Is jy deur die kerk seergemaak? (1)

2025-10-13
Matteus 16:18 NLV

Om deur ‘n ander Christen seergemaak te word, kan verwoestend wees, maar die kerk is vol van onvolmaakte mense wat dinge doen wat hulle nie moet nie. Soos C. S. Lewis gesê het: ‘God werk deur allerhande maniere met ons. Bowenal werk Hy deur ander met ons.’ Voor jy dus tou opgooi en wegloop, oorweeg hierdie voorstelle:

1) Erken hoe baie dit seermaak en begin die seer hanteer. Om weg te hardloop sal nie help nie. Nader die persoon wat jou seergemaak het met die veronderstelling om te versoen. Bespreek jou pyn met die doelwit om dit te laat gaan en aan te beweeg.

2) Vra: ‘Wat is my rol in hierdie situasie?’ As dit niks met jou te doen het nie, soos in die geval van ‘n vertroude leier wat moreel of wetlik gestruikel het, vra jouself af of jy idealistiese verwagtinge van hul menswees het. Het jy gedink dat hulle perfek is? Noudat jy besef dat hulle nie is nie, kan jy hulle vergewe?

3) Vra God wat om volgende te doen. Hy ken die harte van die mense wat betrokke is. Gee Hom tyd om te antwoord.

4) ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen’ (Spreuke 4:23 NLV). Kies om God te volg, selfs wanneer jou hart breek. Hy alleen kan motiewe en bedoelings oordeel en Hy is regverdig en redelik.

5) Indien jy steeds voel dat jy moet loop, beloof jouself en God dat jy op ‘n goeie voet sal gaan. Moenie kwaad wees nie en erken die goeie dinge, hoe klein dit ook al mag wees. Die belangrikste van alles is dat jy nie tou opgooi nie. Vind ‘n ander huis van aanbidding en wy jouself met ‘n oop hart daaraan toe.

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35

Hanteer mense wat stres veroorsaak

2025-10-12
Romeine 12:18 NLV

Dis soms onmoontlik om in vrede met sekere mense saam te leef. Die apostel Paulus het hierdie realiteit besef en in wese gesê: ‘Doen alles wat jy kan om in vrede met hulle te leef.’ Behalwe vir die verbondsverhouding wat jy met jou man of vrou het en jou verantwoordelikheid teenoor jou kinders sal jy, as jy wys is, jou ander verhoudings biddend evalueer en weet hoeveel tyd jy daarin moet belê.

Byvoorbeeld: Indien jy ‘n naby familielid het wat altyd argumenteer of negatief is, moenie jouself in ‘n posisie plaas waar jy op ‘n gereelde basis met hom/haar te doen moet kry nie. Feestye saam mag dalk genoeg wees! Dieselfde is waar van vriende. Diegene wat skinder, ander veroordeel, met jou kompeteer of snydende opmerkings maak moet jou selde beskikbaar vind – tensy die Here dit op jou hart druk om tyd met hulle te bestee en sy Woord met hulle te deel.

Daar word nie van jou verwag om tyd saam met mense wat jou vrede steel, deur te bring nie. Salomo het gesê: ‘Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie…’ (Spreuke 22:24 NLV). Paulus het gewaarsku: ‘…Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak… Vermy hulle’ (Romeine 16:17 NLV).

Wanneer jy in die geselskap van iemand is wat stres veroorsaak, vra jouself die volgende vrae af: ‘Sal geduld binne-in my groei as ek hierdie situasie verduur eerder as om te vertrek? Hoekom stres hierdie persoon se optrede my? Is dit omdat dit my eie gedrag weerspieël? Hoekom gaan ek voort om met hulle te kommunikeer?’ Bid die volgende: ‘Vader, ek het U nodig om my te help om te onderskei hoe om mense wat stres veroorsaak te hanteer, sodat u liefde voortdurend deur my kan skyn.’

Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18

Kommunikasie wat by die huis werk

2025-10-11
Efesiërs 4:15 NLV

Virginia Satir, ‘n terapeut, het vasgestel dat die meeste gesinne vyf style van kommunikasie het.

1) Sommige gesinslede is vredemakers. Hulle maak seker dat almal oor die weg kom en verminder stres deur te sê wat ander wil hoor en wat hulle minder ontstel.

2) Ander is blameerders: vingerwysers, foutvinders, gretig om te bewys dat hulle reg en jy verkeerd is. Wanneer jy dan die skuld aanvaar, regverdig en bemagtig jy hulle.

3) Satir beskryf ander familielede as super-redelik. Hul leuse is: ‘Stem altyd saam met wat ander mense sê en verberg jou ware gevoelens.’ Dit is hoe hulle keer dat hulle seerkry. Hulle praat nie uit hul hart uit nie en herlei die gesprek na ‘veilige’ onderwerpe.

4) Ander familielede kies ontoepaslikheid, wat die gesprek van ongemaklike en potensieel bedreigende onderwerpe weglei. Hulle praat net oor dinge wat nie met dit wat aangaan, verband hou nie.

5) Die laaste kommunikasiestyl is konsekwentheid. Konsekwente mense sê dinge soos dit is. Daar is geen verbloemde gevoelens, geen dubbelsinnige praatjies en geen voorgee nie. Wanneer hulle kwaad is, sê hulle hulle is kwaad. Hulle is geloofwaardig; jy kan hulle verstaan en glo. Geen onderwerpe hoef ontduik te word en geen vrae moet vermy word nie. Enigiets en alles kan bespreek word en almal se mening word gerespekteer.

Ralph Waldo Emerson het eenkeer gesê: ‘Niks verbaas mense soveel soos gesonde verstand en ‘n reguit handelswyse nie.’ Dit is ‘n skriftuurlike, waarheidsgebaseerde kommunikasiestyl wat werk.

