Die eerste Saligspreking

2026-03-21
Matteus 5:3 AFR53

Wat beteken dit werklik om ‘arm van gees’ te wees? Dit het niks met finansies of status te doen nie. Dit beteken dat jy van jou eie geestelike armoede bewus word – dat jy sonder God niks is nie, niks het nie en niks van belang of ewige voordeel kan doen nie. Om arm van gees te wees, beteken dat jy weet dat jou eiegeregtigheid soos vuil klere is en jou selfgedrewe prestasies ten beste kortstondig en vlietend is (sien Jesaja 64:6). Om arm van gees te wees, beteken dat jy weet dat jy God nodig het.

Hoekom sal dit jou dan seën en salig maak? Omdat jy ontvanklik is om God se gratis geskenk van verlossing te ontvang en die Heilige Gees toe te laat om in jou lewe te werk. Jy is bereid om jouself te verootmoedig en te bid: ‘Here Jesus, ek het U nodig. Ek aanvaar U as my Verlosser. Ek wil my lewe aan u wil oorgee en dinge op u manier tot eer van u Naam doen.’

As jy arm van gees is, is jy bereid om jouself geestelik bankrot te verklaar. Wanneer jy dit doen, lê jy jou trots van gees, jou trots van wil, jou trots van intellek en jou trots van hart aan die voete van Jesus neer. As jy arm van gees is, stel jy jouself vir God se reddende barmhartigheid en genade oop. Gevolglik kan jy God se koninkryk binnegaan en al sy voordele en seëninge geniet.

‘Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele’ beteken dat jy opreg kan bid: ‘Here, ek erken my totale afhanklikheid aan U.’

Sielskos: Hos 6-10; Luk 19:41-48; Ps 13; Spr 8:14-16

Seëvierende gebed

2026-03-20
Jeremia 29:13 NLV

In ‘n ou boek genaamd Prevailing Prayer, word John Wesley se gebedslewe só beskryf: ‘Gewoonlik en as ‘n reël het John Wesley se gewone gebed twee ure per dag in beslag geneem. Soms het hy sy vriende en familie bymekaar gemaak en die hele nag, of totdat die krag van God duidelik geword het, gebid. Niks is as te groot of te klein beskou om na die Here te bring nie. Een keer het John Wesley tydens sy preekbeurt so erg pyn gehad dat hy nie verder kon praat nie. ‘Ek weet wat die geneesmiddel is,’ het hy gesê en onmiddellik neergekniel. Binne oomblikke was die pyn weg.

Wesley het van hierdie oomblik waartydens hy so pyn en koors gehad het dat hy nie kon praat nie, gesê: ‘Ek het Jesus hardop aangeroep om my geloof te vermeerder. Terwyl ek gepraat het, het my pyn verdwyn, my koors het my verlaat en my liggaamlike krag het teruggekeer.’ Wesley het die wêreld met die vuur van sy ywer aangegryp, omdat hy die hemel met die vuur van sy gebede aangegryp het. Sy gebede het mense se gewete aangegryp, omdat dit hulle toegang tot God gegee het.’

Waarom het Wesley elke dag twee ure in gebed deurgebring?

1) Omdat hy gebed as ‘n krag wat hom reinig en korrigeer gesien het. In een van sy gebede het hy gesê: ‘Vul tog alles wat ontbreek, herstel wat in my verkeerd is en vervolmaak my innerlike wese.’

2) Omdat hy geweet het dat God se wil die enigste plan en doel is waaraan God verbind is. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister’ (1 Johannes 5:14 NLV).

Sielskos: Hos 1-5; Luk 19:22-40; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Oorvloedige genade

2026-03-19
Romeine 5:20 NLV

The Scarlet Letter is die verhaal van ‘n vrou wat betrap is dat sy owerspel gepleeg het en ‘n skarlakenrooi ‘A’ op haar rok moes dra as ‘n simbool van haar skande. Ons doen dieselfde, nie waar nie? Ons etiketteer mense op grond van ‘n fout. Dit is egter nie hoe God ons sien nie. Hy neem die grafklere van sonde weg en bedek ons met klere van verlossing (sien Jesaja 61:10). Hy gee vir elkeen van ons ‘n nuwe naam, ‘n nuwe identiteit en ‘n nuwe bestemming.

Daar is ‘n verhaal in die Bybel wat met Hawthorne se The Scarlet Letter ooreenstem. ‘n Vrou is op heterdaad betrap waar sy owerspel pleeg. Die godsdienstige skare was gereed om haar te stenig toe Jesus ingegryp het. Hy het vir die skare gesê: ‘…Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi’ (Johannes 8:7 NLV). Een vir een het die skare hul klippe laat val en weggeloop. Toe sê Jesus vir die vrou: ‘… Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (vers 11 NLV).

Wanneer jy van iemand se mislukking hoor, moet jy John Bradford se bekende gesegde onthou: ‘But for the grace of God, there go I.’ Wees lief vir mense wanneer hulle dit die minste verwag en dit die minste verdien. Dis hoe jy iemand se lewe verander. Dis wat Jesus met hierdie vrou gedoen het. Toe die Fariseërs mense afgeskryf het, het Hy hulle aanvaar. Toe almal anders hulle die deur gewys het, het Jesus aan hulle genade betoon. Een daad van genade kan die ergste oomblik in iemand se lewe in ‘n beslissende oomblik verander. Jy kan daardie agent van genade wees.

