2026-03-27
Matteus 5:9 NLV
Die Hebreeuse woord vir ‘vrede’ is shalom; dit verwys na ‘n gevoel van welstand wat kalmte en vertroue, selfs in ‘n krisis, voortbring. Dis versekering te midde van onsekerheid en verwarring. Diegene wat ‘n onwrikbare, onwankelbare, rotsvaste vertroue in God het, is diegene wat ware vrede in hulle harte ervaar. Hoe verkry mens sulke vrede?
Eerstens moet jy weet wat God in sy Woord sê en dit glo. Jy moet God se Woord die fondament van alles wat jy glo, alles wat jy sê en alles wat jy doen, maak. Jy moet geloof in God se Woord hê en jou wil aan sy gebooie en sy plan oorgee. Jy moet jou verwagtinge en hoop in sy beloftes en sy begeertes wortel. Ware vrede van hart word altyd op die waarheid gebou – die waarheid van wie God is, wie jy in Hom is en hoe God wil hê jy teenoor Hom en ander mense moet optree.
Om God se waarheid te ken, is om God se vrede te ervaar. Wanneer jy daarna streef om hierdie soort vrede na die harte van ander te bring, tree jy soos jou hemelse Vader op. Dit is God se begeerte dat jy met Hom versoen moet word en verlossing en ware hartsvrede moet ervaar. ‘Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan’ (Job 22:21 NLV).
Paulus het gesê: ‘As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het’ (Romeine 5:1 NLV). Ons uiteindelike rol as vredemakers is nie net om ander mense aan te spoor om in vrede met mekaar te leef nie, maar ook in vrede met God.
Sielskos: Jer 10-13; Luk 21:20-24; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2026-03-26
Matteus 5:8 AFR83
Die Griekse woord vir ‘rein’ is katharos, waarvandaan ons ons Engelse woord ‘catharsis’ kry. Psigiaters praat van ‘n katarsis as die reiniging van ‘n persoon se vernietigende denkwyses. Die Bybelse woord verwys na ‘n reiniging wat alle onsuiwerhede uit jou innerlike gees verwyder – onsuiwerhede wat bose gedagtes, bose begeertes, wellus van die vlees en valse roem op besittings, insluit (sien 1 Johannes 2:16). Om rein te wees, is om al hierdie onsuiwerhede te verwyder sodat jy Christus Jesus se karakter kan weerspieël.
Een van die grootste probleme in ons samelewing en selfs in baie kerke, is dubbelsinnigheid. Ons het gemengde motiewe, ‘n verdeelde verstand en hart. Ons moet ophou om ons lewens apart te hou, sodat ons op een manier rondom mede-Christene praat en optree en op ‘n ander manier rondom diegene wat Christus nie ken nie.
Om rein van hart te wees, beteken om integriteit te hê – om jou hart, jou kop en jou hande met die gebooie van God in lyn te bring en te integreer. Wanneer jy integriteit het, sê jy wat jy doen en doen wat jy sê. Jesus het baie duidelik gesê: ‘Niemand kan tegelyk twee base dien nie…’ (Matteus 6:24 NLV).
‘Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.’ Diegene wat rein van hart is, sien God se liefdevolle hart en barmhartigheid in elke Skrifgedeelte. Hulle sien dat God omstandighede vorm, gebruik en ontwerp om sy doeleindes te dien. Hulle sien God te midde van hul eie probleme, pyn en lyding. Wanneer jou hartsbegeerte is om God beter te sien en te ken, sal Hy daardie begeerte vervul.
Sielskos: Jer 7-9; Luk 21:1-19; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2026-03-25
Matteus 5:7 AFR83
Barmhartigheid is meer as vergifnis, minder as liefde, anders as genade en een met geregtigheid. Vergifnis spring eers aan die werk wanneer ‘n oortreding gepleeg word, maar barmhartigheid is te alle tye operasioneel. Barmhartigheid lei tot en bring vergifnis voort, maar barmhartigheid is meer as vergifnis. Barmhartigheid reik na die swakkes, die behoeftiges en diegene wat beskerming en leiding nodig het, uit.
Net soos vergifnis uit barmhartigheid vloei, vloei barmhartigheid uit liefde. Liefde is die bron van barmhartigheid, maar liefde is groter as barmhartigheid – dit bestaan los van enige behoefte of sonde. Barmhartigheid bied verligting van straf, maar genade bied volkome vergifnis. Barmhartigheid verlig ons pyn, maar genade genees die siekte. Barmhartigheid sien foute oor, maar genade vergeet die foute.
God is terselfdertyd beide barmhartig en regverdig. Barmhartigheid wat sonde ignoreer of weier om dit te hanteer, is valse barmhartigheid. Geregtigheid vereis dat ons sonde in die gesig staar en dit hanteer. Barmhartigheid gee ons die voorreg om sonde in die gesig te staar en dit te hanteer, sodat ons vergewe kan word.
Jesus het gesê: ‘Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.’ Hoe meer barmhartigheid ons betoon, hoe meer barmhartigheid ontvang ons van God. Ons moet kanale vir God se barmhartigheid wees, met ‘n steeds toenemende kapasiteit om dit aan ander te bewys. Die persoon wat barmhartigheid betoon, word van emosionele kettings losgemaak, van geestelike slawerny bevry en van die bitterheid wat geestelike groei belemmer, bevry.
