2025-11-18
Kolossense 3:15 NLV
Hoeveel vrede stel jy ten toon? Hoe reageer jy op struikelblokke by jou werkplek? Is jy altyd gespanne en besig om te kla? Is jou lessenaar netjies en georganiseerd, of staan daar stapels papiere orals rond? Wanorde kan geestelik ontstellend wees, stres veroorsaak en jou vrede steel. Wat van jou algehele gedrag? Vererg jy jou altyd oor kollegas se foute? Ontstel die klein dingetjies jou? Besef jy dat dit ‘n baie slegte getuienis is om nie vrede, wat ‘n vrug van die Gees is, uit te straal nie? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).
Wat van jou daaglikse pendel werk toe? Sit jy in die kar met die doel om ‘n vredevolle atmosfeer te behou, ongeag die omstandighede wat jy op die pad mag teëkom? Wanneer laas het jy vir ‘n slegte of onvriendelike bestuurder gebid? Speel jy kalmerende musiek? Die regte musiek kan ‘n uitstekende bron van vrede wees.
Toe koning Saul deur ‘n bose gees getreiter is, het sy amptenare vir hom gesê: ‘Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel’ (1 Samuel 16:16 NLV). Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle…’ (Johannes 14:27 NLV). Dit beteken dat waar jy ook al gaan, jy die vrede van God saam met jou kan neem.
Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9
2025-11-17
Spreuke 16:9 NLV
Wanneer jy na ‘n nuwe huis toe trek, reël jy ‘n datum vir die verhuisingsmaatskappy om te kom, jy skuif jou rekeninge na die nuwe adres toe en jy pak jou besittings in bokse gemerk slaapkamer, kombuis, badkamer, ensovoorts. Beplan soortgelyk vir die volgende fase van jou lewe. Hier is ‘n paar wenke om te volg sodat jy gereed kan wees vir watter deur God ook al oopmaak:
1) Stel ‘n plan vir finansiële onafhanklikheid op. Dit sluit versekering, pensioenfonds en boedelbeplanning in. Jou versekeringspolisse moet ook jou verband dek, vir ingeval jy ongesteld raak en nie meer kan werk nie.
2) Wees buigbaar. Nadat jy die eerste helfte van jou lewensreis gehardloop het, mag jy dalk besluit om van rigting te verander. Wat jy tans wil doen, mag dalk oor twintig jaar verander, of dit mag dalk anders wees as wat jy twintig jaar gelede wou doen. Die wonderlike aspek van die lewe is dat dit nie saak maak hoe oud jy is nie, jy kan altyd weer begin en geleenthede mag dalk in die toekoms ontstaan wat jy nie nou kan voorspel nie.
3) Bly op hoogte van tegnologie, wat ‘n groot deel van die moderne samelewing is. Diegene wat nie die nuutste tegnologie kan of wil gebruik nie, sal moeilik sukses behaal. Benewens tegnologie, is dit ook belangrik dat jy op hoogte van ontwikkelings in sakevaardighede; kommunikasie, onderhandeling en etiket bly. Dit alles is noodsaaklik om in ‘n veranderende wêreld sukses te behaal.
Salomo het geskryf: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming.” Die woord vir jou vandag is dus – berei vir die volgende fase voor.
Sielskos: 2 Kro 19-21; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6
2025-11-16
Jesaja 43:18-19 NLV
Dis tyd om weer in aanraking met wie jy regtig is en jou Godgegewe gawes te kom. Dit mag beteken dat jy dalk sekere dinge wat jy nie van jouself en jou huidige situasie hou nie, moet konfronteer. Om die proses te begin is die moeilikste deel. Een benadering om dit te doen is om jouself op te hou sien soos ander mense jou sien en jouself te begin sien soos God jou sien. Jou siening van jouself is een van die eerste dinge wat verdwyn wanneer die lewe moeilik raak, wanneer jy in siekte of skuld of ongelukkigheid vasgevang is. Kom dus weer in aanraking met daardie siening!
Wanneer jy ‘n diskonneksie tussen wie jy is en hoe jy tans leef sien, moet jy die blaam en selfbeskuldiging omdat jy die pad byster geraak het, laat vaar. Wanneer jy dit doen, sal jy begin agterkom dat dit wat binne jou is, nou ook buite jou is en in jou lewe begin wys. Neem een tree op ‘n slag.
Wanneer jy jouself sien soos God jou sien, kan jy jouself sien opstaan en sê: ‘Ek is hier en gereed om my gawes te gebruik om die lewe waarvoor ek bestem is, te leef!’ Dit plaas jou in ooreenstemming met God wat sê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie? Ek gaan ‘n pad maak deur die wildernis vir my volk om huis toe te kom. Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!’
