2026-03-15
Levitikus 19:3 NLV
Wanneer jou ouers oud word en minder in staat is om na hulself om te sien, benodig hulle sekere dinge van jou, soos liefde, vriendelikheid, geduld, teerheid, sensitiwiteit en begrip. Toe jy ‘n kind was, het jou ma jou by die skool opgelaai omdat jy nie daarvan gehou het om bus te ry nie, en nou is jy kwaad vir haar omdat sy vyf minute laat is.
As jy ‘n tiener is, is dit verkeerd om vriendeliker, bedagsamer en geduldiger met jou vriende en jou vriende se ma’s te wees as met jou eie ma. As jy inderwaarheid jou vriende behandel het soos jy jou ma behandel, sou jy nie baie vriende oor gehad het nie. As jy ook hulle ma’s behandel het soos jy jou eie behandel, sou hulle ma’s nie toelaat dat haar kind enigiets met jou te doen het nie.
Wanneer jou ma oud word en meer sorg nodig het, is dit tyd om die leisels oor te neem! ‘Maar sy kla altyd,’ sê jy. Ja, net soos jy gedoen het, nie waar nie? ‘Maar sy praat net oor haarself en vra dieselfde vrae oor en oor.’ Soos hulle ouer word, ervaar ons ouers vrese wat hulle nog nooit tevore gehad het nie en hulle het jou nodig om hulle gerus te stel dat jy altyd daar vir hulle sal wees.
Een van die laaste dinge wat Jesus gedoen het toe Hy aan die kruis gesterf het, was om die sorg van sy moeder, Maria, aan sy goeie vriend en dissipel, Johannes, toe te vertrou: ‘Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Kyk, daar is jou ma.’ Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem’ (Johannes 19:27 NKV). Die woord vir jou vandag is dus – sorg goed vir jou ma.
Sielskos: Matt 6:11; Joh 6:31-40; 1 Kor 11:23-24
2026-03-14
Eksodus 14:14 NLV
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Britse Departement van Inligting drie plakkate ontwerp. Die eerste het gelees: ‘Your courage, your cheerfulness, your resolution will bring us victory.’ Die tweede het gelees: ‘Freedom is in peril.’ Die derde en bekendste plakkaat het gelees: ‘Keep calm and carry on.’ Die departement het 2,45 miljoen van die derde soort plakkaat gedruk, maar dit is nooit in die openbaar vertoon nie. Hierdie leuse het so te sê uit Brittanje se bewussyn verdwyn, todat ‘n paartjie wat ‘n boekwinkel in Alnwick besit – Stuart en Mary Manley – ‘n oorspronklike kopie van die plakkaat onder in ‘n boks ou boeke ontdek het.
Met farao se strydwaens wat van agter op hom afjaag en die Rooi See voor hom, het Moses hom op ‘n moeilike en gevaarlike plek bevind. Dit is toe dat God vir Moses hierdie instruksie gee: ‘…Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg’ (Eksodus 14:13-14 NLV).Dit klink baie soos ‘Keep calm and carry on,’ nie waar nie? Dit moes baie moeilik gewees het om stil te staan terwyl die Egiptiese strydwaens teen volle spoed reguit op die Israeliete afstorm.
Wanneer ons onsself in hierdie soort situasie bevind, wil ons iets doen – enigiets. Ons het ‘n senuweeagtige energie wat probeer om probleme so vinnig as moontlik op te los. Dit is egter in hierdie toetse wat geloof en vertroue geopenbaar word. Soms lei God ons na ‘n plek waar ons nêrens anders heen kan gaan as na Hom nie. Is dit waar jy vandag is? Vertrou dan op God se krag, liefde en getrouheid en Hy sal jou veilig daardeur lei.
Sielskos: Op 1-4; Luk 17:1-19; Ps 26; Spr 7:26-27
2026-03-13
Kolossense 3:13 NLV
Wanneer jy die lewens van diegene wat deur God in die Bybel gebruik is bestudeer, sien jy dat hulle nie van seer, teleurstelling of selfs verraad gespaar is nie. Die waarheid is dat as jy lank genoeg leef, iemand jou ‘n onreg sal aandoen. Die vraag is – hoe gaan jy reageer? Die apostel Paulus vertel ons hoe ons moet reageer: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.’
Daar is ‘n verhaal van twee vriende wat deur die woestyn geloop het toe hulle in ‘n argument betrokke raak. Een vriend het die ander in die gesig geslaan. Die een wat geslaan is, was seergemaak. Sonder om ‘n woord te sê, het hy in die sand geskryf: ‘Vandag het my beste vriend my in die gesig geslaan.’ Hulle het aangehou loop totdat hulle ‘n oase gekry het. Omdat hulle dors was, het hulle gestop vir water. Die een wat geslaan is, het in die modder vasgesit, ingeval en amper verdrink. Sy vriend het toe sy hand uitgesteek en hom gered. Daardie nag het hy die volgende woorde op ‘n groot klip uitgebeitel: ‘Vandag het my beste vriend my lewe gered.’
Die vriend wat hom eers geklap en toe gered het, het gevra: ‘Nadat ek jou seergemaak het, het jy in die sand geskryf. Nou skryf jy egter op die klip. Hoekom?’ Hy het geantwoord: ‘Wanneer iemand ons seermaak, moet ons dit in die sand skryf, waar die winde van vergifnis kan waai en dit uitvee. Wanneer iemand egter iets goeds vir ons doen, moet ons dit in klip uitbeitel waar dit vir ewig onthou sal word.’ Barmhartigheid vergeet die verkeerde dinge en onthou die regte dinge!
