Wees wys, gebruik jou oorleg

2025-10-25
Spreuke 14:8 DB

Salomo skryf: ‘Iemand is wys wanneer hy die lewe wil verstaan…’ ‘Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom en vermy dit. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor’ (Spreuke 22:3 NLV). ‘Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom’ (Spreuke 21:5 DB). Die besluite wat jy in die verlede geneem het, bepaal waar jy vandag is. As jy jou toekoms wil verander, moet jy leer om beter besluite te maak. Laat die volgende tien beginsels jou lei:

1) Moet nooit permanente besluite volgens tydelike omstandighede maak nie. Wanneer omstandighede verander, mag jy dalk spyt wees.

2) Moenie toelaat dat jou emosies jou blind vir rede maak nie. Bid, weeg dinge versigtig op en baseer jou besluite op volwasse oordeel.

3) Omring jouself met wyse mense en put krag uit hulle gawes, sonder om deur hul kundigheid geïntimideer te word.

4) Neem tyd om al jou opsies te oorweeg. Wat vandag goed lyk, mag dalk nie meer môre so goed lyk nie.

5) Jy kan nie op elke front suksesvol veg nie, kies dus jou oorloë versigtig. Sekere dinge is nie werd om oor te baklei nie.

6) Neem tyd om al die feite te kry; anders kan jy dalk in die moeilikheid beland.

7) Oorweeg die gevolge van elke aksie. Vra jouself: ‘Is ek gereed om hierdie nou te hanteer?’

8) Maak seker dat jou verwagtinge nie jou potensiaal of jou hulpbronne oorskry nie. Fokus op die gawes wat God vir jou gegee het, want dis waar jy sukses sal behaal.

9) Tyd is jou waardevolste bate; gebruik dit slim.

10) Moet nooit tou opgooi nie. Wees gewillig om foute te maak, daaruit te leer en so dikwels as wat nodig is, oor te begin om sukses te behaal.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 7:14-24; Ps 104:19-26; Spr 24:28

Skinderstories!

2025-10-24
Psalm 141:3 NLV

As jy geneig is om te skinder, lees die volgende met aandag: ‘Ek vermink sonder om dood te maak. Ek breek harte en verwoes lewens. Ek is slinks en kwaadwillig. Hoe meer ek aangehaal word, hoe meer word ek geglo. Ek floreer op elke vlak van die samelewing. My slagoffers is hulpeloos; hulle kan hulself nie teen my beskerm nie, want ek het geen naam en gesig nie. Dis onmoontlik om my op te spoor. Hoe harder jy probeer, hoe meer ontwykend word ek. Ek is niemand se vriend nie. Sodra ek ‘n reputasie aantas, is dit nooit weer dieselfde nie. Ek kelder regerings, verwoes huwelike en laat onskuldige mense huil. Wie is ek? My naam is skinderstories!’

Salomo het gesê: ‘Skinderstories is so soet soos lekkers. Jy sluk dit maklik, en dit sink tot diep in jou gemoed’ (Spreuke 18:8 NLV). Ons moet noukeurig oplet wat Jesus oor die sonde van skinder sê: ‘Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê. Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word’ (Matteus 12:36-37 NLV).

Eendag sal ons voor God staan om geoordeel en beloon te word. Openbaring 20:12 (NLV) sê: ‘…Daarna is die boekrolle oopgemaak…’ Daar gaan dus verskeie boekrolle wees. Kan een van hulle dalk die ‘boekrol van woorde’ wees? As jy glo dat dit moontlik is, sal jy nie iemand anders se hart breek deur hulle geheime oor te vertel, hulle vertroue te skend, hulle goeie naam skade aan te doen of hulle selfbeeld met bespotting en skimpe te ondermyn nie. Dawid het gebid: ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê.’ Dis ‘n gebed wat elkeen van ons op ‘n gereelde basis moet bid.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27

Die ‘skaduwee’ kan jou nie seermaak nie

2025-10-23
Psalm 23:4 AFR53

‘n Pastoor skryf: “Die groot prediker, dr Donald Grey Barnhouse, wie se eerste vrou gesterf het, was saam met sy kinders op pad huis toe na haar begrafnis. Een van die kinders het gesê: ‘Pappa, waar is mamma heen? Ek verstaan nie wat dit beteken dat sy dood is nie.’ Net toe kom ‘n vragmotor verby en gooi ‘n skaduwee oor hulle motor. Dr Barnhouse het geantwoord: ‘Kinders, sou julle liewer deur die trok getref word of deur die trok se skaduwee getref word? Wanneer julle sonder Christus sterf, word julle deur die trok getref. Wanneer mens egter saam met Christus sterf, word jy net deur die skaduwee getref.'”

Paulus skryf: ‘…ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ‘n toekomsvooruitsig nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God dié mense wat gesterf het terwyl hulle in Jesus glo, saam met Jesus sal terugbring. Wat ons nou vir julle gaan sê, is ‘n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ‘n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ‘n bevel gee wat soos ‘n trompet van God klink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees…’ (1 Tessalonisense 4:13-18 NLV).

Sielskos: Esra 6-8; Joh 6:52-71; Ps 114; Spr 24:23-25

Raad vir die skoonfamilie

2025-10-22
Genesis 2:24 NLV

Eight Ways In-laws Can Break Up a Marriage bied voorbeelde wat elke skoonfamilie moet laat stilstaan en dink:

‘1) Wanneer jou kind besluit om te trou, wees vyandig teenoor die persoon wat hulle gekies het. Dit beteken immers dat jou kind minder lief is vir jou en dus het jy die reg om ‘n wrok te koester.

