Lewe volgens die beginsels van God se Woord

2026-02-13
Josua 23:6 NLV

Toe die Israeliete die Beloofde Land binne gegaan het, het God vir Josua gesê: ‘Staan sterk en doen haarfyn alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses.’ Jy moet jou kernwaardes identifiseer en daarvolgens leef. Die Switserse filosoof Henri-Frederic Amiel het gesê: ‘Die man wat geen innerlike lewe het nie, is ‘n slaaf van sy omgewing.’ Jou kernwaardes is die beginsels waarvolgens jy leef. Dit is die lig wat jou lei. Dit gee stabiliteit en struktuur aan jou innerlike wêreld.

Wanneer jou kernwaardes in orde is, kan jy jou pad deur amper enigiets vind. Het jy al ooit gewonder hoekom God na sy Woord as ‘n ‘wetboek’ verwys? Omdat dit jou gedagtes en dade beheer, jou in die regte rigting lei en jou teen moeilikheid beskerm. Kernwaardes orden jou lewe; daarsonder word jy met chaos en verwarring gekonfronteer. God het sy wette vir ons beswil ingestel. Wanneer ons hulle nie gehoorsaam nie, ly ons; wanneer ons hulle eerbiedig, slaag ons. Jy kan nie kies watter wette jy wil gehoorsaam en van die res vergeet nie. God sê: ‘…Voer al die opdragte uit… Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen’ (Josua 1:7 NLV).

Baie talentvolle mense wat die kollig haal, bly nie lank daar nie. Hoekom? Omdat hulle nie daarin slaag om ‘n sterk karakter te ontwikkel nie. Hul gebrek aan integriteit pootjie hulle, omdat hulle nie verder as die beperkings van hul karakter kan klim nie. Talent mag jou na ‘n hoër vlak van sukses neem, maar sonder karakter sal jy nie die druk wat met sukses gepaardgaan, kan hanteer nie. Daarom is dit so belangrik om volgens die beginsels van God se Woord te leef.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Oorkom die vrees vir sukses

2026-02-12
Spreuke 8:14 AFR83

Die vrees vir sukses ontspoor baie drome. Soms raak diegene naby aan jou wrokkig wanneer jy sukses behaal. Om suksesvol te wees, kan jou ook angstig laat voel en laat vrees dat jy nie jou sukses sal kan handhaaf nie. Dan is daar ook die vrees dat jy mense sal aantrek wat jou sukses wil misbruik. Salomo het ons gewaarsku: ‘Rykdom bring baie mooiweersvriende…’ (Spreuke 19:4 NLV).

Dan is daar die vrees om met voortdurende versoeke vir geld gebombardeer te word. Wat as jy nee sê? Jy moet jou hart volg, gee soos God jou lei en die res aan Hom oorlaat. Dawid het gesê: ‘…u genade is vir hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV).

Die guns van God kan van jou ‘n teiken maak. Alhoewel jy altyd moet probeer om deur jou gedrag regverdig teenoor ander mense te wees, kan jy nie God se guns verwerp net om te keer dat ander afgunstig raak nie. Jy moet God se guns as deel van jou lewensdoel omhels.

Miskien is daar vir jou gesê dat jy nooit sukses sal behaal nie, dus voel jy dalk dat jy dit nie verdien nie en dat dit nie sal hou nie. Jy mag dan op so ‘n manier optree dat jy jouself saboteer, wat jou eie ergste vrese bevestig en dit tot verwesenliking bring. Wat moet jy dus doen?

Eerstens, dank God dat jy die wortel van jou probleem verstaan. Tweedens, praat met ‘n goeie luisteraar daaroor. Soos jy jouself hoor praat en die probleem in perspektief plaas, mag jy jouself bevind waar jy jou met die woorde van Salomo begin identifiseer: ‘Wie my het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.’

Sielskos: 1 Tess 1-5; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Seëninge en straf; die keuse is joune

2026-02-11
Josua 8:30 NLV

Die Bybel sê: ‘Josua het daarna ‘n altaar op die Ebalberg vir die Here, die God van Israel, gebou… soos… voorgeskryf… ‘Maak vir my ‘n altaar met klip wat nie met ‘n ysterinstrument bewerk is nie.’ Hulle het op die altaar brandoffers vir die Here gebring… Al die Israeliete… is in twee groepe verdeel… Een deel het by die Gerisimberg gestaan en die ander deel by die Ebalberg… Josua het toe vir hulle alles wat die wet sê oor seën en straf voorgelees, soos in die boek van die wet geskryf staan’ (Josua 8:30-34 NLV).

Daar is twee belangrike lesse uit hierdie gebeurtenis te leer. Eerstens, ‘…’n altaar met klip wat nie met ‘n ysterinstrument bewerk is nie…’ spreek van God se onverdiende genade teenoor ons – daar is geen menslike pogings betrokke nie. ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie as gevolg van julle dade nie…’ (Efesiërs 2:8-9 NLV).

Tweedens, let op waar hierdie altaar gebou is. Die helfte van Israel het by Gerisimberg en die ander helfte by Ebalberg gestaan. Diegene by Gerisimberg het hom die seëninge hoor lees en diegene by Ebalberg het hom die strawwe hoor lees. Die altaar is egter nie op Gerisim, die berg van seëninge, gebou nie, maar op Ebal, die heuwel van straf.

Die boodskap is duidelik: selfs wanneer jy foute maak, is God genadig teenoor jou. C. S. Lewis het gesê: ‘Gehoorsaamheid is die sleutel wat elke deur oopmaak.’ Selfs wanneer jy dus misluk en aan God ongehoorsaam is, kan jy terugkeer na die altaar van genade by Ebalberg. Dit is gebou vir mense soos jy.

