2026-01-27
Psalm 33:1 NLV
Van die 150 psalms wat in die Bybel opgeteken is, is die dominante herhalende tema: ‘Loof die Here!’ Die boek is soos ‘n memo van die Psalmdigter wat sê: ‘Vandag moet julle die Here vir seker loof.’ Dawid skryf in Psalm 34: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die Here roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons sy Naam prys’ (Psalm 34:2-4 NLV).
In Psalm 113:1-3 (NLV), skryf die Psalmdigter: ‘Prys die Here! Ja, prys Hom, dienaars van die Here. Prys die Naam van die Here! Geseënd is die Naam van die Here, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word.’ In Psalm 118:24 (NLV) sê die Psalmdigter: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’
Die Psalmdigter sê in Psalm 119:164 (NLV): ‘Ek loof U sewe keer per dag…’ Uiteindelik kom ons by Psalm 150 uit, die laaste psalm in die Bybel. In vers 6, die laaste vers van die laaste psalm, word ons weer eens daaraan herinner: ‘Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!’ (Psalm 150:6 NLV). Dit beteken dat solank as wat jy lewe en asemhaal, moet jy die Here loof. Wat jy dus ook al vandag doen, of nalaat om te doen, maak seker dat jy die Here loof.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2026-01-26
Handelinge 5:16 NLV
Voordat Jesus hierdie aarde verlaat het, het Hy vir sy dissipels gesê: ‘…wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen…’ (Johannes 14:12 NLV). Hulle het! ‘Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen… Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val. Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring… Hulle is almal gesond gemaak’ (Handelinge 5:12, 15-16 NLV). Mense mag dalk sê: ‘Die apostels het dit net aan die begin gedoen met die doel om mense van Christus se opstanding te oortuig.’
Kom ons blaai dan na die laaste hoofstuk in die boek Handelinge en lees wat dertig jaar later in die kerk gebeur het. ‘Daar was ‘n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ‘n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves. Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en hulle is gesond gemaak’ (Handelinge 28:7-9 NLV).
Die Nuwe Testamentiese kerk het een van die laaste instruksies wat Jesus vir sy apostels gegee het voordat Hy terug hemel toe is, uitgevoer: ‘…Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral… Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:15, 17-18 NLV). Dit beteken dat jy in geloof kan bid en God vir genesing kan glo.
Sielskos: Num 3:1-4:33; Luk 6:1-16; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10
2026-01-25
Sagaria 4:10 AFR83
Juan het in Porto Rico grootgeword, die seun van ‘n voorman by ‘n suikerrietplantasie. As een van ‘n gesin van agt het hy in ‘n driekamer-hut met ‘n grondvloer en geen toilet gewoon nie. Sy eerste werk, op sesjarige ouderdom, was om osse aan te dryf om die suikerrietlande te ploeg. Hy het agt uur per dag gewerk en een dollar verdien. Juan het gesê dit was in die suikerrietlande wat hy belangrike lesse geleer het, soos om stiptelik te wees, hard te werk en lojaal en respekvol teenoor sy werkgewers te wees.
Op sewejarige ouderdom het hy werk by ‘n gholfbaan gekry. Hy moes balle vir die gholfspelers soek en hy het begin droom om self gholf te speel en genoeg geld te verdien om ‘n fiets te koop. Hoe meer hy gedroom het, hoe meer het hy gedink: ‘Hoekom nie?’ Hy het ‘n gholfstok van ‘n koejaweltak en ‘n stuk pyp gemaak en toe ‘n hamer gebruik om van ‘n leë blikkie ‘n bal te maak. Daarna het hy twee klein gaatjies in die grond gegrawe en die bal heen en weer tussen hulle geslaan. Hy het sy ‘gholf’ met dieselfde intensiteit beoefen as wat hy sy werk in die suikerrietland gedoen het en hy het goed – baie goed – daarmee geword.
In sy een-en-dertig jaar as professionele gholfspeler het Juan ‘Chi Chi’ Rodríguez agt PGA-toergeleenthede en vier-en-twintig groot toernooie gewen. Hy is ook die eerste Porto-Ricaan wat in die Wêreldgholf-heldesaal opgeneem is. Wat kan ons by hom leer? Twee dinge: 1) Wees bereid om klein te begin. Die Bybel sê: ‘Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie…’ 2) Wees bereid om groot te droom, want jy dien ‘n groot God (sien Efesiërs 3:20).
Sielskos: Gal 5:22-23; Ps 37:7; Spr 16:32; Ef 4:2
2026-01-24
Galasiërs 5:13 NLV
In 1881, kort nadat Booker T. Washington die hoof van die Tuskegee Instituut in Alabama geword het, het hy verby die huis van ‘n welgestelde familie geloop. Die vrou van die huis het aangeneem dat Washington een van die tuinwerkers was wat haar man aangestel het en hom gevra of hy vir haar hout sou kap. Professor Washington het geglimlag, geknik, sy jas uitgetrek en die hout gekap.
