Leer om te delegeer

2026-03-03
Eksodus 18:18 NLV

Die Bybel sê: “…die volk… het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tou gestaan… Sy skoonpa sê toe vir Moses: ‘Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie'” (verse 13. 17-18 NLV).

Jy het dalk al agter op vragmotors die bordjie wat hul vraglimiet aandui, opgemerk. As ‘n vragmotor met sy groot enjin vraglimiete het, maak dit sin dat ons ook limiete sal hê. Moses het sy vraglimiet oorskry. Dit was te veel om van die een kant van die kamp van Israel na die ander te hardloop, vergaderings te skeduleer, sperdatums te haal en almal te woord te staan wat sy raad nodig gehad het. Hy het twee opsies gehad: hy kon ineenstort, of die lading met ander begin deel.

Moses se skoonpa, Jetro, het vir hom gesê om dit wat net hy kan doen vas te stel en dan die res te delegeer. Elke keer as jy voor ‘n taak wat groter lyk as wat jy alleen kan hanteer te staan kom, sê God vir jou: ‘Moenie dit alleen probeer hanteer nie.’ Jetro het egter nie vir Moses gesê om die werk sommer net te laat staan en dit sommer net iemand anders se verantwoordelikheid te maak nie. Dis ‘n resep wat op ‘n ramp afstuur. Nee, om suksesvol te delegeer, moet jy die volgende drie dinge doen:

1) Kry die regte mense.
2) Gee hulle die regte taak.
3) Vertrou hulle om dit reg te doen; moenie heeltyd oor hulle skouer loer nie.

Die woord vir jou vandag is dus – doen wat net jy kan doen, delegeer die res en vertrou op God vir sukses!

Sielskos: 1 Kon 21-22; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28

God het ‘n doel vir jou lewe

2026-03-02
Johannes 15:16 NLV

Dit verg nie baie mense om verandering teweeg te bring nie. Trouens, te veel mense kan in die pad van verandering staan. Gideon het 32 000 manskappe geneem om te veg, maar God het slegs 300 nodig gehad. Die waarheid is dat jou lewe ‘n warboel kan wees, omdat te veel mense vir jou sê wat om te doen. Sit die telefoon neer. Maak die deur toe. Skakel die TV af. Gaan kniel voor God en vra Hom om met jou te praat. Hy sal jou die woord gee wat jy nodig het (sien Jesaja 50:4).

God het nie ‘n skare nodig nie; Hy het net een persoon wat sal luister en gehoorsaam is, nodig. As Hy ‘n nasie wil begin, sal Hy vir ‘n Abraham ‘n hoop en ‘n visie gee. As Hy ‘n Egiptiese farao wil omverwerp, sal Hy in die biesies reik en ‘n Moses uittrek. Wanneer Hy ‘n voorgeslag vir sy Seun wil hê, sal Hy ‘n Ragab vind. Hy wil net ‘n gewillige hart hê. ‘Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het…’

Ethel Waters, wat gedurende die Billy Graham-veldtogte ‘n sangeres was, was lief daarvoor om te sê: ‘God don’t sponsor no flops.’ Haar sinskonstruksie was dalk effens verkeerd, maar haar teologie was in die kol. Moenie jou lewe bestee deur gewoon te wees nie. Moenie jou lewe in die vorm van iemand anders se verwagtinge giet nie. God het ‘n doel met jou. Die rede waarom Hy jou deur soveel gehelp het, is omdat Hy ‘n hoër plan en doel vir jou lewe het. Kom vandag in sy teenwoordigheid en vra Hom daaroor uit.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Genesing vir ‘n geliefde

2026-03-01
Jakobus 5:16 NLV

As gevolg van die verbintenis met ons geliefdes, kry ons seer wanneer hulle seerkry. Een van die belangrikste dinge wat ons kan doen, is om in gebed vir diegene wat genesing nodig het, in te tree. God kan ons as ‘n agent van genesing gebruik: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.’ Ons sien hierdie beginsel dwarsdeur die Bybel.

‘n Romeinse offisier het Jesus gevra om sy slaaf te genees en Christus het hom nie teleurgestel nie (sien Matteus 8:5-7). Vier mense het die dak van ‘n huis oopgebreek om hul siek vriend in Jesus se teenwoordigheid te kry, sodat hy van verlamming genees kon word. Jesus het vir hom gesê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’ (sien Markus 2:1-11). ‘n Besorgde pa het na Jesus gegaan toe sy dogter op die randjie van die dood was. Terwyl Jesus nog op pad was na sy huis, het sy dogtertjie gesterf. Jesus het na haar bed toe gestap en gesê: ‘…’Dogtertjie, staan op!’ Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase’ (Markus 5:41-42 NLV).

Een van die laaste beloftes wat Jesus vir ons gegee het voordat Hy opgevaar het hemel toe, was die volgende: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Bely die volgende: ‘As ‘n gelowige in Christus, het ek die gesag om te bid, om hande op die siekes te lê en te sien hoe hulle genees word, want die Gees van God woon in my.’