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28

Genade – wanneer jy dit die nodigste het

2025-10-10
Hebreërs 4:16 NLV

Corrie ten Boom en haar familie het gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie Jode weggesteek, sodat die Nazis hulle nie kon opspoor nie. Uiteindelik is hulle uitgevang en na ‘n konsentrasiekamp gestuur waar sy allerhande gruweldade, insluitend die dood van haar pa en suster, ervaar het. Sy het egter nooit bitter geword nie. Sy het selfs die man wat haar familie vermoor het, vergewe.

Iemand het haar gevra hoe sy daardie donker dae kon verduur en steeds liefdevol, vergewensgesind en vriendelik kon bly. Sy het geantwoord met ‘n verhaal van hoe haar pa haar, toe sy ‘n klein dogtertjie was, op treinritte regoor Europa geneem het. Hy sou altyd ‘n paar weke voor die tyd hulle kaartjies koop, maar nooit die kaartjie vir haar gee voordat dit tyd was om te vertrek nie. Hy het dit gedoen omdat sy ‘n klein dogtertjie was en hy nie wou hê dat sy die kaartjie moet verloor of by die huis los nie. Wanneer haar pa egter die ligte van die trein die stasie sien binnekom het, het hy haar die kaartjie gegee en hulle het saam op die trein geklim.

Corrie het gesê: ‘Die rede waarom jy nie kan begryp hoe ek die persoon wat my gesin vermoor het kon vergewe nie, hoe ek nie met bitterheid vervul kon word nie, is omdat net soos my pa en ons treinkaartjies, God ons nie die genade gee wat ons nodig het totdat ons op die punt is om aan boord te gaan nie. As jy egter ooit deur iets gaan soos ek deurgemaak het, kan ek jou verseker dat God se genade daar sal wees om jou te help om deur die donker valleie met jou kop steeds omhoog en jou hart gevul met liefde, te kom.’

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21

Sien jouself deur God se oë (2)

2025-10-09
Kolossense 2:10 KAB23

Een Christelike skrywer sê: ‘Wat sal gebeur as jy oral waar jy gaan, dieselfde persoon, waarvan jy nie hou nie, raakloop? Jy woon ‘n partytjie by en moet haar sêgoed en aanhoudende opinies verduur. Jy gaan kerk toe en sy sit reg langs jou. Sy is by die etenstafel – sy is oral! Dit klink nogal aaklig, maar dit is die presiese situasie waarin jy jouself bevind as jy nie van jouself hou nie, want jy is oral waar jy gaan. Jy kan nie vir ‘n sekonde van jouself wegkom nie, dus is dit ‘n hartseer lewe wanneer jy jou eie geselskap vrees.

Al maak dit geen sin om so te lewe nie, hou die meeste mense nie van hulself nie. Ek is verbaas oor hoe min mense werklik in vrede met hulself leef. In plaas daarvan verklaar hulle oorlog teen hulself. God wil hê dat jy jouself moet liefhê, nie op ‘n verkeerde, selfsugtige of trotse manier nie, maar op ‘n gesonde manier met die besef hoe spesiaal jy vir Hom is. As jy jouself begin sien soos God jou sien, sal jy nie net jouself liefhê nie, maar jy sal die selfvertroue en geloof hê om ‘n uitsonderlike krag ten goede in die wêreld te wees.’

Iemand het een keer gesê net omdat niemand besef watter goudmyn jy is nie, beteken dit nie dat jy minder helder skyn of dit jou keer om jou beste te wees nie. Net omdat niemand tans jou lewe deel nie, beteken dit nie dat daardie dag nie gaan aanbreek nie. Hou aan skyn, hou aan hardloop, hou aan hoop, hou aan bid… hou aan om presies te wees wie jy is.

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18

Sien jouself deur God se oë (1)

2025-10-08
Efesiërs 2:10 NLV

As jy enigiets aan jouself kon verander, wat sou dit wees? Die meeste van ons kan ‘n lang lys opnoem! Slegs Jesus is egter volmaak. In die woorde van Jennifer Dukes Lee: ‘Totdat jy nie van God se ongelooflike liefde oortuig is nie, sal jy aanhou om ‘n plaasvervanger vir hierdie liefde te soek. Dit maak nie saak waar jy woon of werk nie, die vyand sluip soos ‘n leeu rond en bekruip mense. Ons is in ‘n kragmeting met Satan vasgevang, wat elke geleentheid sal gebruik om in ons ore te fluister: ‘Wat dink mense van jou?’ Hy sal vir jou vertel dat jy te vet, te onversorg, te dom en te arm is. Hy sal alles in sy vermoë doen om jou aandag op die dinge van hierdie wêreld, in plaas van op Christus, te vestig.’

Moenie sy leuens glo nie. Jesus het gesê: ‘Die duiwel… praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie…’ (Johannes 8:44 ABA).

Een Christelike skrywer som dit as volg op: ‘Ontevredenheid is een van die groot reuse wat ons moet oorwin as ons ooit die lewe wil geniet. Ons het dalk nie alles wat ons graag wil hê nie, maar ons het beslis meer as ander mense. Maak nie saak hoe jy dink jy lyk nie, daar is iemand wat graag soos jy wil lyk. Maak nie saak hoe oud jy is nie, daar is iemand wat graag so jonk soos jy wil wees. Wees lief vir jouself en wees lief vir jou lewe; dis die enigste een wat jy het.’

Die waarheid is dat jy die enigste een van jou is wat God gemaak het – daarna het Hy die gietvorm gebreek!

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14