Wees optimisties (1)

2026-02-07
Genesis 1:31 NLV

Helen Keller het voor die ouderdom van twee haar sig en gehoor verloor. In ‘n oomblik het haar wêreld donker en stil geword. Later het ‘n onderwyseres genaamd Anne Sullivan egter deur Helen se eensame opsluiting gebreek en haar siel aangeraak. Helen het gevolglik die eerste dowe/blinde persoon geword wat ‘n baccalaureusgraad verwerf het. Sy het ook ‘n dosyn boeke geskryf, insluitend ‘n manifes oor haar lewensfilosofie, getiteld ‘Optimism’.

‘Geen pessimis het al ooit die sterre se geheime ontdek,’ het sy geskryf, ‘of na ‘n onbekende land geseil nie.’ Die laaste bladsy van haar boek weerspieël die eerste bladsy van die Skrif: ‘Optimisme is die mens se gees en die gees van God wat in harmonie sy werke in elke opsig goed verklaar.’ As God se Gees binne-in jou is, is optimisme aan die orde van die dag. Optimisme is nie in stryd met die werklikheid rondom ons nie. Dit beteken eenvoudig dat ons in ‘n ander werklikheid geanker is – die kruisiging en opstanding van Jesus Christus – wat dieper en sterker en langer as die werklikheid wat ons met ons vyf sintuie kan waarneem, is.

Helen Keller het bewys dat selfs die moeilikste omstandighede jou nie kan definieer wanneer jy ‘n optimistiese gees het nie. Selfs al kan jy nie jou omstandighede verander nie, kan jy dit oorkom. Dit is hoekom sy gesê het: ‘Die enigste ding wat erger is as om blind te wees, is om sig te hê, maar geen visie nie.’ Of soos Paulus dit gestel het: ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (Filippense 4:8 NLV). Met ander woorde, wees optimisties.

Sielskos: Num 30:1-32:24; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4

Koester mekaar in liefde

2026-02-06
Romeine 12:10 NLV

Het jy al ooit opgemerk hoe vinnig ons iemand anders van gedrag wat ons in onsself verskoon beskuldig? Deur dit te doen, oefen ons ‘n dubbele standaard uit en vereis ons meer van ander as van onsself. Jesus het gesê: ‘En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar merk jy die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?’ (Matteus 7:3 NLV). Die dubbele standaard werk as volg:

1) Wanneer jou buurvrou nie van jou vriendin hou nie, is sy bevooroordeeld – maar wanneer jy nie van haar vriendin hou nie, is dit omdat jy mense se karakters goed kan beoordeel.
2) Wanneer sy probeer om iemand besonder goed te behandel, is sy besig om te dweep – maar wanneer jy dit doen, is jy net bedagsaam.

3) Wanneer sy lank neem om iets te doen, is sy lui – maar wanneer jy dit doen, is jy noukeurig.
4) Wanneer sy baie geld spandeer, is sy roekeloos en ongedissiplineerd – maar wanneer jy dieselfde ding doen, is jy vrygewig.
5) Wanneer sy foute uitwys, is sy krities – maar wanneer jy dit doen, is jy insigryk.
6) Wanneer sy saggeaard is, noem jy haar swak – maar wanneer jy is, is jy genadig.
7) Wanneer sy mooi aantrek, is sy uitspattig – maar wanneer jy dit doen, is jy elegant en stylvol.
8) Wanneer sy sê wat sy dink, is sy venynig – maar wanneer jy dit doen, is jy eerlik.
9) Wanneer sy risiko’s neem, is sy roekeloos – maar wanneer jy dit doen, is jy dapper.

Paulus het geskryf: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ Die woord vir vandag is dus: Koester mekaar in liefde.

Sielskos: Num 27-29; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2

Moenie jouself met ander vergelyk nie

2026-02-05
Galasiërs 6:4 NLV

Paulus het geskryf: ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen’ (verse 4-5 NLV). Jesus het hierop aangedring. Na sy opstanding het Jesus aan sommige van sy volgelinge verskyn. Hy het Petrus ‘n spesifieke opdrag gegee wat groot opoffering ingesluit het. Petrus het gereageer deur na Johannes te wys en te vra: “…’Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!'” (Johannes 21:21-22 NLV). Met ander woorde, bly op jou eie opdrag gefokus.

‘n Seuntjie met die naam Adam wou soos sy vriend Bobby wees. Adam was mal oor hoe Bobby geloop en gepraat het. Bobby wou egter soos Charlie wees. Iets omtrent Charlie se tred en aksent het hom gefassineer. Charlie, aan die ander kant, was beïndruk met Danny. Charlie wou soos hy lyk en klink. Danny het egter ook ‘n held gehad: Adam. Hy wou net soos Adam wees. So, Adam het Bobby nageboots, wat Charlie nageboots het, wat Danny nageboots het, wat Adam nageboots het. Dit blyk dat al wat Adam moes doen, was om homself te wees!

Jy kan by ander mense leer, maar jy kan slegs vreugde en vervulling in wie God jou geskape het om te wees, vind. Bly dus in jou eie baan. Hardloop jou eie wedloop. God sal jou nie volgens die talente van ander evalueer en beloon nie, maar volgens hoe getrou jy met die gawes wat Hy jou gegee het, was. Jy is nie verantwoordelik vir die aard van jou gawes nie, maar vir hoe jy dit gebruik.

