2026-02-03
Psalm 56:10 NLV
In sy topverkoperboek, The Tipping Point, definieer Malcolm Gladwell die kantelpunt as ‘die oomblik van kritieke massa, die drempel, die kookpunt.’ Dit is die oomblik wanneer ‘n idee, ‘n tendens of sosiale gedrag die punt van geen terugkeer verbysteek en aanvaarbaar word. Op die gebied van fisika is ‘n kantelpunt wanneer ‘n voorwerp van ‘n stabiele toestand van ewewig na ‘n nuwe toestand beweeg. In ekonomie is dit die punt waar opkomende tegnologie die bedryfstandaard word. In sosiologie is dit wanneer ‘n kworum mense ‘n gedrag aanneem, sodat dit kritieke massa bereik en wyd versprei word.
Geestelik gesproke is die kantelpunt wanneer jy sonder enige voorbehoud glo dat God aan jou kant is. Dit is die openbaring dat God jou nie net liefhet nie, maar ook van jou hou. Hy het jou lief genoeg om vir jou te sterf en Hy hou genoeg van jou om die ewigheid saam met jou te wil deurbring.
Tog bly sommige van ons skepties. Ons projekteer ons selfminagting op God en neem aan dat Hy net so kwaad is vir ons as wat ons vir onsself is. Of ons trap in die prestasie-gebaseerde strik om te dink dat ons gedrag God se houding teenoor ons bepaal – of dit nou vir of teen ons is. Verstaan die volgende: die feit dat God vir jou is, is aan Golgota se kruis bewys.
Oswald Chambers het geskryf: ‘Geen mag op aarde of in die hel kan die gees van God wat in ‘n mens se gees woon, oorwin nie. Dit is ‘n innerlike onoorwinlikheid.’ Godsdiens gaan oor wat jy vir God kan doen; Christendom gaan oor wat Christus vir jou gedoen het. Dit begin egter met hierdie allerbelangrikste waarheid: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis.’
Sielskos: Num 19-21; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30
2026-02-02
Spreuke 10:12 NLV
Liefdevolle verhoudings is ‘n hoeksteen van die lewe. Hulle is die fondasie van Christus se kerk en is ‘n bewys dat ons God se liefde in ons harte het. God plaas groot klem op hoe ons met ander omgaan, want ons verhoudings beïnvloed elke area van ons lewe: by die huis, by die werk, by die kerk, by die skool en tydens ons daaglikse interaksies. ‘n Verhouding gebou op liefde, sensitiwiteit en respek kan ‘n ongeredde man of vrou vir Christus wen.
Petrus skryf: ‘En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ‘n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen. Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe’ (1 Petrus 3:1-2 NLV).
Dit is hoekom Satan ons verhoudings so gereeld aanval. Wanneer verhoudings verbrokkel, beïnvloed dit ons lewenskwaliteit. Mediese wetenskap het bewys dat onopgeloste bitterheid en onvergewensgesindheid bronne van siekte en depressie is. Net soos God jou fisies wil genees, wil Hy hê dat jy ook sy genesende aanraking in jou verhoudings moet ervaar.
Jy het egter ook ‘n rol om te speel. ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV).
Terwyl jy oor jou problematiese verhouding bid, maak die volgende belydenis: ‘Aangesien God my al my sondes vergewe het, sal ek teenoor niemand anders onvergewensgesind wees nie. Ek laat alle bitterheid en woede gaan. Here, ek bid u vrede oor die misverstand en seer area in hierdie verhouding. Amen.’
Sielskos: Num 16-18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28
2026-02-01
Psalm 90:12 NLV
Toe hy die veldtogbestuurder vir president George Bush en voorsitter van die Republikeinse Nasionale Komitee geword het, het Lee Atwater die twee dinge gedoen wat hy teen die ouderdom van veertig wou bereik het. Hy is egter toe met ‘n kwaadaardige breingewas gediagnoseer.
Kort voor sy dood het hy hierdie ontnugterende woorde geskryf: ‘Ek het meer rykdom, mag en aansien as die meeste ander mense verkry. ‘n Mens kan egter alles kry wat jy wil hê en steeds leeg voel. Wat sou ek nie alles verruil het vir ‘n bietjie meer tyd saam met my familie nie? Watter prys sou ek nie betaal vir nog ‘n aand saam met vriende nie? Dit het ‘n dodelike siekte geverg voordat ek hierdie les geleer het. Ek lê hier in my slaapkamer, my gesig geswel van steroïede, my liggaam nutteloos. Die dokters wil steeds nie my kwellende vraag beantwoord nie: hoe lank het ek oor? Sommige nagte kan ek nie aan die slaap raak nie, so bang is ek dat ek nooit weer sal wakker word nie.
Ek het ‘n lang pad gekom sedert die dag toe ek vir president Bush gesê het dat sy ‘vriendeliker, sagter’-aanslag ‘n mooi idee is, maar dat dit ons geen stemme sou wen nie. Ek het altyd vir die president gesê dat hy maar vriendeliker en sagter kan wees, maar ek sou nie so wees nie. Hoe verkeerd was ek nie. Daar is niks belangriker in die lewe as verhoudings nie en niks soeter as menslike aanraking nie.’
As jy wys is, sal jou prioriteite in die lewe God eerste, jou familie tweede en jou loopbaan derde wees. ‘Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom.’