Sielskos: Jona 1-4; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19

‘Rescue Me’

2026-02-10
Psalm 34:7 NLV

Dit was vyf-en-twintig jaar sedert Fontella Bass se enkelsnit, ‘Rescue Me,’ nommer een op die trefferlyste gehaal het. Sy het geen loopbaan meer gehad nie, sy was bankrot, moeg en koud. Die enigste hitte in haar huis het van die gasstoof in die kombuis gekom. Sy het van haar geloof en die kerk waar sy as kind gospelliedjies begin sing het, afgedwaal.

Terwyl sy gebid het, het Fontella God gevra vir ‘n teken om te bevestig dat Hy haar gebede gehoor het. Skielik het sy haar trefferliedjie ‘Rescue Me’ op ‘n televisie-advertensie gehoor! Vir haar was dit asof ‘die Here reguit in my wêreld ingestap het!’ Fontella was onbewus daarvan dat American Express haar liedjie in ‘n advertensie begin gebruik het en haar nie kon opspoor om tantième aan haar oor te betaal nie.

Nie net het sy uiteindelik die tantième ontvang nie, maar nuwe geleenthede om te sing het ook vir haar begin oopgaan. Kort daarna het sy ‘n nuwe album vrygestel. Die beste nuus was egter dat sy haar verhouding met die Here hernu het. ‘Vir soveel jare het ek probeer om alles op my eie te doen, maar dit het nie gewerk nie,’ het sy gesê. ‘Toe het ek dit uit my hande geneem en aan Hom oorhandig, en nou gebeur alles vanself.’

Die Psalmdigter Dawid het geskryf: ‘Hierdie geringe mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered… Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!’ (Psalm 34:7,9 NLV). Wat God vir Dawid en Fontella Bass gedoen het, sal Hy ook vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai.

Sielskos: Num 34-36; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17

Aanvaar en waardeer jou fisiese voorkoms

2026-02-09
Jesaja 45:10 DB

Jesaja het gesê dat God ‘…my as sy dienaar in my ma se skoot gemaak het…’ (Jesaja 49:5 NLV). God het elkeen van ons doelbewus vir sy diens gevorm. Hoe kan ons dan kla dat ons te kort, te lank, te donker, te blond, of enigiets anders wat ons nie kan verander nie, is? Die woord ‘te’ impliseer dat iets meer is as wat dit behoort te wees. Hoe kan enigiets wat God gevorm het te veel wees? Wat ons eintlik sê, is die volgende: ‘Hierdie eienskap voldoen nie aan die samelewing se voorgeskrewe standaard van skoonheid nie.’

Daarom laat ons toe dat ons unieke eienskappe ons onseker laat word en ons van ons selfvertroue beroof. Ons voel dan dat ons enigste oplossing is om die ongewenste eienskap te verander. Wat ‘n klap in God se gesig.

“Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ‘n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: ‘Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?’ …Die Here… sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen?” (Jesaja 45:9-11 DB).

Jy sal jou emosionele sekuriteit versterk wanneer jy met elke aspek van jouself vrede maak. Selfbewustheid en bekommernis oor jou uiterlike voorkoms sal dan verdwyn. Jy baan die pad vir jou ware innerlike skoonheid om deur te skyn. Dis tyd om liggaamlike vrede te ervaar, wetend dat jy vir jou lewensdoel ontwerp is, volgens maat vir jou opdrag gemaak is en perfek vir jou doel is.

Sielskos: Num 32:25-33:56; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13

Wees optimisties (2)

2026-02-08
Johannes 16:33 NLV

Die omstandighede waarin jy jouself bevind, hoef jou nie te definieer of te verslaan nie. Selfs al kan jy nie jou omstandighede verander nie, kan jy dit oorkom. George Bernard Shaw het geskryf: ‘Mense blameer altyd teëspoed op hul omstandighede. Ek glo nie aan omstandighede nie. Die mense wat in hierdie wêreld vooruitboer, is die mense wat opstaan en soek na die omstandighede wat hulle wil hê en as hulle dit nie kan vind nie, skep hulle dit.’

Ons begin twyfel wanneer ons toelaat dat ons omstandighede bepaal hoe ons voel en wat ons glo. Wanneer ons toelaat dat ons omstandighede tussen ons en God kom, skep dit ‘n rookskerm van twyfel. Geloof is om die beloftes van God tussen jou en jou omstandighede te plaas. Dit beteken nie dat jy die werklikheid ontken nie. Dit beteken eenvoudig dat jy in kontak met ‘n groter werklikheid is – een wat meer werklik is as dit wat jy kan aanraak of proe of sien of hoor of voel of ruik.

Jesus was ‘n realis: ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef…’ Hy was egter ook ‘n optimis: ‘…maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.’ Ons optimisme word in die leë graf geanker. Indien Jesus uit die graf opgestaan het – en Hy het – is daar nie ‘n probleem wat Hy nie kan oplos nie. Jy moet dus begin leef asof jy glo dat dit waar is.

Daar is sewe beloftes in die boek Openbaring wat met dieselfde frase begin: ‘Elkeen wat oorwin.’ Dit herinner ons aan ons ware identiteit. Ons is nie net oorwinnaars nie; ons is meer as oorwinnaars!

Sielskos: Gal 5:22-23; Eks 23:1-9; Luk 6:27-36; Rom 12:14-21