Sielskos: Josua 1; Ps 27:11-14; 2 Kor 5:6-10
2025-11-15
Joël 3:10 NLV
Die Bybel sê nie: ‘Laat die swakkelinge hul vriende bel en hulle swakhede bespreek’ nie. Of: ‘Laat die swakkelinge oor hul swakhede praat’ nie. Of: ‘Laat die swakkelinge oor hul swakhede kla’ nie. Nee, dit sê basies: ‘Laat die swakkelinge die teenoorgestelde sê as wat hulle voel.’
In plaas daarvan om dus oor die manier wat jy is te praat, moet jy oor die manier wat jy graag wil wees, praat. Praat oor dit wat God se Woord sê jy kan wees, hê en ervaar. As jy elke oggend moeg en uitgeput opstaan, moet jy in plaas daarvan om daaroor te kerm, verklaar: ‘Ek is sterk in die Here. Dit is die dag wat die Here gemaak het, ek sal daaroor juig en bly wees’ (sien Psalm 118:24).
Wanneer jy dit doen, sal jy nie net hoe jy voel verander nie, jy sal ook jou houding verander. Jy sal nie die dag met ‘n moeë, oorwonne, slagoffermentaliteit begin nie. Jy sal ‘n oorwinnaarshouding hê, met ‘n wip in jou stap, ‘n glimlag op jou gesig en jou skouers vierkantig agtertoe. Wanneer God se Woord jou woorde word, sal dit jou gees ophef en jou help om jouself en jou situasies op ‘n heeltemal nuwe manier te sien.
Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:23 NLV). Sê dus elke dag in die spieël vir jouself: ‘Goeiemôre, jou geseënde, sterk, veilige, selfversekerde, hoogs begunstigde kind van God.’ Met ander woorde, spreek ‘lewe.’
Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3
2025-11-14
Spreuke 18:21 NLV
Maak seker dat jou woorde met God se Woord ooreenstem en proklameer dit oor jou lewe. Wat sê jy oor jou toekoms? Jou familie? Jou finansies? Jou gesondheid? Wanneer dit wat jy sê in lyn is met dit wat God sê, gee jy lewe aan jou geloof. Begin dus om te sê: ‘Ek kan alles deur Christus doen. Ek is geseënd. Ek is sterk. Ek is gesond.’ Wanneer jy so praat, spreek jy seën oor jou lewe uit.
In plaas daarvan om te kla en te sê: ‘Wel, wat het ek verwag? Ek wen nooit,’ moet jy eerder verklaar: ‘Ek besef dat wanneer een deur toegaan, God ‘n ander deur oopmaak. Wat veronderstel was om my kwaad aan te doen, sal God ten goede gebruik (sien Genesis 50:20). Ek sal beter hieruit kom as wat ek voorheen was’ (sien Romeine 8:28).
Wat jy oor jouself sê, is belangriker as wat enigiemand anders oor jou sê. Die woorde wat uit jou mond uit gaan, gaan direk in jou ore in en skep uiteindelik dieselfde beeld aan die binnekant. Begin dus God se Woord oor jou situasie spreek. Met ander woorde, spreek ‘lewe.’
Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28
2025-11-13
2 Korintiërs 4:8 NLV
Die Brooklyn-brug, wat Brooklyn met die eiland Manhattan verbind, is een van die bekendste brûe ter wêreld. Toe dit vir die eerste keer in 1867 bedink is, het brugboukundiges regoor die wêreld vir die ontwerper, ‘n kreatiewe ingenieur met die naam van John Roebling, gesê dat sy idee nie sou werk nie. Roebling het sy seun Washington, wat ook ‘n ingenieur was, oortuig dat sy idee meriete het. Hulle twee het ‘n konsep ontwikkel, die probleme opgelos wat ander voorspel het en entoesiasties ‘n span gehuur om die brug te bou.
Na slegs ‘n paar maande van bou, het ‘n tragiese ongeluk op die terrein John se lewe geneem en ‘n ander voorval het Washington later ernstig beseer, sodat hy nie meer kon praat of loop nie. Almal het gedink dat die projek laat vaar sou word, aangesien die Roeblings die enigstes was wat die dinamika van die brug geken en verstaan het. Washington kon egter nog dink en hy het ‘n brandende begeerte gehad om die voltooide brug te sien.
Terwyl hy in sy hospitaalbed gelê het, het hy ‘n idee gekry. Hy sou met die ingenieurs kommunikeer deur een vinger te gebruik om in kode op sy vrou se arm te tik wat hy wou hê sy vir hulle moes sê. Washington het sy instruksies vir dertien jaar lank op sy vrou se arm getik, totdat die brug voltooi is! Dít is ‘n oorwinnende gees.
Die apostel Paulus beskryf dit as volg: ‘Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie’ (verse 8-9 NLV). Hierdie woorde beskryf ‘n oorwinnende gees – die tipe gees wat God ook vir jou kan gee.
Sielskos: 2 Kro 8-11; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26