Toe hy die hout na die vrou se kombuis dra, het ‘n diensmeisie hom herken en na die vrou toe gehardloop om haar van sy identiteit te vertel. Die volgende oggend het die vrou in Washington se kantoor verskyn. Sy het oorvloedig om verskoning gevra en herhaaldelik gesê: ‘Ek het nie geweet dit is jy wat ek aan die werk gesit het nie.’ Washington het glimlaggend geantwoord: ‘Dis heeltemal in orde, mevrou. Ek hou daarvan om te werk en dit verbly my om gunste aan my vriende te bewys.’
Die vrou was so beïndruk met sy optrede en sy bereidwilligheid om te vergewe dat sy groot donasies aan die instituut geskenk het. Sy het ook baie van haar welgestelde vriende en kennisse oortuig om dieselfde te doen. Uiteindelik het Washington meer geld vir die instituut met hierdie een daad van houtkap ingesamel as baie ander fondsinsamelingsgeleenthede.
Die Bybel sê: “…julle is geroep om in vryheid te leef… gebruik dit om mekaar in liefde te dien. Die hele wet is saamgevat in een opdrag: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself'” (verse13-14 NLV). Wat kan ons by Booker T. Washington leer? Twee dinge: 1) Elke saad van goedhartigheid wat jy saai, bring uiteindelik ‘n oes van seëninge in jou lewe mee. 2) Die manier om vooruitgang in die lewe te maak, is om ander mense lief te hê en te dien.
Sielskos: Num 1-2; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8
2026-01-23
Hebreërs 10:36 NLV
In die vroeë 1950’s is Irwin W. Rosenberg, ‘n junior vlootoffisier, uit militêre diens ontslaan nadat hy met kanker gediagnoseer is – ‘n destydse standaard militêre praktyk. Die verlies van sy werk was nogal ‘n slag, maar hy was vasbeslote om beide sy gesondheid en sy werk terug te kry. Met geloof en vasberadenheid het hy die siekte wat probeer het om sy liggaam oor te neem, beveg. Op ‘n stadium is hy slegs twee weke gegee om te leef, maar uiteindelik is sy kanker onder beheer gebring.
Irwin het toe sy aandag op sy begeerte om weer ‘n vlootoffisier te word, gevestig. Hy het egter ontdek dat regulasies die herindiensneming van ‘n persoon wat met kanker ontslaan is, verbied. Almal het vir Irwin gesê: ‘Gee op. Kongres sal eers ‘n nuwe wet moet maak voordat jy weer in diens geneem kan word.’
Dit het hom ‘n idee gegee – hy sou Kongres nader om die wet te verander! Nadat hy maande lank aan deure geklop het en deur wetlike hoepels gespring het, het president Truman ‘n spesiale wetsontwerp onderteken wat Irwin toegelaat het om weer by die vloot aan te sluit. Raai wat het toe gebeur? Irwin W. Rosenberg het ‘n vlootadmiraal in die Verenigde State se Sewende Vloot geword!
Die gesegde lui: ‘Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.’ Wanneer jy ‘n onwrikbare geloof het en jou wil in lyn met God se wil is, word alle dinge moontlik. ‘Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ‘n groot beloning in. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (verse 35-36 NLV).
Sielskos: Jak 3-5; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6
2026-01-22
Jakobus 4:2 NLV
Sommige mense dink dat ons nie veronderstel is om God vir te veel te vra nie; andersins is ons selfsugtig. God wil egter hê dat jy Hom moet vra. ‘…en eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.’ Wanneer jy nie vra nie, gee jy nie jou geloof vrye teuels nie. Jesus het gesê: ‘…Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur’ (Matteus 9:29 NLV). Jy moet leer om vrymoedige gebede te bid en van God groter dinge te verwag en te glo. ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsies, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Dis ‘n vrymoedige gebed! As God egter vir jou sê om dit te bid, is dit omdat Hy gewillig is om jou gebed te beantwoord.
Jy mag dalk ‘n droom in jou hart hê, maar kan nie insien hoe dit ooit sal kan gebeur nie. Jesus het vyfduisend mense met vyf brode en twee vissies gevoed. Hy is ‘n God van vermenigvuldiging. Hy kan jou tyd vermenigvuldig en jou help om meer gedoen te kry. Hy kan jou wysheid vermenigvuldig en jou help om beter besluite te maak. Hy kan jou finansies vermenigvuldig: ‘God wat saad voorsien aan die saaier… sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei’ (2 Korintiërs 9:10 NLV).
In plaas daarvan om met blote oorlewing tevrede te wees, wil God hê jy moet floreer. ‘n Oorlewingsmentaliteit sal jou van God se beste weerhou. Skud dit af en sê: ‘God, U het belowe dat U dit wat vir my skade sou beteken, tot my voordeel sal gebruik (sien Romeine 8:28). Ek mag dalk deur die vuur, die hongersnood en die vloed gegaan het, maar ek weet dis my tyd van guns. Dis my tyd om meer van u goedheid in my lewe te sien.’ Glo God vir groter dinge.
Sielskos: Jak 1-2; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4