Sielskos: Num 25-26; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Jy moet vertroue in jouself as ouer hê

2026-02-04
Spreuke 22:6 NLV

Wanneer jy as leier optree, of dit nou tuis, by die kerk of by die werk is, sal jy soms moeilike en ongewilde besluite vir die beswil van almal betrokke, moet neem. Dit is veral vir ouers die geval. Diegene wat in vrees vir ‘n kind se verwerping of verlies van ‘n kind se liefde leef, sukkel dikwels om grense te stel en dissipline toe te pas. Dit is ‘n selfsugtige optrede, want jy stel jou eie behoefte om geliefd en aanvaar te word, bo jou kind se langtermynbehoefte aan struktuur en selfdissipline. Hoe ver dink jy sal jou kind daarsonder in die lewe kom?

Ongelukkig is baie ouers te onseker om hul kinders te dissiplineer, omdat hulle hul vriendskap wil behou. Indien ouers eerlik is, sal hulle erken dat hulle gereeld ja sê wanneer hulle eintlik nee moet sê, om sodoende te vergoed vir die gebrek aan tyd wat hulle saam met hul kinders deurbring. Ons weet dat ‘n belegging van kwaliteitstyd op die lange duur ‘n beter opbrengs as enigiets anders wat ‘n ouer kan doen, sal lewer.

Interessant genoeg sal kinders dikwels oneerbiedig of selfs wrokkig teenoor ‘n onseker ouer optree, omdat die kind nie emosioneel ontwikkel nie en swak toegerus is om die druk en verantwoordelikhede van volwassenheid te hanteer. Deur herhaaldelik aan jou kind toe te gee, stel jy hul volwassenheid uit. Soms is dit nodig om streng liefde toe te pas. Daarom sê die Bybel: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Soek dus God se wysheid, leiding en krag, en Hy sal jou help om die soort ouer te word wat jou kind nodig het.

Sielskos: Num 22-24; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32

God is aan jou kant!

2026-02-03
Psalm 56:10 NLV

In sy topverkoperboek, The Tipping Point, definieer Malcolm Gladwell die kantelpunt as ‘die oomblik van kritieke massa, die drempel, die kookpunt.’ Dit is die oomblik wanneer ‘n idee, ‘n tendens of sosiale gedrag die punt van geen terugkeer verbysteek en aanvaarbaar word. Op die gebied van fisika is ‘n kantelpunt wanneer ‘n voorwerp van ‘n stabiele toestand van ewewig na ‘n nuwe toestand beweeg. In ekonomie is dit die punt waar opkomende tegnologie die bedryfstandaard word. In sosiologie is dit wanneer ‘n kworum mense ‘n gedrag aanneem, sodat dit kritieke massa bereik en wyd versprei word.

Geestelik gesproke is die kantelpunt wanneer jy sonder enige voorbehoud glo dat God aan jou kant is. Dit is die openbaring dat God jou nie net liefhet nie, maar ook van jou hou. Hy het jou lief genoeg om vir jou te sterf en Hy hou genoeg van jou om die ewigheid saam met jou te wil deurbring.

Tog bly sommige van ons skepties. Ons projekteer ons selfminagting op God en neem aan dat Hy net so kwaad is vir ons as wat ons vir onsself is. Of ons trap in die prestasie-gebaseerde strik om te dink dat ons gedrag God se houding teenoor ons bepaal – of dit nou vir of teen ons is. Verstaan die volgende: die feit dat God vir jou is, is aan Golgota se kruis bewys.

Oswald Chambers het geskryf: ‘Geen mag op aarde of in die hel kan die gees van God wat in ‘n mens se gees woon, oorwin nie. Dit is ‘n innerlike onoorwinlikheid.’ Godsdiens gaan oor wat jy vir God kan doen; Christendom gaan oor wat Christus vir jou gedoen het. Dit begin egter met hierdie allerbelangrikste waarheid: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis.’

Sielskos: Num 19-21; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Genees gebroke verhoudings

2026-02-02
Spreuke 10:12 NLV

Liefdevolle verhoudings is ‘n hoeksteen van die lewe. Hulle is die fondasie van Christus se kerk en is ‘n bewys dat ons God se liefde in ons harte het. God plaas groot klem op hoe ons met ander omgaan, want ons verhoudings beïnvloed elke area van ons lewe: by die huis, by die werk, by die kerk, by die skool en tydens ons daaglikse interaksies. ‘n Verhouding gebou op liefde, sensitiwiteit en respek kan ‘n ongeredde man of vrou vir Christus wen.

Petrus skryf: ‘En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ‘n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen. Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe’ (1 Petrus 3:1-2 NLV).

Dit is hoekom Satan ons verhoudings so gereeld aanval. Wanneer verhoudings verbrokkel, beïnvloed dit ons lewenskwaliteit. Mediese wetenskap het bewys dat onopgeloste bitterheid en onvergewensgesindheid bronne van siekte en depressie is. Net soos God jou fisies wil genees, wil Hy hê dat jy ook sy genesende aanraking in jou verhoudings moet ervaar.

Jy het egter ook ‘n rol om te speel. ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV).

Terwyl jy oor jou problematiese verhouding bid, maak die volgende belydenis: ‘Aangesien God my al my sondes vergewe het, sal ek teenoor niemand anders onvergewensgesind wees nie. Ek laat alle bitterheid en woede gaan. Here, ek bid u vrede oor die misverstand en seer area in hierdie verhouding. Amen.’

Sielskos: Num 16-18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28