God het ‘n plan vir jou lewe

2025-11-12
Efesiërs 2:10 ABA

‘n Dominee skryf: ‘Vir die gemiddelde oog was dit net ‘n stuk gekapte marmer. ‘n Jong kunstenaar genaamd Michelangelo het egter iets in hierdie klip gesien wat niemand anders kon nie. Om die agtien voet blok marmer te beitel, sou byna vier jaar van sy lewe in beslag neem. Hierdie oënskynlik waardelose klip was bestem om, wat baie mense beskou as die beste standbeeld wat nog ooit gebeeldhou is, te word. Michelangelo het ‘n dooie klip weer lewe gegee en deur sy kunssinnigheid daarin te blaas, het hy die Dawidbeeld tot stand gebring.

Terwyl hy gebeitel het, het hy geglo dat die meesterstuk reeds binne-in die klip was. Al wat hy moes doen, was om die oortollige klip te verwyder sodat die beeld van Dawid kon ontsnap. Hy het nie gesien wat was nie, hy het gesien wat kan wees. Hy het nie die onvolmaakthede in die klip gesien nie, hy het ‘n meesterstuk van ongeëwenaarde skoonheid gesien.

Dit is presies hoe die Kunstenaar [God] jou sien. ‘want dit is God wat ons gemaak het wat ons is… God het hierdie goeie dinge wat ons moet doen, lank gelede gereedgemaak.’ Elke kunswerk ontstaan in die kunstenaar se verbeelding. So het jy in die verbeelding van God ontstaan. Jy het gestalte in die verbeelding van die Almagtige gekry voordat jy gestalte in jou moeder se skoot gekry het.’

Maak nie saak wat ander van jou dink of hoe jy oor jouself dink nie, God sien jou as ‘n potensiële meesterstuk. Om jouself as enigiets anders as dit te sien, is om jou ware identiteit te devalueer en te verander. Jy ontdek ook dat God ‘n plan met jou lewe het, wanneer jy jou ware identiteit ontdek.

Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 11:1-16; Ps 83:9-18; Spr 26:17-22

Jy het ‘n gawe wat God kan gebruik

2025-11-11
Romeine 12:6 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘God het ‘n onkonvensionele gawe gebruik om Dawid strategies te posisioneer. Sy gawe met die slingervel is nie die enigste voorbeeld daarvan nie. Toe Dawid op die harp gespeel het, het dit Saul se gees gesus (sien 1 Samuel 16:23). Dit is hoe Dawid vir Jonatan (koning Saul se seun) ontmoet het. Dit is hoe hy die gebruike van die koning se hof geleer het. Sonder sy musikale gawe sou David nie eers ‘n voet in die deur gekry het nie!

Jy weet nooit watter gawe God vir sy doeleindes sal gebruik nie, moet dus nie jou gawe onderskat nie. God kan enigiets vir sy doeleindes gebruik, as ons bloot toelaat dat ons deur Hom gebruik word. God het Noag se bootbouvaardighede en Josef se vermoë om drome te interpreteer, gebruik. Geen gawe is onnodig of onbruikbaar in God se groot plan nie.

Jy moet egter besef: die grootste psalms is onder die ergste omstandighede geskryf. Die mees vertroostende psalms is in die ongemaklikste situasies geskryf. Dawid loop deur die dal van doodskaduwee. Dawid kwel hom oor sy owerspelige verhouding met Batseba. Dawid is ‘n voortvlugtige wat in grotte wegkruip. David wou nie in enige van daardie situasies wees nie, maar dit het die diep woorde wat ons in Psalm 23, Psalm 51 en Psalm 142 lees, voortgebring.

Miskien worstel jy met depressie of steier jy onder ‘n fout wat onvergeeflik lyk, of dalk is jy net siek en sat daarvan om siek en sat te voel. Jy mag dalk nie van jou huidige omstandighede hou nie, maar dit mag dalk die sleutel tot jou karakterontwikkeling wees. Karakterontwikkeling is die sleutel tot jou toekoms.’

Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 10:22-42; Ps 83:1-8; Spr 26:13-16

Ken die ‘seisoen’ waarin jy jou bevind

2025-11-10
Psalm 1:3 NLV

Een sleutel om jou lewensdoel te vervul, is om te besef in watter seisoen jy jou bevind. As jy dit nie besef nie, sal jy geïrriteerd en teleurgesteld voel. Dis byvoorbeeld in sommige seisoene belangriker om te volg as om te lei. In sommige seisoene is dit waardevoller om mislukking, eerder as sukses, te hanteer. Een van die grootste foute wat ons maak is om met al ons energie op die volgende seisoen te konsentreer, eerder as om die seisoen waarin ons is te geniet, alles daaruit te put en al die lesse daaruit te leer. God wil jou bring waar Hy wil hê jy moet wees, selfs meer as wat jy daar wil kom. Geniet dus die reis en besef dat God jou daar sal bring wanneer jy gereed is. God is besig om emosionele uithouvermoë in jou te ontwikkel.

Die sleutel tot emosionele uithouvermoë is om deur hoë vlakke van teleurstelling wat ons afbreek te beweeg, sodat God ons weer met ‘n heilige selfvertroue kan opbou. Kan jy jou indink hoe Dawid gevoel het om te kyk hoe sy broers gaan oorlog maak, terwyl hy moes agterbly om die skape op te pas? Sy dag was egter op pad. Joune ook. Moenie terwyl jy wag God se planne probeer vooruit loop deur kortpaaie te neem nie. God is besig om jou voor te berei.

Hoe groter die geleentheid egter is, hoe langer neem dit. Die rede waarom ons geïrriteerd raak, is omdat ons groot droom sonder om lank te droom. Heroorweeg jou tydlyn en wees bemoedig wanneer dit langer neem as wat jy verwag het. Dit beteken dat God iets aansienlik meer wil doen as wat jy ooit kan vra of dink om te vra (sien Efesiërs 3:20).

