Die Bybel help ons om versoeking te oorkom (3)

2025-09-13
1 Korintiërs 10:13 NLV

Volgens Jesus word wellus deur versoeking voorafgegaan en kan dit tot sonde lei (sien Matteus 5:27-28). Die goeie nuus oor die hantering van versoekings is dat jy egter nie alleen is nie. God se Woord sê vir ons: ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (vers 13 NLV).

In die lig van hierdie Skrifgedeelte hou die verskoning van: ‘Ek kon myself nie help nie,’ geen water by God nie. Die Bybel sê dat geen versoeking groter as God se getrouheid is nie. As jy die uitkoms wat Hy bied, kies, sal jy nie in die strik trap nie. As jy misluk, sal dit wees omdat jy nie op God se getrouheid staat gemaak het nie. Die versoeking sal dalk nie dadelik verdwyn nie, maar jy sal ‘n manier vind om dit te weerstaan. Die versoeking bly ‘n aktiewe moontlikheid, maar God gee ons die opsie om op sy betroubare, verlossende krag te vertrou.

Om versoekings te weerstaan is ‘n voortdurende proses. Jy kan die stryd wen, maar die oorlog sal nooit ten volle eindig totdat die laaste skoot by die koms van Jesus gevuur word nie. Intussen: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (1 Petrus 5:8-9 NLV).

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Matt 25:31-40; Ps 19; Spr 21:3

Die Bybel help ons om versoeking te oorkom (2)

2025-09-12
Psalm 119:105 NLV

Die patriarg Job het gesê: ‘Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk en haar te begeer nie. (Job 31:1 AFR83). Job kon, net soos ons, nie sy omgewing en versoekings beheer nie. Tog kan ons ‘n waardevolle les uit Job se woorde leer. ‘n Verbond is ‘n belofte wat in goeder trou gemaak word met die doel om dit na te kom. Dit is ‘n geloofstap waaraan jy jou verbind voordat jy weet watter omstandighede jy sal teëkom, soortgelyk aan ‘n huweliksverbond. Die Bybel sê vir ons: ‘…die regverdige sal uit die geloof lewe’ (Romeine 1:17 AFR53).

Ons selfsugtige natuur stry teen die nakoming van God se gebooie; daarom gee die Heilige Gees wat in ons woon ons alles wat nodig is om sukses te behaal. As jy wag totdat jy sterk genoeg voel om jou verbond met God te eerbiedig, sal dit nooit gebeur nie. As jy dit egter deur geloof maak, deur jou eie swakheid te erken, sal die Heilige Gees die krag verskaf wat jy nodig het om dit na te kom! Sy verbond, wat in geloof gemaak is, het Job in staat gestel om te sê: ‘Ek het myself belowe dat ek nooit na ‘n jong meisie sal kyk om haar te begeer nie’ (Job 31:1 NLV).

Is dit dan nie beter om eerder nie ‘n verbond te sluit nie, as om een te maak en dit te verbreek nie? Nee, omdat al ons mislukkings deur Christus se bloed bedek word. ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Bekering bring vergifnis en ‘n nuwe begin mee!

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Matt 25:22-30; Ps 24; Spr 21:1-2

Die Bybel help ons om versoeking te oorkom (1)

2025-09-11
Hebreërs 4:12 NLV

Dit voel asof daar deesdae oral versoekings is. Ons jongmense word gebombardeer deur beelde wat standaarde van ordentlikheid en selfbeheersing verwar, verlei en afwater. ‘n Wyse en toegewyde tagtigjarige pastoor is gevra op watter ouderdom seksuele versoeking nie meer ‘n kwessie is nie. Sonder om te huiwer het hy geantwoord: ‘Dit moet iewers na tagtig wees!’ Die waarheid is, as jy asemhaal – is jy kwesbaar!

Dit eindig ook nie daar nie. Navorsing toon dat ‘n groeiende aantal vroue in die maklik toeganklike wêreld van verleidelike literatuur, flieks en video’s, verstrik raak. Wilskrag, internetfiltrering en persoonlike aanspreeklikheid is waardevol en kan help. Dit alleen sal egter nie bevryding teweegbring of genesing van die morele wonde wat deur die Vyand toegedien word, verskaf nie. Ons moet almal op ‘n paar Bybelverse wat ons beskerming bied, ag slaan.

Jesus het gesê: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:27-28 NLV). Die eerste stap is om te verstaan dat wellus vernietigend is en Skriftuurlik verbied word. Jesus praat nie hier van ‘n vinnige blik nie. Hy praat van ‘n verlangende kyk wat begeerte aanblaas en tot sonde lei. Dit impliseer ‘n proses, eerder as ‘n vlietende gedagte.

Dit is dus duidelik dat ‘n blik wat onregmatige passie opwek, ons wekroep moet wees om die Heilige Gees aan te roep om ons te help om sonde te weerstaan en in reinheid te wandel.

