2026-02-01
Psalm 90:12 NLV
Toe hy die veldtogbestuurder vir president George Bush en voorsitter van die Republikeinse Nasionale Komitee geword het, het Lee Atwater die twee dinge gedoen wat hy teen die ouderdom van veertig wou bereik het. Hy is egter toe met ‘n kwaadaardige breingewas gediagnoseer.
Kort voor sy dood het hy hierdie ontnugterende woorde geskryf: ‘Ek het meer rykdom, mag en aansien as die meeste ander mense verkry. ‘n Mens kan egter alles kry wat jy wil hê en steeds leeg voel. Wat sou ek nie alles verruil het vir ‘n bietjie meer tyd saam met my familie nie? Watter prys sou ek nie betaal vir nog ‘n aand saam met vriende nie? Dit het ‘n dodelike siekte geverg voordat ek hierdie les geleer het. Ek lê hier in my slaapkamer, my gesig geswel van steroïede, my liggaam nutteloos. Die dokters wil steeds nie my kwellende vraag beantwoord nie: hoe lank het ek oor? Sommige nagte kan ek nie aan die slaap raak nie, so bang is ek dat ek nooit weer sal wakker word nie.
Ek het ‘n lang pad gekom sedert die dag toe ek vir president Bush gesê het dat sy ‘vriendeliker, sagter’-aanslag ‘n mooi idee is, maar dat dit ons geen stemme sou wen nie. Ek het altyd vir die president gesê dat hy maar vriendeliker en sagter kan wees, maar ek sou nie so wees nie. Hoe verkeerd was ek nie. Daar is niks belangriker in die lewe as verhoudings nie en niks soeter as menslike aanraking nie.’
As jy wys is, sal jou prioriteite in die lewe God eerste, jou familie tweede en jou loopbaan derde wees. ‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom.’
Sielskos: Gal 5:22-23; Gen 50:15-21; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32
2026-01-31
Prediker 9:10 NLV
‘n Reeks illustrasies in ‘n gewilde tydskrif het eens die lewensverhaal van ‘n ‘eennootmusikant’ uitgebeeld. Van raam tot raam het die verhaal hoe die vrou haar daaglikse roetine van eet en slaap gevolg het, ontvou, totdat die tyd vir die aandkonsert aangebreek het. Sy het haar viool noukeurig geïnspekteer, haar sitplek ingeneem, haar bladmusiek gerangskik en haar instrument gestem. Eers het die dirigent vaardig een groep musikante gelei, toe ‘n ander, totdat haar oomblik uiteindelik aangebreek het. Dit was tyd vir haar een noot om gespeel te word! Die dirigent het na die violis gedraai en aangedui dat sy haar een noot moet speel. Sy het, en toe was die oomblik verby. Die orkes het aangehou speel en die ‘eennootmusikant’ het stil deur die res van die konsert gesit – nie met ‘n gevoel van teleurstelling dat sy net een noot gespeel het nie, maar met ‘n gevoel van tevredenheid dat sy haar een noot in harmonie, betyds en met alles in haar vermoë gespeel het.
Jesus vertel die verhaal van die besigheidsman wat vir drie van sy werknemers talente gegee het om namens hom te belê. Aan een is vyf talente gegee, aan ‘n ander twee talente en aan die laaste een is een talent gegee, ‘…vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid…’ (Matteus 25:15 NLV).
Die Bybel sê dat ons in die hemel vir ons diens aan Christus hier op aarde beloon sal word. Hoe sal God besluit wat jou beloning moet wees? Jesus het gesê: ‘…vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid…’ Of soos Salomo dit stel: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Doen dus die beste wat jy kan met dit wat God vir jou gegee het.
Sielskos: Num 14-15; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2026-01-30
1 Samuel 17:37 NLV
Elke ervaring in ons verlede berei ons vir ‘n toekomstige geleentheid voor. God verlos nie net ons siele nie; Hy verlos ook ons ervarings – beide goed en sleg. Hy doen dit deur ons karakter te verfyn, ons gawes te ontwikkel en ons lesse te leer wat ons op geen ander manier kan leer nie.
Ons leer die belangrikste lesse deur eerstehandse ervaring in die klaskamer van die lewe te ontvang. Die toetse is uitdagend, maar geen kurrikulum is meer effektief as dit nie. Jy slaag die toets deur in karakter te groei, die gawe te ontwikkel, of die les te leer wat God jou deur daardie ervaring probeer leer. God is aan die werk in jou lewe. Hy doen dit op maniere wat feitlik onmerkbaar is.
Dawid het besef dat hy teen die beer en die leeu moes baklei, omdat dit hom voorberei het om Goliat te oorwin. Dis eers wanneer jy jou grootste uitdaging in die gesig staar dat God jou wys hoe, wanneer en waar Hy jou voorberei het. Dit is dan wanneer jy besef dat die stryd lank voordat jy op die slagveld staan, gewen is. Moses moes vir veertig jaar lank skape oppas voordat hy die kudde van Israel kon lei. Die dissipels moes visvang voordat hulle vissers van mense kon wees.
