdien hulle loon'” (1 Timoteus 5:17-18 NLV).

Sommige predikers verlaat die bediening omdat hulle dikwels die teiken van gereelde kritiek is. Paulus spreek dit as volg aan: ‘Moenie na klagtes teen ‘n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla’ (vers 19 NLV). Bid dus vir jou pastoor en maak dit ‘n punt om jou waardering te bewys. God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 9:24-41; Ps 115; Spr 25:26-28

Deel dit!

2025-11-06
Spreuke 4:7 NLV

Mentor Graham was so besig om sy studente se opdragte na te sien, dat hy nie die jong reus wat een dag ná skool in sy Illinois-klaskamer ingesluip het, raakgesien het nie. Hy het na ‘n ruk opgekyk om sy moeë oë te laat rus en toe die jongman raakgesien. Hy het hom dadelik as ‘n nuweling in die gemeenskap herken. Die knaap het reeds ‘n reputasie gehad dat hy nie bang was om sy vuiste te gebruik om sy argumente vir hom te wen nie.

‘n Mens sou kon verstaan as Graham se eerste gedagte sou wees: ‘Wat soek hy hier? Is ek in gevaar?’ Graham het egter die ses voet vier duim seun op en af gekyk en toe aangebied om hom met sy lees en skoolwerk te help. Toe die jongman ‘n uur later die klaskamer verlaat, het hy verskeie boeke onder sy arm gehad wat hy by Mentor Graham geleen het – met die belofte om vir nog boeke terug te kom.

Daar is ‘n goeie kans dat jy nog nooit van Mentor Graham gehoor het nie, reg? Hy was ‘n stil man en bereid om sy bes vir enige student wat oor sy pad kom, te doen. Sy leerling het egter beroemd geword. Sy naam? Abraham Lincoln! Graham het in Lincoln ‘n honger na kennis en ‘n begeerte om te leer raakgesien en die tyd geneem om in hom te belê. As gevolg hiervan het Lincoln gehelp om die geskiedenis te verander.

Die grootste belegging wat jy kan maak, is in mense. Salomo het geskryf: ‘Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry.’ Wanneer jy hierdie wysheid en onderskeidingsvermoë ontvang – deel dit dan met ander!

Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 9:13-23; Ps 105:1-15; Spr 25:23-25