God se antwoord op angs (2)

2025-10-19
Matteus 11:28 NLV

Angsversteurings is een van die algemeenste geestesiektes. Dit was egter nooit deel van God se plan nie. Jesus het gesê: ‘Kom na My toe, almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry’ (Matteus 11:28-29 NLV).

Wanneer osse langs mekaar in die lande werk, word hulle met ‘n juk saamgespan en deel die werkslading. Dis wat Jesus wil hê jy moet doen: om saam met Hom te werk. Kan jy aan enigiemand beter dink om jou lading mee te deel? Dit laat mens wonder hoekom ons so lank wag om sy aanbod te aanvaar!

Hy gaan dan verder deur te sê: ‘En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie… julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Hy sal daagliks vir julle alles gee wat julle nodig het, as julle die koningsheerskappy van God julle primêre belang maak’ (Lukas 12:29-31 NLV). Jesus gee ons die perfekte perspektief op die lewe. Jy kan nie een dag by jou lewe voeg deur jou te bekommer nie, maar jy kan dit definitief deur stres en angs verkort.

Dink daaroor: Die voëls sit nie in die bome en bekommer hulself oor wat hulle môre gaan eet nie. Nee, hulle sing sonder enige sorge. Die lelies bekommer hulself nie oor hoe hulle gaan groei en of hulle genoeg reën gaan kry om te oorleef nie. God se hele skepping, behalwe die mens, het geen sorge in die wêreld nie. Aangesien jou hemelse Vader selfs meer vir sy mense omgee, kan jy seker wees dat Hy vir jou sal sorg.

Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12

God se antwoord op angs (1)

2025-10-18
Filippense 4:6 NLV

Angs is die vloek van die moderne era, maar dis nie ‘n nuwe neiging nie. Jesus praat in die Skrif gereeld oor angs, stres en vrees. Hy sê in Matteus 6:25-27 (NVL): ‘…hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is om te lewe nie baie kosbaarder as kos nie? En is ‘n mens se liggaam nie baie kosbaarder as klere nie? Hou die voëls in die lug dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie… Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? Vanselfsprekend nie!’

Jesus het nie hierdie woorde gesê net om ons vrese en bekommernisse te verlig nie. Hy het ons beveel om nie angstig te wees nie, want dit toon ‘n gebrek aan geloof in God se getrouheid aan ons. Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit sal dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).

In plaas daarvan om toe te laat dat vrees en angs jou beheer, kan jy vrede ontvang deur jou bekommernisse in gebed na God te bring, Hom deur geloof te dank vir die antwoord en Hom te vertrou om dinge uit te werk. Wat gaan jy dus doen? Jou bekommer en kwel, of bid en vrede ontvang? Die keuse is joune.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 5:31-47; Ps 126; Spr 24:10

‘n Nuwe begin

2025-10-17
Jesaja 55:7 NLV

Die D575A is die grootste stootskraper in die wêreld. Dis 5 meter lank, 7,6 meter breed, 12,5 meter hoog en weeg meer as 100000 kilogram. Dit is een keer in ‘n land waar daar ‘n oormaat vullis was wat die omgewing besoedel het, gebruik. Die stootskraper is ingevoer om ‘n gat groot genoeg te grawe om al daardie vullis bymekaar te maak, dit te begrawe en uit die inwoners se lewens te verwyder.

God het by die kruis ‘n gat groot genoeg gegrawe om die sondes van die hele wêreld, in die verlede, hede en toekoms, bymekaar te maak en op sy Seun geplaas. Hy neem al sy Seun se sondelose volmaaktheid en geregtigheid en plaas dit op jou die oomblik wat jy jou vertroue in Hom plaas. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV.

Jy sê: ‘Maar ek het so erg misluk.’ ‘n Vuil diamant is steeds ‘n diamant; dit moet net skoongemaak word. Dis wat die bloed van Jesus vir ons doen (sien 1 Johannes 1:7). Die wonderlike van ‘n elektroniese sakrekenaar is dat wanneer jy ‘n verkeerde knoppie druk, alles nie verlore is nie. Jy hoef nie die probleem te ontknoop of op te los nie. Deur eenvoudig op ‘clear’ te druk, kan jy die berekening weer begin.

‘Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe!’ (Jesaja 55:7 NLV). God staan gereed om jou te vergewe, jou te herstel en vir jou ‘n nuwe begin te gee.

Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9

Voel jy die hitte?

2025-10-16
Jesaja 48:10 NLV

C.S. Lewis het gesê: ‘God fluister vir ons in ons plesier, praat in ons gewete, maar skree in ons pyn; dit is sy megafoon om ‘n dowe wêreld wakker te maak.’ Dit was in die smeltkroes van lyding wat die Psalmdigter Dawid gesê het: ‘Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie. Voor ek gely het, het ek afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord. U is goed en doen net wat goed is…’ (Psalm 119:66-68 NLV).

