2026-03-09
Jakobus 5:11 NLV
Ons dink dikwels dat groot kunstenaars en musikante oomblikke van inspirasie het waarin hul meesterstukke geskep word. Meer dikwels is hul meesterstukke egter voorbeelde van noukeurige geduld en deursettingsvermoë. Hul grootste werke word dikwels oor langer tydperke en deur uiterste ontberinge voltooi.
Daar word gesê dat Beethoven elke maat van sy musiek ten minste ‘n dosyn keer herskryf het. Joseph Haydn het meer as 800 musikale komposisies geskep voordat hy The Creation geskryf het, die oratorium waaraan hy geken word. Michelangelo se The Last Judgement word as een van die twaalf meesterskilderye van die eeue beskou. Dit het hom agt jaar geneem om te voltooi en het meer as 2 000 sketse en weergawes in die proses opgelewer. Leonardo da Vinci het tien jaar lank aan The Last Supper gewerk, dikwels so ywerig dat hy vergeet het om te eet.
Toe die bekende pianis Paderewski redelik bejaard was, het ‘n bewonderaar hom gevra: ‘Is dit waar dat jy nog elke dag oefen?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, ten minste ses uur per dag.’ Die bewonderaar het vol ontsag gesê: ‘Jy moet die wêreld se geduld hê.’ Paderewski het geantwoord: ‘Ek het nie meer geduld as die volgende persoon nie. Ek maak net gebruik van myne.’
Daar word gesê dat die perd wat die Kentucky Derby wen basies na die eerste myl uit suurstof hardloop en die res van die pad op hartstog steun. Die basketballegende Michael Jordan sê: ‘Hartstog is wat die goeies van die grotes skei.’
Jakobus het geskryf: ‘Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is…’ Diegene wat met sukses geseën word, is diegene wat aanhou, volhard en weier om op te gee.
Sielskos: 2 Kon 13-15; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5
2026-03-08
Hooglied 8:6 KAB23
As jou maat onseker is, moet jy alles in jou vermoë doen om verantwoordbaar te wees. Dit is belangrik om vrywillig voldoende besonderhede te verskaf. Hy of sy soek immers gerusstelling. Leer om op ‘n informele maar deeglike manier te verduidelik waar en saam met wie jy is. Kort antwoorde sal meer onsekerheid veroorsaak en die persoon verskeie negatiewe scenario’s laat verbeel. ‘n Jaloerse persoon is onseker en twyfel dus oor wat nodig is om die verhouding te handhaaf.
Moenie die fout maak om te dink of te sê: ‘Ag, kom nou net oor jou onsekerheid en jaloesie!’ nie. As dit so maklik was, sou jou maat dit teen hierdie tyd al gedoen het. Hou aan om vir hul genesing van hierdie aftakelende ingesteldheid te bid, maar doen ook jou deel om nie die probleem met vae kommunikasie te vererger nie.
Moedig jou maat bowenal aan om oor sy of haar vrese te praat. Luister sonder om krities of veroordelend te wees. Probeer eers om te verstaan. Maak dit duidelik dat jy jou maat liefhet en suiwer bedoelings rakende jul verhouding het.
Hier is egter iets belangriks om in gedagte te hou: Jy moet jou interaksie gebalanseerd hou. Jy moet dit ook duidelik maak dat jy nie in ‘n emosionele tronk gedwing sal word deur vir elke oomblik van die dag rekenskap te moet gee nie. Dit kan die jaloesie vererger en onrealistiese verwagtinge skep.
Vertroue is ‘n tweerigtingstraat. Een manier om vertroue te bou, is deur saam te bid. In gebed word ons eerlik en deursigtig en besef ons dat God reeds elke detail van ons weet. Wanneer jou maat hoor dat jy jou hart in gebed deel, verlig dit ongegronde vrese en skep dit sekuriteit binne-in hulle.
Sielskos: Joh 1:1-5; Matt 5:14-16; 1 Joh 1:1-10
2026-03-07
1 Korintiërs 10:11 NLV
Egipte verteenwoordig ons dae as die slawe van sonde. Toe het Jesus ons bevry en vir ons ‘n nuwe lewe gegee. Ons Beloofde Land is nie ‘n fisiese gebied nie; dit is ‘n geestelike werklikheid. Dit is nie vaste eiendom nie, maar ‘n werklike toestand van hart en gees. Dit is ‘n lewe waarin ‘ons ten spyte van al hierdie dinge besig [is] om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het’ (Romeine 8:37 NLV); ‘n lewe waarin ‘ons nie moed op[gee] nie’ (2 Korintiërs 4:16 NLV). ‘n Lewe waarin ons ‘vol moed en oorstelp van blydskap [is] ten spyte van ons swaarkry’ (2 Korintiërs 7:4 NLV); ons is ‘…oor niks bekommerd… nie’ (Filippense 4:6 NLV); waar ons ‘alles deur gebed en smeking [doen]’ (Efesiërs 6:18 NLV); en ‘n lewe waarin ons alles doen asof ons ‘dit namens die Here Jesus doen. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring’ (Kolossense 3:17 NLV).
Max Lucado het geskryf: ‘In Kanaän wen ons meer dikwels as wat ons verloor en gee net so oorvloedig as wat ons ontvang. Ons mag struikel, maar ons stort nie in duie nie. Ons mag sukkel, maar ons raak nie wanhopig nie. Ons roem slegs in Christus, vertrou slegs op God en steun geheel en al op sy krag. Ons geniet oorvloedige vrug en toenemende geloof.’ Kanaän simboliseer die oorwinning wat ons vandag kan ontvang. Daar is net een voorwaarde; ons moet ons rug op die woestynlewe draai.