‘n Tyd van voorbereiding gaan elke goddelike afspraak vooraf. As ons ons aan die voorbereiding oorgee, sal God sy belofte nakom. Die tyd wat jy in die skaduwees deurbring, berei jou voor vir die tyd wanneer jy in die kollig sal wees. Die tyd wat jy op die kantlyn deurbring, berei jou voor om aan die voorpunt te wees – en om te wen.
Sielskos: Num 11-13; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2026-01-29
Hebreërs 13:16 NLV
Petrus beskryf Jesus se lewe met die volgende woorde: ‘…Jesus het… oral goeie werke gedoen…’ (Handelinge 10:38 NLV). Om meer soos Christus te word, beteken om vir geleenthede te soek om goed te doen.
‘n Anonieme skrywer sê: ‘Wanneer mense onredelik, onlogies, selfgesentreerd en arrogant is, wees in elk geval lief vir hulle. Wanneer mense daarop aandring dat jou goedheid selfsugtige motiewe bevat, doen in elk geval goed. As jy suksesvol is, sal jy beide vals vriende en ware vyande wen. Strewe in elk geval na sukses. As jy eerlik is, sal sommige probeer om jou woorde te verdraai. Wees in elk geval eerlik. As jy vandag goed doen, kan sommige mense dit môre vergeet. Doen in elk geval goed. As jy jouself as ‘n groot persoon met groot idees bewys, moenie verbaas wees as jy deur klein mensies met klein gedagtes teëgestaan word nie. Dink in elk geval groot. Wat jy jare lank gebou het, kan sommige mense oornag probeer vernietig. Bou dit in elk geval.’
President Theodore Roosevelt het gesê: ‘Dit is nie die kritikus wat tel nie – die persoon wat uitwys waar dit beter gedoen kon word nie. Hierdie eer behoort aan die persoon wat werklik dáár is, wie se gesig deur stof en sweet en bloed ontsier is; wat dapper streef; wat foute maak, wat keer op keer tekort skiet, wat groot entoesiasme en groot toewyding ken; wat hom- of haarself aan ‘n waardige saak wy; wat uiteindelik ten beste die triomf van hoë prestasie ken en ten ergste misluk terwyl hy of sy groot waagmoed aan die dag lê. Sy of haar plek sal nooit by daardie koue en skugter siele wees wat nóg oorwinning nóg nederlaag ken nie.’
Word bewus van geleenthede om goed te doen.
Sielskos: Num 8-10; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20
2026-01-28
Job 6:25 AFR53
Hier is twee stories uit die geskiedenis wat illustreer hoe die krag van jou woorde ander kan beïnvloed: 1) Eendag het ‘n altaarseun die priester by ‘n mis in die plattelandse kerk in sy klein dorpie bedien. Die seun, senuweeagtig in sy nuwe rol, het per ongeluk die wynkruik laat val. Die priester het hom hard op die wang geslaan. Toe, met ‘n growwe stem wat die gemeente duidelik kon hoor, geskree: ‘Verlaat die altaar en moenie terugkom nie!’ Daardie seun het Marshall Tito geword, die kommunistiese diktator wat Joego-Slawië dekades lank met wreedheid regeer het.
2) Eendag het ‘n ander seun in ‘n groot stadskatedraal ‘n biskop by ‘n Sondagmis bedien. Hy het ook per ongeluk die wynkruik laat val. Die biskop het na hom gedraai, maar eerder as om in woede te reageer, het hy saggies met ‘n warm vonkel in sy oë gefluister: ‘Jy gaan eendag ‘n goeie priester wees.’ En hy was. Daardie seun het uiteindelik Aartsbiskop Fulton Sheen geword, wie se weeklikse televisie-preke deur miljoene mense regoor Amerika gekyk is.
Jou woorde het die krag om op te bou of af te breek, te verlig of te verwar, vrede te bring of verdeeldheid te veroorsaak. Die ou gesegde: ‘Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me,’ is eenvoudig nie waar nie. Jou woorde kan seermaak. Hulle kan egter ook selfbeeld bou, vriendskap skep, hoop gee en seën en genesing bring: ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Bid dus soos Dawid: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV).
Sielskos: Num 7; Luk 6:27-36; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18
2026-01-27
Psalm 33:1 NLV
Van die 150 psalms wat in die Bybel opgeteken is, is die dominante herhalende tema: ‘Loof die Here!’ Die boek is soos ‘n memo van die Psalmdigter wat sê: ‘Vandag moet julle die Here vir seker loof.’ Dawid skryf in Psalm 34: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die Here roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons sy Naam prys’ (Psalm 34:2-4 NLV).
In Psalm 113:1-3 (NLV), skryf die Psalmdigter: ‘Prys die Here! Ja, prys Hom, dienaars van die Here. Prys die Naam van die Here! Geseënd is die Naam van die Here, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word.’ In Psalm 118:24 (NLV) sê die Psalmdigter: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’
Die Psalmdigter sê in Psalm 119:164 (NLV): ‘Ek loof U sewe keer per dag…’ Uiteindelik kom ons by Psalm 150 uit, die laaste psalm in die Bybel. In vers 6, die laaste vers van die laaste psalm, word ons weer eens daaraan herinner: ‘Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!’ (Psalm 150:6 NLV). Dit beteken dat solank as wat jy lewe en asemhaal, moet jy die Here loof. Wat jy dus ook al vandag doen, of nalaat om te doen, maak seker dat jy die Here loof.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12