Sielskos: Gal 5:22-23; Gen 50:15-21; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32
2026-01-31
Prediker 9:10 NLV
‘n Reeks illustrasies in ‘n gewilde tydskrif het eens die lewensverhaal van ‘n ‘eennootmusikant’ uitgebeeld. Van raam tot raam het die verhaal hoe die vrou haar daaglikse roetine van eet en slaap gevolg het, ontvou, totdat die tyd vir die aandkonsert aangebreek het. Sy het haar viool noukeurig geïnspekteer, haar sitplek ingeneem, haar bladmusiek gerangskik en haar instrument gestem. Eers het die dirigent vaardig een groep musikante gelei, toe ‘n ander, totdat haar oomblik uiteindelik aangebreek het. Dit was tyd vir haar een noot om gespeel te word! Die dirigent het na die violis gedraai en aangedui dat sy haar een noot moet speel. Sy het, en toe was die oomblik verby. Die orkes het aangehou speel en die ‘eennootmusikant’ het stil deur die res van die konsert gesit – nie met ‘n gevoel van teleurstelling dat sy net een noot gespeel het nie, maar met ‘n gevoel van tevredenheid dat sy haar een noot in harmonie, betyds en met alles in haar vermoë gespeel het.
Jesus vertel die verhaal van die besigheidsman wat vir drie van sy werknemers talente gegee het om namens hom te belê. Aan een is vyf talente gegee, aan ‘n ander twee talente en aan die laaste een is een talent gegee, ‘…vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid…’ (Matteus 25:15 NLV).
Die Bybel sê dat ons in die hemel vir ons diens aan Christus hier op aarde beloon sal word. Hoe sal God besluit wat jou beloning moet wees? Jesus het gesê: ‘…vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid…’ Of soos Salomo dit stel: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Doen dus die beste wat jy kan met dit wat God vir jou gegee het.
Sielskos: Num 14-15; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2026-01-30
1 Samuel 17:37 NLV
Elke ervaring in ons verlede berei ons vir ‘n toekomstige geleentheid voor. God verlos nie net ons siele nie; Hy verlos ook ons ervarings – beide goed en sleg. Hy doen dit deur ons karakter te verfyn, ons gawes te ontwikkel en ons lesse te leer wat ons op geen ander manier kan leer nie.
Ons leer die belangrikste lesse deur eerstehandse ervaring in die klaskamer van die lewe te ontvang. Die toetse is uitdagend, maar geen kurrikulum is meer effektief as dit nie. Jy slaag die toets deur in karakter te groei, die gawe te ontwikkel, of die les te leer wat God jou deur daardie ervaring probeer leer. God is aan die werk in jou lewe. Hy doen dit op maniere wat feitlik onmerkbaar is.
Dawid het besef dat hy teen die beer en die leeu moes baklei, omdat dit hom voorberei het om Goliat te oorwin. Dis eers wanneer jy jou grootste uitdaging in die gesig staar dat God jou wys hoe, wanneer en waar Hy jou voorberei het. Dit is dan wanneer jy besef dat die stryd lank voordat jy op die slagveld staan, gewen is. Moses moes vir veertig jaar lank skape oppas voordat hy die kudde van Israel kon lei. Die dissipels moes visvang voordat hulle vissers van mense kon wees.
‘n Tyd van voorbereiding gaan elke goddelike afspraak vooraf. As ons ons aan die voorbereiding oorgee, sal God sy belofte nakom. Die tyd wat jy in die skaduwees deurbring, berei jou voor vir die tyd wanneer jy in die kollig sal wees. Die tyd wat jy op die kantlyn deurbring, berei jou voor om aan die voorpunt te wees – en om te wen.
Sielskos: Num 11-13; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
2026-01-29
Hebreërs 13:16 NLV
Petrus beskryf Jesus se lewe met die volgende woorde: ‘…Jesus het… oral goeie werke gedoen…’ (Handelinge 10:38 NLV). Om meer soos Christus te word, beteken om vir geleenthede te soek om goed te doen.
‘n Anonieme skrywer sê: ‘Wanneer mense onredelik, onlogies, selfgesentreerd en arrogant is, wees in elk geval lief vir hulle. Wanneer mense daarop aandring dat jou goedheid selfsugtige motiewe bevat, doen in elk geval goed. As jy suksesvol is, sal jy beide vals vriende en ware vyande wen. Strewe in elk geval na sukses. As jy eerlik is, sal sommige probeer om jou woorde te verdraai. Wees in elk geval eerlik. As jy vandag goed doen, kan sommige mense dit môre vergeet. Doen in elk geval goed. As jy jouself as ‘n groot persoon met groot idees bewys, moenie verbaas wees as jy deur klein mensies met klein gedagtes teëgestaan word nie. Dink in elk geval groot. Wat jy jare lank gebou het, kan sommige mense oornag probeer vernietig. Bou dit in elk geval.’
President Theodore Roosevelt het gesê: ‘Dit is nie die kritikus wat tel nie – die persoon wat uitwys waar dit beter gedoen kon word nie. Hierdie eer behoort aan die persoon wat werklik dáár is, wie se gesig deur stof en sweet en bloed ontsier is; wat dapper streef; wat foute maak, wat keer op keer tekort skiet, wat groot entoesiasme en groot toewyding ken; wat hom- of haarself aan ‘n waardige saak wy; wat uiteindelik ten beste die triomf van hoë prestasie ken en ten ergste misluk terwyl hy of sy groot waagmoed aan die dag lê. Sy of haar plek sal nooit by daardie koue en skugter siele wees wat nóg oorwinning nóg nederlaag ken nie.’
Word bewus van geleenthede om goed te doen.
Sielskos: Num 8-10; Luk 6:37-49; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20