Die Bybel en jou beleggings (3)

2025-10-31
Spreuke 15:6 NLV

Om jou vrees vir beleggings te oorkom, moet jy die volgende drie dinge doen:

1) Raak vaardig. Voordat jy begin belê, moet jy die taal en nuanses van die aandelemark, vaste eiendom, gesamentlike beleggingsfondse en ander transaksies aanleer. Daar is ‘n magdom inligting op die internet beskikbaar. Ja, jou spaarrekeninge en geldmarkrekeninge is goeie maniere om jou geld te beskerm terwyl jy ‘n bietjie rente verdien. As jy egter ‘n hoër opbrengs wil ontvang, moet jy ‘n mate van risiko neem. Hoe hoër die risiko, hoe hoër die opbrengs.

2) Kry raad. ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV). ‘n Goeie finansiële konsultant sal jou help om ‘n plan volgens jou ouderdom, toleransie vir risiko’s en beleggingsdoelwitte daar te stel. Praat met vriende en familie wat beleggings gemaak het; leer uit hul ervarings. Maak ook seker dat jy die Heilige Gees se leiding soek. Hy word die ‘Raadgewer’ genoem, omdat Hy jou in elke area van jou lewe kan lei (sien Johannes 14:26).

3) Begin beweeg. Tyd is geld. Jy kan bankrot speel terwyl jy vir groot dinge soos jou kinders se universiteitsopleiding of jou aftrede probeer spaar, as jy nie voordeel uit die hoë opbrengste wat die aandelemark en ander beleggings oor ‘n lang tydperk bied, trek nie.

Maak ook seker om op God se Woord te staan en Hom te vertrou: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). Solank as wat jou beweegrede is om God se wil te doen en ander mense te seën, kan jy vir God vra om jou met sukses te seën, en Hy sal.

Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34

Die Bybel en jou beleggings (2)

2025-10-30
Spreuke 21:20 NLV

Die Bybel leer ons twee dinge om finansieel vooruit te beweeg. 1) Jy moet wys wees wanneer jy belê. Wanneer iemand vir jou ‘n opbrengs op jou belegging beloof wat te goed klink om waar te wees – is dit gewoonlik! 2) Moenie net vir geld werk nie; laat jou geld vir jou werk. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (vers 20 NLV).

Daar is meer as een manier waarop jy jou geld kan verkwis. As inflasie jaarliks 3 persent beloop, maar die rente op jou spaargeld verdien net 1 persent, verloor jy 2 persent van jou koopkrag. Job het gesê: ‘Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom. Dit waarvoor ek bang is, het nou met my gebeur. Ek ken geen rus en vrede nie. Daar is vir my geen blaaskans meer nie, net moeilikheid’ (Job 3:25-26 NLV).

As dit is hoe jy oor beleggings voel, lees die volgende: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys… Jou pad sal veilig wees. Jy sal nie struikel nie. Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees… Jy hoef nie bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie. Die rampe vir slegte mense bedoel, sal nie oor jou kom nie. Die Here is jou beskermer. Hy sal sorg dat jy nie in ‘n strik trap nie’ (Spreuke 3:5-6, 23-26 NLV).

Nie net wil God aan jou behoeftes voldoen nie, Hy wil aan die behoeftes van ander mense deur jou voldoen. Vir dit om te gebeur, moet jy wyse beleggingstrategieë hê.

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12

Die Bybel en jou beleggings (1)

2025-10-29
Matteus 25:19 AFR83

Jesus het gesê: ‘Verder gaan [die koninkryk van die hemel] soos met ‘n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaar geroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ‘n ander twee, en vir ‘n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ‘n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het ‘n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het ‘n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra’ (verse 14-19 AFR83).

Hoe het hierdie verhaal geëindig? Wel, die twee mans wat hulle talente verdubbel het, het hul eienaar se hoogste lof ontvang: ‘…Mooi so!..’ (verse 21, 23 AFR83). Die slaaf wat egter risikosku was, is sleg en lui genoem (sien vers 26 AFR83). Sy eienaar het vir hom gesê: ‘Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word’ (verse 27-29 AFR83).

Wanneer die lewenskoste jaarliks gemiddeld met 2,5 persent styg, moet jou spaargeld minstens 2,5 persent jaarliks verdien, anders verloor jy geld eerder as om te verdien. Aangesien die Bybel vir ons sê om verstandig te belê, kan jy bid en vol vertroue wees dat God jou gesonde beleggingstrategieë sal gee.

Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 6; Spr 25:1-7

Bemoedig iemand vandag

2025-10-28
Jesaja 35:3-4 NLV

Elkeen van ons het bemoediging (ondersteuning wat selfvertroue en die wil om aan te gaan inspireer) nodig. Die woorde wat ons praat kan die mense rondom ons opbou of aftrek.

