Wees tevrede

2026-02-25
Psalm 103:2 NLV

‘n Spotprent in die koerant het twee velde wat deur ‘n draadheining verdeel is, gewys. Albei was ewe groot met welige, groen gras. Elke veld het ‘n bees gehad wie se kop deur die draadheining gesteek het en gras van die ander se weiding geëet het. Alhoewel elke bees deur gras omring was, het die aangrensende veld begeerliker gelyk – al was dit moeiliker om te bereik. In die proses het die beeste se koppe in die heining vasgehaak, hulle het paniekerig geraak en onbeheersd begin bulk omdat hulle hulself nie kon bevry nie. Die spotprenttekenaar het die situasie met een byskrif beskryf: ‘ONTEVREDENHEID.’

Daar is ‘n les vir ons elkeen in hierdie spotprent. Wanneer ons op dit wat ons nie het nie of dit wat iemand anders het fokus, word ons blind vir die seëninge wat ons omring. Dawid het geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge…’ (verse 2-5 NLV).

Doelwitte om groter dinge te bereik en om beter dinge te begeer kan ‘n goeie ding wees, mits jy: 1) Die Here raadpleeg om dit te bereik: “…Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV), en 2) Terwyl God daaraan werk, jy tevrede is met dit wat Hy reeds vir jou gegee het: ‘…Laat wat julle het vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie'” (Hebreërs 13:5 NLV). Wees dus tevrede.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Hoe om vir jou kinders te bid

2026-02-24
2 Petrus 3:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Jy moet ook dít weet… dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom’ (2 Timoteus 3:1 NLV). Ons hoef nie ver te soek om te sien dat hierdie Skrif vervul word nie. Daarom moet ons vir die fisiese en geestelike veiligheid van ons kinders bid; dat hulle mag ‘…groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here…’

Heather Riggleman skryf: ‘Terwyl ons na die nuus kyk, ween ons, ons roep uit in woede en dan wonder ons: ‘Hoe kan ons ons kinders beskerm?’ Ons wonder of dit veilig is om hulle by die voordeur uit te stuur. Ons wonder of die wêreld besig is om uitmekaar te val. Niks is vreesaanjaender as die besef dat ons hulle nie teen die lewe kan beskerm nie. Alhoewel ons nie ons kinders vir die wêreld kan wegsteek nie, kan ons hulle op veel groter maniere beskerm as om hulle in watte toe te draai of hulle vir die res van hul lewe in hul kamers toe te sluit. Ons kan vir hulle intree en vir wysheid, beskerming, vrede en krag bid.’

Onthou, waar ons ook al bymekaar kom en bid, is Jesus in ons midde (sien Matteus 18:19-20). Paulus het gesê: ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied… Doen alles deur gebed en smeking… Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:13, 18 NLV). Wanneer jy so bid, sal God die beloftes in sy Woord eerbiedig. Hou aan om vir jou kinders in gebed in te tree en moenie moed opgee nie – maak nie saak hoe sleg dinge in die wêreld raak nie.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Probeer om te versoen

2026-02-23
Matteus 5:24 NLV

Ons dink nie genoeg aan die volgende nie, maar ons behoort daaraan te dink! Hoe jy ook al diegene met wie jy in verhouding is behandel, beïnvloed die verhouding wat jy met God het. Jesus het dit duidelik uitgespel: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (verse 23-24 NLV). Jesus beveel die oortreder – selfs al was die oortreding onbedoeld – om die inisiatief te neem om die verhouding te genees en te herstel. Dit verg ware nederigheid.

Max Lucado skryf: ‘Jy mag dit dalk moeilik vind om te glo, maar nie almal hou van ‘n prediker nie. Daar is tye wanneer ek verkeerd trap of verkeerd praat en die misnoeë van ‘n gemeentelid op die hals haal. In die vroeë jare van my bediening, wanneer ek van iemand se ongelukkigheid te hore gekom het, het ek dit geïgnoreer. ‘As hy of sy nie hul ongelukkigheid met my kom bespreek nie, kan ek nie die probleem oplos nie.’

Dan lees ek egter Jesus se woorde. Jesus beveel die oortreder om die inisiatief te neem. Ek vind dit nogal onaangenaam, maar tog probeer ek om dit op my brose vriendskappe toe te pas. ‘Bob,’ het ek al gevra, ‘het ek iets gesê wat jou ontstel het?’ ‘Mary, dit kom voor asof daar spanning tussen ons twee is. Is alles reg?’ Sonder uitsondering het hierdie stap tot herstel gelei. Nog nooit in my vier dekades van bediening het hierdie praktiese bevel misluk nie. Wanneer die Skrif met gehoorsaamheid gemeng word, lei dit tot genesing.’

Die woord vir jou vandag is dus: Probeer om te versoen.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5

Doen alles tot eer van God (2)

2026-02-22
1 Johannes 2:20 NLV

Hier is nog twee dinge wat jy oor jou roeping moet weet.