Paulus het geskryf: ‘…God het julle as sy volk gekies… Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het’ (1 Petrus 2:9 NLV).
Sielskos: 2 Kon 10-12; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2
2026-03-06
Jakobus 2:10 NLV
Paulus skryf: ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God’ (Efesiërs 2:8 NLV). Hoekom sê Paulus ons is slegs deur genade gered? Omdat jy gaan misluk as jy verlossing probeer verkry deur die wet te onderhou. ‘Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.’
Jy sê: ‘Dis ‘n onmoontlike standaard om aan te voldoen!’ Jy is reg! Die wet is soos ‘n X-strale-masjien; dit kan dit wat onder die oppervlak is openbaar en die probleem identifiseer, maar dit kan dit nie regmaak nie. Die wet is ook soos ‘n spieël. Dit kan vir jou wys of jy grimering nodig het, of moet skeer, of jou hare moet kam, maar dit kan dit nie vir jou doen nie. Met ander woorde, die wet kan vir jou wys wat jou probleem is, maar dit kan dit nie oplos nie.
Wat die wet egter nie kon doen nie, het Christus aan die kruis gedoen (sien Romeine 8:3). Toe Jesus gesê het: ‘…Dit is nou afgehandel!…’ (Johannes 19:30 NLV), is al jou sondes – van die wieg af tot die graf – versoen. Wanneer jy jou vertroue in Hom plaas, word jy vir tyd en ewigheid gered. Sommige mense erken dat jy deur genade vrygespreek word deur jou vertroue in Christus te plaas. Hulle glo egter dat jy jou verlossing behou deur die werke van die wet te onderhou.
Die probleem is dat jy selfs op jou beste dag nie aan al die eise van ‘n perfekte God kan voldoen nie. Soos een gesang lui: ‘Trusting as the moments fly, trusting as the days go by; trusting Him whate’er befall, trusting Jesus, that is all!’
Sielskos: 2 Kon 7-9; Luk 14:1-14; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35
2026-03-05
1 Samuel 17:54 NLV
Elke keer wat Dawid Goliat se wapens in sy tent sien hang het, was dit ‘n heilige herinnering aan God se getrouheid teenoor hom en aan God se krag. Die woord onthou word amper 250 keer in die Skrif genoem. Daar is ‘n rede daarvoor. Ons is geneig om dit wat ons behoort te vergeet, te onthou en dit wat ons moet onthou, te vergeet. Dis hoekom God ons altyd aansê om altare te bou of gedenkstene op te rig.
Jakob het ‘n altaar by Bet-El gebou, waar God aan hom ‘n lewensveranderende droom gegee het (sien Genesis 28:18-22). Die Israeliete het twaalf klippe uit die Jordaanrivier geneem om ‘n altaar in Gilgal te bou, wat hulle sou herinner aan hoe God die water van die Jordaanrivier op ‘n wonderbaarlike wyse vir hulle geskei het (sien Josua 4:20-24). Samuel het ‘n oorwinningsaltaar by Mispa genaamd ‘Eben-Haeser’ gebou, nadat God sy gebede verhoor het en die Filistyne met ‘n bonatuurlike krag verslaan het (sien 1 Samuel 7:12).
Sonder heilige herinneringe, vergeet ons die geestelike lesse wat ons op die pad geleer het. Die Bybel teken die gewig van Goliat se wapenuitrusting aan: sy borsharnas het 57 kilogram geweeg en sy spies het 7 kilogram geweeg. Elke keer wat Dawid sy tent afgeslaan en êrens ander weer opgeslaan het, het Goliat se wapenuitrusting saamgegaan. Hoekom? Omdat dit ‘n daaglikse herinnering van God se getrouheid teenoor Dawid was. Dit het ook gedien om Dawid se selfvertroue te bou. Wat ook al die toekoms vir Dawid ingehou het, hy het geweet dat hy dit met God se hulp kon hanteer.
Daar is twee lesse hieruit te leer: Eerstens, as God dit vir Dawid gedoen het, sal Hy dit vir jou ook doen. Tweedens, as God dit vantevore gedoen het, kan Hy dit weer doen.
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31
2026-03-04
1 Samuel 17:38 NLV
Die Bybel sê: ‘Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek… ‘Ek kan nie hiermee loop nie,’ sê [Dawid]. Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet’ (verse 38-40 NLV).
Dawid moes ‘n keuse maak; een wat sy lotsbestemming sou bepaal. Hy kon die stryd as Saul aanvoer – deur Saul se wapenuitrusting aan te trek, Saul se swaard rond te swaai en Saul se skild vas te hou. Of hy kon die stryd as Dawid betree – ‘n veewagter met ‘n slingervel. Dawid het ‘n uitstekende rede gehad om nie Saul se wapenuitrusting te dra of sy swaard te gebruik nie – hy was nie Saul nie. Dawid het besluit om homself te wees – die Dawid wat God geroep, gesalf en vir die taak toegerus het.
Daar kom in almal se lewe ‘n tyd waar ons dapper genoeg moet wees om Saul se wapenuitrusting uit te trek. Dit verg moed om jouself te wees. Ons word almal as unieke mense gebore, maar te veel van ons eindig as nabootsers van iemand anders op. In plaas daarvan om ons uniekheid en die uniekheid van ander te eerbiedig, word ons te gereeld daardeur geïntimideer. Ons laat vaar ons uniekheid omdat ons wil inpas.
In een van sy bekendste skrywes, Self-Reliance, het Ralph Waldo Emerson geskryf: ‘There is a time in every man’s education when he arrives at the conviction that… imitation is suicide. He must take himself for better, for worse.’ Dis wat Dawid gedoen het en God het vir hom ‘n groot oorwinning gegee. Dit is wat God wil hê jy moet doen.
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29