2) Verwag dat hulle naweke en vakansies saam met jou moet deurbring en laat weet hulle dat jou gevoelens seergemaak is indien hulle dit nie doen nie.

3) Wanneer hulle probleme met hul maat ondervind, moedig hulle aan om terug huis toe te kom. Wanneer hulle dit doen, luister na hulle klagtes en wys enige ander tekortkominge wat hulle dalk vergeet het, ook uit. Onthou, druppel na druppel kan die rots laat wegslyt.

4) As hulle finansiële probleme het, red hulle daaruit. Bedel, leen of steel om hulle te help, maar laat weet hulle dat jy nooit sal toelaat dat hulle met minder moet klaarkom nie.

5) As hulle ‘n drank- of dwelmprobleem het, sê vir hulle dat hul maat hulle daartoe gedryf het. Almal het immers iemand nodig om te blameer.

6) As hulle die geleentheid kry om vir ‘n bevordering by die werk na ‘n ander dorp te trek, herinner hulle daaraan dat ‘familie’ belangriker as geld is en dat God hulle sal straf omdat hulle nie hulle ouers eer nie.

7) As daar kleinkinders betrokke is, bederf hulle. Wanneer die ouers beswaar maak, sê vir hulle om hulle neuse uit jou sake te hou, dis waarvoor kleinkinders daar is.

8) Wanneer jou kind ‘n argument met hul maat het, blaas die vlamme aan. Lojaliteit teenoor ‘n mens se gesin is ‘n wonderlike ding; met ‘n bietjie werk kan jy ‘n klein argument in ‘n grote verander en so ‘n huwelik opbreek.’

Sielskos: Esra 3-5; Joh 6:35-51; Ps 127; Spr 24:19-22

God se antwoord op angs (4)

2025-10-21
Jesaja 26:3 NLV

Dr D. James Kennedy het geskryf: “‘n Gepaste grafskrif vir die meeste mense deesdae sou ‘Hurried, worried and buried’ wees. Ons wens dikwels dat ons van al ons verantwoordelikhede en bekommernisse kan wegstap. Die uitvoerende hoof van een klein maatskappy wat op pad was om bankrot te speel, het besluit om juis dit te doen. Hy het sy maatskappy se vise-president ingeroep en gesê: ‘Ek is nou keelvol daarvoor om my oor hierdie maatskappy te bekommer. As jy my pos oorneem en al my bekommernisse namens my hanteer, sal ek vir jou ‘n salarisverhoging van R50,000 gee.’ Verbaas en verbysterd deur hierdie ruim aanbod (en met kennis van die benarde finansiële toestand waarin die maatskappy verkeer), het die vise-president gevra: ‘Maar waar gaan jy ‘n ekstra R50,000 kry?’ Die baas het geantwoord: ‘Dis jou eerste bekommernis!’

William Gladstone, Eerste Minister van Engeland, was ‘n Christen wat die Here gedien het. Op die muur van sy slaapkamer het ‘n portret gehang met die volgende teks daarop geborduur: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Dit was die eerste ding wat Gladstone gesien het wanneer hy in die oggend wakker word en die laaste ding wat hy gesien het voor hy gaan slaap het. Dit is die geheim tot vrede!

Ons kan ook hierdie vrede hê, want ons weet dat die Een op wie ons ons gedagtes gevestig het, die Een is wat alles ten goede vir ons laat saamwerk. Steel die woeste tempo van die moderne lewe jou vrede? Indien dit die geval is, kom tot stilstand en fokus weer op die Here. Besef dat Hy by jou is en dat Hy in beheer is, maak nie saak wat oor jou pad kom nie. Hou jou gedagtes op Hom en laat Hom jou sy vrede gee.”

Sielskos: Esra 1-2; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18

God se antwoord op angs (3)

2025-10-20
Spreuke 15:15 NLV

Een Christelike skrywer sê: ‘Ek het eenkeer deur ‘n tydperk gegaan waar ek deur angs geteister was. Ek was vir geen spesifieke rede nie met vrees vervul. Ek het heeltyd gevoel of iets verskrikliks gaan gebeur. Uiteindelik het ek na die Here gegaan en Hom gevra wat my kwel. ‘n Rukkie later het ek Spreuke 15:15 (NLV) raakgeloop: ‘Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ‘n fees.’

Ek was net soos soveel ander mense. Ek was op soek na een of ander groot probleem wat my daarvan weerhou het om die lewe te geniet. Ek het alles so intens ervaar; ek het vir myself probleme geskep waar daar nie werklik probleme bestaan het nie.

Een keer in ‘n vergadering het die Here vir my gesê om iets te sê. Blykbaar moes iemand anders dit ook hoor: ‘Hou op om ‘n groot ding uit niks te maak nie.’ Ek was vroeër die tipe mens wat sulke raad moes hoor. Ek kon berge van molshope maak. Ek moes leer om sommige dinge net te laat gaan – dit te vergeet en met my lewe aan te gaan. Sommige van ons raak ontsteld oor dinge wat eenvoudig nie die moeite werd is om oor ontsteld te raak nie – daardie ‘…klein jakkalsies wat die wingerde verniel…’ (Hooglied 2:15 NLV). As ons lewens daaruit bestaan om oor die een dingetjie na die ander ontsteld te raak, sal ons nie veel vrede of vreugde hê nie.’

Die woord vir jou vandag is dus – kweek ‘n gelukkige hart en begin om die lewe wat God vir jou gegee het, te geniet!

Sielskos: Sef 1-3; Joh 6:1-24; Ps 85; Spr 24:11-14