Word ‘n beter luisteraar

2025-12-04
Jakobus 1:19 NLV

Wanneer jy die tyd neem om na iemand anders te luister, gee jy nie net vir hulle ‘n geskenk nie, maar ook een vir jouself. Dr Juli Slattery merk op: ‘Almal is tot goeie luisteraars aangetrokke. Miskien is die kragtigste manier om die evangelie te deel, jou huwelik te red en vriende te maak, deur werklik te luister. Ons voel geliefd wanneer mense die tyd neem om na ons storie te luister en insiggewende vrae te vra. Hier is drie maniere om ‘n beter luisteraar te word:

1) Wees nuuskierig. Elke persoon wat jy ontmoet, is interessant. Oppervlakkig gesproke praat hulle dalk oor iets waarvoor jy nie omgee nie, maar daar is iewers ‘n interessante storie as jy die tyd neem om daarvoor te delf. Vir my is die eerste stap om aandagtig te luister en iets te vind om oor nuuskierig te wees. Na ‘n huwelik van 20 jaar wil ek steeds nuuskierig oor my man wees. Ek wil weet wat God hom leer, waarna hy uitsien en wat hom vandag laat lag het.

2) Behou oogkontak. Ons kyk na iemand se oë om te bepaal of hulle aandagtig luister. Ons betoon respek aan ons kinders, eggenote, vriende en selfs vreemdelinge wanneer ons met aandag op hulle fokus.

3) Gaan verder as die woorde wat jy hoor. Ons kommunikeer slegs ‘n gedeelte van dit wat ons wil uitdruk deur woorde. Die res word deur lyftaal, stemtoon en selfs stilte uitgedruk.’

‘Dit is net ‘n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ‘n Wyse mens luister graag na ander se raad’ (Spreuke 12:15 DB). Jy mag dalk van die klank van jou eie stem hou, maar jy word wys deur te leer om te luister.

Sielskos: Kol 1-2; Joh 17:1-12; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10

Die grootste toets van jou dissipelskap


Johannes 13:35 NLV

Ontwerpersklere soos dié van Tommy Hilfiger en Ralph Lauren word aan hul ontwerpe en handelsmerke geken. Hierdie handelsmerke maak hulle sigbaar en identifiseerbaar. Soms word werkers in sekere industrieë deur hul kleredrag geïdentifiseer, soos ‘n chirurg wat teaterklere dra, of ‘n polisieman wat ‘n uniform dra, of ‘n regter wat ‘n toga dra.

Jesus het vir ons iets as onweerlegbare bewys dat ons naby aan God leef, gegee – ‘n toets waardeur jy jou eie geestelike groei kan evalueer. Trouens, hierdie handelsmerk is so wonderlik dat Hy gesê het dat dit die belangrikste verklaring van jou geloof sal wees. Jesus het dit as volg gestel: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (verse 34-35 NLV).

Wanneer ‘n vrou swanger is, kom daar ‘n tyd wat haar swangerskap begin wys. Die lewe wat binne haar groei word aan die buitekant gesien. Net so moet die liefde binne-in ons aan die buitekant gesien en geïdentifiseer word. Die Bybel sê: ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV).

Johannes skryf: ‘Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê’ (1 Johannes 4:11 NLV). Liefde is die grootste toets van jou dissipelskap.

Sielskos: Gen 11:1-9; Fil 2:1-11

Vrede wat die verstand te bowe gaan

2025-12-03
Filippense 4:7 NLV

Maak nie saak waarmee jy sukkel nie, dis goed om te onthou: ‘Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.’

Lorie Newman skryf: ‘Ek het daardie vrede ontvang toe my man sy werk verloor het. Ons moes nou met net een inkomste ons sewe kinders grootmaak en ons verband en rekeninge betaal. Sal ons ons huis verloor? Hoe kan ons ons groot gesin voed? Hierdie vrae het my gedagtes soos verstikkende rook vertroebel. Te midde van hierdie emosies het God egter lewe in my bekommerde hart gespreek. Werkloosheid was vir byna twee jaar ons werklikheid.

Die waarheid van God se Woord het egter dag vir dag, stap vir stap, die wanhoop begin oorskadu en ek het ongelooflike vrede gehad! God se Woord het soos nog nooit tevore lewendig geword nie, terwyl ek deur die onstuimige waters van daardie rowwe seisoen van die lewe gevaar het. Ek het voorheen gelees dat God my voorsiener is, maar ek het Hom as my voorsiener begin ken en ervaar! Wat ‘n tyd van verskriklike stres moes gewees het, het ‘n plek van vrede geword.’

Wanneer probleme opduik, is ons natuurlike neiging om paniekerig te raak. Wanneer ons dit doen, maak ons die deur vir die Vyand oop om ons van die pad af te stoot en ons te vikitimiseer. Neem hierdie woorde van Jesus ter harte: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV).

Sielskos: Josua 22-24; Joh 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Jou emosies maak vir God saak (2)

2025-12-02
Efesiërs 4:31 NLV

Net soos Jesus, is ons na die beeld van ‘n God wat emosies het, geskape. Nie die Vader of die Seun was bang of verleë om diep te voel nie en ons moet ook nie wees nie. In die Skrif lees ons dat God se hart oor sy eiesinnige kinders gebreek het (sien Hosea 11:8-9). Jesus het openlik by die graf van sy dierbare vriend, Lasarus, gehuil (sien Johannes 11:35). Hy was woedend oor die smouse wat die aanbidders by die tempel verkul het (sien Lukas 19:45-46).