Sielskos: 2 Kor 5-8; Matt 25:14-21; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30

Rus en ontspanning is noodsaaklik

2025-09-10
Markus 6:31 NLV

Daar is ‘n goeie rede hoekom God ons opdrag gegee het om die Sabbat te onderhou – om te rus. As God na ses dae van kreatiewe aktiwiteit moes rus, hoeveel te meer moet ons nie! Jesus was ‘n groot voorstaander van rus. Hy het een keer sy dissipels op reis gestuur om die evangelie te gaan uitdra. Toe hulle terugkeer, vol energie en praatjies van al die ongelooflike wonderwerke wat plaasgevind het, sou mens dink Hy sou hulle verder uitstuur om die momentum te behou. Hy het dit egter nie gedoen nie.

‘Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe… en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per boot na ‘n stil plek vertrek…’ (verse 31-32 NLV).

Let op dat daar ‘voortdurend mense gekom en gegaan het.’ Klink dit soos jou normale dag waar jy skaars kans het om asem te skep? Jesus was bekommerd dat sy dissipels nie meer balans sou kon handhaaf nie. Jesus het nooit rondgejaag nie, dit het nooit gelyk of Hy deur die skare gepla of beheer word nie, Hy het sy prioriteite behou en altyd daarin geslaag om te voltooi wat Hy hom voorgeneem het om te doen. Jesus het geweet hoe belangrik rus en ontspanning vir sy dissipels se volgehoue effektiwiteit is. Dit vind egter nie sonder vasberadenheid en beplanning plaas nie.

Jy moet sulke tye net so belangrik as enige ander onderneming beskou. Bid die volgende: ‘Vader, help my om rus ‘n prioriteit in my lewe te maak. Help my om op te hou om my liggaam oneer aan te doen, hierdie tempel wat U aan my gegee het om my doel hier op aarde uit te voer.’

Sielskos: 2 Kor 1-4; Matt 25:1-13; Ps 78:56-64; Spr 20:25

Moenie aanneem dat jou kinders ‘okay’ is nie

2025-09-09
Lukas 2:44 DB

Die Bybel sê: ‘Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan. Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie. Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ‘n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek’ (verse 41-44 DB). Die verhaal het ‘n gelukkige einde, omdat Jesus se ouers Hom gekry het. Dit draai egter nie altyd so uit nie.

Moenie aanneem dat jou kinders ‘okay’ is nie. Hulle het deesdae toegang tot dwelms, gewere en pornografie via die internet, waar hulle ook ‘n pedofiel kan ontmoet. Dit moet jou bekommer. Jesus het gesê dat die Satan kom om ‘…te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Moenie hom naby jou gesin toelaat nie.

Nadat hy van demone bevry is, wou ‘n man saam met Jesus as een van sy dissipels reis. Jesus het egter gesê: ‘Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het’ (Lukas 8:39 NLV).

As jy tans op die pad van sukses is en jou gesin verwaarloos, draai om! Gaan terug na die mense wat die meeste saak maak. Wy jouself daaraan toe om slegs die reis te onderneem as dit hulle insluit. Bid saam met die Psalmdigter: ‘Ek wil my daaraan toewy om opreg te lewe… In my huis wil ek lewe met ‘n opregte hart’ (Psalm 101:2 NLV). Moenie aanneem dat jou kinders ‘okay’ is nie – maak seker dat hulle is.

Sielskos: Eseg 46-48; Matt 24:36-51; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24

Jou aanmoediging kan ‘n verskil maak

2025-09-08
1 Tessalonisense 5:11 NLV

By die 1996 Olimpiese Spele het almal van die gimnas, Kerri Strug, verwag om die goue medalje vir haar span te wen. Al wat sy moes doen, was om ‘n suksesvolle sprong te maak en Amerika sou die goud wen. Toe sy egter haar eerste sprong uitvoer, het sy haar enkel verstuit en kon skaars loop. Sy het geval en nie die telling behaal wat nodig was om te wen nie.

Terwyl sy op die mat gesit het met trane wat oor haar gesig stroom, het sy om twee redes gehuil. Eerstens was sy in pyn. Tweedens kon sy geen manier insien hoe sy die telling kon opmaak om te wen nie. Sy het egter nog ‘n kans gehad om haar sprong uit te voer. Sy wou tou opgooi, maar haar afrigter het op die kantlyn gestaan en gesê: ‘Jy kan dit doen, Kerri!’ Sy het weer hinkepink na die beginpunt geloop.

Ná die sprong het sy aan ‘n onderhoudvoerder verduidelik dat al wat sy kon doen om aan te hou, was om haar oë op haar afrigter te hou. Hy het haar daarvan weerhou om op die pyn in haar enkel te fokus. Sy het seergekry – sy het gehuil – maar haar afrigter het in haar geglo. Sy het krag wat sy self nie gehad het nie, uit sy aanmoediging geput. Selfs met die verstuite enkel het sy gehardloop en die sprong gedoen. Sy moes met een goeie enkel en een beseerde enkel die sprong en landing foutloos probeer doen. Sy het dit reggekry!

Met haar afrigter se aanmoediging wat haar orent gehou het, het sy die onmoontlike gedoen. Haar telling was hoog genoeg om vir die Amerikaanse span goud te wen. Jou aanmoediging kan die verskil maak.

Sielskos: Eseg 43-45; Matt 24:26-35; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21