1) Die salwing is vir elkeen van ons bedoel. In Bybelse tye is olie slegs op die hoofde van profete, priesters en konings uitgegiet, wat simbolies was dat God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier op hulle rus. Die salwing is egter nie tot diegene in die bediening beperk nie; dit is vir almal bedoel – insluitend vir jou! Dit maak nie saak of jy ‘n onderwyser, ‘n dokter of ‘n prokureur is nie. God wil jou salf om te doen wat jy geroep is om te doen. As jy regshulp benodig, wil jy beslis ‘n prokureur hê wat ‘n regsgraad het, maar jy wil ook ‘n prokureur hê wat deur God gesalf is. As jy ‘n operasie benodig, wil jy beslis ‘n dokter hê wat ‘n mediese graad het, maar jy wil ook ‘n dokter hê wie se hande deur God gesalf is. Die salwing van God ken geen perke wanneer dit by posisie of portefeulje kom nie. Die apostel Johannes skryf: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.’

2) Ons moet daarna streef om God in alles wat ons doen, te behaag. ‘Wat julle ook al… doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Dit maak nie saak wat jy doen nie; doen dit tot eer van God. Oswald Chambers het gesê: ‘Ons dink dat ons uitsonderlike dinge vir God moet doen, maar ons hoef nie. Ons moet in gewone dinge uitsonderlik wees.’ Wanneer ons is, sit ons ‘n glimlag op God se gesig.

Sielskos: Gal 5:22-23; Ps 18:31-35; Jes 42:1-4; 1 Pet 3:15

Doen alles tot eer van God (1)

2026-02-21
1 Korintiërs 10:31 NLV

Wanneer dit by jou roeping kom, let die volgende twee dinge op: 1) God roep nie die mense wat reeds vir die taak gekwalifiseerd is nie, Hy kwalifiseer die geroepenes. ‘n God-gegewe droom sal altyd buite jou vermoë en hulpbronne wees, omdat jy dan elke liewe dag op God moet staatmaak! Dawid het gesê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ (Psalm 127:1 NLV). Jesus het gesê: ‘…Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Paulus het gesê: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God’ (2 Korintiërs 3:5 NLV).

2) In plaas daarvan om krities te wees, wees kreatief. Kritiek is dikwels net ‘n uitweg vir diegene wat te lui is om die probleem waaroor hulle kla, op te los. In plaas daarvan om films of musiek te kritiseer, vervaardig eerder ‘n film of ‘n album wat beter is as die een waaroor jy kla. Die konstruktiefste kritiek word kreatiwiteit genoem. Ons behoort meer vir dit waarvoor ons is, as dit waarteen ons is, geken te word. Enigeen kan probleme uitwys. Ons word egter geroep om hierdie probleme op te los deur beter boeke te skryf, beter skole te begin en beter wetgewing op te stel. Ons is gesalf om dit te doen!

‘Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly’ (1 Johannes 2:27 AFR83).

Sielskos: 1 Kon 3-5; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Vry van die skande van die verlede

2026-02-20
Josua 5:9 NLV

God het Israel in een dag uit Egipte bevry, maar dit het veertig jaar geneem om die skande van Egipte uit Israel te kry. Dit het by ‘n plek genaamd Gilgal gebeur, 381 myl noordoos van Egipte. Die Israeliete het soos slawe gedink en soos slawe opgetree. Dit is immers moeilik om die siklus na vierhonderd jaar van slawerny te verbreek. Tegnies gesproke is die Israeliete tydens die uittog uit Egipte bevry. Dit was egter eers toe hulle Gilgal bereik het, wat hulle die verlede agtergelaat het en waarlik vry geword het. “Die Here het vir Josua gesê: ‘Ek het julle vandag bevry van die vernedering van Egipte…'”

Vir sommige van ons neem dit jare om afsluiting van ons gevoelens van veroordeling te kry en die verlede agter te laat. Die goeie nuus is dat God jou vry van die skande van jou verlede kan maak. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV). Let die woord ‘nou’ op. Volle vergifnis is tans binne ons bereik. Hier en nou.

As jy in Christus is, word jy nie meer deur dit wat jy verkeerd gedoen het gedefinieer nie; jy word deur dit wat Christus namens jou reg gedoen het, gedefinieer. Jy is ‘n nuwe skepping, maar soms neem dit tyd vir jou nuwe natuur om tweede natuur te word. Jesus het gekom om die verlede op sy plek te sit – in die verlede. Jy moet dit daar los. Hoe doen jy dit? Deur jouself te sien soos God jou sien – geregverdig (sien 2 Korintiërs 5:21). In plaas daarvan om jouself met skande te beklee, begin om jouself te sien soos God jou sien: beklee met die geregtigheid van Christus.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20