Jy kom egter nie op die plek van oorgawe maklik of oornag nie. Dit neem tyd, ‘n bietjie geskop en geskree en ‘n paar remmerke op die plaveisel waar jy weerstand gebied het! God het vir Jesaja gesê om te profeteer: ‘Ek het julle gelouter… Ek het julle gelouter in die smeltkroes van lyding… Ter wille van Myself…’ (Jesaja 48:10-11 NLV). Lyding is ‘n eensame ervaring; dis nie iets wat jy sal kies nie.

Die digter Ella Wheeler Wilcox herinner ons: ‘There is room in the halls of pleasure for a large and lordly train, but one by one we must all file on through the narrow aisles of pain.’ Nietemin sê die Bybel: ‘Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Trap in sý spore’ (1 Petrus 2:21 NLV).

Daar is nie ‘n maklike manier om soos Jesus te word nie; dit verg ongemak en pyn. Die goeie nuus is egter dat jy nie alleen in die vuur is nie. God weet presies hoeveel hitte nodig is om jou tot by die plek te bring waar jy kan sê: ‘U is goed en doen net wat goed is.’ Jy mag dalk nog nie by daardie plek wees nie, maar jy beweeg nader daaraan.

Sielskos: Hab 1-3; Joh 5:1-15; Ps 15; Spr 24:7

God se voetspore

2025-10-15
Psalm 77:20 NLV

Die Psalmdigter het geskryf: ‘U pad loop deur die see, u weg was deur magtige waters, maar u spoor kon niemand sien nie’ (vers 20 NLV). Wanneer jy nie God se ‘voetspore’ kan sien nie, roep Hy jou om deur geloof en nie deur sig nie, te loop (sien 2 Korintiërs 5:7).

Joni Eareckson Tada het geskryf: ‘Oor ‘n paar maande van nou af sal ek ‘n herdenking vier wat ‘n hartverskeurende verhaal van verlies en ‘n onvergelykbare getuienis van God se getrouheid weerspieël. Op daardie herdenking sal ek al vir 47 jaar in ‘n rolstoel wees – skaars ‘n hartklop in die geskiedenis en niks in vergelyking met die ewigheid nie. Vir ‘n vlees-en-bloed, aardbewoner is 47 jaar egter ‘n lang tyd. Enigiemand wat ly wil die versekering hê dat dinge op die een of ander manier op die ou einde sal uitwerk.

In Romeine 8 vind ons die versekering: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (vers 28 NLV). God is so oppermagtig in beheer van die wêreld dat alles wat ons lewens raak, so georden is dat dit vir ons beswil is. Dit is waar of ons kanker, gebroke verhoudings, werksverlies, bankrotskap of selfs ‘n gebreekte nek op die ouderdom van 17, in die gesig staar.

Die hoop van die gelowige is nie dat ons nie ‘slegte dinge’ sal oorkom nie, maar dat God ons swaarkry in ‘n instrument van sy barmhartigheid ten goede van ons, sal omskep. Ons lyding is min en kort in vergelyking met die heerlikheid wat in die hemel vir ons wag. Verduur dus die hartseer en swaarkry ‘n bietjie langer. Hierdie dinge verbreed jou siel se kapasiteit vir vreugde, aanbidding en diens in die hemel.’

Sielskos: Nahum 1-3; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6

Is jy deur die kerk seergemaak? (2)

2025-10-14
Matteus 16:18 NLV

Die skrywer Sherry Surrat sê dat toe Jesus beloof het om sy kerk te bou: ‘… het Hy nie net van die bakstene of hout waaruit ‘n gebou bestaan, gepraat nie. Hy het gepraat van hoe Hy sy kerk uit gewone mense wat gebroke is bou en hulle deurmekaar lewens elke keer as hulle deur die deur stap, saambring. Dit is waarvoor Christus gesterf het. Hy het gesterf vir mense – vir sy kerk. Sy kerk is ‘n groep mense wat deur ander mense gelei word en nie een van ons is perfek nie. Ons is ‘n gebroke klomp wat hopelik ons eie gebrokenheid raaksien en erken dat Jesus die enigste geneesmiddel is.

Dit maak nie saak hoe lank ons al in die kerk is nie, ons bereik nooit volmaaktheid nie. Ons moet elke dag daaraan werk. Ons stamp mekaar en maak mekaar seer. Ons neig om dit wat ons seermaak te vermy. Wanneer ons dus met skinderpraatjies oor ons te doen kry, of haat of huigelary onder ons medekerkgangers of selfs by ons predikante sien, is dit natuurlik om te oorweeg om weg te stap. Wanneer ons dit egter doen, verlaat ons iets wat God vir ons eie beswil gebou het.

Die Bybel sê nooit dat ander mense ons nie sal seermaak nie. Wat dit ons wel leer, is dat dit nie sal help om met ons seerkry te sit en jammer vir onsself te voel nie (sien Matteus 5:24). God se Woord waarsku ons om nie toe te laat dat bitterheid posvat nie (sien Hebreërs 12:15). Dit beteken nie dat ons moet sit en voorgee dat niks gebeur het nie. Ons moet egter eerlik wees deur te erken wanneer ons gees verpletter is en om die wraak aan God oor te laat.’

Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4