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12

Jy sal nooit perfek genoeg wees nie (2)

2025-11-09
Hebreërs 10:14 NLV

Dorothy Littell Greco skryf: ‘Vir sommige perfeksioniste lei die vrees om ‘n fout te maak tot ‘n soort verlamming, wat ons oor elke besluit laat tob. Om jou te help onderskei of perfeksionisme in jou lewe ingesluip het, oorweeg die volgende vrae: a) Is jy gemaklik om hulp te vra, of is jy slegs gemaklik om dit aan te bied? b) Is jy in staat om gepaste kritiek te ontvang sonder om verdedigend te wees? c) Het jy ‘n knaende oortuiging dat jy op een of ander manier tekort skiet? d) Kritiseer jy jouself aanhoudend? e) Is jy in staat om vreugde te ervaar? ‘n Afwesigheid van vreugde kan een van die grootste tekens van perfeksionisme wees. Dit pers stadig die vreugde uit die lewe uit deur kreatiwiteit te verminder, foute te beklemtoon en ons slawe van sukses te maak.’

Die waarheid is dat dit nie saak maak hoe hard ons probeer nie, ons sal nooit perfek genoeg wees om ons sondeskuld af te betaal nie. Ons hoef nie te wees nie! ‘Maar ons Hoëpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit… Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig’ (verse 12,14 NLV). Wanneer God jou perfek maak, gaan dit vir ewig wees en sodra jy hierdie waarheid begin verstaan, sal dit jou lewe verander.

Gigi Graham Tchividjian sê: ‘Ons hoef nie perfek te wees om ‘n seën vir ander te wees nie. Ons moet net eerlik wees, op sy volmaaktheid vertrou om ons onvolmaaktheid te bedek en weet dat ons uiteindelik eendag alles sal wees waarvoor Christus ons gered het en wil hê ons moet wees.’

Sielskos: Gen 14:18-24; Ps 110; Heb 5:5-10

Jy sal nooit perfek genoeg wees nie (1)

2025-11-08
Efesiërs 2:8-9 NLV

‘n Perfeksionis streef daarna om niks minder as absolute perfeksie te bereik nie. Dorothy Littel Greco skryf: ‘Ek is al my lewe lank ‘n perfeksionis. Ek moes A’s op skool kry, moes wen en moes almal tevrede stel. Elke fout of vermeende mislukking het ‘n stortvloed van selfveroordeling ontketen. Perfeksionisme spruit dikwels uit onsekerheid en ‘n foutiewe begrip van genade. Gedurende die eerste paar jaar behoort ouers deur hul woorde en dade te kommunikeer dat ons dierbaar is, al doen ons niks om daardie liefde te verdien nie. Nie almal van ons was egter aan die ontvangkant van sulke ouerskap nie. Daar is aan baie van ons behoeftes met frustrasie of selfs woede voldoen, wat ons as volg geïnterpreteer het: ‘Daar is iets fout met my.’ Wanneer dit die geval is, sluip skaamte mettertyd in en word ons begrip van ons eiewaarde verdraai.

Die stem van perfeksionisme het toegeneem toe ek Jesus begin volg het. Ek was bang om geoordeel en uitgesluit te word, wat my gemotiveer het om my waarde aan my mede-Christene te bewys. Alhoewel ek teoreties geglo het dat ek uit genade gered is, het ek gelewe asof ek verlossing op krediet gekoop het en ‘n enorme skuld aangegaan het. Ek het geleef asof Jesus my ‘verlossingskontrak’ sou opskeur die oomblik wat ek ‘n fout maak. Toe ek begin verstaan het dat trots en ‘n vrees vir die mensdom my perfeksionisme aandryf, het ek dit as sonde bely en het perfeksionisme se wurggreep op my lewe begin verslap. Soos die Samaritaanse vrou by die put, het ek nodig gehad dat Jesus by my hart en gedagtes inbreek en my saggies na sy lewende water toe lei.’

Onthou, jy hoef nie perfek te wees om ‘n seën vir ander mense te wees nie!

Sielskos: 1 Kro 23:21-26:19; Joh 10:1-10; Ps 99; Spr 26:1-6

Bewys waardering teenoor jou pastoor

2025-11-07
1 Tessalonisense 5:12 NLV

Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika en sê: ‘Liewe broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad. Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon…’ (verse 12-13 NLV). Oorweeg hierdie statistieke van die een-en-twintigste eeu:

1) Vyftig persent van predikers voel so moedeloos dat hulle die bediening sou verlaat as hulle kon, maar hulle ken geen ander manier om ‘n bestaan te maak nie.

2) Vyftig persent van predikante sal nie vyf jaar in die bediening uithou nie.

(3) Slegs een uit elke tien predikante sal as predikante in een of ander hoedanigheid aftree.

4) In Amerika het daar in 2011 elke maand meer as ‘n duisend sewehonderd predikante die bediening verlaat. Daar is baie redes waarom predikers die bediening verlaat. Een rede is onvoldoende finansiële ondersteuning en stres op die gesin. Paulus spreek dit aan: “Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering. Want die Skrif sê: ‘Moenie ‘n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.’ En op ‘n ander plek: ‘Dié wat werk, verdien hulle loon'” (1 Timoteus 5:17-18 NLV).

Sommige predikers verlaat die bediening omdat hulle dikwels die teiken van gereelde kritiek is. Paulus spreek dit as volg aan: ‘Moenie na klagtes teen ‘n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla’ (vers 19 NLV). Bid dus vir jou pastoor en maak dit ‘n punt om jou waardering te bewys. God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 9:24-41; Ps 115; Spr 25:26-28