Sielskos: 2 Kon 24-25; Luk 16:19-31; Ps 24; Spr 7:24-25
2026-03-12
Psalm 39:9 NLV
Na sy owerspel met Batseba het koning Dawid uiteindelik sy sonde aan die profeet Natan bely. “…Natan antwoord hom: ‘Die Here het jou sonde vergewe sodat jy nie weens hierdie sonde sal sterf nie. Maar jy het vir die vyande van die Here geleentheid gegee om Hom te laster…'” (2 Samuel 12:13-14). Later sou Dawid in die Psalms skryf: ‘Red my van my oortredings. Moenie dat ek die spot van dwase mense word nie.’ Kom ons neem ‘n oomblik en oorweeg die nadele van onsedelikheid wanneer dit openbaar gemaak word:
1) Jou maat ervaar skaamte, verwerping, verraad en hartseer. Geen mate van berou of om vergifnis te vra kan die seer versag nie. Agterdog vervang vertroue.
2) Die onskuld en vertroue van jou kinders word ‘n verwoestende slag toegedien. Hul gesonde uitkyk op die lewe sal waarskynlik ernstig beskadig word.
3) Die hartseer wat jou ouers, familie en maats ervaar, is onbeskryflik. Jy sal ook waarskynlik verleë wees om ander Christene in die oë te kyk, veral diegene wat jou waardeer, gerespekteer en vertrou het.
4) Jou oortreding mag deur ander gesien word as toestemming om dieselfde te doen.
5) Jou innerlike vrede sal verdwyn.
6) Jy sal jou vrymoedigheid voor God verbeur.
7) Jou vyande sal rede hê om jou te spot en die saak wat jy verteenwoordig, sal skade ly.
Dis ‘n hoë prys om te betaal. Wat is die antwoord? Word deur die Heilige Gees vervul en bly deur die Heilige Gees vervuld. ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).
Sielskos: 2 Kon 21-23; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23
2026-03-11
Deuteronomium 28:2 NLV
Jode sê elke dag ‘n minimum van eenhonderd seëngebede op wat met die Hebreeuse formule: Baruch Atah Adonai begin. Praktiserende Jode seën God wanneer hulle iets vir die eerste keer sien of ervaar. Hulle seën God vir reuke en smake. As iets aangenaam is, seën hulle God. As jy iets volgens die Talmoed geniet, sonder om ‘n seën te spreek, is dit asof jy dit gesteel het. ‘As jy die Here God gehoorsaam, sal jy al die seëninge beleef.’
Jy weet nooit hoe of wanneer God jou sal seën nie. Anders as sy goedheid en genade wat ons al die dae van ons lewe vergesel (sien Psalm 23:6), volg die seëninge van God jou soos ‘n hittesoekende missiel. Hulle is warm op jou spoor en eendag gaan hulle jou inhaal.
God seën ons nie sodat ons ‘n hoër lewenstandaard kan volg nie; Hy seën ons sodat ons in staat is om meer te gee. Die grootste seën is die vermoë om ander mense te seën. Is jy geseënd? Dan moet jy die seën omkeer en ander mense seën. Waar het God jou guns bewys? Dis waar jy die guns moet terugbetaal. Daar is geen groter vreugde as om aan die geekant van ‘n geskenk te wees nie. Is dit nie wat Jesus gesê het nie? ‘…Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35 NLV).
Daar is honderde seëninge in die Skrif, elk met jou naam op. As jy in Christus is, behoort hierdie seëninge aan jou. ‘want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ‘n volmondige ‘ja’…’ (2 Korintiërs 1:20 NLV). Tel dus jou seëninge.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20
2026-03-10
Filippense 1:3 NLV
Paulus gebruik een hele hoofstuk in die boek Romeine om die mense wat hom gehelp het op te noem en sy waardering teenoor hulle uit te spreek. Deur te wys dat jy mense waardeer bo en behalwe wat hulle vir jou kan doen of beteken, wys dat jy werklik vir hulle omgee. Opregte lof kan hulle soos verwelkte blomme wat pas reën gekry het, laat floreer. ‘n Mens kan baie welwillendheid opbou deur jou waardering oor die klein dingetjies uit te spreek.
Indien jy vriendelikheid en inspanning as vanselfsprekend begin aanvaar, lees die volgende lys van take en verantwoordelikhede waarvoor jy waardering moet toon: Die huis skoonmaak. Maaltye voorberei. Die rekeninge betaal. Werk toe gaan. Geld op ‘n wyse manier spandeer. Kruideniersware koop. Die klere was en opvou. Die kinders bad. Die asblik leegmaak. Petrol in die motor gooi. Betyds wees. Die gras of plante natgooi. Verjaardaggeskenke vir familielede kies. Jou loopbaan ondersteun. Verantwoordelik wees. Luister. Die lys is eindeloos.
Stel vir jouself ‘n doelwit om ten minste een keer per dag jou waardering teenoor ‘n sekere persoon uit te spreek. Moenie dink dat jy swak sal voorkom wanneer jy die klein dingetjies begin raaksien nie. Dit verg ‘n ware man of vrou om verder as sy of haar behoeftes te kyk en die inspanning van iemand anders te erken. Wanneer jy seker van jou eie identiteit is, kan jy mense bemagtig deur hulle ingelig te hou, hulle te vertrou, vir hulle om te gee en hulle te waardeer.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Luk 15:1-10; Ps 112; Spr 7:6-9