2026-02-09
Jesaja 45:10 DB
Jesaja het gesê dat God ‘…my as sy dienaar in my ma se skoot gemaak het…’ (Jesaja 49:5 NLV). God het elkeen van ons doelbewus vir sy diens gevorm. Hoe kan ons dan kla dat ons te kort, te lank, te donker, te blond, of enigiets anders wat ons nie kan verander nie, is? Die woord ‘te’ impliseer dat iets meer is as wat dit behoort te wees. Hoe kan enigiets wat God gevorm het te veel wees? Wat ons eintlik sê, is die volgende: ‘Hierdie eienskap voldoen nie aan die samelewing se voorgeskrewe standaard van skoonheid nie.’
Daarom laat ons toe dat ons unieke eienskappe ons onseker laat word en ons van ons selfvertroue beroof. Ons voel dan dat ons enigste oplossing is om die ongewenste eienskap te verander. Wat ‘n klap in God se gesig.
“Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ‘n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: ‘Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?’ …Die Here… sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen?” (Jesaja 45:9-11 DB).
Jy sal jou emosionele sekuriteit versterk wanneer jy met elke aspek van jouself vrede maak. Selfbewustheid en bekommernis oor jou uiterlike voorkoms sal dan verdwyn. Jy baan die pad vir jou ware innerlike skoonheid om deur te skyn. Dis tyd om liggaamlike vrede te ervaar, wetend dat jy vir jou lewensdoel ontwerp is, volgens maat vir jou opdrag gemaak is en perfek vir jou doel is.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Luk 9:1-17; Ps 134; Spr 4:5-13
2026-02-08
Johannes 16:33 NLV
Die omstandighede waarin jy jouself bevind, hoef jou nie te definieer of te verslaan nie. Selfs al kan jy nie jou omstandighede verander nie, kan jy dit oorkom. George Bernard Shaw het geskryf: ‘Mense blameer altyd teëspoed op hul omstandighede. Ek glo nie aan omstandighede nie. Die mense wat in hierdie wêreld vooruitboer, is die mense wat opstaan en soek na die omstandighede wat hulle wil hê en as hulle dit nie kan vind nie, skep hulle dit.’
Ons begin twyfel wanneer ons toelaat dat ons omstandighede bepaal hoe ons voel en wat ons glo. Wanneer ons toelaat dat ons omstandighede tussen ons en God kom, skep dit ‘n rookskerm van twyfel. Geloof is om die beloftes van God tussen jou en jou omstandighede te plaas. Dit beteken nie dat jy die werklikheid ontken nie. Dit beteken eenvoudig dat jy in kontak met ‘n groter werklikheid is – een wat meer werklik is as dit wat jy kan aanraak of proe of sien of hoor of voel of ruik.
Jesus was ‘n realis: ‘…In die wêreld sal julle swaarkry beleef…’ Hy was egter ook ‘n optimis: ‘…maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.’ Ons optimisme word in die leë graf geanker. Indien Jesus uit die graf opgestaan het – en Hy het – is daar nie ‘n probleem wat Hy nie kan oplos nie. Jy moet dus begin leef asof jy glo dat dit waar is.
Daar is sewe beloftes in die boek Openbaring wat met dieselfde frase begin: ‘Elkeen wat oorwin.’ Dit herinner ons aan ons ware identiteit. Ons is nie net oorwinnaars nie; ons is meer as oorwinnaars!
Sielskos: Gal 5:22-23; Eks 23:1-9; Luk 6:27-36; Rom 12:14-21
2026-02-07
Genesis 1:31 NLV
Helen Keller het voor die ouderdom van twee haar sig en gehoor verloor. In ‘n oomblik het haar wêreld donker en stil geword. Later het ‘n onderwyseres genaamd Anne Sullivan egter deur Helen se eensame opsluiting gebreek en haar siel aangeraak. Helen het gevolglik die eerste dowe/blinde persoon geword wat ‘n baccalaureusgraad verwerf het. Sy het ook ‘n dosyn boeke geskryf, insluitend ‘n manifes oor haar lewensfilosofie, getiteld ‘Optimism’.
‘Geen pessimis het al ooit die sterre se geheime ontdek,’ het sy geskryf, ‘of na ‘n onbekende land geseil nie.’ Die laaste bladsy van haar boek weerspieël die eerste bladsy van die Skrif: ‘Optimisme is die mens se gees en die gees van God wat in harmonie sy werke in elke opsig goed verklaar.’ As God se Gees binne-in jou is, is optimisme aan die orde van die dag. Optimisme is nie in stryd met die werklikheid rondom ons nie. Dit beteken eenvoudig dat ons in ‘n ander werklikheid geanker is – die kruisiging en opstanding van Jesus Christus – wat dieper en sterker en langer as die werklikheid wat ons met ons vyf sintuie kan waarneem, is.
