2026-02-19
1 Korintiërs 6:19 NLV
Hou op om jouself te bekommer oor watter mate jy in staat is om God se teenwoordigheid in jou huidige geestelike toestand te ervaar. Sit jou vorige mislukkings en jou toekomstige bekommernisse opsy. As jy ‘n verloste kind van God is, woon sy Heilige Gees in jou. Jesus het gesê: ‘Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang…’ (Johannes 7:38-39 NLV).
Die Heilige Gees vloei heeltyd binne-in jou, wel in jou op, vervul jou onbevredigde begeertes en loop oor om diegene rondom jou te verkwik. Sy bedoeling en begeerte is om heeltyd, op elke plek, deur jou te werk. Onthou dat God, Jesus en die Heilige Gees een is. Wanneer ons dus van God wat in jou lewe werk, Jesus wat in jou hart is, of jou liggaam wat die tempel van die Heilige Gees is praat, praat ons van al drie gelyktydig.
John Ortberg vertel van ‘n vriend wat se vyfjarige dogter gesê het: ‘Ek weet Jesus woon in my hart, want wanneer ek my hand daarop sit, kan ek voel hoe Hy daar rondloop.’ Sommige mense lyk asof hulle ‘n innerlike radar het om God se teenwoordigheid op te spoor. Net soos sekere musikante perfekte gehoor het, so het hulle ‘n oor om God se stem te onderskei. Net soos God se teenwoordigheid in jou woon, kan jy bewustelik elke oomblik in God se teenwoordigheid leef.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14
2026-02-18
Hebreërs 13:16 NLV
Hudson Taylor, die stigter van die China Inland Mission, het hom vir sy sendingdiens voorberei deur onder die armes in Londen te werk. Eendag het ‘n man hom gevra om vir sy siek vrou te kom bid. Die man het reeds ‘n priester gevra om vir haar te bid, maar is meegedeel dat hy die priester agtien pennies sou moes betaal, wat hy nie gehad het nie. Taylor het saam met hom gegaan, maar sy gewete het hom gepla. Hy het self honger gely, maar hy het een muntstuk in sy sak gehad – ‘n halfkroon. Hy het gedink: ‘As ek net twee sjielings en ses pennies in plaas van hierdie halfkroon gehad het, sou ek hierdie arme mense ‘n sjieling kon gee.’
Met sy aankoms by die man se huis was hy oorweldig toe hy die ingevalle wange van honger kinders en die uitgeputte moeder wat met ‘n klein baba langs haar lê, sien. Taylor het met hulle gepraat en hulle probeer vertroos en bemoedig, maar innerlik het hy homself gekasty: ‘Jou skynheilige! Jy vertel hierdie mense van ‘n goedhartige en liefdevolle hemelse vader, maar jy is nie bereid om Hom vir genoeg te vertrou nie.’ Hy gee toe sy halfkroon vir die man. Taylor het vertel hoe die vreugde van die Here op daardie oomblik in sy hart teruggekeer het.
Die Bybel sê: ‘Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak.’ Wat maak die Here se hart bly? Jou bereidwilligheid om dit wat God jou genadiglik gegee het, met diegene in nood te deel. Die gesegde is waar: Jy kan gee sonder om lief te hê, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee nie.
Sielskos: Num 6:1-21; Matt 4:1-17; Mark 2:18-22
2026-02-17
Spreuke 14:30 NLV
Sommige mense is te onseker van hulself om die sukses of prestasies van iemand anders te vier, of dit nou ‘n kollega, verre familielid, broer of suster, eggenoot of selfs ‘n kind is. Hulle voel dat hulle soortgelyke sukses moet behaal sodat hulle nie minderwaardig sal voel nie. As hulle wel ‘n soortgelyke persoonlike prestasie behaal het, is hulle vinnig om dit te noem. Die waarheid is dat iemand altyd meer sukses en iemand altyd minder sukses as jy sal behaal.
Dit verg daaglikse, pligsgetroue inspanning om ontevredenheid te beveg en om die vlak van sukses wat God jou mee geseën het, te geniet. Advertensies, reklameborde en selfs welmenende familie en vriende stuur die boodskap uit: ‘Jy kort iets. Koop dit, koop dat!’ Salomo het gesê: ‘Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam’ (Spreuke 15:16 NLV). Hebreërs 13:5 (NLV) sê: “Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.'”
Indien jy die behoefte voel om mee te ding wanneer iemand anders gekomplimenteer word, moet jy onmiddellik die gees van onsekerheid wat jou probeer verstrik, herken en verwerp. Begin om hierdie soort gedrag te verwerp deur op die teenoorgestelde manier te reageer. Oefen om jou onsekerheid te laat vaar en iemand anders se prestasies te geniet.
Laat jou geloof jou gedrag bepaal. Wanneer jy die Gees gehoorsaam en Hom toelaat om jou optrede te bepaal, word die vlees swakker en word uiteindelik aan die Gees se beheer onderwerp.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Luk 10:13-24; Ps 28; Spr 5:3-6
2026-02-16
Psalm 147:3 NLV
Daar is tye wat ons almal verwerping, verraad en teleurstelling ervaar. As ons egter aan hierdie ervarings vashou, kan ons in ‘n toestand van voortdurende seer leef. Wanneer ons weier om te vergewe en aan te beweeg, plaas ons ‘n wapen in Satan se hande wat hy by elke geleentheid teen ons sal gebruik. Dit is nie wat met ons gebeur het nie, maar hoe ons daarop reageer wat saak maak. As ons toelaat dat die seer beheer oor ons gedagtes kry, kan dit ons emosionele welstand ondermyn.
