Heading Staan op en hou aan! (2)

2025-10-01
Miga 7:8 NLV

Een skrywer sê: ‘Volharding is passie en deursettingsvermoë om jou langtermyndoelwitte te bereik. Volharding laat jou vorentoe beweeg deur die angel van verwerping, die pyn van mislukking en die stryd teen teëspoed. Wanneer die lewe jou planne in die wiele ry, sal jy dalk wil tou opgooi, maar volharding sal jou nie toelaat om dit te doen nie. Ware volharding begin met die wete van dit wat jy werklik wil hê. Wanneer jy weet wat jy wil hê, sal jy hard werk en volhard om dit te bereik. Ware volharding word ook deur helderheid van verstand, doelwitte, passie, optimisme, geloof, liefde, hoop en ‘n mate van hardkoppigheid, gedryf.

Om jou hoekom te verstaan, te weier om op te gee, die kritici te ignoreer, geloof te hê, lief te wees vir wat jy doen en dag in en dag uit op te daag, hou jou op die pad na jou visie. Daar is iets binne elkeen van ons wat waardig wil voel en iemand van waarde wil wees. Die waarheid is dat nie almal jou visie sal deel en in jou projek sal glo nie. Onthou egter altyd dat die omstandighede rondom jou en die opinies van ander mense jou nie definieer nie. Lewe word nooit van buite na binne geskep nie. Jy skep lewe van binne na buite. Die volharding en gees wat jy aan die binnekant besit, sal die lewe wat jy aan die buitekant ervaar, skep. As jy ‘n visie het, hou dit lewendig. Onthou jou doelwit. Daag elke dag op en doen die werk.’

John Quincy Adams het gesê: ‘Geduld en deursettingsvermoë laat probleme soos mis voor die son verdwyn.’ Bly dus op koers en hou aan vorentoe beweeg, en jy sal sukses behaal.

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16

Staan op en hou aan! (1)

2025-09-30
2 Korintiërs 4:9 NLV

Navorsers aan die Universiteit van Pennsylvania sê vir ons dat ‘n sleutelteken van sukses nie talent, ‘n titel, rykdom of ‘n goeie voorkoms is nie. Dit is die vermoë om oor ‘n lang tydperk hard na ‘n gefokusde doelwit te werk; om ten spyte van uitdagings, struikelblokke en mislukkings aan te hou vorentoe beweeg. Paulus skryf: ‘Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie’ (verse 8-9 NLV).

Hier is ‘n paar bekende mense wat eers platgeslaan is, maar opgestaan en aangehou het. ‘n Memorandum wat ná Fred Astaire se eerste oudisie uitgereik is, het gesê: ‘Kan nie toneelspel nie. Effens bles. Kan ‘n bietjie dans.’ Walt Disney is deur ‘n koerantredakteur weens ‘n gebrek aan idees afgedank. Hy het ook verskeie kere bankrot gespeel voordat hy Disneyland gebou het. Albert Einstein het eers op vier jaar oud begin praat en eers op sewe begin skryf. Sy onderwyser het hom as volg beskryf: ‘Verstandelik stadig, ongesellig en al ewig besig om dwase drome te droom.’ F. W. Woolworth se werkgewers het gesê dat hy nie genoeg verstand het om klante te bedien nie. Winston Churchill het op laerskool gedruip. Hy het eers op ses-en-sestig-jarige ouderdom, na ‘n leeftyd van nederlae en terugslae, Eerste Minister van Brittanje geword. Hy het sy grootste bydrae as ‘n senior burger gelewer. Abraham Lincoln het een keer gesê: ‘Hou in gedagte dat jou eie besluit om sukses te behaal, belangriker as enige ander besluit is.’

Wanneer die lewe dus jou planne in die wiele ry, staan weer op en hou aan!

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Joh 1:1-13; Ps 92; Spr 22:24-25

Bewys dit!