Helen Keller het bewys dat selfs die moeilikste omstandighede jou nie kan definieer wanneer jy ‘n optimistiese gees het nie. Selfs al kan jy nie jou omstandighede verander nie, kan jy dit oorkom. Dit is hoekom sy gesê het: ‘Die enigste ding wat erger is as om blind te wees, is om sig te hê, maar geen visie nie.’ Of soos Paulus dit gestel het: ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (Filippense 4:8 NLV). Met ander woorde, wees optimisties.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4
2026-02-06
Romeine 12:10 NLV
Het jy al ooit opgemerk hoe vinnig ons iemand anders van gedrag wat ons in onsself verskoon beskuldig? Deur dit te doen, oefen ons ‘n dubbele standaard uit en vereis ons meer van ander as van onsself. Jesus het gesê: ‘En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar merk jy die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?’ (Matteus 7:3 NLV). Die dubbele standaard werk as volg:
1) Wanneer jou buurvrou nie van jou vriendin hou nie, is sy bevooroordeeld – maar wanneer jy nie van haar vriendin hou nie, is dit omdat jy mense se karakters goed kan beoordeel.
2) Wanneer sy probeer om iemand besonder goed te behandel, is sy besig om te dweep – maar wanneer jy dit doen, is jy net bedagsaam.
3) Wanneer sy lank neem om iets te doen, is sy lui – maar wanneer jy dit doen, is jy noukeurig.
4) Wanneer sy baie geld spandeer, is sy roekeloos en ongedissiplineerd – maar wanneer jy dieselfde ding doen, is jy vrygewig.
5) Wanneer sy foute uitwys, is sy krities – maar wanneer jy dit doen, is jy insigryk.
6) Wanneer sy saggeaard is, noem jy haar swak – maar wanneer jy is, is jy genadig.
7) Wanneer sy mooi aantrek, is sy uitspattig – maar wanneer jy dit doen, is jy elegant en stylvol.
8) Wanneer sy sê wat sy dink, is sy venynig – maar wanneer jy dit doen, is jy eerlik.
9) Wanneer sy risiko’s neem, is sy roekeloos – maar wanneer jy dit doen, is jy dapper.
Paulus het geskryf: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ Die woord vir vandag is dus: Koester mekaar in liefde.
Sielskos: Num 27-29; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2
2026-02-05
Galasiërs 6:4 NLV
Paulus het geskryf: ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen’ (verse 4-5 NLV). Jesus het hierop aangedring. Na sy opstanding het Jesus aan sommige van sy volgelinge verskyn. Hy het Petrus ‘n spesifieke opdrag gegee wat groot opoffering ingesluit het. Petrus het gereageer deur na Johannes te wys en te vra: “…’Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!'” (Johannes 21:21-22 NLV). Met ander woorde, bly op jou eie opdrag gefokus.
‘n Seuntjie met die naam Adam wou soos sy vriend Bobby wees. Adam was mal oor hoe Bobby geloop en gepraat het. Bobby wou egter soos Charlie wees. Iets omtrent Charlie se tred en aksent het hom gefassineer. Charlie, aan die ander kant, was beïndruk met Danny. Charlie wou soos hy lyk en klink. Danny het egter ook ‘n held gehad: Adam. Hy wou net soos Adam wees. So, Adam het Bobby nageboots, wat Charlie nageboots het, wat Danny nageboots het, wat Adam nageboots het. Dit blyk dat al wat Adam moes doen, was om homself te wees!
Jy kan by ander mense leer, maar jy kan slegs vreugde en vervulling in wie God jou geskape het om te wees, vind. Bly dus in jou eie baan. Hardloop jou eie wedloop. God sal jou nie volgens die talente van ander evalueer en beloon nie, maar volgens hoe getrou jy met die gawes wat Hy jou gegee het, was. Jy is nie verantwoordelik vir die aard van jou gawes nie, maar vir hoe jy dit gebruik.
Sielskos: Num 25-26; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35
2026-02-04
Spreuke 22:6 NLV
Wanneer jy as leier optree, of dit nou tuis, by die kerk of by die werk is, sal jy soms moeilike en ongewilde besluite vir die beswil van almal betrokke, moet neem. Dit is veral vir ouers die geval. Diegene wat in vrees vir ‘n kind se verwerping of verlies van ‘n kind se liefde leef, sukkel dikwels om grense te stel en dissipline toe te pas. Dit is ‘n selfsugtige optrede, want jy stel jou eie behoefte om geliefd en aanvaar te word, bo jou kind se langtermynbehoefte aan struktuur en selfdissipline. Hoe ver dink jy sal jou kind daarsonder in die lewe kom?
Ongelukkig is baie ouers te onseker om hul kinders te dissiplineer, omdat hulle hul vriendskap wil behou. Indien ouers eerlik is, sal hulle erken dat hulle gereeld ja sê wanneer hulle eintlik nee moet sê, om sodoende te vergoed vir die gebrek aan tyd wat hulle saam met hul kinders deurbring. Ons weet dat ‘n belegging van kwaliteitstyd op die lange duur ‘n beter opbrengs as enigiets anders wat ‘n ouer kan doen, sal lewer.
Interessant genoeg sal kinders dikwels oneerbiedig of selfs wrokkig teenoor ‘n onseker ouer optree, omdat die kind nie emosioneel ontwikkel nie en swak toegerus is om die druk en verantwoordelikhede van volwassenheid te hanteer. Deur herhaaldelik aan jou kind toe te gee, stel jy hul volwassenheid uit. Soms is dit nodig om streng liefde toe te pas. Daarom sê die Bybel: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Soek dus God se wysheid, leiding en krag, en Hy sal jou help om die soort ouer te word wat jou kind nodig het.
Sielskos: Num 22-24; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32