Rebecca Barolow Jordan skryf: ‘Een van die eerste vrae wat ek graag vir Jesus elke oggend wanneer ek wakker word vra, is: ‘Hoe kan ek iemand vandag bemoedig? En vir wie?’ Hy is altyd getrou om te antwoord, dikwels deur sy Woord. Een oggend nadat ek daardie vraag gevra het, het ek Jesaja 35:3-4 gelees en ‘n praktiese antwoord gekry. Eerstens, ‘versterk die moeë hande.’ Dit kan onderwysers, haarstiliste, mammas, skrywers, sendelinge, pastore en ouers insluit. Vervolgings word daar in die teks melding gemaak om diegene wat ‘swak knieë’ het, te bemoedig. Ek het grootouers en senior burgers, veterane en selfs atlete met slytasie aan hul lywe in my geestesoog gesien. Die laaste kategorie, die wat bang is, kan waarskynlik almal insluit. Hierdie mense het nodig om die woorde: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie,’ te hoor.

Ek sukkel nie om mense te vind om te bemoedig nie. Ek moet egter daaraan werk om te onthou om na Jesus se antwoorde te luister en daarop te reageer. Die wonderlike is dat ek gewoonlik die een is wat bemoedig word wanneer ek iemand anders probeer opbou. Vra Jesus om jou vandag te help om iemand te bemoedig. Nooi Hom om deur jou te praat en wees voorbereid op sy antwoorde.’

Paulus het gesê: ‘Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges’ (Galasiërs 6:10 NLV). Soos jy jou gedagtes met maniere om die geloof van ander mense te versterk vul, sal jy verstom wees oor hoe baie energie en seën jy in die proses ontvang.

Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 24:30-34

Wees lief vir en eer jou vrou

2025-10-27
Efesiërs 5:25 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n direkteur en sy vrou wat op reis was en gestop het om petrol in te gooi. Die direkteur het ingegaan om die winkel te besoek en toe hy weer uitkom, het hy gesien dat sy vrou met die petroljoggie staan en praat. Toe hy haar later daaroor uitvra, blyk dit dat sy vroeër in haar lewe met die petroljoggie uitgegaan het. Die direkteur het selfvoldaan gevoel en gesê: ‘Jy is seker bly dat jy met my, ‘n direkteur, en nie met ‘n petroljoggie getrou het nie.’ Sy het geantwoord: ‘Nee, ek dink as ek met hom getrou het, sou hy die direkteur en jy die petroljoggie gewees het.’

Voor God vir Eva geskep en haar na Adam gebring het, het Hy gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help’ (Genesis 2:18 NLV). Stop en dink oor die verskeie maniere waarop jou vrou jou aanvul en jou help. Jy sê: ‘My vrou weet reeds dat ek haar liefhet.’ Miskien, maar sy hou tog daarvan om jou dit te hoor sê. Sê dit van tyd tot tyd met blomme.

Gee aandag aan die klein dingetjies wat sy doen om jou lewe beter te maak en komplimenteer haar daaroor. Wanneer sy praat, gee haar 100 persent van jou aandag en laat haar weet dat haar gedagtes en gevoelens vir jou saak maak. Gaan elke week op ‘n afspraak. Soos die jare plooie en ekstra ponde byvoeg, waardeer haar en die lewe wat julle saam opgebou het.

Paulus het ‘n baie hoë standaard vir mans gestel: ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV).

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Joh 7:25-44; Ps 104:27-35; Spr 24:29

Staan op en probeer weer

2025-10-26
Spreuke 24:16 NLV

Thomas Edison het duisende eksperimente met verskillende soorte materiale in sy soeke na ‘n filament wat hy in koolstofgloeilampe kon gebruik, gedoen. Soos elke filament misluk het, het hy dit by die venster uitgegooi, totdat sy hoop mislukkings uiteindelik tot by die tweede verdieping van sy huis gestrek het. Eers ongeveer dertien maande ná sy eerste mislukking, het hy daarin geslaag om ‘n filament te vind wat die spanning van elektriese stroom kon weerstaan.

Dit het as volg gebeur: Hy het nonchalant ‘n tikkie swartsel opgetel, dit met teer gemeng, dit in ‘n delikate draadjie gerol en besluit om ‘n filter van koolstof te gebruik. Hy het vyf uur aaneen gewerk om ‘n filament te maak, maar dit het in twee stukke gebreek voordat hy die vorm kon losmaak. Hy het twee spoele katoendraad opgebruik voordat hy ‘n perfekte filament ontwikkel het, net om dit te beskadig toe hy probeer om dit in die glasbuis te sit. Hy het twee dae en nagte wakker gebly voordat hy daarin kon slaag om een van die filamente in ‘n vakuum-verseëlde gloeilamp te sit. Toe hy die stroom aanskakel, het hy die gloed van elektriese lig waargeneem wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar.

‘n Mislukking beteken nie noodwendig die einde nie; dit kan beteken dat jy een tree nader aan die oorwinning wat jy begeer, is. As jou poging misluk, probeer weer. Oorweeg ‘n nuwe perspektief. Neem tyd om die idee te oordink. Maak aantekeninge. Moet nooit op die doelwitte en drome waarin jy glo, opgee nie. God is deur al die ompaaie en vertragings by jou (sien Hebreërs 13:5-6). Wanneer jy vasberadenheid jou vriend, geduld jou dienskneg en God jou vennoot maak – sal jy sukses behaal!

Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15-18; Matt 17:1-8; Hand 1:9-11