Jesus wil nie hê dat ons met wonde deur die lewe moet gaan nie; Hy wil ons genees. Dit is hoekom Hy ons die kosbare beloftes in sy Woord gegee het. Ongeag hoe erg ons seergekry het, God het altyd ons volledige herstel in gedagte. ‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees, sê die Here…’ (Jeremia 30:17 NLV). As jy al jare lank met onopgeloste seer worstel, voorsien God vir jou ‘n uitweg. ‘Hy genees die gebroke hart, en verbind die wonde.’
Toe Jesus op aarde was, het Hy voortdurend mense se pyn genees en hulle in hulle hartseer vertroos. Toe Hy die aarde verlaat het, het Hy ons egter nie hoog en droog agtergelaat nie. Hy het die ewige bron van vertroosting gestuur om binne-in elkeen van ons te woon – die Heilige Gees, wat ons trooster, helper en vriend is (sien Johannes 14:16).
Die seer wat jy ervaar het is werklik, maar God wil nie hê dat dit jou grootste werklikheid moet wees nie. Sy Gees is altyd by jou en sal jou nooit verlaat nie (sien Hebreërs 13:5). Jy kan in elke pynlike omstandigheid by Hom krag kry en genesing vind wanneer jy seergekry het.
Sielskos: Heb 5-8; Luk 10:1-12; Ps 5; Spr 5:1-2
2026-02-15
Jesaja 64:1 NLV
Jesus het die volgende vir die dissipels gesê net voordat Hy hierdie aarde verlaat het om terug te keer hemel toe: ‘En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is’ (Lukas 24:49 NLV). As verloste kind van God woon die Heilige Gees in jou (sien Romeine 8:9). Hierdie belofte dui egter daarop dat jy ook die Heilige Gees wat jou rus en jou krag gee, op jou kan hê. Hoe het die dissipels op hierdie belofte gereageer? ‘Hulle het almal saam aanhou bid…’ (Handelinge 1:14 NLV).
Larry Sparks sê: ‘Vir te lank duld die Westerse kerk al ‘n gebedskultuur wat deur ‘n gebrek aan resultate gedefinieer word.’ Dan gee hy ons hierdie strategie om ‘n goddelike besoek te ontvang: “Hersien God se beloftes wat handel oor die uitstorting van die Heilige Gees. Word daardeur beheers. Talm in toegewyde, volgehoue, volhardende gebed totdat herlewingsbeloftes herlewingswerklikhede word. Dis presies wat die dissipels gedoen het.”
Ons maak die fout om aan te neem dat die Heilige Gees slegs op vaste datums op die hemel se kalender uitgestort gaan word. Een van die grootste beloftes wat God aan ons gemaak het, is die volgende: “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: ‘Ek sal my Gees uitstort op elke mens…'” (Handelinge 2:17 NLV). Solank as wat ‘elke mens’ nog nie hierdie uitstorting van die Gees beleef het nie, moet ons aanhou bid: ‘As U maar die hemel wou laat oopskeur en afkom!..’ Jy vra: ‘Wat kan ek doen?’ Doen wat die dissipels gedoen het: ‘Hulle het almal saam aanhou bid…’ Begin om elke dag vir ‘n goddelike besoek van God se Gees te bid.
Sielskos: Gal 5:22-23; Deut 7:9; Spr 3:3-4; Luk 16:10-12
2026-02-14
Josua 9:14 NLV
Leef met jou ore op die hemel gespits: ‘Kom hierdie geleentheid van U, God?’ ‘Is U betrokke by hierdie onderneming, God?’ ‘Moet ek hierdie pad neem, God?’ Eenkeer het Josua dit nie gedoen nie en duur daarvoor betaal. ‘n Groep vreemdelinge het die kamp van Israel binnegegaan en gesê: ‘…Ons kom van ‘n baie ver land af…’ (vers 9 NLV). Hierdie vreemdelinge het klaarblyklik geweet dat God se wet spesiale voorsiening gemaak het vir stede buite Kanaän (sien Deuteronomium 20:10-12).
Enige stad wat instem om ‘n vredesverdrag met Israel te sluit, sou gespaar word. Dus het hierdie vreemdelinge besluit om die Israeliete te mislei. Drie dae het verbygegaan voordat Josua besef het dat hulle vir hom gelieg het. Hierdie mense was nie van ‘n verre land nie; hulle was van Gibeon, net ‘n dag se stap weg. Josua het dus ‘n verdrag met die vyand gesluit, omdat hy nie eers vir God geraadpleeg het nie.
Ons moet uit Josua se fout leer. Ons vyand vermom homself ook om ons kamp binne te kom: ‘…Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (2 Korintiërs 11:14 NLV). Hy is listig. Daarom is dit noodsaaklik dat ons God in alles raadpleeg. Ons moet God by elke besluit en kruispad erken, na Hom luister en vir Hom vra: ‘Moet ek regs of links draai?’
Dawid het gesê dat God se Woord ‘n lamp vir ons voete is (sien Psalm 119:105), nie ‘n kollig op die toekoms nie. Hy gee ons genoeg lig om die volgende stap te neem. Wanneer ons bid, spreek Hy tot ons harte: ‘Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs’ (Jesaja 30:21 NLV). Raadpleeg God dus oor alles.
Sielskos: Heb 1-4; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27