God wil hê dat ons ons emosies moet erken, hulle boodskap moet verstaan en Hom moet raadpleeg om hulle tot sy eer en tot die voordeel van ander te gebruik. Die Psalmdigter het dikwels sy emosies voor God gebring. In Psalm 22:2 (NLV) het hy uitgeroep: ‘My God, my God! Waarom het U my verlaat? Waarom bly U so ver as ek roep om hulp, so ver om my versugtinge te hoor?’

Dink hoe hy moes gevoel het om hierdie woorde te sê: intense vrees, paniek, verwarring, teleurstelling en verraad. Let egter op wat hy met sy emosies gedoen het. Hy het hulle na God toe geneem, Hom persoonlik aangespreek en vir sy hulp gevra: ‘Moenie ver van my af bly nie, want ellendes kom en daar is geen helper nie’ (vers 12 NLV). Dawid se benadering was dapper en hy het die hulp wat hy nodig gehad het, ontvang: ‘Want die leed van hulle in nood ignoreer Hy nie; vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie. Hy luister na hulle geroep om hulp’ (vers 25 NLV).

Wanneer jy jou emosies na God toe bring, sal jy die volgende vind: ‘…Almal wat die Here dien, sal Hom loof. Mag hulle harte bly wees vir altyd’ (vers 27 NLV).

Sielskos: Josua 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28

Jou emosies maak vir God saak (1)

2025-12-01
Hebreërs 4:15 NLV

Ons almal het emosies. Sommige daarvan geniet ons, ander verduur ons. Hoe sê God egter moet ons hulle hanteer? ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees’ (Jakobus 1:2 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek’ (Efesiërs 4:31 NLV). ‘…Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig’ (1 Petrus 3:8 NLV). God het vir ons aangewese tye om te huil, te lag, te treur, lief te hê – en selfs te haat – vasgestel (sien Prediker 3:1-8).

Vereis Hy van ons dat ons al ons emosies onmiddellik en volledig moet beheer? Nee. Hy maak Homself beskikbaar om ons harte en karakter te transformeer, sodat ons ons emosies op maniere wat Hom verheerlik, kan bestuur. Eerder as om ‘n handleiding oor emosionele selfbestuur te verskaf, troos, bemoedig, oortuig en heroriënteer Hy ons deur ons geduldig uit te nooi om die volgende te doen: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

Selfs pynlike emosies kan geleenthede om ‘n dieper verhouding met ons hemelse Vader te ontwikkel, skep. Dit help ook om te onthou dat ons na die beeld van ‘n emosionele God geskape is. Sy Woord dui aan dat Hy ons emosies as fundamenteel goed beskou. Selfs woede, ‘n emosie wat algemeen as neerhalend beskou word, kan Hom verheerlik wanneer dit op onselfsugtige maniere hanteer word. Dit gaan nie oor wat ons voel nie, maar oor hoe ons daardie gevoelens hanteer. God kan ons die genade gee om enige emosie in ‘n eienskap wat Hom verheerlik, te verander.

Sielskos: Josua 16:1-19:23; Joh 16:1-11; Ps 130; Spr 28:21-24

Moenie te vinnig praat nie

2025-11-30
Spreuke 29:20 NLV

Wanneer jy te vinnig praat, dra jy die verkeerde boodskap oor en kry resultate wat jy nie wil hê nie. Dis veral waar wanneer ons vir die beste onderhandel. Om impulsief en te veel te praat is nie tekens van krag nie, maar van swakheid en onsekerheid.

Hier is ‘n verhaal wat hierdie punt illustreer: ‘n Jong rekenaarverkoper genaamd Kurt was verheug toe een van sy besigheidskliënte belangstelling begin toon om ‘n gebruikte rekenaarstelsel te koop – een wat Kurt twee jaar gelede geïnstalleer het, maar wat onlangs met nuwe sagteware ‘n opgradering ondergaan het. Ná noukeurige konsultasie met sy hoofkantoor het Kurt ‘n prys van $800,000 vir die gebruikte stelsel vasgestel en al sy redes vir daardie bedrag skriftelik gedokumenteer. Toe hy gaan sit om met sy kliënt te begin onderhandel, het hy ‘n innerlike stem gehoor wat sê: ‘Wag. Laat hulle eerste die praatwerk doen.’

Die kliënt het vinnig die stilte met ‘n lang samevatting van hul eie navorsing oor hierdie spesifieke rekenaarstelsel se sterk- en swakpunte, die ouderdom van die toerusting en die behoefte aan nuwe sagteware, begin vul. ‘Kan jy die opgegradeerde sagteware by die transaksie insluit?’ het een van die kliënt se spanlede gevra. ‘Sekerlik,’ het Kurt geantwoord. Die kliënt het daaroor nagedink en gesê: ‘Ons sal jou $950,000 vir die stelsel gee, maar nie ‘n sent meer nie.’

Minder as ‘n uur later is die papierwerk afgehandel en Kurt het met ‘n baie beter prys as waaroor hy ooit kon droom, weggestap, nadat hy weinig meer as hallo gesê het. Die apostel Jakobus skryf: ‘My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie’ (Jakobus 1:19 NLV).

Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13