Eendag sal jy ten volle verstaan

2026-01-09
1 Korintiërs 13:12 NLV

Corrie ten Boom het die wêreld deurreis en haar ervarings gedeel. Wanneer sy met ‘n gehoor gepraat het, het sy dikwels afgekyk terwyl sy haar praatjie gelewer het. Dit het gelyk of sy haar notas raadpleeg, maar sy was eintlik besig om ‘n ontwerp te borduur. Wanneer sy haar verhaal oor die gruweldade wat sy onder die Nazi’s gely het, klaar vertel het, het sy die borduurwerk onthul waaraan sy gewerk het terwyl sy gepraat het.

Sy het eers die agterkant gewys, wat net ‘n warboel van gekleurde drade sonder ‘n duidelike patroon was. Dan het sy gesê: ‘Dis hoe ons ons lewens sien. Soms maak dit geen sin nie.’ Dan het sy die borduurwerk omgedraai om die voltooide kant te onthul en gesê: ‘Dis hoe God jou lewe sien, en eendag sal ons die voorreg hê om dit vanuit sy oogpunt te sien.’

Sy het haar praatjie dan afgesluit met hierdie gedig wat deur Grant Colfax Tullar, ‘n predikant, geskryf is: ‘My life is but a weaving between my Lord and me; I cannot choose the colours, He worketh steadily. Oft times He weaveth sorrow and I, in foolish pride, forget He sees the upper, and I the underside. Not till the loom is silent and the shuttles cease to fly, will God unroll the canvas and explain the reason why. The dark threads are as needful in the Weaver’s skillful hand, as the threads of gold and silver in the pattern He has planned.’

Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.’

Sielskos: Lev 15-17; Luk 2:1-7; Ps 46; Spr 1:32-33

Elke dag van jou lewe is ‘n geskenk

2026-01-08
Psalm 90:12 NLV

Die motiveringspreker Denis Waitley beskryf ‘n ervaring wat sy lewe vir ewig verander het. Hy moes ‘n vlug haal om ‘n motiveringspraatjie te gaan gee, maar was laat en het deur die lughaweterminaal gehardloop om die vlug te probeer haal. Net toe hy die hek bereik, het die agent die deur voor hom toegemaak. Denis het sy dilemma verduidelik, maar die agent wou nie die deur weer oopmaak nie.

Hy het woedend omgedraai en na die kaartjietoonbank gegaan om ‘n klagte in te dien en sy vlug te herskeduleer. Sy woede het toegeneem terwyl hy meer as twintig minute in ‘n ry wat skaars beweeg het, moes wag. Net voor hy sy beurt by die kaartjietoonbank sou kry, het ‘n aankondiging oor die interkom sy lewe verander. Die vlug wat hy misgeloop het, Vlug 191 van Chicago na Los Angeles, het neergestort kort nadat dit opgestyg het. Daar was nie enige oorlewendes op die vlug nie. Denis het nooit sy klagte ingedien nie. Hy het ook nooit sy kaartjie vir Vlug 191 wat hy nooit gebruik het nie, weggegooi nie. Hy het dit huis toe geneem en dit op ‘n kennisgewingbord in sy kantoor vasgeplak.

In die nasleep van daardie ervaring, het hy elke keer as hy geïrriteerd of ontsteld gevoel het, net na daardie kaartjie van Vlug 191 gekyk. Dit was ‘n onvergeetlike bewys dat die lewe ‘n geskenk is wat nie onderskat moet word nie. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80… Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie… Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom’ (verse 10, 12 NLV).

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 1:67-80; Ps 3; Spr 1:29-31

Drie stappe om depressie te oorkom

2026-01-07
1 Konings 19:4 NLV

Elia het so depressief geword dat hy wou doodgaan. Hier is die drievoudige voorskrif wat God vir hom gegee het om uit sy gat van depressie te klim:

1) Verfris jouself. ‘…’n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!’ Hy kyk op en dáár sien hy ‘n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ‘n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê’ (verse 5-6 NLV). Elia was uitgeput. Hy het pas vir ‘n lang tydperk gevas en sy liggaam was verswak. Voldoende rus en ‘n gebalanseerde dieet kan wondere vir jou lewe doen.

2) Fokus op God. Wanneer jy jou oë van God afneem en op jouself fokus, begin elke moeilikheid waarvoor jy te staan kom groter lyk as wat dit is. Jy begin om die Een wat elke probleem wat jy teëkom kan oplos, te ignoreer. God het vir Elia gesê: ‘Kom buitekant toe en gaan staan voor My op die berg…’ (vers 11 NLV). Een prediker merk op: ‘Wanneer God jou oor het, kan Hy daarin praat. Wanneer God jou hart het, kan Hy dit versorg.’

3) Gee aandag aan ander. God het vir Elia gesê: ‘…jy [moet] Gasael salf tot koning van Aram. Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa… salf om jou as my profeet op te volg’ (verse 15-16 NLV). Miskien moet jy iemand vind wat jy kan help en kan dien. Jy is nie die enigste een wat probleme het nie; daar is mense in erger situasies as jy. As jy wil sien hoe die waas van depressie verdwyn, hou op om na binne te kyk en begin na buite te kyk.

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 1:57-66; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28

Die groot ruiltransaksie

2026-01-06
1 Petrus 3:18 NLV

‘n Verkoopsdame het elke dag op pad werk toe verby ‘n spesifieke hoek geloop. Vir meer as ‘n week het sy ‘n dogtertjie dopgehou wat probeer het om ‘n klein hondjie op daardie hoek te verkoop. Die verkoopsdame het uiteindelik vir die dogtertjie gesê: ‘Liefie, as jy hierdie hond wil verkoop, stel ek voor jy bad hom, borsel sy pels en verhoog jou prys sodat mense dink hulle koop iets van waarde.’ Teen twaalfuur het die verkoopsdame opgemerk dat die dogtertjie haar raad gevolg het. Die hondjie was versorg en het onder ‘n groot plakkaat gesit wat lees: ‘UITSTEKENDE Hondjie te Koop – R5,000.’