Sielskos: Op 19-22; Luk 19:1-21; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9

Neem in ‘heerlikheid’ toe

2026-03-18
2 Korintiërs 3:18 AFR20

Vanaf 2007 het die REVEAL-navorsingsprojek die gemeentelede van meer as ‘n duisend kerke ondervra. Hulle wou die persentasie kerkgangers wat werklik deur hul geloof gedryf word om God en ander mense met hul hele hart lief te hê, bepaal. Raai hoeveel het aan hierdie kwalifikasies voldoen? Elf persent! Byna nege uit tien gelowiges het nie die graad gehaal nie.

Dink so daaraan: As slegs elf persent van ‘n skool se matrikulante slaag, as ‘n hospitaal slegs elf persent van sy pasiënte genees, as ‘n sportspan slegs elf persent van sy wedstryde wen, as ‘n bouer slegs elf persent van sy projekte voltooi, sou dinge nie moes verander nie? Ongeveer 2,2 miljard mense op ons planeet noem hulself Christene. Dit is ongeveer ‘n kwart van die wêreldbevolking. As REVEAL se opname enige aanduiding is, is daar ongeveer twee miljard van daardie Christene wat nie hul Christenskap ten volle uitleef nie.

Wat sou gebeur as hulle besluit om voluit vir Christus te begin leef? Hoeveel vreugde sou ontketen word? Hoeveel wysheid sou gedeel word? Hoeveel huwelike sou gered word? Hoeveel oorloë sou voorkom word? Hoeveel hongersnood sou verdwyn? Wat sou dit verg om deel van die elf persent te word – meer deernis, meer oortuiging, meer moed? Watter houdings sou jy moet laat vaar – gierigheid, skuldgevoelens, negatiwiteit, ‘n kritiese gees?

Hier is die goeie nuus: Jy kan dit doen. Met God se hulp kan jy die gaping tussen die persoon wat jy is en die persoon wat jy wil wees, oorbrug. Jou ‘heerlikheid’ kan steeds toeneem.

Sielskos: Op 15-18; Luk 18:18-43; Ps 19; Spr 8:6-7

‘n Gebed vir vertroue in die Here

2026-03-17
Psalm 34:5 NLV

Vader, ek kom met vrymoedigheid voor u troon om barmhartigheid en genade te verkry om van emosionele onsekerheid verlos te word (sien Hebreërs 4:16). U Woord sê dat U u genade oorvloedig oor my sal stort, sodat ek altyd in alle dinge genoeg sal hê en oorvloedig sal wees in elke goeie werk (sien 2 Korintiërs 9:8). Ek verwerp elke gedagte van ontoereikendheid en elke idee wat in teenstelling is met wat u Woord sê oor wie ek is en wat ek kan doen (sien 2 Korintiërs 10:5).

Ek weerstaan enige angs oor die moontlikheid om ‘n sosiale of professionele posisie of verhouding te verloor. Ek weet dat niemand u doel vir my lewe kan dwarsboom nie. U, o Here, het my bestemming bepaal (sien Jesaja 14:27). ‘Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming’ (Psalm 16:5 NLV).

U Woord sê dat U my doelbewus in die moederskoot gevorm het om u dienaar te wees. Daarom verbly ek myself en vertrou dat ek perfek ontwerp is om my lewensdoel te behaal (sien Jesaja 49:5). As gevolg van u genade wandel ek nie in self-twyfel of in selfvertroue nie, want ek weet dat ek sonder U absoluut niks kan doen nie (sien Johannes 15:5).

Daarom is my oë alleenlik op U gerig om oneindig meer te doen as wat ek kan vra of dink om te vra, volgens u krag wat in my werk (sien Efesiërs 3:20). Ek dank U dat U my verhoor het, my van al my vrese verlos het en dat hulle geen mag meer oor my lewe het nie (sien Psalm 34:5). In die Naam van Jesus Christus bid ek dit, amen.

Sielskos: Op 10-14; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5

Wees sensitief vir God se teenwoordigheid

2026-03-16
2 Konings 6:17 NLV

Een oggend het ‘n slaaf van die profeet Elisa in die stad Dotan wakker geword en was verskrik om te sien dat ‘n vyandige leër hom en sy baas omsingel het. ‘…Benoud roep hy vir Elisa: ‘Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?’ ‘Moenie bang wees nie!’ sê Elisa vir hom. ‘Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!’ Toe bid Elisa: ‘Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!’ Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was’ (verse 15-17 NLV).

Wat as dit ook jou gebed word? Wat as God elke keer wanneer jy uitgedaag of belas word, jou geestelike oë oopmaak sodat jy kan sien dat jy deur sy krag en beskerming omring word? Dit het met twee volgelinge van Jesus gebeur, wat na die kruisiging op die pad na Emmaus geloop het. ‘n Derde man het by hulle aangesluit. Dit was Jesus wat saam met hulle geloop en gepraat het – maar hulle het Hom nie herken totdat Hy begin bid het nie. Toe besef hulle wie Hy is en sê: ‘…Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?’ (Lukas 24:32 NLV).

Wat as jy op pad na Emmaus toe, op pad werk toe, skool toe of huis toe was – en Jesus was daar reg langs jou? Wat as jou hart ook vuur en vlam op Hom kon reageer en jy werklik sy teenwoordigheid kon ervaar? Jy kan. Reik net na Hom toe uit, herken Hom en reageer op Hom.

Sielskos: Op 5-9; Luk 17:20-37;Ps 115;Spr 8:1-3