2025-09-29
1 Johannes 3:17 NLV

Tim Hansel vertel van ‘n kweekskoolprofessor wat sy homiletiekklas (preekkunsklas) op ‘n ongewone manier aangebied het. Elke student moes ‘n preek oor die verhaal van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:30-37), lewer. Hulle moes van klaskamer tot klaskamer gaan en liefde en deernis aan ander verkondig. Sommige studente het tien minute tussen klasse gehad, terwyl ander minder tyd gehad het, wat hulle genoop het om vinnig te maak om op skedule te bly. Elke student moes ook in ‘n aangewese gang verby ‘n ‘bedelaar’ stap wat doelbewus deur die professor daar geplant is.

Wat daardie dag gebeur het, was ‘n kragtige les. Die aantal voornemende predikers wat stilgestaan het om die bedelaar te help, was uiters laag, veral onder diegene wat onder druk vir tyd was. Hulle was so besig om hulle te haas om oor die barmhartige Samaritaan te preek, dat hulle reguit verby die bedelaar, wat die kern van die gelykenis was, geloop het.

Christus se woorde in Matteus 25, wat geskryf is om jou te laat dink, bid en uitreik na mense wat seer het, kan as volg geparafraseer word: ‘Ek was honger, en julle het ‘n komitee gestig om dit te bespreek. Ek was in die tronk, en jy het by die huis vir my vrylating gebid. Ek was naak, en jy het teen die moraliteit van my voorkoms geprotesteer. Ek was siek, en jy het God vir jou gesondheid gedank. Ek was haweloos, en jy het vir my van die skuiling van God se liefde gepreek. Jy lyk so heilig en so naby aan God, maar ek is steeds honger, eensaam, koud en in pyn. Maak dit vir jou saak?’ Moenie net oor God se liefde praat nie; bewys dit!

Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 28:11-20; Ps 63; Spr 22:17-23

Wees daar wanneer jy benodig word

2025-09-28
Galasiërs 6:2 NLV

Oor die algemeen kan ons gaan waarheen ons wil en doen wat ons wil wanneer ons jonk, gesond en bekwaam is. Soos die gesegde sê: ‘Die wêreld is jou woning!’ Dit kom selde by ons op dat ons deur diegene omring word wat as gevolg van ouderdom, gestremdheid, siekte of sosiale en fisiese isolasie nie meer dieselfde voordele as ons kan geniet nie. Hulle is van die deernis en sorg van ander mense afhanklik om in hul mees basiese daaglikse behoeftes te voorsien. Ongelukkig ignoreer en marginaliseer ons selfgefokusde, jeug-georiënteerde kultuur dikwels sulke mense: in wese verban ons hulle na die ashoop van die lewe.

Dit is beslis nie God se manier van dinge doen nie. Paulus sê vir ons: ‘Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.’ Let op dat dit nie ‘n voorstel is nie. Dis ‘n wet, ‘n goddelike opdrag waaraan ons almal moet voldoen.

Wanneer die Seun van die Mens kom, sal Hy al die nasies oordeel en hulle verdeel soos ‘n skaapwagter die skape van die bokke skei. Diegene aan sy regterkant, wat ander gehelp het deur kos, skuiling, klere, en besoeke te bied, sal die koninkryk beërwe. Jesus sê dat wat hulle vir die geringstes gedoen het, hulle vir Hom gedoen het. Diegene aan sy linkerkant, wat nie gehelp het nie, sal gestraf word. Hy wys daarop dat om ander lief te hê en te dien, in werklikheid is om God te dien. Diegene wat gehoorsaam was, sal die ewige lewe ontvang (sien Matteus 25:31-46).

Die boodskap is hard en duidelik: As jy Jesus waarlik liefhet en Hom wil volg, moet jy doelbewus jou liefde vir ander op praktiese maniere wys. Met ander woorde – wees daar wanneer jy benodig word.

Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; 1 Tess 4:13-18

Leer om te vra wat jy wil hê

2025-09-27
Jakobus 4:2 NLV

Sommige mense weet wat hulle wil hê en het die moed om daarvoor te vra. Ander weer weet wat hulle nie wil hê nie en het die vermoë ontwikkel om dit op ‘n manier wat nie vyandigheid veroorsaak nie, te sê. As jy nie oefen om te vra wat jy wil hê nie, sal jy in frustrasie lewe. Sommige mense laat ander toe om hul grense te oortree terwyl hulle in stilte ly, in plaas daarvan om te vra dat hulle hul gedrag moet verander.

Dit kan die moeilikste wees om in ‘n werksomgewing te vra wat jy wil hê. Moet nooit aanvaar dat jou welsyn voorop in jou baas se gedagtes is nie. Dit is nie ‘n aanklag teen jou baas nie, maar ‘n besef dat hulle waarskynlik met hul eie kwessies gemoeid is.

As jy as salaristrekker byvoorbeeld voortdurend baie ure onbetaald oortyd werk, probeer om vir ‘n spesiale bonus te vra vir ‘n gedeelte van die bedrag wat dit die maatskappy sou gekos het as hulle jou vir die oortyd moes betaal. Bied ‘n weldeurdagte ontleding van die tyd wat jy oortyd gewerk het aan, of vra vir tyd af, gelykstaande aan ‘n gedeelte van die ure wat jy oortyd gewerk het.

Bid natuurlik eers daaroor en vertrou God vir guns voordat jy vra. As dit misluk, hou aan om uitstekend in jou werk te wees en begin aan Plan B vir jou loopbaan dink. ‘n Sakevrou skryf: ‘Een van die uniekste eienskappe wat God aan ons gegee het, is die vermoë om te kommunikeer. Ons hoef nie te stres of te wens of te hoop dat iemand ons gedagtes sal lees, wanneer ons eenvoudig kan vra vir dit wat ons wil hê nie.’

Sielskos: 1 Sam 24-26; Matt 28:1-10; Ps 51; Spr 22:12-16

Hoe om vrygewig te word (2)

2025-09-26
Spreuke 11:24 NLV

Iemand het die volgende oor geld gesê: ‘Jy kan nie wen nie. As jy daarop fokus om geld te maak, is jy materialisties. As jy probeer om geld te maak en dit nie regkry nie, is jy ‘n verloorder. As jy baie geld maak en dit vir jouself hou, is jy ‘n gierigaard. As jy geld maak en dit spandeer, is jy ‘n verkwister. As jy nie daaroor omgee om geld te maak nie, is jy sonder ambisie. As jy baie geld maak en dit steeds het wanneer jy doodgaan, is jy ‘n dwaas – omdat jy dit saam met jou probeer neem.’ Die enigste manier om werklik met geld te wen, is om dit losweg vas the hou; om vrygewig daarmee te wees en dinge van waarde te bereik.

Die nyweraar Andrew Carnegie het in 1889 ‘n opstel met die titel: ‘Die evangelie van rykdom’ geskryf, waarin hy gesê het dat die lewe van ‘n ryk persoon twee fases moet beslaan: ‘n seisoen om rykdom te verkry en ‘n seisoen om dit te versprei. Die enigste manier om ‘n gesindheid van vrygewigheid te behou, is om ‘n gewoonte daarvan te maak om jou tyd, talente, aandag, hulpbronne en geld te gee. Hoe kan jy dus vrygewig word?

1) Vind uit watter tipe houvas jou besittings op jou het. Kies iets wat waarlik vir jou kosbaar is, dink aan iemand vir wie jy omgee wat dit nodig het, en gee dit dan vir daardie persoon.

2) Sit jou geld aan die werk. As jy iemand met ‘n visie om iets uitnemend te doen ken, verskaf aan hulle die hulpbronne om dit te doen. Soos John Nunyan gesê het: ‘Jy het nog nie vandag geleef as jy nog nie iets vir iemand wat jou nooit kan terugbetaal, gedoen het nie.’

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 27:57-66; Ps 60; Spr 22:7-11