Die verkoopsdame het geglimlag en onderneem om die dogtertjie later te vertel dat die prys vir die hondjie dalk te duur was. Tot haar verbasing het sy op pad huis toe gesien dat die hondjie weg was! Verstom het die vrou die dogtertjie opgesoek om te vra of sy die hond regtig vir R5,000 verkoop het. Die dogtertjie het gesê: ‘Ek het beslis en ek wil jou bedank vir al jou hulp.’ Die verkoopsdame het verstom gevra: ‘Hoe in die wêreld het jy dit reggekry?’ Sy het geantwoord: ‘Dit was maklik. Ek het net twee katte van R2,500 elk in ruil vir die hondjie geneem!’ Tweeduisend jaar gelede het die grootste ruiltransaksie van alle tye plaasgevind.

Aan ‘n kruis buite Jerusalem het Jesus Christus sy lewe in ruil vir ons s’n gegee: ‘…Hy het vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom…’ Aan die kruis het God al jou sonde geneem en dit op Christus geplaas. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, neem God al sy geregtigheid en draai jou daarin toe. Dis die groot ruiltransaksie!

Sielskos: Lev 8-10; Luk 1:39-56; Ps 42:1-5; Spr 1:20-23

Die eienskappe van ‘n kampioen

2026-01-05
Jeremia 29:11 NLV

Sportsielkundiges het ses eienskappe wat algemeen in atlete wat goue medaljes op die Olimpiese Spele wen, geïdentifiseer. Hierdie eienskappe van ‘n kampioen is op beide mans en vrouens van toepassing en is ook dominante faktore in die lewens van diegene wat in nie-atletiese beroepe uitblink. Kom ons kyk na elke eienskap en wat ons daaruit kan leer.

1) Selfanalise. Die suksesvolle atleet ken hul sterk- en swakpunte en doen ‘n kritiese beoordeling daarvan wat eerlik, maar nooit negatief is nie.

2) Selfkompetisie. ‘n Wenner weet dat hy of sy slegs hul eie prestasie kan beheer, daarom ding hulle teen hul eie beste poging en nie dié van ander nie, mee.

3) Fokus. Die kampioen konsentreer altyd bewustelik op die taak wat voorlê.

4) Selfvertroue. Suksesvolle atlete beheer hul angs deur moeilike maar redelike doelwitte te stel. Namate hierdie doelwitte bereik word, neem hul selfvertroue toe.

5) Taaiheid. Dit is ‘n geestelike eienskap wat risiko aanvaar en altyd probeer wen. ‘n Wenner sien verandering as ‘n geleentheid en aanvaar verantwoordelikheid vir hul eie lot.

6) ‘n Wedstrydplan. Selfs die beste atlete weet dat talent nie genoeg is nie; hulle moet ook ‘n wedstrydplan hê.

Hier is die goeie nuus: Jy kan hierdie ses eienskappe ontwikkel. Jy vra: ‘Waar kan ek ‘n wedstrydplan vir my lewe kry?’ Van die God wat vir jou lief is en in sy Woord sê: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het… voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister’ (verse 11-12 NLV).

Sielskos: Lev 5-7; Luk 1:26-38; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19

Bybelstudie: die sleutel tot geestelike groei (3)

2026-01-04
2 Timoteus 3:16 NLV

Miskien wonder jy of die Bybel werklik deur God geïnspireer is en of dit waar, betroubaar en onfeilbaar is. Die antwoord is ja, en hier is drie redes waarom dit so is:

1) Dit is merkwaardig saamgestel. Dit is oor sestien eeue deur veertig verskillende skrywers saamgestel, insluitend soldate, herders, boere en vissermanne. Dit is deur Moses in Arabië begin en deur Johannes op die eiland Patmos voltooi. Dit is deur konings in paleise, herders in tente en gevangenes in die tronk geskryf. Sou veertig skrywers, grotendeels onbekend aan mekaar, wat drie verskillende tale praat en in verskillende lande bly, wat deur ongeveer 1 600 jaar geskei word, ‘n boek met een enkele tema kon produseer? Dit sou onmoontlik wees, tensy hulle deur een gedagte en een ontwerper geïnspireer is (sien 2 Petrus 1:21).

2) Dit is merkwaardig hoe bestendig dit is. Daar is in die geskiedenis meer eksemplare van die Bybel as enige ander boek gedruk. Bybels is deur regerings verbrand en deur howe verban, maar God se Woord bly voortbestaan. Die doodsklok is al honderd keer gelui, maar God se Woord duur voort (sien Jesaja 40:8).

3) Dit bevat merkwaardige profesieë. Die Bybel bevat meer as 300 vervulde profesieë oor Christus se lewe, wat almal ten minste 400 jaar voor sy geboorte geskryf is. Wat is die kans? Stel jou voor dat iets soortgelyks vandag gebeur. As ons ‘n boek sou vind wat in die jaar 1900 geskryf is en wat twee wêreldoorloë, ‘n finansiële depressie, ‘n atoombom en die sluipmoorde op ‘n president en ‘n burgerregteleier voorspel het, sou ons dit nie vertrou nie? Ons sou. Jy kan dus hierdie woorde glo: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer.’

Sielskos: Gal 5:22-23; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:9-17