Barmhartigheid wat van God na ons vloei, verwyder die dinge wat ons verhinder om heel te word. Die goeie nuus is dat ons nooit gevra sal word om meer barmhartigheid aan ander te bewys as wat God aan ons bewys nie.
Sielskos: Jer 4-6; Luk 20:27-47; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2026-03-24
Matteus 5:6 NLV
Geregtigheid is nie ‘n opsionele geestelike bysaak nie; dit is ‘n noodsaaklikheid vir ‘n Christelike lewe. Dit is iets wat jy net soveel moet begeer as wat ‘n honger man kos en ‘n dorstige man water begeer. Honger jy na meer van Jesus? Het jy ‘n aptyt vir sy Woord? Verlang jy daarna om die koninkryk van God te ervaar? Indien wel, sê Jesus dat jy ‘bevredig’ sal word. Hy sal jou meer van Homself gee.
Wanneer jy na geregtigheid honger, sal Hy jou die krag van ‘n regverdige lewe gee – om God se gebooie te onderhou en die leiding van die Heilige Gees dag vir dag te volg. Die Here sal jou die krag gee om ‘nee’ vir geleenthede wat nie reg in sy oë is nie, te sê. Hy sal jou ook die krag gee om vir daardie dinge wat van ewige voordeel is ‘ja’ te sê en om sy krag vir die regte besluite, regte dade en regte woorde op die regte tye, in die regte situasies, vir die regte resultate te gebruik. Die Here sal jou met die vermoë vul om sy agent by die huis, by die skool, in jou werkplek, in die politieke arena en in die kerk te wees.
Wanneer jy na geregtigheid honger en dors, sal God jou met sy teenwoordigheid, sy krag en sy vrede bevredig. Wanneer jy waarlik meer van die Here begeer, sal jy meer van die Here ontvang, tot by die punt waar jy tot oorlopens toe gevul sal wees. God kom sy beloftes na en Hy sal ook hierdie een nakom: ‘Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal julle hartsverlange bevredig.’
Sielskos: Jer 1-3; Luk 20:20-26; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2026-03-23
Matteus 5:5 NLV
Om ‘sag van hart’ te wees, beteken nie om ‘n deurmat, besluiteloos, skugter, angstig of ruggraatloos te wees nie. Dit beteken nie dat jy soos ‘n verloorder of ‘n lafhartige swakkeling optree nie. Sagmoedigheid is beheerste mag.
Die Bybel sê dat Moses sagmoedig was, meer as enigiemand anders op daardie stadium op aarde (sien Numeri 12:3). Tog was hy bereid om farao teen te staan, om ‘n klaende volk deur die woestyn te lei en ‘n berg wat rook en bewe te klim om die Almagtige God persoonlik te ontmoet. Jesus het Homself as ‘…sag en nederig van hart…’ (Matteus 11:29 NLV), beskryf. Tog was Hy die dapperste man wat ooit geleef het.
Wat het Moses en Jesus sagmoedig gemaak? Hulle het beheerste mag gehad. Spreuke 16:32 (AFR83) beskryf hierdie soort mag as volg: “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.” Spreuke 25:28 (NLV) beskryf die teenoorgestelde van iemand wat sagmoedig is: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’
Die sagmoediges is diegene wat die mag het om seer te maak, maar kies om dit nie te doen nie. Hulle het kennis om iemand se reputasie te vernietig, maar gebruik dit nie. Hulle het rede om te haat, maar weier om daarop te reageer. Sagmoedigheid is bloot krag wat ingespan en gebruik word om goed te doen.
Diegene wat sagmoedig is, wandel in God se seën. Die sagmoediges volhard totdat die goeie die kwaad oorwin, antwoorde gevind word en versoening vervreemding oorwin. Die sagmoediges slaap snags goed – want hulle vertrou op die Here!
Sielskos: Hos 11-14; Luk 20:1-19; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2026-03-22
Matteus 5:4 AFR53
Jesus praat nie noodwendig hier oor die verlies van ‘n geliefde nie, maar dat diegene wat oor hul sondes treur, God se vertroosting sal ontvang. Wanneer jy oor jou sondes en die probleme wat hulle vir jouself en ander meegebring het treur, plaas jy jouself in ‘n posisie om God se vergifnis te ontvang. Ware bekering fokus nie op die self nie. Dit is nie morbied of wanhopig nie; dit spruit nie uit valse nederigheid of selfbejammering nie. Dit is om openlik, duidelik en eenvoudig te erken dat jy God se genade nodig het.
Solank as wat jy jou in jou sondes verlustig, probeer om dit te regverdig of ander daarvoor blameer, kan jy nie vergewe word nie. Dit is slegs wanneer jy bid: ‘Ek bely dat ek teen U gesondig het in my gedagtes, my woorde en my dade,’ dat jy jouself in ‘n posisie plaas om van jou sonde gereinig te word. Die Bybel sê: ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alle verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:8-9 NLV).
Daarin lê ons troos! Dit is God se vergifnis wat ware vreugde en troos in ons siele voortbring. Dit is God se vergifnis wat ons diep innerlike wonde genees en wat ons intimiteit met ons hemelse Vader herstel. Dawid het gesê: ‘Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV).
Sielskos: Eks 17:1-7; Jes 44:3; Joh 7:37-41