Sielskos: Gal 5:22-23; 1 Kor 10:13; 2 Tim 1:7; Jak 1:19-20

Wees die meester van jou skuld

2026-02-28
Spreuke 22:7 NLV

Goeie krediet bepaal jou toekomstige koopkrag. Wanneer jy egter skuld misbruik, is jy elke maand angstig wanneer jy jou kredietkaartrekening ontvang wat wys dat jy meer bestee het as wat jy kan bekostig. Wat ook van die onverwagte uitgawes in die lewe? Jou motor benodig ‘n nuwe ratkas, of jy moet ‘n prosedure ondergaan wat nie deur jou mediese versekering gedek word nie. Die dinge wat jy koop kos jou nie net geld nie; daar is ook ander minder tasbare kostes soos jou gemoedsrus en jou gevoel van sekuriteit daaraan verbonde.

Jy verbeur hierdie dinge wanneer jy aanhou om bo jou vermoë te leef en goeie geld agter slegte skuld aan te gooi deur van persoonlike lenings en ander finansieringsopsies gebruik te maak. Jy probeer al die balle in die lug hou deur elke maand die minimum betalings te maak. Uiteindelik word jy egter moeg van al die stres en die balle begin op die grond val. Jy begin geld leen om kop bo water te hou en bestee dan slapelose nagte om te wonder hoe jy met die terugbetalings gaan byhou. Jou verleentheid vererger net die situasie, wanneer jy jou finansiële probleme wegsteek en jouself van die hulp wat jy dringend nodig het, afsny.

Wat is dan die oplossing vir skuld? 1) Identifiseer die emosies wat jou daartoe gelei het om items te koop wat jy nie kan bekostig nie om ‘n naamlose leemte binne-in jou te vul. 2) Leef volgens ‘n begroting. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (Spreuke 21:20 NLV). (3) Ontwikkel ‘n plan om jou skuld af te betaal en skuldvry te bly!

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Vertrou op die Here, eerder as op mense

2026-02-27
Spreuke 29:25 NLV

Ons maak soms die fout om ons vertroue in mense te plaas, wanneer ons ons vertroue eerder in die Here behoort te plaas. Aangesien God nie kan fouteer nie, maar mense wel, word ons uiteindelik seergemaak en teleurgestel. Die Bybel sê dat koning Asa van Juda ‘n hart vir God gehad het. Tog, toe ‘n vyandige nasie teen hom opgetrek het, het hy paniekerig geraak en ‘n verdrag met ‘n ander koning aangegaan. Hy het dit met fondse wat hy uit die tempel van God geneem het, gedoen. Sy vyand het teruggetrek toe hy die nuus van Asa se verdrag hoor. Asa het ‘n oplossing vir sy probleem gevind. Sy plan het gewerk – of so het dit altans voorgekom. God het egter die profeet Ganani gestuur om koning Asa te bestraf. Hoekom? ‘…Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God…’ (2 Kronieke 16:7 NLV).

Dit is dikwels die lot van diegene wat hoogs logies en intelligent is. Hulle vertrou op hul eie vermoë om ‘n oplossing vir hul dilemmas te vind. Ganani het voortgegaan om Asa te bestraf: ‘Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ‘n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê’ (2 Kronieke 16:9 NLV).

Later in sy lewe het Asa ‘n ernstige siekte opgedoen. ‘…Maar selfs in sy siekte het hy nie hulp by die Here gesoek nie, maar by sy dokters’ (2 Kronieke 16:12 NLV). Hulle kon hom nie help nie, dus het hy gesterf. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie mense die vertroue gee wat alleenlik op die Here geplaas moet word nie.

Sielskos: 1 Kon 14-15; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19

‘n Opofferende lewe

2026-02-26
Romeine 12:1 NLV

Met die nasionale staatskas wat deur ‘n reeks duur oorloë uitgeput is, het koning Frederik Willem III van Pruise besef dat daar ‘n ernstige tekort aan geld is om die land na die oorloë te herbou. Hy het geweier om aan sy vyande toe te gee en kon nie sy mense teleurstel nie. Hy het dus die vroue van Pruise gevra om hul goue en silwer juweliersware te bring om gesmelt te word, sodat dit vir die dinge wat die nasie dringend nodig gehad het, geruil kon word.

Soos elke vrou haar juweliersware gebring het, is aan haar ‘n ysterkenteken as simbool van die koning se dankbaarheid gegee. Die woorde: ‘Ek het goud vir yster gegee, 1813,’ was daarop gegraveer. Die vroue het begin om hierdie kentekens van die koning meer as hul vorige juwele te waardeer! Hul kentekens was die bewys dat hulle vir hul koning opgeoffer het. Trouens, in die vroeë negentiende-eeuse Pruise het dit hoogs onmodieus vir vroue om juweliersware te dra, maar baie modieus om ‘n kruis van yster te dra, geword. Dit was hier uit wat die Orde van die Ysterkruis gestig is.

Daar is twee kante van die Christelike lewe: seën en opoffering. Paulus het gesê: ‘Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou…’ (Filippense 3:8 NLV). Jesus het die koste van dissipelskap as volg uitgespel: ‘…As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom’ (Matteus 16:24 NLV). Die gesangedigter het geskryf: ‘Take up thy cross and follow me,’ I hear my blessed Saviour call. How can I make a lesser sacrifice when Jesus gave his all?’

Sielskos: 1 Kon 12-13; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15